Vrydag 25 November 2016

Die Saak van Verassing

Chayei Sarah
(Sara Het gelewe)


Genesis / Bereshit {23:1} "En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe. {23:5} Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom: {23:6} Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie. {23:7} Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het; {23:8} en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die seun van Sohar, {23:9} dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf onder julle mag besit."

Ek kan nie vir julle vertel hoeveel keer mense my al uitgevra het oor wat die Bybel ons leer aangaande die begrawe van die dooies nie. Met die hoë koste van begrafnisse vandag, het baie mense my genader betreffende die meer ekonomiese opsie van verassing in plaas van 'n begrafnis. Ek is ook deur ekologiese instansies genader, wat voorkeur aan verassing bo begrafnis verleen, omdat hulle nie die waardevolle landbougrond wil opoffer nie. Ander het weer na my gekom sidderend by die gedagte om begrawe te word, terwyl hulle vlees ontbind in 'n kis en deur maaiers verteer word. Dit is geldige vrae en hul redes om verassing te verkies is logies, maar die vraag is: "Is verassing Bybels?" "Ek dink dit behoort 'n baie vername aangeleentheid vir elke gelowige in Jesus die Messias te wees.

Aangesien verassing logies blyk te wees, kom ons kyk na die drie praktiese redes wat aangevoer word vir die voorkeur om veras te word, alvorens ons die Bybelse aspek daarvan oorweeg. Daar is eerstens die ekonomiese rede: begrafnisse is inderdaad 'n groot uitgawe, maar aangesien ons almal besef dat ons vroeër of later gaan sterf, indien Jesus nie in óns leeftyd na die aarde terugkeer nie, is dit dan nie logies om vooruit te beplan vir ons dood nie? Verstandige mense beplan reeds wanneer hulle nog jonk is vir hul aftrede in die toekoms. Ons koop aandele, neem versekering uit en belê in goedgekeurde staats-aftredingsprogramme. Diegene wat bevoorreg genoeg is om vir 'n maatskappy te werk wat 'n aftredeplan bied, dra ook daartoe by. Indien ons dus met soveel sorg vir ons uiteindelike aftrede beplan - wat miskien nie sou gebeur as ons skielik sterf nie - waarom dan nie ook beplan en voorberei vir ons afsterwe, wat sekerlik gaan plaasvind nie! Om vooraf vir 'n mens se dood te beplan, kan die uitgawe oor 'n aantal jare versprei word. Daar is baie vooraf-begrafnis-planne beskikbaar, sodat 'n eenmalige groot uitgawe onnodig is. Dit is ook nooit te laat om vroegtydig vir 'n mens se begrafnis voorsiening te maak nie, veral waar dit by 'n lewensversekering ingesluit kan word om enige uitstaande premies ten tye van die dood, ten volle op te betaal.

Die tweede logiese rede vir verassing is dat goeie landbougrond nie gebruik word nie. Indien enige land besorgd behoort te wees oor die gebruik van waardevolle grond vir begrafplase, dan móét dit Israel wees. Hierdie klein landjie kan sekerlik nie bekostig om waardevolle vaste eiendom beskikbaar te stel vir hierdie doel nie, maar dit word nietemin gedoen. Hierdie feit is vanselfsprekend: stedelike uitbreiding neem wêreldwyd meer waardevolle landbougrond in beslag vir behuisingsprojekte as wat ooit vir begraafplase gebruik word. 'n Gemiddelde graf is slegs 91,4 cm x 1,98 cm (3 vt x 6.5 vt).

Die derde logiese rede wat ten gunste van verassing verstrek word, is die gedagte van ontbinding en vertering deur maaiers. Die feit is egter dat 'n mens dood is, wat bedoel dat die brein nie langer funksioneer nie, die senuweestelsel nie meer enige pyn ervaar nie en die siel, oftewel die bewussyn, die liggaam verlaat het. 'n Mens leef dus nie meer nie en jou stoflike oorskot in die kis is dooie bederfbare vlees, vlees wat God bestem het om te bederf.

Nou, om die vraag te beantwoord of verassing Bybels is! Die eenvoudige antwoord is: Nee! Waarom is ek so uitdruklik daaroor? Baie eenvoudig. Alle Bybelse bewyse dui op die feit dat God menslike offerande verafsku. Menslike offerand het altyd verbranding behels. Die meerderheid gevalle waar mense of menslike dele deur vuur verbrand is, het altyd gehad op die aanbidding van sataniese, demoongode. Die enigste uitsondering hierop was wanneer mense deur vuur oorval is; andersins het menslike verassing altyd in verband met afgodery gegaan. As 'n mens die feit dat baie afgods-godsdienste steeds verassing beoefen hierby voeg, dan het 'n mens 'n sterker saak daartéén, immers vir diegene wat in Jesus die Messias glo en Hom dien. Verassing is geen opsie nie. Die Bybelse bewys is uitdruklik daartéén gekant!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-11-14







Saterdag 19 November 2016

Behoorlike Perspektief Maak Saak

VaYera

(En Hy het Verskyn)


Genesis / Bereshit {18:1} “Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. {18:2} Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. {18:3} En hy sê: My Heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. {18:4} Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5} En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.”

Daar was alreeds heelwat polemiek oor hierdie gedeelte, en dit handel in hoofsaak oor wáár om een nikkud (Hebreeusse vokaal- / klinkerpunt) te plaas. Christelike en Messiaanse vertalers plaas die vokaalpunt op één plek, terwyl Joodse vertalers dit elders plaas. Hierdie één vokaalpunt, hierdie één klein strepie deur Messiane of punt deur tradisionele Jode, verander die hele konteks van die gedeelte wat hierbo aangehaal word.

Eerstens, vir diegene wat nie die Hebreeuse taal of skryfwyse verstaan nie, vergun my om die volgende te verduidelik. Oorspronklik is Hebreeus sonder enige klinkers (soos Engelse klinkers: a, e, i, o, u) geskryf. Hebreeus destyds, soos nou ook, word slegs met konsonante geskryf. Daar is 22 konsonante in die Hebreeuse taal. Die oorspronklike Tora het geen klinkerpunte (nikkudot = meervoud van 'n nikkud) gehad nie, met die gevolg dat dit tot foutiewe vertalings gelei het, aangesien één vokaalpunt of strepie wat verkeerdelik geplaas is, die volle betekenis van 'n woord kan verander. Voordat julle egter begin twyfel oor die akkuraatheid van die Woord van God, onthou dat, in die meerderheid gevalle, dit nie 'n probleem sou wees nie, veral as 'n mens met die konteks vertroud is en die taal ken. Die vokaalpunte is eers tydens die vroeë Middeleeue bygevoeg ten einde die lees te vergemaklik en sodoende woorde en sinne te verstaan. Die mees algemeen gebruikte vokaalpunte, wat vandag nog gebruik word, het hul ontstaan te danke aan die Masorete van Tiberias, waarvandaan ons eie Masoretiese teks van die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) kry. Maar, soos met enigiets waaorop die mens sy hande plaas, het die verklaring van die oorspronklike teks, deur die plasing van die vokaalpunte, onderhewig aan menslike foute en persoonlike vooroordele geword. Dit is wat die geval is met die voorafgaande teks. Die oorspronklike Hebreeuse woord, wat in hierdie gedeelte ter sprake is en die hele konteks asook begrip daarvan kan verander, is "Adonai". Dit kan deur die plasing van 'n verskillende vokaalpunt onder die "n", die woord "Adonai" (God of Here) verander na "adoni" (meneer of heer), Vanselfsprekend was juis dit die onderwerp van vele debatte deur die eeue heen. Het Abraham God inderdaad gegroet of was Hy net respekvol en dus die drie manne elk as "meneer" of "heer aangespreek? Soos ek voorheen gesê het, vertolk Joodse vertalers dit anders as die Christelike- en Messiaanse vertalers en dit is te verstaan. Was hierdie ontmoeting 'n Goddelike veskyning of nie? Die implikasies daarvan vir elke afsonderlike teologie, kan dus verreikend wees.

Kom ons beskou nou ons Skrifgedeelte meer in diepte en probeer op grond van die konteks van die betrokke vers, te bepaal wie het Abraham eintlik gegroet: God of die manne.

Meeste Joodse kommentare gebruik hierdie gedeelte om Abraham se gasvryheid aan te toon. Hy was immers besig om by die ingang van sy tent, te sit en ontspan, om vir verbygangers te wag sodat hy vir hulle op hul reis rus en voedsel kon aanbied. Dit, beweer dié kommentare, is die rede waarom hy so skielik opgespring en die drie manne gegroet het. Daar word dus geïmpliseer dat die woord "adonai", dus "menere of here" moet beteken, maar is dit die korrekte interpretasie van hierdie Skrifgedeelte? Deur op te spring om hierdie drie verbygangers te groet, draf Abraham, buig voor hulle neer en sê:"...as ek nou genade in u oë gevind het...".As hierdie sogenaamde drie "manne" volkome vreemdelinge was wat net verbygegaan het waarom het hy hulle nie slegs genooi om 'n rukkie by hom te rus en saam met hom te eet voordat hulle hul reis voortsit nie? "Genade in u oë vind" impliseer een of ander verhouding, wat kon impliseer dat Abraham besef het dat hy God groet. Deur die Skrifgedeelte so te vertolk, stem dit ook ooreen met die ander gedeeltes in hierdie Parasha.

Genesis / Bereshit {18:10} “En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was.”

In hul gesprek met Abraham, maak een van die manne 'n ongelooflike profesie, wat die wêreldgebeure sal verander: die geboorte van Isak.

Genesis / Bereshit {18:22} “Toe het die manne daarvandaan weggedraai en na Sodom gegaan, maar Abraham het nog bly staan voor die aangesig van die HERE. {18:23} En Abraham het nader gekom en gesê: Sal U ook die regverdige saam met die goddelose ombring?”

Daar is geen twyfel oor hierdie teks, vokaalpunte of nie. Dit is duidelik geskryf dat Abraham besig was om te praat met God ("Yud Hay Vav Hay"), die God van hemel en aarde. Toevallig was God onderweg om Sodom en Gomorra te oordeel. Die enigste ander vraag, wat moontlik 'n skuiwergat in ons gevolgtrekking mag wees, is: Het God net skielik verskyn of was Hy al die tyd één van die drie? Aangesien die teks nie blyk om te dui op die eersgenoemde nie, moet laasgenoemde waar wees: Hy moes Een van die drie gewees het.

Ten slotte, maar hoegenaamd nie laaste van ons bewyse dat Abraham inderdaad besig was om God in menslike gestalte te groet nie, is die volgende Skrifgedeelte:

Genesis / Bereshit {18:16} “Toe staan die manne daarvandaan op, en hulle het gekyk na die kant van Sodom; en Abraham het saam met hulle gegaan om hulle weg te bring. {18:17} Daarop sê die HERE: Sal Ek vir Abraham verberg wat Ek gaan doen, {18:18} terwyl Abraham tog sekerlik ‘n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word? {18:19} Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.”

Selfs al kom hierdie gedeelte vóór die één wat ek vroeër aangehaal het, het ek dit doelbewus daarna geplaas vanweë die implikasie wat dit inhou. Weereens, in Hebreeus, waar ons dit as God vertaal het, word dit as "Jahwe" geskryf, wat uitdruklik God is. Daar bestaan dus geen twyfel nie dat een van die drie sogenaamde "manne", vir wie Abraham gegroet het, inderdaad, 'n fisiese manifestasie van God (God in menslike gestalte) was.

Begryp julle wat die implikasie hier is? Jesus die Messias is God in menslike gestalte - iets wat die Judaisme ontken en verwerp. Verstaan julle dus waarom die Joodse vertalers die vokaalpunte in die Skrifgedeelte, wat ek aan die begin van hierdie kommentaar aangehaal, gemanipuleer het? Hulle beskerm eintlik hul anti-Messiaanse Joods, anti-Jesus-teologie!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-11-07








Sondag 13 November 2016

Gaan Julle Self Voort

Lech Lecha
(Gaan Julle Self Voort)


Genesis / BeReshit {12:1} "En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys."

Kan julle julself in Abram se situasie indink? Julle het in 'n stad groot geword waar almal julle geken het. Julle het jul vrouens dáár ontmoet, is dáár getroud en het dáár oud geword. Skielik, uit die bloute, hoor julle 'n vreemde stem, wat julle beveel om op te pak en die enigste stad wat julle ooit geken het, te verlaat, so ook julle ouers, familie en vriende; om julle gesin te ontwortel, sowel julle besigheid as alles wat aan julle behoort het, te verlaat en na 'n vreemde land, wat die vreemde stem nog nie aan julle openbaar het nie, te gaan. Julle is bloot beveel om te gaan, sonder die vaagste benul waarheen. Wat sou julle doen? Meeste mense, soos julle en ek, sou aan die stem getwyfel en gedink het dat dit hul verbeelding was. Meeste mense sou nie geglo wat hulle gehoor het nie of selfs daarop gereageer het nie. Dit was egter nie die geval met Abram nie. Hy het opgepak en, sonder om te twyfel, die stem gehoorsaam en weggetrek.

Onthou nou, Abram was nie 'n Jood nie en heelwaarskynlik - net soos sy vader - 'n afgodsdienaar. Hy was afkomstig uit Ur van die Chaldeërs, wat ons nou ken as Mesopotamië of die huidige Irak. Ur was 'n stad wat daarop geroem het om die maangod te aanbid, sodat dit onwaarskynlik was dat Abram oor enige kennis van die God van Israel beskik het. Nietemin het Abram, nadat hy die vreemde stem gehoor het, dit gehoorsaam deur sy ouers te verlaat, en die God van Israel te volg.

Ek weet nie of julle daarvan bewus is of nie, dat anti-sendingsgroepe, soos "Jode vir Judaïsme", 'n gedeelte in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) kritiseer en dit as voorbeeld gebruik van die strengheid, gevoelloosheid en meedoënloosheid van Jesus die Messias. Hulle gebruik die gedeelte as bewys dat die Hernieude Verbond nie deur God geïnspireer kon gewees het nie omdat, volgens hulle, God nie só iets van enigeen sou vereis het nie. Wat is die betrokke gedeelte?

Matthéüs / Mattityahu{10:37} "Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. {10:38} En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie."

Dink julle Abram het sy vader en moeder meer liefgehad as vir die God van Israel, Wie hy nie geken het nie en so 'n onredelike eis aan hom gestel het? Kon hy nie gesê het: "Watter gemene, hartelose en wrede God is dit, wat só iets van iemand vereis?" en hom dan nie aan God gesteur het nie. Dit het hy nie gedoen nie; hy het inderdaad opgepak, almal en alles wat vir hom dierbaar was, agtergelaat en gegaan waarheen God hom gestuur het. Ek meen dit kan gesê word dat Abram sy kruis (die kruis van om alles en almal wat hy geken het, te verlaat) opgeneem en God gevolg het.

In ruil vir sy gehoorsaamheid aan die stem van God, het God die volgende belofte aan hom gedoen:

Genesis / BeReshit{12:2} "En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word."

Dit is baie interessant, want kyk wat sê Jesus die Messias vir almal wat Hom meer as vader en moeder liefhet:

Matthéüs / Mattityahu {19:29} "En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe."

Die Hernieude Verbond het basies presies dieselfde gesê as die Hebreeuse Geskrifte (Tanach). Kan dit moontlik wees omdat dit die dieselfde God is, wat dit sê? Ja, dit is een en dieselfde God! Enigeen wat deur anti-sendingsgroepe beïnvloed is, word deur hulle bedrieg. Die God van die Tanach is dieselfde God van die Brit Chadasha. Jesus het 'n teregwysing vir sulke organisasies (ons hedendaags weerspannige Fariseërs) gehad:

Matthéüs / Mattityahu {23:15} "Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self."

Ek dink julle moet vir die anti-sendinggroepe versigtig wees, maar hoegenaamd nie vir die Messiaanse Jode nie! Stem julle saam?

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-10-31







Saterdag 05 November 2016

Wandel Met God



Noach
(Noag)


Genesis / Bereshit {6:14} "Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. {6:15} Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. {6:16} ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak."

Hierdie Skrifgedeelte vind ek absoluut verstommend! Besef julle dat dié drie verse die volle omvang van die opgetekende opdragte van God aan Noag is. Vir die konstruksie van 'n 137 meter (450 voet) by 23 meter (75 voet) wye en bykans 14 meter (45 voet) hoë drieverdiepingskip? Wat nog meer verbasend is, is dat Noag hierdie skip in 'n plek moes bou, waar - na ons beste wete - geen oseane of selfs 'n meer was nie. Daarom, as daar dan geen oseane of mere dáár was nie, is dit waarskynlik dat Noag nooit in sy lewe 'n boot gesien het nie, laat staan nog 'n skip. Toegegee, dat baie mense geglo het dat die boot meer soos 'n ontsaglike groot vragskuit / barg ("barge") was, maar hy sou ook nooit 'n vragskuit gesien het nie; trouens, ek twyfel of hy selfs geweet het wat dit was.

Meeste van ons sou redeneer dat dit onmoontlik was dat Noag hierdie ark gebou het en dit dus as 'n fabel afgemaak het. Dit is inderdaad bejammeringswaardig dat meeste Christene wat die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) lees, dink dat die merendeel van die verhale daarin vervat, bloot fabels is. Hulle meen dat dit eenvoudig onderrigmediums is, deur God gebruik, om 'n punt of konsep verstaanbaar te maak - baie soos die gelykenisse van Jesus. Niks kon egter meer werklik gewees het as die ark nie. Selfs al sou God hierdie verhaal van 'n ware gebeurtenis, bloot as 'n onderrigmedium gebruik het om ons van Sy karakter te leer, het Noag onteenseglik hierdie massiewe ark gebou, wat nie net hom en sy gesin nie, maar al die verskillende soorte diere, wat op aarde was, gehuisves en gered het.

Met ons beperkte begrip, is dit vir ons moeilik om te begryp hoedat hy, onopgelei in die fyn kuns van bootbou, moontlik iets kon bou wat op water sou kon dryf. Dit is moontlik vir ons nóg moeiliker om te begryp dat hierdie persoon die logika van waterverplasing, gewigsverspreiding ens. sou verstaan het, sodat die ark sou kon drywe en nie omslaan nie! Daarbenewens is daar hoegenaamd geen aanduiding in die Skrif dat God vir Noag in die Hemel opgeneem en hom van bootbouplanne - volledig met 'n lys in besonderhede van boumateriale - voorsien het nie, soos wat Hy met Moses gedoen het, toe hy opdrag gekry het om 'n tabernakel in die woestyn te bou. Van wat ons uit die Skrif kan aflei, blyk dit dat Noag vir hierdie projek op homself aangewese was. Selfs om al die materiale te bekom en dit by die bouterrein te besorg, blyk uitsluitlik Noag se taak te gewees het. Noag was egter nie alleen nie. Ja, hy het seuns gehad om hom te help, maar selfs belangriker as dit, Noag het ook 'n ander Helper gehad. Die Skrif verskaf vir ons 'n sinspeling op Wie daardie Helper was.

Genesis / Bereshit {6:9} "Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel."

Noag is die tweede van slegs twee persone in die ganse Bybel wie, wat ons verneem, met God gewandel het. Die ander een was Henog.

Genesis / Bereshit {5:22} "En Henog het ná die geboorte van Metúsalag nog drie honderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters gehad."

God het Abraham versoek om onberispelik voor Hom te wandel, maar nêrens in die Skrif lees ons dat selfs Abraham hierdie vlak bereik het, waar die Skrif van hom kon sê dat hy met God gewandel het nie. Om met God te wandel en in die Skrif daarvoor aangeprys te word, moet dus van besondere betekenis wees en is inderdaad ook so. Dit vereis verbondenheid om met God te wandel. Dit vereis ook 'n innerlike besluit wat 'n mens toelaat om aanhoudend die innerlike influistering van die Heilige Gees te hoor. Henog het met God gewandel en het gevolglik nie soos alle mense gesterwe nie. Noag het met God gewandel en was, as gevolg daarvan, die enigste mens op die hele aarde, wat uitgekies is om die vloed te oorleef en hy het ook sy gesin saam met hom gehad.

Om te lewe as 'n gelowige, word dikwels na verwys as "wandel" en in die Skrif word ons soos volg aangespoor:

Efesiërs / Efosos {5:15} "Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;"

Ons wandel, as gelowiges in Jesus die Messias, word geag om in volmaakte gehoorsaamheid aan die Wil en Woord van God te verkeer; van hoeveel van ons kan God egter sê dat ons met Hom wandel?

2 Konings / Malachim Bet {20:3}" Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween."

Ek glo dat hierdie Skrifgedeelte die beste beskrywing is van om met God te wandel. Om met Hom te wandel, skyn meer veelseggend te wees van iets veel meer intiem: soos twee vriende wat stap en saam gesels en algaande mekaar se diepste, intiemste binnestes ervaar. Beide Noag en Henog het hierdie tipe verhouding met God gehad. Hulle het in God se wêreld geleef terwyl hulle nog op aarde was. Daarom kan ons vermoed dat Noag 'n onsienlike, onopgetekende gemeenskap met God gehad het. Dit is wat die eenvoudige verklaring:" Noag het met God gewandel", beteken. Was Noag dus alleen in sy projek om hierdie ongelooflike, skynbaar onmoontlike ark te bou? Nee, die Heilige Gees het hom gelei en God was by Hom elke tree van die pad, want Noag het met God gewandel.

Matthéüs / Mattiyahu {19:26} "Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê: By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik." 

Filippense / Pilifim {4:13} "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee."

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-10-24