Woensdag 30 Oktober 2013

Haat Vernietig Lewens

D’Var Torah
Geslagte – Toldot


Genesis / Bereshit {27:41} “En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak. {27:42}  Maar toe hulle aan Rebekka die woorde van Esau, haar oudste seun, vertel, stuur sy en laat Jakob, haar jongste seun, roep en sê vir hom: Kyk, jou broer Esau sal hom op jou wreek deur jou dood te maak. {27:43}  My seun, luister dan nou na my: maak jou klaar, vlug tog na Haran, na my broer Laban, {27:44}  en bly ‘n rukkie by hom tot die woede van jou broer bedaar, {27:45}  tot die toorn van jou broer teen jou bedaar en hy vergeet het wat jy hom aangedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”.

In hierdie verhaal van Esau (Esav) en Jakob (Ya’acov) kan ons die uitwerking van haat op ‘n persoon se lewe sien asook die invloed daarvan op die lewe van iemand wat gehaat word.

Ons verneem hier dat Esau vir Jakob gehaat het. Ons weet ook dat Esau die vader van die Edomiete was, wat bygestaan en toegekyk het hoedat die Assiriërs duisende in Israel aangeval en doodgemaak het. Boonop het hulle gewag en die Israeliete wat van die Assiriërs probeer wegvlug, doodgemaak het. Dit is inderdaad te betreur om daaraan te dink dat Esau en Jakob bloedbroers was, wat vir mekaar moes lief gewees en gerespekteer het en liefde in daaropvolgende geslagte dus moes voortgeduur het. In plaas daarvan, het die haat van Esau teenoor Jakob egter voortgeduur en bestaan dit steeds tussen hulle geslagte tot vandag toe.

Die uitwerking van die haat het selfs verder gestrek: vanweë sy haat, is Esau vervreem van sy broer en uiteindelik ook van sy familie as gevolg van die heidense vroue met wie hy getroud is. Esau het die geloof van sy voorvader, Abraham, versaak en in afgodery verval. Omdat dwaling tot erger dwaling lei, het die godsdiens van Islam – met verloop van eeue – tot stand gekom en het die haat tussen Jode en Moslems gevolglik vererger.

Esau se haat het egter nie slegs ‘n invloed op hom en sy nageslag gehad nie maar ook op Jakob en sy nageslag. As gevolg van Esau se haat vir sy broer, moes Jakob vir sy lewe vlug en van daardie tyd af het Jakob vir Esau gewantrou. Volgens die Skrif het hierdie wantroue reeds geblyk toe die twee broers mekaar teëgekom het terwyl Jakob besig was om na Laban te vlug. Jakob het vir Esau laat weet dat hy hom in Seïr sou ontmoet, maar toe met sy gevolg in die teenoorgestelde rigting na Sukkot {Genesis 33:17} getrek. So het Esau se haat die lewe en besluite van Jakob beïnvloed, nadat hy met sy broer herenig is. Ongeag die feit dat hulle klaarblyklik versoen geraak het, het Jakob nogtans sy broer gewantrou. Hierdie wantroue het deur die nageslag van Jakob tot vandag bly bestaan.

Matthéüs / Mattityahu {5:21} ”Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. {5:22}  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.”

Laat hierdie verhaal van Esau en Jakob vir ons almal ‘n les inhou: ons haat teenoor enigiemand, sal nie slegs vir ons en die persoon vir wie ons haat beïnvloed nie maar ook in albei partye se toekomstige geslagte voortduur.

Johannes / Yochanan {13:34} “n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. {13:35}  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 23 Oktober 2013

God vereis gehoorsaamheid van jou

D’Var Torah
Sarah het gelewe – Chayei Sarah


Genesis / Bereshit {24:1} “En Abraham was oud en ver op sy dae, en die HERE het Abraham in alles geseën. {24:2}  Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup, {24:3}  dat ek jou kan laat sweer by die HERE, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; {24:4}  maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ‘n vrou te neem. {24:5}  Toe sê die dienaar vir hom: Miskien sal die vrou my nie wil volg na hierdie land nie. Moet ek u seun dan maar terugbring in die land waaruit u weggetrek het? {24:6}  En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie. {24:7}  Die HERE, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee—Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal. {24:8}  Maar as die vrou jou nie wil volg nie, dan is jy ontslae van hierdie eed aan my. Jy moet net my seun nie weer daarheen bring nie.”.

Sonder twyfel seën God ons wanneer ons gehoorsaam is. God het Abraham beveel om nie toe te laat dat sy seun met die heidense Kanaäniete ondertrou nie. Toe hy dus ‘n vrou vir sy seun, Isak (Yitzchak) gesoek het, het hy sy dienaar laat belowe dat hy nie ‘n vrou uit die Kanaäniete vir hom sou bring nie. Hy het hom ook laat belowe dat hy na Abraham se familie, waar hý gebore is, sou gaan en dáár vir Isak ‘n vrou sou gaan soek. God het Abraham ook bevel om nooit terug te gaan vanwaar hy oorspronklik gekom het nie. Toe sy dienaar dus van hom verneem wat hom te doen staan as die meisie wie hy gekies het, nie met hom wil saamkom nie, het Abraham aan God gehoorsaam gebly en sy dienaar laat belowe dat hy Isak nooit daarheen sou terugneem nie.

Ek glo nie dat dit blote geluk was dat Abraham se dienaar ‘n meisie gevind het, sy gebede verhoor is, hy vasgestel het dat sy aan Abraham se familie verwant was en sy gewillig was om na Isak geneem te word nie. Kom ons wees eerlik: God seën diegene wat aan Hom gehoorsaam is.

Ek stem saam dat dit vir Abraham nie moeilik sou gewees het om te weier om vir Isak ‘n vrou uit die Kanaäniete te neem nie, want hulle was ‘n heidense – en vervloekte nasie. God het, trouens, hulle land aan Abraham belowe en hulle sou uiteindelik tog van hulle land vervreem word. Dit sou egter vir Abraham moeilik gewees het om die tweede opsie te weerstaan. Toe sy dienaar verneem het wat hom te doen sou staan indien die meisie wat hy moontlik mag vind, nie bereid sou wees om saam met hom te gaan nie, het Abraham sonder die geringste twyfel, die moontlikheid verwerp dat sy seun terugkeer na vanwaar hulle gekom het. Hy het gewéét dat God getrou aan Sy belofte sal wees, en daarom wou hy nie toelaat dat sý familie verwyder word uit die land wat aan hom belowe was nie.

Abraham was getrou en op grond daarvan, het God hom geseën en Isak van die ideale vrou voorsien.

Ek vertrou dat ons uit hierdie verhaal ‘n les sal leer omdat baie van ons God se bevele nie altyd volkome nakom nie en soms teenstrydig daarmee optree. Dit val my veral op met betrekking tot die kwessie van indiensneming. Wanneer ‘n sekere person, by die gemeente Melech Yisrael aansluit, maar voorheen aan ‘n kerk behoort het, beklee hy moontlik tans ‘n betrekking wat vereis dat hy ook op die Sabbat moet werk. Wanneer so ’n persoon se gemeentelidmaatskap aanvaar word en hy die heiligheid van die Sabbat begryp, word ek geraadpleeg oor die feit of hy uit sy werk behoort te bedank. My antwoord is altyd dat hy éérs daaroor bid en God versoek om dit op sy werkgewer se hart te lê om die betrokkene van werk op die Sabbat vry te stel. God ken ons hart en as dit ons begeerte is om nie op die Sabbat te werk nie, sal Hy ‘n oplossing bied. Dit het ookal gebeur dat gemeentelede, wat hulle werk verloor het, werk soek.

Dit is moeilik om ‘n betrekking te vind wat nie vereis dat ‘n mens op die Sabbat werk nie, veral wat werkskofte betref. Dit is maklik om prospektiewe werkgewers, wat wel ook werk op die Sabat vereis, nie te oorweeg nie indien ‘n mens net begin het om werk te soek, maar soos die weke en maande egter verloop, sonder om ‘n werk te bekom waar nie vereis word om op die Sabbat te werk nie, raak die versoeking om enige betrekking te aanvaar, al hoe meer aanloklik.

Abraham is getoets; hy het die regte keuses gedoen en God het hom daarvoor geseën. Ons behoort nie te dink dat ons immuun is om deur God getoets te word nie.

Jakobus / Yaakov {1:2} “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, {1:3}  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. {1:4}  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”.

Ek het al baie mense teëgekom wat toegegee en aan God se gebooie ongehoorsaam was. As gevolg daarvan, het hulle sowel fisies as sielkundig daarvoor geboet. Ek het ook al vele teëgekom, wat aanvanklik gely het, omdat hulle God se gebooie gehoorsaam het maar aan die einde fisies en spiritueel geseën is.

My gebed vir jou is, om wanneer jóú tyd van toetsing aanbreek, jy nie sal toegee nie maar aan God gehoorsaam sal bly.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 16 Oktober 2013

Vader van gasvryheid

D’ Var Torah
Vayera - En Hy het verskyn


Genesis / Bereshit {18:1} “Daarna het die HERE aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. {18:2}  Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent af en buig hom na die aarde toe. {18:3}  En hy sê: My heer, as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie. {18:4}  Laat hulle tog ‘n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom. {18:5}  En laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart—daarna kan u verder gaan—want daarom het u by u kneg aangekom. En hulle antwoord: Doen soos u gesê het.”.

Daar was al heelwat omstredenheid onder Joodse kommentators oor die feit of Abraham (Avraham) deur engele of deur God, vergesel deur twee engele, besoek is aldan nie. Indien daar nie spesifiek na die Here as “Adonai” verwys is nie, soos in vers drie hierbo, mag daar tog ‘n mate van geldigheid bestaan het in die aanspraak dat dit drie engele en nie God en twee engele was nie.

Die Tora was oorspronklik nie geskryf met vokaalpunte nie met die gevolg dat die woord “Adonai”, wat Here beteken, ook as “adonai”, wat “meneer” of “Heer” (laasgenoemde met ‘n kleinletter “h”) beteken, vertaal kon word. Die opvatting dat Abraham slegs engele ontmoet het, word egter bevraagteken deur die feit dat die openingsin van hierdie Skrifgedeelte begin met {18:1} “…het die Here aan hom verskyn by die eikebome van Mamre terwyl hy sit by die ingang van die tent op die warmste van die dag.”. Die woord “God” word hier in Hebreeus geskryf as “Jahwê” (), wat die benaming vir God en nie vir ‘n engel is nie. Dieselfde benaming vir (Jahwê) vir God word, trouens, dwarsdeur die parasha aangetref.

Daar bestaan egter geen méér oortuigende bewys dat dit inderdaad God, in menslike gedaante, was wat Abraham gesien het nie, as die volgende vers uit ons parasha:

Genesis / Bereshit {19:24} “En die Here (Jahwê) het swawel en vuur oor Sodom en Gomora laat reën van die Here (Jahwê) uit die hemel,”.

In hierdie vers sien ons nie slegs dat daar na Abraham se besoeker as die “Jahwê” verwys word nie, maar ons lees ook dat die God op die aarde swawel en vuur van die God in die hemel laat reën het.

Die volgende punt wat ek graag wil maak, betref dat Abraham deur sowel geleerdes as kommentators insgelyks beskou word as die vader van gasvryheid. Terwyl Abraham by die ingang van sy tent gesit het, word ons vertel dat hy reisigers in die verte gesien het. Waarskynlik onder die indruk dat hulle slegs sou verbygaan, het Abraham nie eenvoudig gestap om hulle te groet nie – ons word vertel dat hy gehardloop het om die vreemdelinge te groet en inderdaad een van hulle as God herken het. Hy het hulle genooi om by sy tent te vertoef en hulself te verfris. Ek is egter oortuig daarvan dat Abraham vanaf ‘n afstand nie geweet het wie die reisigers was nie maar toe hy naderkom, besef het wie hy sou onthaal.

Was dit vir Abraham ‘n toets? Het die reisigers bloot voorgegee dat hulle hom sou verbygaan? Ek glo persoonlik dat dit wel vir Abraham ‘n toets was. Indien Abraham nie opgestaan en gehardloop het om die reisigers te groet nie, sou hy seëninge verbeur het. Die feit dat hy by die ingang van sy tent gesit en kyk het vir moontlike verbygangers en toe hy hulle sien, opgestaan en hulle gaan groet het, vertel vir ons dat hy ongetwyfeld die benaming van vader van gasvryheid verdien.

Ek meen dat ons by Abraham ‘n les moet leer. Dikwels lyk dit asof God ver weg is en ons sal verbygaan, maar inderwaarheid wag Hy vir ons om na Hom toe te hardloop – nie te loop nie – om Hom te groet en Hom in ons lewens en ons huise binne te nooi sodat ons ook geseën mag word. ‘n Verdere les wat ons by Abraham moét leer, is om gasvryheid aan reisigers en vreemdelinge te betoon.

Hebreërs / Ivrim {13:2} “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg. ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 07 Oktober 2013

Die opperheerskappy van God

D’Var Torah
Gaan jy heen – Lech Lecha


Genesis / Bereshit {12:10} “En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. {12:11}  En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ‘n vrou is mooi van aansien. {12:12}  As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. {12:13}  Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. ”.

Agterna beskou is dit 20 / 20! Ons besef nou die gevolge van Abram se tog na Egipte (Mitzrayim); dit is dus maklik vir ons om te sê dat indien óns in Abram se situasie verkeer het, sou ons gebly en nie die land Kanaän verlaat het nie. As Abram wel sou gebly het, sou daar geen Hagar gewees het nie, geen Ismael, gevolglik geen Arabiese volk en dus ook geen Palestyne nie. Ons was egter nie daar nie, met die gevolg dat ons nie werklik weet wat óns onder dieselfde omstandighede sou gedoen het nie.

Ons moet onthou dat daar destyds geen fabrieke was nie en voedsel is nie uit ander lande ingevoer soos die geval, trouens, vandag is nie (Kanada word in die winter voorsien van vars vrugte en groente uit tropiese lande vanoor die hele wêreld). In Abram se tyd was die mense afhanklik van hulle vee vir oorlewing. ‘n Hongersnood, wat gewoonlik ontstaan het as gevolg van ‘n gebrek aan reën, sou hulle ekonomie en hulle vee van honger laat omkom het. Die wete dat daar volop weiding en voldoende voedsel in Egipte was, sou ‘n reis daarheen besonder aanloklik gemaak het. Ons kan sekerlik ‘n vergelyking tref tussen wat Abram destyds gedoen het en die migrasie wat plaasgevind het en, trouens, steeds plaasvind in sowel Kanada as die Verenigde State, van mense wat werk soek.

Daar bestaan egter geen “wat as” of “as dit ek was” wat God betref nie nie. God het in Sy oppermag vir Abram uit sy huis en van sy familie af na die land Kanaän laat trek. Dit was immers God wat die reën in Kanaän weerhou het, wat tot hongesnood gelei het en dit was sonder twyfel Hy wat Abram laat besluit het om tydelik na Egipte te trek. God is in algehele beheer van die menslike geskiedenis. – daar is hoegenaamd niks wat op die gebied van die geskiedenis gebeur, wat Hy nie beskik en orkestreer nie! Indien Abram die land Kanaän verlaat het om na Egipte te gaan, was dit omdat God hom daarheen wou laat gaan, Dit was ook geen toeval dat Abram Hagar bekom het en Ismael vir hom gebore is nie, van wie die Arabiese nasies afgestam het: God het dit alles beskik vir één uitsluitlike doel: om die mensdom na Homself terug te bring.

Ek besef dat daar onbeskryflike boosheid vandag in die wêreld heers en ons sien soveel klaarblyklik hulpelose onskuldige mense wat doodgemaak word. Dit laat ‘n mens onwillekeurig vra: “Waar is God dan te midde hiervan, waarom laat Hy toe dat al hierdie dinge gebeur?” Ons moet egter onthou dat God, in die tyd van Noag, alles wat asem gehaal het, deur ‘n vloed uitgewis het. Hy het niks ontsien nie – selfs nie eers pasgebore babas nie. Slegs ses regverdige volwassenes is in die ark toegelaat, tesame met duisende diere, voëls en insekte en dit is omrede:

Hábakuk / Havakkuk {1:12} “Is U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot ‘n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot ‘n tugroede het U hom bestem! {1:13}  U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie—waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? ”.

Ons kan nooit die waarom en waarvoor van God se besluite begryp nie maar kan verstaan dat wat Hy ookal doen, uiteindelik sal eindig in die redding van die regverdige en die eliminasie van alles wat goddeloos is. Ons verantwoordelikheid ten opsigte van hierdie dinge is om seker te maak dat ons een van die regverdiges is.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou