Vrydag 30 September 2016

Bewoon die Land en Verslaan God se Vyande

Nitzavim 
(Julle Staan)



God stel dit baie uitdruklik dat, as die kinders van Israel, oftewel almal van ons, Sy gebooie gehoorsaam, noukeurig nakom soos wat Hy beveel het, dan sal dit met hulle lewens voorspoedig gaan. 

Deuteronomium / Devarim {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"

Daar is ongetwyfeld baie dinge wat God nie aan ons openbaar het nie en gewis, met ons beperkte insig, is daar baie dinge wat ons nie kan begryp en nie sal verstaan nie. Ek begryp nog nie heeltemal hoe God Homself kan manifesteer op wyses wat onafhanklik funksioneer nie, maar nogtans Een kan wees nie. Ek verstaan nie hoe God bepaal het wat Sy volk mag eet en wat nie. Dit maak egter nie saak nie nie want in hierdie Parasha verneem ek dat ek nie veronderstel is om sowel daardie as ander dinge te verstaan nie. Ek is oortuig dat ek nie is nie omdat dit nog nie ten volle aan my geopenbaar is nie; trouens ons word gesê dat daar sekere geheime is wat, om welke rede rede ookal, God verkies het om vir Homself te bewaar. God het egter in die bogemelde vers, dit baie duidelik gestel dat alles wat Hy in die Torah geskryf het - of ek dit verstaan of nie - ek dit móét onderhou. Dan, ingeval ek myself sou probeer vrystel van enige van die gebooie van God, deur te sê dat Hy Homself slegs tot die kinders van Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel gerig het, wat op daardie tyd dáár was óf dat Hy slegs gespreek het tot diegene van die volk Israel en hul toekomstige lewe in die Land Israel óf dat hierdie gebooie nie op nie-Joodse gelowiges toepaslik is nie, het Hy vir ons hierdie vers gegee: 

Deuteronomium / Devarim {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15} maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."

God verwys na ons hier en, selfs indien ons nie fisies in die land van Israel is nie of selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, wat hierdie Parasha lees, is alles wat Hy tot die kinders van Israel gespreek het, steeds op ons van toepassing.

Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is God se Koninkryk. Voorheen is ons uit Sy Koninkryk uitgesluit vanweë ons sonde, maar nou, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons versoening, het Hy die prys vir ons sonde betaal en op grond van wat Hy vir ons gedoen het, het ons toegang tot Sy Koninkryk verkry en die land, wat God voorberei het vir almal wat Hom liefhet, binnegegaan. Ons moet egter onthou dat daar 'n Koning in hierdie Koninkryk is, wat daaroor regeer. Hy vertel ons dat Hy 'n jaloerse Koning is, 'n streng Koning wat wette, reëls en regulasies neergelê het, wat Hy van ons verwag om te eerbiedig en ons is verplig om dit te eerbiedig, as ons in sy land wil bly woon. Hy verseker ons egter dat Hy 'n liefdevolle, genadige en welwillende Koning is en het belowe om ons te seën in die land, soos wat ons Sy gebooie gehoorsaam en onderhou, net soos Hy belowe het om Israel te seën indien hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle die land Israel binnegegaan het.

Begryp julle dit nie? Die land Israel in die Bybel is 'n tipe Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie! Die Koninkryk van God is nie 'n spirituele Koninkryk nie - dit is fisies en dit is ons. Vandag is die Koninkryk lewendig en gesond en ons, wat in Jesus die Messias glo, is inderdaad dít. Hierdie Koninryk mag nou wel klein wees in vergelyking met al die hedendaagse sekulêre koninkryke op aarde, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning, Jesus die Messias, wéér kom om Sy regmatige posisie in te neem op Sy troon, waar Hy vanuit Jerusalem sal regeer.

Dan, net ingeval ons sou sê - soos ek dikwels al mense hoor sê het: "Dis onmoontlik in ons moderne wêreld en teen sy snelle pas, om al hierdie gebooie, wat God van ons vereis, te onderhou". God sê egter:

Deuteronomium / Devarim {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12} Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13} Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14} Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."

Kom ons wees eerlik: ons het geen verskoning nie!

Deuteronomium / Devarim {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. Deu 31:4 En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; Deu 31:5 die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou in die land teenkanting ondervind. Om die land te verower, sou nie maklik gewees het nie. Die Kanaäniete en Hittiete, onder andere, was daar en hulle sou die kinders van Israel nie sonder 'n geveg toelaat nie. Daarom, as ons volhard om die land van Israel as 'n tipe van God se huidige Koninkryk hier op aarde te beskou, wat óns is, dan kan ons ook opposisie van God se vyande, wat die aarde saam met ons bewoon, verwag terwyl ons na alles poog om hulle ook te onteien. Daar is ook demone in die land, wat nie sonder 'n stryd sal opgee nie. Indien jy in Jesus die Messias glo, dan sal jy besef wat ek bedoel, begryp waarvan ek praat. Soos vir Israel sê God egter vir ons:

Deuteronomium / Devarim {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. “

Laat ons lesse van Israel leer, want soos God met Israel gehandel het, so sal Hy ook met ons handel. Ons moet dus leer uit hulle foute en ywerig Sy gebooie onderhou, sodat ons lank in die land mag woon en God se vyande verslaan.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-09-12







Saterdag 24 September 2016

Bid Dat Hulle Gered Sal Word

Ki Tavo
(Waneer Jy Kom)




Deteronomium / Devarim {29:1} "Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29.2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5} En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet."

Nie almal nie, maar baie van die kinders van Israel was oud genoeg om, voordat hulle Egipte verlaat het, die groot wondertekens wat God vir hulle gedoen het, te onthou. Diegene wat te jonk was, het later eerstehands van hul ouers en grootouers verneem wat plaasgevind het. Ingeval dit egter nie gedoen is nie, het Moses hulle daaraan herhinner dat, terwyl hulle in die woestyn gedwaal het, hul klere en skoene nie verslete geraak het nie, maar behoue gebly gedurende die hele tyd wat hulle in die woestyn was.

Verstaan julle wat God hier vir die kinders van Israel sê? Ek hoop so, want Hy kon dieselfde sê vir diegene in Israel, selfs vir ons wat hierdie kommentaar nou lees! Ja, ten spyte van alles wat God vir die kinders van Israel gedoen het, het hulle dit steeds nie ter harte geneem nie. Moses het hulle gevolglik bestraf vir hul afgestompdheid van hart en gebrek aan insig, veral na wat God vir hulle gedoen het en hulle Hom steeds nie ten volle vertrou het nie. Hy het gehoop dat hulle dan beter sou wees as hul ouers en grootouers, wat vanweë hul ongeloof in die woestyn omgekom het, maar dit het nie gebeur nie. Verstaan julle dit nou?

Ek wil graag hê dat ons die kinders van Israel se vordering deur die geskiedenis moet volg omdat hulle 'n geskiedenis gehad het van geen insig nie. Ons het in hierdie week se oordenking gelees van Moses se bestraffing van Israel oor hul gebrek aan geloof en vertroue. Duisende jare later sien ons dat niks verander het nie, omdat hulle weereens dieselfde verneem het van 'n ander profeet:

Jesaja / Yeshayahu {6:10} "Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie."

God het baie profete voor en na Jesaja gestuur, maar die kinders van Israel het steeds nie daarop ag geslaan nie. Honderde jare na Jesaja, hierdie keer in die Hernieude Verbond, wat vind ons? Die apostel Paulus se vir die kinders van Israel presies dieselfde.

Romeine / Romim {11:8} "Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe."

Dit is betreurenswaardig dat nou, selfs na 'n verdere duisend jaar verloop het van Paulus tot vandag toe, kan presies dieselfde vir die kinders van Israel gesê word: hulle het steeds nie gehoor gegee nie. Treurig, is dit nie?

Het Moses, Jesaja en Paulus dan vir die kinders van Israel gesê dat hul oë het wat nie kan sien nie en ore wat nie kan hoor nie omdat God hul sinne verdof het? Nee, hulle was alreeds verdof en hulle het dit aan hulself gedoen. Hulle het dit vir die kinders van Israel gesê omdat God hulle tot hul sinne wou bring!

Indien julle afgewaal het daarvan om God te hoor, vanweë die hardheid van jul harte en jul ongeloof, dan maak dit nie saak wat enigeen vir julle sê aangaande God en Sy waarhede nie, ongeag hoe welsprekend iemand die evangelie aan julle mag voordra, of welke wondertekens julle sou sien wat gebeur, sal julle nogtans oë hê wat nie kan sien en ore wat nie kan hoor nie.

Lukas / Uri {16:31} "Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan."

Stel julle voor om veertig jaar lank in die woestyn te dwaal, sonder dat julle klere en skoene verslete raak! Ek is seker daarvan dat mense vandag sal sê dat indien dit met hulle gebeur het, dan sou hulle glo. Die feit van die saak is egter dat hulle nie sou glo nie!

Ons skrif van Lukas bevestig dit. Selfs vandag, met die herlewing van die Messiaanse Judaisme na 'n stil tydperk van duisende jare, die heftige verwerping van die Messias deur die tradisionele Joodse gemeenskap, behoort dit voldoende bewys te wees dat tradisionele Jode steeds verhard van hart en doof vir die waarheid is.

Mense glo nie – nie dat daar 'n gebrek aan voeldoende bewys is dat Jesus die Messias is nie – vanweë die verhardheid van hul harte. Die menslike hart is inherent boos en gevolglik is mense die vyand van God.

Yirmeyahu (Jeremiah) {17:9} "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?"

Die moderne Staat van Israel het soveel groot wondertekens oor die afgelope 60 jaar beleef. Die totstandkoming van die Staat van Israel in slegs een dag is maar een daarvan. Die oorlog van 1948 is 'n ander en die Sesdagoorlog selfs 'n verdere een. Tot hede toe is daar voortdurende verslae oor wondertekens wat steeds plaasvind, maar ten spyte daarvan volhard hulle met blindheid, doofheid en ongeloof.

Mizmor (Psalm) {81:10} “Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul. {81:11} Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. {81:12} Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. {81:13} Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! {81:14} Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek."

Die feit dat Israel, sedert die totstandkoming daarvan, nie 'n oomblik van ware vrede beleef het nie, is voldoende bewys dat hul volgehoue verhardheid van hart voortduur. Bid dus vir hulle – bid dat hulle hul Messias mag sien en gered word!


Voorheen uitgegee: 2009-09-05




Saterdag 17 September 2016

Tussen Die Gevangenis

Ki Tetze 
(Wanneer Jy Uitgaan)


Deuteronomium / Devarim {21:10} "As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {1:11} en jy onder die gevangenes ‘n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ‘n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Ek is al dikwels uitgevra oor hierdie gedeelte en het self ook al vrae hieroor gehad. Wat uit dié gedeelte duidelik is, is dat wanneer 'n soldaat 'n vroulike gevangene aantreklik vind, moet sy toegelaat word om vir dertig dae te rou oor haar ouers, wat vermoedelik tydens die oorlog omgekom het. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en die res doodgemaak. In die geval van die aantreklike gevange maagd - nadat haar maandlange routyd verstryk het - kon die buitmaker met haar trou. Die Skrif bepaal oënskynlik dat as hy nie langer behae in haar het nie, moet hy haar laat gaan, maar haar nie verkoop nie omdat hy haar onteer het.

Baie mense het al hierdie Skrifgedeelte probeer gebruik om sodoende egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat as God so 'n iets in die geval van 'n vreemde vrou toegelaat het, dan sou Hy sekerlik toelaat dat alle vroue kan skei. Op die oog af en oppervlakkig beskou, sou ek moes saamstem. Blykbaar dui hierdie Skrifgedeelte op egskeiding as 'n nuk of gril, maar is dit inderdaad wat dit bedoel?

Eerstens, soos ons bewus is, haat God egskeiding en sou Hy sekerlik dit nie kondoneer nie as jy jou vrou seksueel "uitprobeer", soos byvoorbeeld 'n paar nuwe skoene en as sy jou nie behaag nie, haar weggooi, soos wat hier die geval blyk te gewees het. Kom ons kyk meer noukeurig na hierdie gedeelte en probeer presies bepaal wat God hier vir ons wil sê.

Soos ek dit verstaan, kondoneer God hoegenaamd nie egskeiding nie, maar gebied Hy die redelike en ontfermde behandeling van 'n vrou wat tydens oorlog gevange geneem is. In oorlogtye was verkragting en misbruik van gevange vroue baie algemeen en onder heidense nasies, wat Israel gereed was om te onteien. God se volk, daarenteen, sou ander moraliteitstandaarde, selfs gedurende oorlog, handhaaf.

God het dus voorsiening gemaak vir soldate, wat na 'n oorlog, 'n gevange vrou aantreklik gevind het. Die vrou moes haar hare afskeer, naels afknip, haar klere vervang met rouklere en onaangetas vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van hare, afknip van naels en dra van sakgewaad sou haar ongetwyfeld van alle oppervlakkige aantreklikeid ontneem. Tydens die dertig dae, sou die man ook die geleentheid gekry het om die vrou werklik te sien, so ook haar persoonlikheid en ware geaardheid te leer ken. Na die dertig dae kon die man haar tot vrou neem. Verder vervolg die Skrif:

Deuteronomium / Devarim {21:14} "En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Dit is juis hier waar die misverstand ontstaan. Om dié vers behoorlik te verstaan, moet vasgestel word waarna die woorde:"...omdat jy haar onteer het.", verwys. In die Hebreeuse Skrifte (Tanach) is daar 'n hele aantal gedeeltes, wat as aanduiding sou kon dien:

1 Kronieke / Divre HaYamim Alef {19:4} "Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan."

Hierdie geval waar Hanun die dienaars van koning Dawid laat skeer en hul klere gedeeltelik laat afsny het, was in die antieke Nabye Ooste 'n vorm van vernedering. Die mans, so verneem ons, het nie na Jerusalem teruggekeer totdat hul baarde weer gegroei het nie. Indien 'n vrou se hare afgesny is, sou dit eweneens 'n vorm van vernedering gewees het.

Job / Iyov {1:20} "Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval"

Hier volgens blyk dit ook dat die afskeer van Job se hare, 'n vorm van ootmoed (vernedering) voor die Here was, nadat hy van die dood van sy kinders verneem het.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {11:15} "maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking?"

Die knip van 'n vrou se naels en dra van rouklere was ook simbole van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Daarom sou die woorde: "...omdat jy haar onteer het.", nie beteken dat die man met die vrou gemeenskap gehad het , haar tot vrou geneem en daarna belangstelling in haar verloor het nie, maar veeleerder dat die vrou daadwerklik verneder is, deurdat haar hare afgeskeer, haar naels geknip en sy rouklere moes dra. Ons God vereis die regverdige behandeling van en respek vir alle vroue.

Dit sou dan die werklike verloop van gebeure wees: 'n soldaat vind 'n gevange vrou aantreklik en wil haar tot vrou neem, maar voordat dit gebeur, moet hy haar fisies onaantreklik maak om sy ware toegeneendheid en voornemens te toets. Hy laat haar hare afsny, haar naels afknip en haar na dertig dae steeds aantreklik vind, mag hy met haar trou, maar as hy gedurende die dertig dae, voordat hy met haar gemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie behaag nie, moet hy haar vrylaat. Hy mag haar nie as 'n slavin behandel nie omdat hy haar onteer het, deur haar hare af te sny, haar naels te laat knip en haar rouklere laat dra het.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-08-22







Saterdag 10 September 2016

Verafsku en Verfoei die Gruwel

Shoftim 
(Regters)


Deuteronomium / Devarim {16:18} "Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19} Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. {16:20} Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee. {16:21} Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Iets interessant het my opgeval met die deurlees van hierdie week se Tora-Parasha en wel in die vyf openingsverse. Die parasha begin met God se gebod dat ons altyd onpartydig in ons oordeel moet wees en nooit omkoopgeld /-prys aanvaar nie. Ek dink ons is almal terdeë bewus daarvan in soverre enige vorm van omkoop ons oordeel kan en sal vertroebel. Daarom is ek uiters versigtig om geeneen in ons gemeente aan te moedig om aan my groot geskenke, veral geldbedrae, te skenk nie. Ek beklemtoon die woord "groot", omdat klein geskenkies 'n gebaar van waardering is, iets aanvaarbaar in 'n gepaste situasie. Nietemin kan ek sien hoedat 'n groot geskenk of één met bymotiewe, my oordeel kan beïnvloed en gevolglik veroorsaak dat ek die gewers se lewens nie aanspreek wanneer ek enige spirituele teenstrydigheid by hulle agterkom nie.

Regverdige oordeel en omkoop is 'n uiters belangrike onderwerp - iets waaroor ek 'n hele kommentaar kan lewer. Dit is egter nie wat my opgeval het toe ek vandeesweek se Tora-Parasha gelees het nie. Hierdie verse in die besonder het my aandag getrek:

Deuteronomium / Devarim {16:21} "Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."

Dit, soos ek gesê het, het vir my vreemd voorgekom dat God so onversetlik is dat geen tipe heilige boomstamme of pilare langs Sy altaar opgerig mag word nie. Wat is die soort heilige boomstamme en pilare? Dit is natuurlik simbole van heidense godsdiens.

Die heidense nasies het hierdie bome en pale opgerig as deel van die heidense verering van hul sataniese afgode. God wou verhoed dat Sy mense enigiets te doen sou hê met die heidendom, veral wou Hy voorkom dat hulle nie heidense praktyke in hul aanbidding van Hom inbring nie.

Hoe raak hierdie gebod ons vandag? Inderdaad veel. Die Christendom het beslis heidense praktyke vermeng met die aanbidding van die Een Waaragtige God. So het hulle die heidense versierde boomsimbool ingelyf by die herdenking van die geboorte van ons Messias Jesus en verder die godin van vrugbaarheid (Ishtar en haar simbool van vrugbare eiers / Paasfees) by die herdenking van die opstanding van Jesus, ingebring. Daar is selfs christelike denominasies wat heidense veelgodery (politeïsme) by hul godsdiens ingelyf het deur die aanvaarding van die valse teologie van heiliges wat in die hemel vir ons intree.

Christene is egter nie die enigste wat skuldig is nie. Judaïsme het die "hames-hand", ook as die "hand van Miriam" en die "alsiende oog" geïnkorporeer - beide van heidense oorsprong, maar nogtans 'n deel van Judaïsme. Hulle verkondig en het ook die praktyk van kabbalah ingelyf: 'n vorm van Joodse mistisisme wat, benewens ander gruwels, astrale projeksie en reïnkernasie insluit. Dit hou egter nie eers dáár op nie! Selfs Messiaanse Jode laat dit toe dat kabbalah in hul onderrig en gelowe indring. Eweneens besit talle gelowiges afskrifte van die Koran en die Boek van die Mormone; hulle het pamflette van die Jehova's Getuies in hul besit en het Boeddhas en ander sataniese, heidense afgodsimbole in hul huise. 

Devarim {7:26} "En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek."

Ek wonder welke deel van "jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie...jy moet daar heeltemal 'n afsku van hê...", verstaan ons nie?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-08-29







Saterdag 03 September 2016

Hulle Kan Maar Ons Kan Nie



Re’eh 
(As Gevolg van)


Deuteronomium / Devarim {14:21} "Julle mag geen aas eet nie; vir die vreemdeling wat in jou poorte is, kan jy dit gee, dat hy dit eet, of jy kan dit aan ‘n uitlander verkoop; want jy is ‘n heilige volk aan die HERE jou God. Jy mag die bokkie nie kook in sy moeder se melk nie."

Oordenking Re'eh handel oor wat God as kosher (behoorlik) beskou vir Sy volk om te eet. Ek sou gedink het dat hierdie lys van wat eetbaar en nie eetbaar is nie op almal van toepassing sou wees. Nadat ek egter die bovermelde gelees het blyk dit nie die geval te wees nie. Vreemdelinge en uitlanders kan blykbaar eet wat hulle wil; trouens, dit skyn asof God nie gemoeid is met wat vreemdelinge en uitlanders eet nie, andersins sou Hy nie vir die kinders van Israel gesê het dat hulle vir diegene kan gee wat hulle self nie moet eet nie.

'n Vreemdeling en 'n uitlander is enigeen wat nie deel van die volk Israel uitmaak nie, enigeen wat nie as 'n kind van God geag word nie. Dit sou dan enigeen wees wat nie onder die kategorie van diens aan die God van Abraham, Isak of Jakob val nie, of hulle nou binne-of buite Israel gewoon het.

'n Uitlander, soos hier gemeld, is 'n vreemdeling, iemand uit 'n ander land, wat nie deel van die volk Israel is nie aangesien hy nie in Israel woonagtig is of Israel besoek nie. Eweneens is vreemdelinge ook vreemdes, maar kan wel onder een van die gemelde kategorieë val. 'n Vreemdeling kan óf 'n inwonende vreemdeling wees, dit wil sê iemand wat tussen die kinders van Israel behoort, maar nie tot die kinders van Israel behoort nie óf iemand wat deur Israel reis, moontlik om besigheid te doen. Dit is egter in teenstelling met die "vreemdeling", wat in Hebreeus as "ger" bekendstaan. 'n "Ger" is 'n inwonende vreemdeling, iemand wat deel van die kinders van Israel geword het. Hulle is deel van Israel en húl God, die God van Abraham, Isak en Jakob. Dit is aangaande hierdie mense, "gerim" (=meervoud), wat God gesê het:

Eksodus / Shemot {12:49} "Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef."

Op grond van die Brit Chadasha", word verstaan dat 'n "ger" is:

Efese / Efesos {2:11} "Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word, {2:12} dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. {2:13} Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus."

Dus is 'n "ger" enige nie-Joodse gelowige in Jesus die Messias en verstaan ons nou waarom die apostel Petrus, hierdie stelling gemaak het:

1 Petrus / Kefa Alef {2:9} "Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, {2:10} julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is."

Jy hoef nie noodwendig Joods te wees om deel van God se uitverkore mense te wees nie. Al wat jy hoef te wees, is om in Jesus die Messias te glo. Wat ek dus wil hê ons moet sien en verstaan, volgens oordenking Re'eh, is dat God se uitverkore volk - of ons gelowige Jode of nie-Jode is - ons is almal in God se oë spesiaal, maar belangriker, ons is verskillend. Vreemdelinge en uitlanders kan doen en in die besonder eet wat hulle wil, maar ons wat in die Messias Jesus glo, kan nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-08-15