Chayei Sarah
(Sara Het gelewe)
Genesis / Bereshit {23:1} "En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe. {23:5} Toe antwoord die seuns van Het vir Abraham en sê aan hom: {23:6} Luister na ons, my heer! U is ‘n vors van God onder ons. Begraaf u dode in die beste graf wat ons het; niemand van ons sal u sy graf weier om u dode te begrawe nie. {23:7} Toe staan Abraham op en buig hom voor die volk van die land, voor die seuns van Het; {23:8} en hy het met hulle gespreek en gesê: As julle dit goedvind dat ek my dode van my af weg begrawe, luister dan na my en doen vir my ‘n goeie woord by Efron, die seun van Sohar, {23:9} dat hy aan my gee die spelonk van Magpéla wat aan hom behoort, wat aan die end van sy stuk grond lê; laat hy dit vir die volle som aan my gee, dat ek ‘n graf onder julle mag besit."
Ek kan nie vir julle vertel hoeveel keer mense my al uitgevra het oor wat die Bybel ons leer aangaande die begrawe van die dooies nie. Met die hoë koste van begrafnisse vandag, het baie mense my genader betreffende die meer ekonomiese opsie van verassing in plaas van 'n begrafnis. Ek is ook deur ekologiese instansies genader, wat voorkeur aan verassing bo begrafnis verleen, omdat hulle nie die waardevolle landbougrond wil opoffer nie. Ander het weer na my gekom sidderend by die gedagte om begrawe te word, terwyl hulle vlees ontbind in 'n kis en deur maaiers verteer word. Dit is geldige vrae en hul redes om verassing te verkies is logies, maar die vraag is: "Is verassing Bybels?" "Ek dink dit behoort 'n baie vername aangeleentheid vir elke gelowige in Jesus die Messias te wees.
Aangesien verassing logies blyk te wees, kom ons kyk na die drie praktiese redes wat aangevoer word vir die voorkeur om veras te word, alvorens ons die Bybelse aspek daarvan oorweeg. Daar is eerstens die ekonomiese rede: begrafnisse is inderdaad 'n groot uitgawe, maar aangesien ons almal besef dat ons vroeër of later gaan sterf, indien Jesus nie in óns leeftyd na die aarde terugkeer nie, is dit dan nie logies om vooruit te beplan vir ons dood nie? Verstandige mense beplan reeds wanneer hulle nog jonk is vir hul aftrede in die toekoms. Ons koop aandele, neem versekering uit en belê in goedgekeurde staats-aftredingsprogramme. Diegene wat bevoorreg genoeg is om vir 'n maatskappy te werk wat 'n aftredeplan bied, dra ook daartoe by. Indien ons dus met soveel sorg vir ons uiteindelike aftrede beplan - wat miskien nie sou gebeur as ons skielik sterf nie - waarom dan nie ook beplan en voorberei vir ons afsterwe, wat sekerlik gaan plaasvind nie! Om vooraf vir 'n mens se dood te beplan, kan die uitgawe oor 'n aantal jare versprei word. Daar is baie vooraf-begrafnis-planne beskikbaar, sodat 'n eenmalige groot uitgawe onnodig is. Dit is ook nooit te laat om vroegtydig vir 'n mens se begrafnis voorsiening te maak nie, veral waar dit by 'n lewensversekering ingesluit kan word om enige uitstaande premies ten tye van die dood, ten volle op te betaal.
Die tweede logiese rede vir verassing is dat goeie landbougrond nie gebruik word nie. Indien enige land besorgd behoort te wees oor die gebruik van waardevolle grond vir begrafplase, dan móét dit Israel wees. Hierdie klein landjie kan sekerlik nie bekostig om waardevolle vaste eiendom beskikbaar te stel vir hierdie doel nie, maar dit word nietemin gedoen. Hierdie feit is vanselfsprekend: stedelike uitbreiding neem wêreldwyd meer waardevolle landbougrond in beslag vir behuisingsprojekte as wat ooit vir begraafplase gebruik word. 'n Gemiddelde graf is slegs 91,4 cm x 1,98 cm (3 vt x 6.5 vt).
Die derde logiese rede wat ten gunste van verassing verstrek word, is die gedagte van ontbinding en vertering deur maaiers. Die feit is egter dat 'n mens dood is, wat bedoel dat die brein nie langer funksioneer nie, die senuweestelsel nie meer enige pyn ervaar nie en die siel, oftewel die bewussyn, die liggaam verlaat het. 'n Mens leef dus nie meer nie en jou stoflike oorskot in die kis is dooie bederfbare vlees, vlees wat God bestem het om te bederf.
Nou, om die vraag te beantwoord of verassing Bybels is! Die eenvoudige antwoord is: Nee! Waarom is ek so uitdruklik daaroor? Baie eenvoudig. Alle Bybelse bewyse dui op die feit dat God menslike offerande verafsku. Menslike offerand het altyd verbranding behels. Die meerderheid gevalle waar mense of menslike dele deur vuur verbrand is, het altyd gehad op die aanbidding van sataniese, demoongode. Die enigste uitsondering hierop was wanneer mense deur vuur oorval is; andersins het menslike verassing altyd in verband met afgodery gegaan. As 'n mens die feit dat baie afgods-godsdienste steeds verassing beoefen hierby voeg, dan het 'n mens 'n sterker saak daartéén, immers vir diegene wat in Jesus die Messias glo en Hom dien. Verassing is geen opsie nie. Die Bybelse bewys is uitdruklik daartéén gekant!
Kom gou Jesus!
Voorheen uitgegee: 2009-11-14