Sondag 28 Julie 2013

Die tempel (Beilt HaMikdash) is nie langer nodig nie

D’Var Torah 
Sien – Re’eh 

Deuteronomium / Devarim 3:23 – 7:11
Jesaja / Yeshayahu 40:1 – 26 
Mattéüs / Mattityahu 12:28 – 34 

Deuteronomium / Devarim {12:1} “ Dit is die insettinge en die verordeninge wat julle sorgvuldig moet hou in die land wat die HERE, die God van jou vaders, jou gegee het om dit in besit te neem al die dae wat julle op die aarde lewe. {12:2} Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. (12:3} En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. {12:4} So mag julle nie doen met die HERE julle God nie; {12:5} maar die plek wat die HERE julle God uit al julle stamme sal uitkies om sy Naam daar te vestig om daar te woon, moet julle opsoek en daarheen moet jy kom. {12:6} En daarheen moet julle jul brandoffers bring en julle slagoffers en julle tiendes en die offergawe van julle hand en julle gelofte— en julle vrywillige offers en die eersgeborenes van julle beeste en van julle kleinvee. {12:7} En daar moet julle voor die aangesig van die HERE julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die HERE jou God jou geseën het. {12:8} Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie—elkeen net maar wat reg is in sy eie oë. {12:9} Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die HERE jou God jou sal gee nie. {12:10} Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die HERE julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon. {12:11} Dan moet julle na die plek wat die HERE julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die HERE sal belowe. {12:12} En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie. {12:13} Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie. {12:14} Maar op die plek wat die HERE in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel. {12:15} Maar na hartelus mag jy slag en vleis eet ooreenkomstig die seën van die HERE jou God wat Hy jou in al jou poorte gee; die onreine en die reine mag daarvan eet, soos van die gemsbok en die takbok. {12:16} Net die bloed mag julle nie eet nie; jy moet dit soos water op die grond uitgooi. {12:17} Jy mag in jou poorte nie eet die tiendes van jou koring en jou mos en jou olie en die eersgeborenes van jou beeste en jou kleinvee en al jou gelofte-offers wat jy sal belowe, en jou vrywillige offers en die offergawe van jou hand nie. {12:18} Maar jy moet dit eet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat die HERE jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan. {12:19} Neem jou in ag dat jy die Leviet nie aan sy lot oorlaat solank as jy in jou land lewe nie. {12:20} As die HERE jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy jou beloof het, en jy sê: Ek wil vleis eet—omdat jy lus het om vleis te eet—dan mag jy na hartelus vleis eet. {12:21} As die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te vestig, ver van jou af is, dan mag jy van jou beeste en jou kleinvee slag wat die HERE jou gee, soos ek jou beveel het; en jy mag na hartelus in jou poorte eet. {12:22} Maar soos die gemsbok en die takbok geëet word, so moet jy dit eet; die onreine en die reine moet dit saam eet. {12:23} Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag die siel nie saam met die vleis eet nie. {12:24} Jy mag dit nie eet nie; op die grond moet jy dit uitgooi soos water.”. 

Die plek wat God uiteindelik gekies het om Sy Naam te vestig, was in Jerusalem (Yerushalayim) en spesifiek die berg waar, soos daar geglo is, Abraham (Avraham) sy seun, Isak (Yitzchak) moes offer – dit is waar die tempel eindelik toe gebou is. 

Waarom wou God nie gehad het dat die kinders van Israel op enige plek hulle offerandes moes offer nie? Hy wou voorkom dat die kinders van Israel die heiden-nasies se voorbeeld volg; trouens, hulle is juis verdryf vanweë hulle afgodspraktyke om op hoë plekke offers aan hul demoniese gode te wy. God wou nie die kinders van Israel tot so ’n praktyk aanmoedig nie en boonop is hulle beveel om al die plekke waar die heidene aan hul nie-gode ge-offer het, te vernietig. Deur op één sentrale plek vir aanbidding asook die bring van offerandes aan te dring, het dit ook ‘n eenheid van aanbidding vir die hele volk verseker. Elke person, groep mense of stam (matot), sou gevolglik nie hulle eie reëlings in hierdie verband mag tref nie maar elkeen eerder met één doel voor oë aanbid en op dieselfde plek offer. 

Ongelukkig het gefragmenteerde aanbidding in elkgeval later plaasgevind. Dit het gebeur toe God, vanweë die mense se ongehoorsaamheid, die volk in twee verdeel het en Israel, die noordelike ryk, in hulle trots en aanmatiging, vreemde gode begin aanbid en aan húlle offerandes gebring het. 

Waarom bestaan hierdie sentrale plek – die tempel – dan nie langer nie? Omdat dit nie meer nodig is nie! Ons benodig nie langer ‘n sentrale plek van aanbidding nie. Deur te profeteer oor óns leeftyd, het Jesus vir die Samaritaanse vrou gesê: 

Johannes {4:21} “Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom ‘n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. {4:22} Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. {4:23} Maar daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. {4:24} God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. ”. 

Jesus die Messias het gekom. Hy is vir ons eens en vir almal: die versoening (kaporah). Die tempel en offerandestelsel daarvan is nie meer nodig nie. Dit is juis om hierdie rede dat ons nie langer in ‘n sentrale aanbiddingsplek vergader nie; inteendeel, ons vergader om één sentrale Persoon, Heer (Adon) Jesus die Messias en Hy is oral. As Messiaanse Jode – ongeag watter land, staat, provinsie, dorp of stad waar ons ookal woon en aanbid, ons kom almal om Jesus bymekaar. Nietemin móét ons onthou: 

Hebreërs / Ivrim {10:24} “en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; {10:25} en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Sondag 21 Julie 2013

Hulle het diegene bejammer wat Hy gesê het nie bejammer moet word nie

D’Var Torah 
Omrede – Ekev


Deuteronomium / Devarim {7:16} “En jy sal al die volke verteer wat die HERE jou God aan jou oorgee; jou oog mag hulle nie verskoon nie, en jy mag hulle gode nie dien nie; want dit sal vir jou ‘n strik wees. ”. 

Die kinders van Israel se ondergang was deels te wyte aan die feit dat hulle die mense wat God as Sy vyande aangewys, bejammer het. Hulle het diegene bejammer wat Hy gesê het nie bejammer moet word nie. Daarom het hulle die Kanaäniete nie geheel-en-al uitgewys en vernietig, soos wat God hulle bevel het nie. Gevolglik het dit hulle uiteindelik in afgodsdiens laat verval en is hulle self vernietig. 

God se vyande behoort ook ons vyande te wees en juis daarom behoort ons hulle nie te bejammer nie. Ons moet onthou dat van al die derduisende babas wat in die tyd van Noag (Noach) geleef het, nie een toegelaat is om die ark binne te gaan nie. Eweneens, het ook nie een van die duisende babas en jongmense wat in Sodom en Gomorra gewoon het, die vuur en swawel wat God vanuit die hemel afgestuur het, ontkom nie. Hierdie twee gebeure behoort belangrike voorbeelde vir ons te wees. Indien God nie veronderstelde onskuldige oulike babtjies en jong kinders bejammer het nie maar hulle inteendeel as Sy vyande beskou het, dan behoort ook ons nie die vyande van God, ongeag wie hulle is, hoe oud of jonk hulle is, te bejammer nie. Waarom het God die kinders saam met hulle ouers laat omkom? Ek glo dat dit vanweë die spirituele toestand en die verhouding van die ouers met God is, wat die lot van hul afhanklike kinders bepaal en om dié rede, stem ek nie saam met die meerderheid gelowiges wat beweer dat alle onskuldige geaborteerde babas vanselfsprekend hemel toe gaan nie. 

Wie is ‘n vyand van God? Jesus die Messias verduidelik dit soos volg: 

Matthéüs / Mattityahu {12:30} “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi. ”. 

God se vyande is egter nie beperk tot diegene wat teen Jesus die Messias as Heer en Redder (ongelowiges) gekant is nie, maar sluit ook gelowiges in Jesus die Messias in. 

1 Korinthiërs / Korintim Alef {5:9} “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie— {5:10} dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan— {5:11} maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. ”. 

Paulus (Shaul) voeg by sy lys: leuenaars, verwyfdes, homoseksueles, egbrekers en diewe. Die oordeel van God sal ongetwyfeld neerkom op diegene wat by sulke dinge betrokke is, maar wanneer dit plaasvind, moet ons daarteen waak dat ons ons nie in hulle onheil verbly nie. 

Spreuke / Mishlei {} “As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, {24:18} dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie. ”. 

Voordat ek afsluit, wil ek graag nog één aspek bespreek. Keer op keer het ons al in die Skrif – veral die Tora – gesien dat diegene wat vyandig is teenoor God se gekose leierskap, vyande van God is. Heel dikwels het ek al gevind dat mense wat leierskap gebruik, misbruik en minag, deur ander gelowiges bejammer word. Dit is nie net onbybels nie, maar ook onproduktief. Ons moet diegene wat gesondig het se vertroue herwin deur hulle op hul foute te wys. In plaas daarvan om hulle te tugtig en as vyande van God te behandel totdat hulle instem tot berou en versoening, behandel baie mense hulle as vriende en bring sodoende ‘n oordeel oor hulself. 

Ek kan dit nie uitdruklik genoeg benadruk nie: ONS MAG NIE VYANDE VAN GOD BEJAMMER NIE!! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 14 Julie 2013

Die verdienste van die voorvaders

D’Var Torah 
En ek het gepleit – Va’etchanan 


Deuteronomium / Devarim {4:1} “Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem. {4:2} Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. ”. 

Het jy opgelet dat in die bovermelde Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha, God Homself nie die God van daardie geslag noem nie, maar Homself eerder “die God van julle vaders (avot)” noem. Dit is nie die enigste keer wat God dit in die Skrif doen nie. Ons vind dat Hy na Homself as “die God van julle vaders” verwys op talle ander plekke in die Skrif, soos byvoorbeeld Eksodus (Shemot) 3:13,15, 16; Deuteronomium 3:11; Josua (Yehoshua) 18:3 en 2 Kronieke (HaYamin Bet 13:12). 

Soos ons reeds weet, doen God nooit iets lukraak of sonder ‘n bepaalde doel of rede, soos wat hier die geval is nie. 

Ons onthou in die Skrif dat God, ofskoon Hy die koninkryk van Israel verdeel het, Hy van die twaalf stamme, twee aan koning Rehobeam gegee het. God het dié twee stamme vir Rehobeam bewaar, nie op grond van sy eie verdienste nie maar op grond van sy grootvader, koning Dawid, se verdienste. Koning Rehobeam het by die twee stamme gebly, uitdruklik vanweë die belofte van God aan Sy dienskneg, Dawid. 

1 Konings / Malachim Alef {11:34} “Ek sal ewenwel die koningskap as geheel nie uit sy hand neem nie, maar Ek sal hom as vors aanstel al die dae van sy lewe ter wille van my kneg Dawid wat Ek verkies het, wat my gebooie en my insettinge gehou het. {11:35} Maar uit die hand van sy seun sal Ek die koningskap neem en dit aan jou gee, die tien stamme; ” . 

Presies dieselfde beginsel is van toepassing op die gedeelte, wat uit ons parasha aangehaal is, dat daardie geslag van die kinders van Israel nie die land sou ontvang nie, op grond van God se belofte aan hulle nie. Hy het trouens nie die belofte van die land aan húlle gedoen nie. Hulle sou die Beloofde Land binnegaan op grond van die verdienste van hulle voorvaders: Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak) en Jakob (Ya’acov), aan wie die belofte gedoen is. 

Hierdie beginsel geld selfs vandag nog vir ons. Dié van ons wat in Jesus die Messias glo, word nie gered as gevolg van enige belofte van God aan ons nie en allermins op grond van ons verdienste (ons het niks!!). Ons wat vandag gered is, is gered deur die belofte van God aan Abraham Avinu (ons vader). 

Genesis / Beresheet {22:17} “dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. {22:18} En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het. ”. 

Vanweë die bovermelde belofte van God aan Abraham, is Jesus die Messias aan ons gegee en dit is deur die verdienste van Jesus die Messias, dat ons gered is. Die belofte gaan egter steeds terug na Abraham Avinu (ons vader). Daar kan dus gesê word dat ons ons redding te danke het aan die belofte van God aan Abraham Avinu. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou




Sondag 07 Julie 2013

Die enigste tyd wanneer die vyand ons kan verslaan

D’Var Torah 
Woorde – Devarim 


Deuteronomium / Devarim {3:1} “Daarna het ons weggedraai en op pad na Basan opgetrek; en Og, die koning van Basan, het uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Edréï. {3:2} Toe het die HERE vir my gesê: Wees nie bevrees vir hom nie, want Ek gee hom en sy hele volk en sy land in jou hand; en jy moet met hom doen soos jy gedoen het met Sihon, die koning van die Amoriete, wat in Hesbon gewoon het. {3:3} En die HERE onse God het ook Og, die koning van Basan, en sy hele volk in ons hand gegee, sodat ons hom verslaan het, totdat daar van hom niemand oor was wat vrygeraak het nie. {3:21} Ook het ek Josua in dié tyd beveel en gesê: Jou oë het alles gesien wat die HERE julle God aan hierdie twee konings gedoen het. So sal die HERE aan al die koninkryke doen waarheen jy oortrek. {3:22} Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is die HERE julle God wat vir julle stry. ”. 

Uit hierdie verse wil ek graag hê dat ons moet besef hoe belangrik dit is om die guns (genade) van God te geniet. God het vir die kinders van Israel vertel hoedat Hy die koning van Og in hulle hande gegee het – met ander woorde, die oorlog teen Og, koning van Basan, was reeds gewonne voordat daar selfs geveg is. Al wat Israel moes doen, was om aanspraak op die oorwinning te maak en Og en sy leër sou verslaan word omdat God hulle oorwinning reeds beskik het. 

Ons persoonlik as indiwidue gaan miskien nie oorlog voer teen ander volkere nie. God beveel vandag ook nie indiwidue om enigeen fisies te vernietig nie. As gelowiges in Jesus die Messias, is ons egter elke dag van ons lewens, in spirituele stryde gewikkel, nie net wanneer ons wakker is nie maar ook wanneer ons slaap. 

Ek kan beswaarlik vir julle vertel hoeveel keer ek al met mense moes beraadslaag wat demoniese spirituele aanvalle snags in hulle slaap ervaar. Baie van die drome wat hulle gehad het, was afskuwelik van aard en hulle het skreeuend van angs ontwaak. Sekere van hierdie drome was pervers en van seksuele aard. Hulle het vertel dat dié drome so werklik en duidelik was asof hulle dit rêrig in die drome ervaar het. 

Hierdie drome is inderdaad werklik. Dit is ware demone in die drome en gevolglik werklik spirituele aanvalle. Dit is ook nie onwerklik of ongewoon om deur die spirituele magte van die duisternis aangeval te word nie want, as kinders van die lig, wil die satan ons getuienis vernietig en indien moontlik ons selfs doodmaak. Waaroor ons egter wel begaan móét wees, is hoe ons op die aanvalle reageer, hoe ons hierdie bose demone kan weerstaan en hulle terugstuur na die hel, waar hulle tuishoort. 

Dit is waar God se guns (genade) ter sprake kom. As ons God se guns (genade) geniet, dan sal elke stryd wat teen ons gevoer word en elke mag van die duisternis wat ons probeer vernietig, verslaan word omdat God dit alreeds aan vernietiging uitgelewer het. Wanneer ons onder God se guns (genade) verkeer, is dit Hy wat vir ons stry. 

Wat sê ek dus vir daardie mense wat na my toe kom, nadat hulle demonies geïnspireerde drome ervaar het? Ek beveel hulle aan om, soos hulle ontwaak, hierdie baie eenvoudige gebed te bid: “satan, die Here, Jesus die Messias, bestraf jou. Jy het geen mag of gesag oor my nie – alle sodanige mag en gesag is deur Jesus die Messias van jou weggeneem. Ek verwerp hierdie droom en pleit die bloed van Jesus die Messias oor myself, oor hierdie vertrek en in die naam van Jesus die Messias, beveel ek jou om uit my lewe te gaan.” 

Indien dié drome die volgende nag weer gedroom word, nadat hierdie gebed gebid is, herhaal dan die gebed. Sou die aanvalle steeds aanhou, sal ek voorstel dat die persone hul verhouding met God opnuut vasstel. Moontlik is daar onbelyde sonde in hulle lewe, waaroor God Sy guns van hulle af weggeneem het. Die enigste tyd wanneer die vyand ons kan verslaan, is wanneer God Sy guns (genade) oor ons onttrek het. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou