Sondag 30 September 2012

Sukkot: Sy teenwoordigheid wat by ons is

30 September 2012 
D’Var Torah 
Tabernakels / Sukkot 

Johannes / Yochanan 1:10 – 14

Eksodus / Shemot {33:12} “Toe het Moses met die HERE gespreek: U sê nou wel aan my: Ek moet hierdie volk laat optrek, maar U laat my nie weet wie U saam met my sal stuur nie, hoewel U gesê het: Ek ken jou by die naam, en jy het ook genade in my oë gevind. {33:13} As ek dan nou genade in u oë gevind het, maak my dan tog u weë bekend, dat ek U kan ken; sodat ek genade in u oë kan vind. En bedink tog dat hierdie nasie u volk is. {33:14} En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? {33:15} Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. {33:16} Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is. ”. 

Ons is almal vertroud met die geskiedenis wat hierdie Skrifgedeelte voorafgegaan het. Die kinders van Israel het deur die aanbidding van die goue kalf gesondig en sodoende die toorn van God oor hulle gebring. Vanweë hierdie sonde, wou God Sy teenwoordigheid onder die kinders van Israel onttrek en nie langer saam met hulle in die wildernis wees nie. Moses, soos ons gelees het, het egter met God geredeneer en Hom versoek om nie Sy teenwoordigheid onder die volk weg te neem nie, maar gevra dat Hy eerder aan Hom Sy weë bekendmaak, dat hy guns in Sy oë mag vind en oorweging daaraan skenk dat hierdie volk God se mense is. 

Sukkot handel in geheel oor hierdie wilderniservaring. Ons bou vandag sukkahs (skamele skuilings) ter herinnering aan die kinders van Israel se ervaring in die wildernis, maar Sukkot is inderdaad veel meer as die kinders van Israel se wilderniservaring. Dit versinnebeeld ook die dag wanneer ons Heer en Redder, Jesus die Messias, gedurende die Duisendjarige Ryk (die eenduisend-jarige heerskappy van die Messias) saam met ons die aarde sal bywoon. Dan sal ons nie swaar deure met ystertralies en –slotte nodig hê nie; in plaas daarvan, sal ons veilig woon in die eenvoudige skuilings onder die beskerming en mag van ons Messias. 

Miga / Micah {4:3} “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. {4:4} Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek. ”. 

Hoe het die Skrifgedeelte wat ek uit hierdie week se Tora-lesing aangehaal het, dan op Sukkot betrekking? Alles, omdat dit handel oor God se teenwoordigheid by Sy mense. Waarom is Sukkot so ’n vreugdevolle Feesdag? Dit is die feit dat ons herinner word dat God by Sy mense teenwoordig was tydens hulle omswerwing in die wildernis en juis dit verleen aan ons die sekerheid dat Hy met ons is terwyl ons deur die lewenswildernis op hierdie aarde dwaal. Dit dui ook vooruit op die tyd van Jesus die Messias se wederkoms, wanneer Hy weereens na die planeet aarde terugkeer om permanent onder Sy mense sal woon. 

Ruim gerus ‘n tydjie in om weer die Skrifgdeeltes aan die begin van hierdie shiur (kommentaar) deur te lees en let daarop dat dit alles betrekking het op Sukkot: God sal by ons wees, ons name ken, guns by ons vind, Sy teenwoordigheid sal by ons wees, Hy sal aan ons rus skenk en óns, ‘n volk sal wees, wat afgesonder is van al die volke oor die hele aarde. Baruch HaShem (Loof die Here) Chag Sukkot Sameach (Gelukkige Sukkot vakansiedag). 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 22 September 2012

Israel beïnvloed die hele wêreld

22 September 2012 
D’Var Torah 
Gee Gehoor – Hazinu 

Romeine / Romim 10:14 – 11:12

Deuteronomium / Devarim {32:7} “Dink aan die dae van die ou tyd, let op die jare, van geslag tot geslag; vra jou vader, dat hy jou dit bekend maak; die ou mense, dat hulle jou dit sê. {32:8} Toe die Allerhoogste aan die nasies ‘n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel. {32:9} Want die HERE se deel is sy volk, Jakob is sy afgemete erfdeel.” 

Hierdie is ‘n merkwaardige gedeelte wat besonder moeilik is om te vertolk en gevolglik ewe moeilik is, onder leiding van die Heilige Gees (Ruach HaKodesh) natuurlik, om kommentaar op te lewer. Ek gaan egter poog om dit te verduidelik soos wat ek dit verstaan. 

Die grondliggende betekenis van hierdie verse kan verstaan word om te beteken dat toe God die grense van die land Kanaän bepaal het, het Hy dit gedoen met die bedoeling om dit uiteindelik as erfdeel aan die kinders van Israel te skenk. Toe Hy dus die grense bepaal het, het Hy die grootte van die bevolking van die kinders van Israel in oorweging geneem, deur die grense van die land Kanaän voldoende te bepaal om aan die kinders van Israel, op hulle mees bevolkte getal, verblyf te verskaf. Dit was my gevolgtrekking op grond van wat God aangaande die lande, wat aan die land Kanaän gegrens, gesê het. 

Deuteronomium / Devarim {2:4} “en gee aan die volk bevel en sê: Julle gaan trek deur die grondgebied van julle broers die kinders van Esau wat in Seïr woon, en hulle sal vir julle vrees; pas dan goed op; {2:5} begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie ‘n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as ‘n besitting gegee. “. 

Deuteronomium / Devarim {2:9} “Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ‘n besitting gegee het. ”. 

Ons sien dus dat die kinders van Israel se grense volgens hulle bevolking bepaal is en hulle gevolglik geen lande wat aan die die land Kanaän gegrens het, kon versteur nie aangesien dit nie aan hulle gegee is omrede hulle dit nie nodig gehad het nie. 

Daar is egter ‘n ander betekenis waardeur ons hierdie Skrifgedeelte kan verstaan, veral in die lig van wat ons sien wat vandag in die wêreld plaasvind; lande word verdeel, skeurings vind plaas en nuwe lande en landsgrense word bepaal. Neem byvoorbeeld die voormalige land Joegoslawië, wat in die geskiedenis verdeel is in Slovenië, Masedonië, Kroasië, Serbië, Montenegro, Kosowo en Bosnië. Kon hierdie splitsing moontlik iets te doen gehad het met die bevolking van die kinders van Israel en die verdeling van God se erfdeel aan die kinders van Israel? Kan ons meer sodanige herskikking van landsgrense verwag namate die nasies van die wêreld daarin volhard om druk op Israel uit te oefen om ter wille van vrede, van sy land prys te gee? Slegs die tyd sal dit leer. Ons wéét egter dat Israel en die Joodse volk die appel van God se oog is! Daarom is dit seker: wat ook al met hulle gebeur, dit wil sê die wyse waarop hulle in sowel Israel as oor die wêreld heen behandel word, sal ‘n reaksie van God ontlok – óf positief óf negatief. 

Dit is waarlik verstommend dat die wêreldnasies nog nie tot die besef gekom het, dat wat met Israel en in Israel gebeur, die hele wêreld beïnvloed nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 16 September 2012

Onthou dat dit nie julle gemeente is nie, maar God s’n

16 September 2012 
D’Var Torah 
En Hy Het Gegaan / Vayelech 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:1 – 10

Deuteronomium / Devarim {31:1} “Daarna het Moses gegaan en die hele Israel met hierdie woorde toegespreek {31:2} en vir hulle gesê: Ek is vandag honderd en-twintig jaar oud; ek kan nie meer uit— en ingaan nie, en die HERE het vir my gesê: Jy mag deur hierdie Jordaan nie gaan nie. {31:3} Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4} En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5} die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het. {31:6} Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. “. 

My vrou en ek gaan nou ons sewentiende jaar van bediening by Kehila (Gemeente) Melech Yisrael in en dit is heel natuurlik dat ons na soveel jaar, hierdie gemeente as ons “baba” beskou! Toe ons destyds die leierskap daarvan oorgeneem het, het dit in wanorde verkeer. Daar was nie sprake van ‘n familie nie en ons is werklik moeilik aanvaar; trouens, vir die eerste vyf jaar was ons in ‘n stryd gewikkel om die gemeente te verenig en aanvaarding as leiers te ervaar. Prys God (Baruch Hashem), dit het sedertien alles verander. Die gemeente Melech Yisrael is nou ‘n lewendige, liefdevolle gemeente, waar ons leierskap hoog aangeslaan word. Nog belangriker is dat ons in ‘n ware familie (mispocha) ontwikkel het en vanweë daarvan, gesëen word. My vrou en ek het besonder hard gewerk om hierdie gemeente op te bou en op grond daarvan, sou dit vir ons baie maklik gewees het om die eer vir die welslae daarvan vir onsself toe te eien. Sewentien jaar van harde werk wat vanselfsprekend met veel stryd, teleurstellings en hartseer gepaardgegaan het, sou ‘n mens heel maklik trots en besitlik kon gemaak het. Indien daar egter die geringste mate van trots of besitlikheid in ons was, sal die verse hierbo aangehaal, dit sonder twyfel weerspreek. 

Moses sou die volste reg gehad het om ten opsigte van die kinders van Israel trots en besitlik te gewees het. Hy het inderdaad bloed, sweet en trane gestort vanaf die oomblik wat hy hulle uit Egipte gelei het totdat hy die bovermelde verse geskryf het, Desondanks het hy erken dat die kinders van Israel nie aan hom behoort het nie – hy was bloot die werktuig wat God gebruik het om Sy wil te volbring en Sy volk te help bou. Moses het niks gehad om homself op te beroem nie of besitlik oor te wees nie – die volk was nie syne nie, hulle het aan God behoort! 

Ek hoor dikwels dat gemeenteleiers na die gemeente wat onder hulle leiding staan, daarna as “My gemeente” verwys, terwyl dit nie húlle gemeente is nie, maar wel God s’n. Die gemeente Melech Yisrael het reeds bestaan voordat ek die leier geword het en sal nog bestaan nadat my vrou en ek weg en vergete is. Ons is slegs dienaars as deel van ‘n reeks dienaars wat God dien om Sy koninkryk te bou deur Sy mense op te hef deur die onderrig van Sy Woord. 

Lukas / Uri {17:7} “En wie is daar van julle wat ‘n dienskneg het wat ploeg of vee oppas, en as hy inkom van die veld vir hom sal sê: Kom dadelik hier aan tafel? {17:8} Sal hy nie eerder vir hom sê nie: Maak vir my die aandete klaar en omgord jou en bedien my totdat ek geëet en gedrink het; en daarna kan jy eet en drink? {17:9} Bedank hy daardie dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek glo nie. {17:10} So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen. ”. 

Ten slotte, aan al die lesers daarbuite, wat trots op – of besitlik geraak het ten opsigte van die gemeentes wat julle lei, sê gerus “my gemeente”, maar hou altyd in gedagte dat dit nie julle gemeente is nie, maar God se gemeente. 

Deuteronomium / Devarim {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie. ”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 09 September 2012

Die geheimenisse behoort aan God

9 September 2012 
D’Var Torah 
Julle Staan – Nitzavim 


Deuteronomium / Devarim {29:9} “Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. ”. 

Daar is vele dinge aangaande God wat ons nie begryp nie. In die boek Job word dit baie beter gestel as wat ek kan, waar dit soos volg lui: 

Job / Iyov {38:4} “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. {38:5} Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? {38:6} Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê? {38:7} Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het? {38:8} En wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? {38:9} Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. {38:10} Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; {38:11} en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ‘n grens gestel vir jou trotse golwe. {38:12} Het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied, die dageraad sy plek aangewys, {38:13} om die some van die aarde aan te gryp, sodat die goddelose daarvan afgeskud word? {38:14} Dit neem nuwe vorme aan soos die klei onder ‘n seël; en die dinge kry gestalte soos ‘n kleed. {38:15} En aan die goddelose word hulle lig ontneem, en die hoë arm word verbreek. {38:16} Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed? {38:17} Is die poorte van die dood vir jou ontbloot? En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien? ”. 

Ons behoort dus nie so voortvarend te wees om voor te gee dat ons alles weet wat daar aangaande God en Sy Woord te wete is nie. Hy het ons beslis nie alles meegedeel nie en daar is baie dinge wat ons nooit sal begryp nie voordat ons Hom van aangesig to aangesig in die Hemel ontmoet nie. Dit wat ons egter wel weet, is dit waarvoor ons verantwoordelik is en juis dít is wat ek uit vandeesweek se Parasha graag wil bespreek. 

Baie mense is oordrewe besig met die sogenaamde bepaling van tye en datums, veral wanneer dit op die eindtye betrekking het. Ek word heel dikwels gekonfronteer met vrae aangaande die “wegraping” en die anti-Messias. Ofskoon ons wel inligting oor hierdie twee onderwerpe in die Bybel gegee word, weet ons nogtans nie alles nie en veel wat hieroor geleer word, is blote spekulasie. 

Selfs al beskik ons oor Skrifgedeeltes soos die volgende, verstaan ons dit in geheel glad nie: 

1 Korithiërs / Korintim Aleph {15:52} “in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”. 

Nêrens in dé Skrifgedeelte word die woord “wegraping” vermeld nie en gevolglik is enige verwysing daarna spekulasie. Dit is hoegenaamd nie dat ek nie wil glo in die “wegraping” van die heiliges nie; inteendeel, sal ek graag wil glo dat die heiliges van God nie die verdrukkingstyperk moet verduur wat die wêreld sal moet ondervind wanneer die anti-Messias oor die aarde heers nie. Die kans hiervoor is egter betwyfelbaar. Dit is juis hierdie Skrifgedeelte wat my inspireer om aan die “wegraping” te twyfel: 

Jesaja / Yeshayahu {26:20} “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ‘n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. {26:21} Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie. ”. 

Gaan God ons verberg wanneer die oordeelsdag oor die aarde aanbreek of gaan Hy ons van die aarde af wegneem vóór daardie tyd? Julle teologies eskatologie of gissings is seker net so goed soos myne! Ons móét begryp, wat in hierdie week se parasha aan ons meegedeel word: “Die verborge dinge is vir die HERE onse God;”. Laat ons dus nie spekuleer nie maar eerder voorbereid wees op één van die twee: die “wegraping” of om hier op aarde verberg te word. Laat ons egter onthou wat in hierdie week se parasha aan ons meegedeel word: “… maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. ”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 02 September 2012

Onderworpe aan al die bepalings en voorwaardes daarvan

2 September 2012
D’Var Tora
Wanneer Julle Gekom Het / Ke Tavo


Deuteronomium / Devarim {29:1} “Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29:2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5} En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet. {29:6} Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. {29:7} En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan {29:8} en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete. {29:9} Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen.”

Baie gelowiges in Jesus die Messias begryp nie ten volle waartoe hulle hul verbind het toe hulle Jesus as hul Heer en Redder aangeneem het nie. Parasha Ke Tavo bevat die verbonde ten opsigte van die lewenswyse wat Israel opgelê is om te volg en na te kom. Wat egter by vele gelowiges in Jesus die Messias ontbreek, is dat hulle nie volkome begryp dat toe hulle Jesus die Messias as hul Heer en Redder aangeneem het, hulle onderneem en aanvaar het om volgens al hierdie verbonde te lewe en hulle gevolglik onderworpe is aan die seëninge en vervloekinge wat die onderhouding aldan nie, daarvan inhou.

Romeine {11:17} “En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, ”.

Die olyfboom simboliseer Israel, die natuurlike afgebreekte takke is die fisiese afstammelinge van Abraham (Avraham), Isak (Yitzchak), en Jakob (Ya’acov), terwyl die wilde takke op die nie-Joodse gelowiges in Jesus die Messias betrekking het. Lees wat in die volgende vers geskrywe staan:

Romeine {11:18} “moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou... “

Indien ons hierdie verse saamlees met die volgende Skrifgedeelte, kan ‘n mens begin om te begryp wat Paulus sê:

Efésiërs / Efesos {2:12} “dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld. {2:13} Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus. {2:14} Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het …”. 

Wat hier aan ons meegedeel word is dat gelowige nie-Jode, deur hulle geloof in Jesus die Messias, mededeelgenote van die verbondbeloftes word. Paulus gaan dan verder deur te sê:

Efésiërs / Efesos {3:5} “wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik {3:6} dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie…”. 

Nie-Joodes gelowiges wat, deur hulle geloof in Jesus die Messias as’t ware by Israel ingeënt is, word onlosmaaklik deel van Israel – onafskeidbaar, onwaarneembaar; die twee wat één geword het. Die skeidsmuur, naamlik hulle ongeloof en uitsluiting uit die Verbond, is afgebreek en hulle is nou één met Israel.

Eksodus / Shemot {12:49} “Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. ”.

Voordat ek gered is, was ek ‘n natuurlike tak vanweë die ongeloof van my voorouers. Toe ek egter Jesus die Messias as my Heer en Redder aangeneem het, het ek my met die Verbond verbind, soos in parasha Ke Tavo en in die hele Tora uiteengesit. My “handtekening” is deur die kosbare bloed van Jesus die Messias op hierdie Verbond aangebring. Net so die nie-Jode, wat Jesus die Messias aangeneem het as hulle Heer en Redder, is as ‘n nie-natuurlike tak, ook op dieselfde boom “ingeënt”. Daarom het hulle ook deur die bloed van Jesus die Messias, hulle “handtekening” op die Verbond, aangebring. Die skeidsmuur tussen die Joodse gelowiges en die nie-Joodse gelowiges is afgebreek omdat ons albei in Israel “ingeënt” is. Die nie-Joodse gelowige (Christen) het net soos die Joodse gelowige op dieselfde Verbond geteken en op grond daarvan, is hulle net so onderworpe aan al die bepalings en voorwaardes daarvan.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou