Vrydag 31 Julie 2020

Werke

V’Etchanan
(En Ek Het Gesmeek)


Deuteronomium {3:23} “Ook het ek die HERE in dié tyd gesmeek en gesê: {3:24} Here, HERE! Ú het begin om u kneg u grootheid en u sterke hand te laat sien; want watter God is daar in die hemel en op die aarde wat sulke werke en sulke magtige dade kan doen soos U? {3:25} Laat my tog oortrek en die mooi land sien wat oorkant die Jordaan lê, daardie goeie bergland en die Líbanon! {3:26} Maar die HERE het toornig op my geword om julle ontwil en my nie verhoor nie; maar die HERE het vir my gesê: Dit is nou genoeg! Moenie nog verder met My oor hierdie saak spreek nie."

Dit was nie vir my nodig om verder in die Parasha te lees alvorens ek iets gevind het om kommentaar oor te lewer nie. Dit is ‘n onderwerp wat ons almal al oor gedink het en ek is seker ‘n vraag wat ons almal reeds gevra het. Waarom is dit dat wanneer ons om goeie dinge bid, soos vir ons genesing of genesing van ‘n familelid of vriend of vir die redding van ‘n huweliksmaat of ‘n kind, ons gebede nie verhoor word nie? Hierdie gebede is tog sekerlik binne die Wil van God, maar word vir die grootste gedeelte nie verhoor nie. Ek het al dikwels in die hospitaal vir die genesing van iemand gebid, maar dan sterf die persoon! Waarom het God my nie geskenk waarvoor ek gevra het nie - ek het dan in Jesus se naam gebid? In die Brit Chadasha (Hernieude Verbond) word ons meegedeel dat wat ons ookal in die Naam van Jesus vra, Hy sal doen.

Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

Baie gelowiges raak mismoedig of verloor selfs hul vertroue, wanneer hulle Johannes {14:13} gelees het, maar hulle gebede herhaaldelik nie verhoor word nie. Die feit is dat God nooit gesê het dat Hy al ons gebede sal verhoor nie. Ons moet na Jesus se verklaring in konteks kyk, voordat ons tot die slotsom kom dat God al ons gebede gaan verhoor en alles sal doen wat ons vra. Om die konteks van hierdie vers beter te verstaan, is dit nodig dat ons die volgende verse lees:

Johannes {14:10} "Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. {14:11} Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self. {14:12} Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo — die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan."

Hierdie Skrifgedeelte verduidelik aan ons dat Jesus die werke van die Vader doen omdat die Vader in Hom is en Hy in die Vader is. Op grond van hierdie verklaring, sê Jesus dat Hy nie enigiets op sy eie inisiatief doen nie. Alles wat Hy doen, is gedoen omdat die Vader in Hom is. Dan verduidelik Jesus verder dat as ons in Hom glo, ons ook die “werke” sal doen wat Hy gedoen het; trouens, selfs groter werke As gelowiges in Jesus, bly Hy in ons en ons in Hom en op grond daarvan, kan Hy deur ons, soortgelyke of groter “werke” doen as wat Hy gedoen het. Die konteks dus van hierdie gedeeltes, is Sy inwoning en deur hierdie inwonig, dat ons “werke” doen en selfs “groter werke” doen as wat Hy gedoen het. Dan sê Jesus verder:

Johannes {14:13} "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. {14:14} As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen."

Indien die onderwerp waaroor Jesus praat, ons “werke” is, wat die gevolg van Sy inwoning in ons is, die dan moet die “wat julle ookal vra”, betrekking hê op daardie onderwerp. So, wat vertel Jesus ons dan, wanneer Hy sê dat wat ookal ons van Hom vra, Hy dit sal doen? Indien ons die “wat ookal” dan “” is en die voorbeeld wat Jesus ons gegee het, is dat Hy niks doen buiten Sy Vader se inwoning nie, dan moet presies dieselfde op ons van toepassing wees. Deur die inwoning van Jesus in ons, kan ons niks sonder Hom doen nie. In daardie geval, wat is dit waarvoor ons kan vra, wat Hy vir ons sal doen, as ons niks sonder Hom kan doen nie? Dit is “werke” en “selfs groter werke”! Dit is egter nie sommer enige soort “werke”, waarna Jesus hier verwys nie, maar spesifieke “werke”, want ons word vertel:

Johannes {13:34} "’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. {14:15} As julle My liefhet, bewaar my gebooie. {15:12} "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra."

Die “werke” is liefde! Soos wat ons in Jesus is en Hy in ons is, en ons enige tyd vra om die vermoë om lief te hê, of dit vir Hom of iemand anders is, sal Hy dit aan ons skenk. Hy sal ons, trouens, són vermoë skenk om lief hê,dat ons liefde selfs ‘n groter impak op mense sal hê as Syne, terwyl Hy nog op aarde was. 

Dit is natuurlik verstaanbaar wanneer ‘n mens besef dat Jesus nie langer by ons op aarde teenwoordig is nie en dus ook nie sigbaar is nie. Die enigste Jesus wat vandag vir die wêreld sigbaar is, is die Een wat deur ons kan liefhê. Ten slotte: moet nie hierdie verse toepas op enige en alle gebiede nie, soos wat soveel van ons al gedoen het nie - pas dit toe op julle LIEFDE!

Kom gou Jesus!
       

 PDF weergawe

Saterdag 25 Julie 2020

Geskiedenis

Devarim
(Woorde)

In hierdie Parasha verstrek Moses aan die kinders van Israel ‘n gedetaileerde opsomming van hulle reis, vanaf die begin toe hulle Egipte verlaat het. Julle mag miskien wonder waarom hy so in besonderhede gegaan het, deur elke ompad, draai en einde te verduidelik. Die rede, soos ons weet, is dat hierdie ‘n nuwe geslag was; die vorige geslag, wat oorspronklik Egipte verlaat het, het intussen omgekom. Selfs indien sommige van die nuwe geslag miskien reeds oud genoeg was om min of meer te onthou, wat hulle ouers ervaar het tydens die jarelange geswerf in die wildernis, was die meeste van hulle te jonk om werklik te besef wat gebeur en waarom dit plaasgevind het. Daarbenewens moes daar tog geboortes gewees het terwyl die kinders van Israel in die wildernis rondgeswerf het, maar hierdie kinders het hoegenaamd geen kennis van Egipte gehad nie. Dit was dus noodsaaklik dat hierdie nuwe geslag moes onthou (“zachor”) wát plaasgevind het en die rede waarom dit alles plaasgevind het. Meeste van hierdie nuwe geslag móés hulle geskiedenis ken sodat hulle dit nie sou herhaal nie. Ek glo dat dit juis om dié rede was dat Moses dit so in die fynste besonderhede verduidelik het.

Geskiedenis het die geneigdheid om dit te herhaal, indien ons die verlede nie onthou en selfs ons geskiedenis nie ernstig opneem nie - ons toekoms kan gevolglik daaronder ly. Ons almal het Geskiedenis as vak op skool geneem, wat ‘n mens in staat stel om kennis van die land, waarin ons woon, op te doen. Dit het ons patriotisme verseker en sal hopelik sowel ons as ons politici lei om nie sekere foute wat ons voorvaders begaan het, te herhaal nie. Moses wou seker maak dat hierdie nuwe geslag en alle toekomstige geslagte nooit die uitbuitings, rondswerwings, oorloë en opstande vanaf die tyd wat die kinders van Israel Egipte verlaat het tot hulle aankoms by die grens van die beloofde land, sou vergeet nie

Deuternomium {1:6} "Die HERE onse God het met ons by Horeb gespreek en gesê: Julle het lank genoeg by hierdie berg gebly. 1:7} Trek weg en breek op en gaan na die gebergte van die Amoriete en na al sy naburige plekke: die Vlakte, die Gebergte en die Laeveld en die Suidland en by die seekus — die land van die Kanaäniete en die Líbanon, tot by die groot rivier, die Eufraatrivier. {1:19} Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. {1:20} Toe het ek vir julle gesê: Julle het tot by die gebergte van die Amoriete gekom wat die HERE onse God aan ons sal gee. {1:21} Kyk, die HERE jou God het die land aan jou oorgegee; trek op, neem dit in besit soos die HERE, die God van jou vaders, jou gesê het; wees nie bevrees en wees nie verskrik nie. {1:26} maar julle wou nie optrek nie, maar was wederstrewig teen die bevel van die HERE julle God. {1:27} En julle het in jul tente gemurmureer en gesê: Omdat die HERE ons haat, het Hy ons uit Egipteland uitgelei om ons in die hand van die Amoriete oor te gee, dat hulle ons verdelg."

Hoe goed het die kinders van Israel hulle geskiedenis onthou? Ongelukkig nie te goed nie, want soos ons almal weet, het hulle baie van dieselfde foute as hulle voorvaders begaan. Gevolglik het dit uiteindelik toekomstige geslagte in baie soortgelyke posisies as hulle voorvaders laat beland.

Toe die vorige geslag in opstand teen die Here gekom het, deur te weier om die land Kanaän binne te gaan, het Hy hulle laat omdraai en veroorsaak dat hulle vir veertig jaar in die wildernis rondgedwaal het, waar hulle almal uiteindelik omgekom het. Hierdie nuwe geslag was gereed om die land binne te gaan en is deur Moses beveel om hulle geskiedenis te leer sodat hulle ook hulle kinders daarin kon onderrig. Slegs ‘n geslag later is dit egter bewys dat die kinders van Israel niks van hulle geskiedenis geleer het nie. In plaas daarvan, het hulle ook herhaaldelik teen die Here in opstand gekom. Hulle voorvaders - vanweë hulle opstand - is nie toegelaat om die land binne te gaan nie en uiteindelik, as gevolg van die nuwe geslag se opstand, het die Here hulle uit die land uitgesit.

Tensy ons uit ons uit ons geskiedenis leer, is ons ook bestem om dit te herhaal. Ek verwys nie hier na ons nasionale geskiedenis nie, maar na ons persoonlike geskiedenis! Ons almal het al een of ander tyd in ons lewens teen die Here in opstand gekom en aan gevolge daarvan gely - sommige baie ernstig, ander minder ernstig, maar dit was onteenseglik gevolge. Sommige ly steeds onder die gevolge van ons opstand. Ek weet nie van julle nie, maar ek kan ongetwyfeld sekere van die gevolge wat ek in my lewe ervaar het, toeskryf aan tye waartydens ek teen die Here opstandig was. Soos die kinders van Israel, het ek tot my spyt in sekere gevalle ook nie uit my persoonlike geskiedenis geleer nie en dieselfde foute herhaal, wat op meer intense gevolge uitgeloop het. Onnodig om te sê, is ek nou baie meer bedag daarop om uit die foute van die verlede te leer en met die hulp van God probeer ek my uiterste bes om dit nie te herhaal nie.

1 Korinthiërs {10:1} "WANT ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, {10:2} en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, {10:3} en almal dieselfde geestelike spys geëet het, {10:4} en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. {10:5} Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. {10:6} En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie."

Paulus waarsku die Korinthiërs en natuurlik ook vir ons hier, dat alles wat met die kinders van Israel gebeur het, vir ons as voorbeelde moet dien. Eenvoudig gestel, sé hy “as ons nie uit ons geskiedenis leer nie, loop ons gevaar om dit te herhaal!”

Kom gou Jesus!



Saterdag 18 Julie 2020

Gehoorsaamheid

Matot-Masei
(Stamme – Reise)

Matot (Stamme)

Numeri {31:21} "En die priester Eleásar het aan die krygsmanne wat na die oorlog getrek het, gesê: Dit is die wetsinsetting wat die HERE Moses beveel het. {31:22} Net die goud en die silwer, die koper, die yster, die tin en die lood — {31:23} elke ding wat in die vuur kan kom — moet julle deur die vuur laat deurgaan, en dit sal rein wees; ewenwel moet dit deur reinigingswater ontsondig word; maar alles wat nie in die vuur kan kom nie, moet julle deur die water laat deurgaan. {31:24} Julle moet ook jul klere op die sewende dag was; dan sal julle rein wees; en daarna mag julle in die laer kom."

Het julle dit gelees? Die Here het die manne wat oorlog toe moes gaan beveel om hulle klere op die sewende dag te was voordat hulle die kamp betree! Dit beteken dat die sewende dag heel moontlik op ‘n Sabbat kon geval het. Niks word egter hier gemeld dat hulle op die sewende dag hulle klere moes was nie, behalwe as dit op ‘n Sabbat geval het. Ons word nie gesê oor presies hoeveel dae die oorlog gewoed het nie en ook nie die dag waarop dit geëindig het nie. 

Indien ‘n oorlog dus op ‘n Sabbat eindig, sou dit beteken dat hulle hul klere op Saterdag (Sabbat) moes was. Hoe kan dit moontlik wees? Hoe kon God in Sy Woord beveel om nie op die Sabbat te werk nie en dan omkeer en hierdie manne uit die oorlog te beveel om hulle klere op die sewende dag te was, sonder om die Sabbat te oortree? Die antwoord is baie eenvoudig en Jesus die Messias het in die Nuwe Testament die antwoord verstrek:

Markus {2:27} "En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie."

Wat hierdie vers beteken is dat ons nie geskape is om die Sabbat te dien nie; die Sabbat is ingestel om ons te dien. Die Sabbat sou ‘n verpligte dag-af wees. Dit was iets ongehoord in die heidense wêreld van daardie dag in die geskiedenis.

Die Here is nie legalisties nie; Hy is ‘n deernisvolle, liefdevolle, besorgde en begrypende God. Die manne uit die oorlog, na wie in ons Parasha verwys word, het pas ‘n oorlog ten behoewe van die Here geveg. Die presiese aantal dae wat die oorlog geduur het, word nie gemeld nie en ons weet ook nie op watter dag die oorlog geëindig het nie. Ek is oortuig daarvan dat toe die oorlog geëindig het en die manne moeg en gedaan was, hulle niks meer verlang het as om terug te keer na hul huise en families nie. Voordat hulle egter die kamp kon binnegaan, moes hulle die opdrag van God gehoorsaam om vir sewe dae buite die kamp te bly en op die sewende dag hulself moes reinig en hulle klere was. Slegs dan kon hulle met hul geliefdes verenig word en hul geliefdes met hulle. Soos ek hierbo gemeld het, is dit heel moontlik en waarskynlik dat die sewende dag op die Sabbat geval het. Indien wel, sou die begrypende God, Wie ons ken en aanbid, die manne nog ‘n bykomende dag laat wag voordat hulle toegelaat word om terug te keer na hul huise en geliefdes? Ek dink nie so nie! Hy sou hulle toelaat om hul klere te was, selfs al was dit ‘n Sabbat, vermoedelik sodat hulle die kamp kon binnegaan en met hulle families te verenig, sonder enige verdere vertraging. 

Markus{3:4} "Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ’n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly."

Dit is duidelik wettig om op die Sabbat goed te doen. Dus, selfs as hierdie manne die vereiste sewe dae buite die kamp moes nakom, die vereniging van hierdie oorlogsmanne met hulle geliefdes, nadat hulle die verskriklikhede van oorlog moes verduur, was duidelik iets goeds en daarom wettig. Selfs al het dit beteken dat hulle hul klere op die Sabbat moes was.

Sommige mense behoort goed en deeglik te kyk na hulleself en die mensgemaakte reëls, wat hulle op hulself en ander mense toepas. In sekere dele van die Tora en onder sekere toestande blyk die Here nie so dogmaties of streng te wees soos wat ons dink of Hom uitmaak om te wees nie. As gelowiges in Jesus die Messias, behoort ons lewens oorheers te word deur liefde en nie deur afkeuring nie.

Galasiërs {5:22} "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. {5:23} Teen sulke dinge is die wet nie."

So, wat hulle deur die Here beveel is om te doen, indien dit op die Sabbat geval het, kon dit werklik as werk geklassifiseer word? Blykbaar nie!

Masei (Reise)

Numeri {33:50} "En die HERE het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê: {33:51} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan in die land Kanaän intrek, {33:52} moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes. {33:53} En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan julle gegee om dit te besit. {33:54} En julle moet die land deur die lot as erfdeel verwerwe, volgens julle geslagte; vir die wat baie is, moet julle hulle erfdeel groot maak, en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak. Waar die lot vir iemand val, moet dit sy deel wees; volgens julle vaderlike stamme moet julle dit as erfdeel verwerwe. {33:55} Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56} En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen."

Watter ontnugterende woorde! Ons weet sekerlik uit die Geskrifte dat Israel nie na die Here geluister het nie en die bewoners van die land voor hulle uitverdryf het nie, soos hulle beveel was. Ons weet ook dat as gevolg daarvan, die bewoners van die land soos dorings in Israel se oë en angels in hulle sye geword het, netsoos die Here gesê het dat hulle sou word. Israel het nie net die bewoners van die land nie voor hulle uit gedryf nie, maar die bewoners het Israel spoedig verlei om hulle gode te aanbid. Die gevolg was, soos God gewaarsku het: Hy het aan Israel gedoen wat Hy voornemens was om aan die Kanaäniete te doen en Israel uit die land verdryf.

Die feit van die saak is: die Here ploeter nie rond nie! Sy waarskuwing moet gehoorsaam word en Sy opdragte moet getrou uitgevoer word of die gevolge waaroor Hy gewaarsku het, sal plaasvind. Waarom enigeen sou dink dat hulle die Woord van God kan bestudeer, nie uitvoer wat dit sê nie en nogtans meen dat hulle daarmee kan wegkom sonder om die gevolge van ongehoorsaamheid, waaroor Hy gewaarsku het te verduur, gaan my verstand te bowe. God het nie ‘n boek van voorstelle geskryf nie maar ‘n Boek van Gebooie.

Die Tora is vol waarskuwings van die Here, wat aan ons voorskryf hoedat ons, ons lewens moet lei en hoedat ons dit nie moet lei nie, selfs die gevolge indien ons nie Sy opdragte nakom nie. As jy ‘n gelowige is, het jy in die Bybel gelees en dra kennis wat plaasgevind het met die antieke Israel as gevolg van hulle ongehoorsaamheid, deur die waarskuwings van God te ignoreer. Desondanks verkies baie mense, ja, selfs gelowiges vandag nog, steeds om die afdraandpad van selfvernietiging te volg deur God te ignoreer.

Die kinders van Israel het in 1948 die land Israel in herbesit geneem. Omdat die Here egter nie weer die waarskuwings - in die verse hierbo aangehaal - herhaal het voordat hulle die land ingegaan het nie, beteken dit hoegenaamd nie dat Hy van plan verander het betreffende die voorwaardes om die land aan hulle te gee nie. Na alles is die Here dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid. Hy weifel nie. In 1948 het die Here ons ‘n tweede geleentheid gebied om gehoorsaam te wees en in 1967 het Hy dit wéér gedoen, maar in beide gevalle, was die kinders van Israel ongehoorsaam aan God se Tora, deurdat hulle nie Sy opdragte uitgevoer het nie om die bewoners van die land voor hulle uit te drywe toe hulle wel die kans gehad het om dit te doen nie. Gevolglik ly ons steeds  onder dieselfde gevolge waaronder Israel duisende jare vantevore vir hulle ongehoorsaamheid gely het. Die bewoners van die land is weereens soos dorings in ons oë en steke in ons sye. Die ongelukkigste deel is, ons weet hoedat die storie aan die einde gaan verloop.

Sagaria {13:8} "En in die ganse land, spreek die HERE — twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. {13:9} Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ’n mens silwer smelt en hulle toets soos ’n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God!"

So erg as wat dit in die toekoms vir ons gaan wees - tenminste hierdie keer sal die Here ietwat meer genadig wees en ons nie geheel-en-al uit die land verdryf nie. Hy sal ons egter bring tot op die rand van vernietiging (twee-derdes sal omkom aan die hand van ons vyand), op welke punt die Skrif lui:

Lukas {13:35} "Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!"

Kom spoedig Here Jesus, verlos ons en verlos Israel uit al sy moeilikhede.    

Kom gou Jesus!

Vrydag 10 Julie 2020

Vroulike Erfgename

Pinchas
(Phinias)

Numeri {27:1} "DAARNA het nader gekom die dogters van Selófhad, die seun van Hefer, die seun van Gílead, die seun van Magir, die seun van Manasse, van die geslagte van Manasse, die seun van Josef — dit is die name van sy dogters: Magla, Noa en Hogla en Milka en Tirsa — {27:2} en hulle het gaan staan voor Moses en die priester Eleásar en voor die owerstes en die hele vergadering, by die ingang van die tent van samekoms, en gesê: {27:3} Ons vader het in die woestyn gesterwe, en hy het nie behoort by die bende van die wat teen die HERE vergader het in die bende van Korag nie, maar hy het om sy sonde ontwil gesterwe en geen seuns gehad nie.{27:4} Waarom sou die naam van ons vader uit sy geslag weggeneem word, omdat hy geen seun gehad het nie? Gee ons ’n besitting onder die broers van ons vader. {27:5} Toe bring Moses hulle regsaak voor die aangesig van die HERE. {27:6} En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {27:7} Die dogters van Selófhad praat reg. Jy moet hulle sekerlik ’n erflike besitting onder die broers van hulle vader gee en die erfdeel van hulle vader op hulle laat oorgaan. {27:8} En met die kinders van Israel moet jy spreek en sê: As iemand sterwe en geen seun het nie, moet julle sy erfdeel op sy dogter laat oorgaan."

Van al die Tora-geskrifte, het hierdie besondere Geskrifte die grootste betekenis wanneer dit kom by die geldigverklaring van Jesus se aanspraak om die Messias, Koning van Israel te wees. Watter moontlike betekenis kon dié gedeelte met Jesus hê? Na alles het dit betrekking op die dogters van Selofhad en hulle versoek om ‘n erfporsie onder die stamme te ontvang. Hierdie vroue sou die reg ontneem word om grond te erf, omdat oorerwing slegs deur die seuns en nie dogters nie, plaasgevind het. Selofad het gesterf sonder ‘n seun maar het vyf dogters gehad. Hoe het hierdie Geskrifte dan enige betrekking op Jesus die Messias? Wanneer ons oorweeg dat vererwing slegs deur die seuns geskied het, is dit van groot belang.

My verduideliking begin by Jesus die Messias se geslagsregister. In Sy genealogie (Lukas 3:23 - 38) sal julle merk dat Hy nie die name van enige vroue ingesluit het nie, selfs nie Maria, Jesus se moeder, nie. Waarom? Omdat erfporsies slegs aan seuns en nie dogters nie, nagelaat kon word. Lukas het ons egter deur Sy genealogie getoon dat Jesus ‘n afstammeling van die huis van Dawid was en daarom aanspraak daarop kon maak om die Messias, Koning van Israel te wees.Omdat Lukas nie die name van vroue in Sy genealogie gemeld het nie, het hy met Josef begin.

Lukas {3:23} "EN Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,"

Eli was nie Josef se vader nie - hy was eintlik sy skoonvader, Maria se vader. Hierdeur kon Lukas Jesus se afkoms deur Sy moeder se vaderlike afkoms bepaal. Hy het ons ook daarop gewys dat Jesus se afkoms, deur Dawid se seun, Natan, was terwyl hy die afstammelinge van koning Gonja, oor wie God ‘n vloek uitgespreek, oorgeslaan het omdat dit Sy eis sou diskwalifiseer.

Jeremia {22:28} "Is hierdie man Gonja ’n veragte, verbryselde voorwerp, of ’n ding waar ’n mens geen behae in het nie? Waarom is hy en sy geslag weggeslinger en weggewerp in ’n land wat hulle nie ken nie? {22:29} O Land, land, land, hoor die woord van die HERE! {22:30} So sê die HERE: Skryf hierdie man op as kinderloos, ’n man wat nie voorspoedig sal wees in sy dae nie; want dit sal niemand van sy geslag geluk om te sit op die troon van Dawid en nog oor Juda te heers nie."

Deur te beweer dat Josef vermoedelik die vader van Jesus was, het Lukas Sy maagdelike geboorte bevestig. Lukas wou egter Jesus se geslagsregister deur Maria nagaan en het Hom met Maria se vader geassosieer. In geskrifte van die eerste en tweede eeue, het die rabbi’s gewoonlik na Jesus as “die seun van Eli” verwys. 

Dit is nie buitengewoon om Bybelse geslagsregisters te vind wat ‘n man se oorsprong deur sy moeder na te gaan, waar haar vader se geslagsregister gebruik word nie. Twee voorbeelde hiervan is te vinde in Esra 2:60 - 61 en Nehemia 7:63.

Wat ons in Lukas se genealogie vind, is die potensiaal dat Eli sonder ‘n seun gesterf en slegs sy dogter, Maria, as erfgenaam nagelaat het. Uit hierdie week se Parasha kan ons sien dat as ‘n vrou toegelaat is om haar vader se erflating te ontvang (die Koninklike nakomelinge van die huis van Dawid) en dat sy dit aan haar Seun, Jesus. oorgedra het. Boonop sou Maria die ander Tora-vereiste van vroulike erflatings nagekom het, deur met iemand uit haar eie stam te trou.

Numeri {36:6} "gaan jý dan en lees uit die rol wat jy uit my mond beskrywe het, die woorde van die HERE voor die ore van die volk in die huis van die HERE, op die vasdag; en jy moet dit ook lees voor die ore van die hele Juda wat uit hulle stede kom. {36:7} Miskien sal hulle smeking voor die aangesig van die HERE kom en sal hulle hul bekeer elkeen van sy verkeerde weg; want groot is die toorn en die grimmigheid wat die HERE teen hierdie volk uitgespreek het."

Beide Maria en Josef was van die stam van Juda. Dink daaraan dat God die weg vir Jesus die Messias voorberei het om die ewige Koning van Israel te wees, op grond van wat in Parasha Pineas aangeteken is, eeue vóór Sy geboorte.

God werk so ook  in ons lewens. Hy berei omstandighede ver in die verlede wat uiteindelik ons hede en toekoms sal beïnvloed. Hy doen dit in afwagting om die planne en doelwitte vir ons lewens te vervul. Wat ‘n ontsagwekkende God dien ons nie! Julle mag dink dat dit soos predestinasie klink, maar dit is nie; ons het steeds vryheid van keuse - maak dus altyd die regte keuse: kies God! 

Kom gou Jesus!


PDF weergawe

Vrydag 03 Julie 2020

Voorpraak

Balak
(Balak)

Numeri {23:2} "En Balak het gedoen soos Bíleam verlang het; en Balak en Bíleam het ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer. {23:3} Daarop sê Bíleam vir Balak: Bly by jou brandoffer staan, en ek sal heengaan; miskien sal die HERE my tegemoetkom, en wat Hy my ook al laat sien, sal ek jou bekend maak. En hy het na ’n kaal heuwel gegaan. {23:4} En God het Bíleam tegemoetgekom, en hy het vir Hom gesê: Sewe altare het ek reggemaak en ’n bul en ’n ram op elke altaar geoffer. {23:5} Toe lê die HERE ’n woord in Bíleam se mond en sê: Gaan terug na Balak, en so moet jy spreek. {23:6} En hy het na hom teruggegaan terwyl hy daar staan by sy brandoffer, hy en al die vorste van Moab. {23:7} En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab — uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel. {23:8} Hoe sal ek vloek wie Gód nie vloek nie? En hoe sal ek verwens vir wie die HERE nie verwens nie?"

Deur die lees van die hele Parasha Balak, besef ons dat selfs al het Bíleam so hard as wat hy kon probeer, was dit nie vir hom moontlik om die kinders van Israel te vervloek nie; trouens, volgens vers 8 hierbo, het hy sy onvermoë erken om te vervloek wie die Here geseën het. Dit is ‘n les wat elkeen van ons behoort te verstaan en kennis van te neem. Die Satan is nie in beheer van wie vervloek en wie geseën word nie - God is in algehele beheer! Die Satan kan niks doen sonder God se voorafgoedkeuring nie. Indien julle vir ‘n enkele oomblik dink dat enigeen ‘n weergebore kind van God kan vervloek enige tyd wat hulle wil, begaan julle ‘n groot fout - sonder goedkeuring van God kan die Satan niks doen nie.

Gedurende die jare wat ek ‘n Messiaanse leier was, het ek mense teëgekom wat beweer het dat ‘n  vloek oor hulle uitgespreek is. Jy kan sekerlik vervloek word en onder sekere omstandighede, kan ‘n vloek oor ‘n persoon uitgespreek word, maar slegs, soos ek gesê het, onder bepaalde omstandighede. Wat is daardie omstandighede? Die eerste en mees klaarblyklike is indien julle NIE gelowiges in Jesus die Messias is nie en Hom nog nie in julle lewens ingenooi en hom julle Heer en Redder gemaak het nie. Die tweede is, indien julle gelowiges in Jesus die Messias is en doelbewus, of onbewus of per abuis sondig, sonder berou en om die sonde onder die bloed van Jesus te belei. In die eerste geval is julle kinders van Satan en kan hy met julle doen wat hy wil en in die tweede geval, deur te sondig en nie berou daaroor te hê nie, het julle die deur van julle lewe vir die Satan oopgestel en aan hom die wettige reg verleen om julle voor God aan te kla. Daardeur is julle nie langer onder Sy beskerming nie. God is regverdig; Hy kan nie sonde aanskou nie en móét die sondaar oordeel; Dít doen Hy deur die Satan as Sy instrument te gebruik.

Ons as mense kan ons skaar by een van die twee kampe: óf by God óf by die Satan. Die Satan is die heerser van ongesiene magte, met ander woorde: Hy is in beheer van die wêreldstelsel, soos ons dit vandag ken. Daarom is daar soveel onheil op aarde. 

Met die sondeval van die mens, toe Adam en Eva aan God ongehoorsaam was, het sonde in die wêreld gekom en deur sonde is die mensdom deur die Satan, as die owerste van sonde en dood, gekonfronteer. 

God wat sonde nie kan aanskou nie aangesien Hy self sondeloos is, het Hom van die mensdom onttrek en hulle was nie langer onder Sy beskerming nie - hulle was vervloek. Die offerstelsel (Korbanot), soos ons in die boek Vayikra (Deuteronomium) uiteengesit, is deur God ingestel om Israel se sondeprobleem te genees. By wyse van plaasvevangende diere-offers is sonde na ‘n sondelose dier (lam) oorgeplaas en daardie dier se bloed is gestort (dood) in plaas van die sondaars.

Levitikus {17:11} "Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel."

Hierdie stelsel van Korbanot was slegs op Israel en diegene wat hulself by hulle aangesluit het, van toepassing. God se verlossing moes na alle mense uitgebrei word. Die stelsel van Korbanot is afgeskaf en die tempel is vernietig omdat dit nie langer nodig was nie en God Self het as ‘n Mens na die aarde gekom om die verlossingsprys vir sonde te betaal. Alleenlik God kon Sy eie Wet vervul, dat sonde gelyk is aan die dood en Hy het dit gedoen deur om ons onthalwe te sterwe. Wie ookal dit dus aanvaar en hulself assosieer met wat die Here vir hulle gedoen het, word ‘n kind van God en geniet  Sy beheer en beskerming.

Om terug te keer na ons Parasha-skrifgedeelte; Die kinders van Israel was gedek deur die Korbanot terwyl hulle op die vlaktes van Moab was en sondeloos gebly het As sulks was hulle onder die beskerming van God en daarom kon hulle nie deur Bíleam vervloek word nie. Sodra hulle egter gesondig en God verlaat het terwille van seksuele immoraliteit - is die beskerming van God van hulle weggeneem. Hulle het dus die ryk van die Satan binnegegaan, ‘n ryk van sonde en dood.’n ryk waar hulle kwesbaar was vir vervloeking. As gevolg daarvan, het duisende gesterf. Leer dus uit die volgende Skrifgedeelte: 

1 Samuel {18:9} "En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. {18:10} Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul ’n spies in sy hand hou."

Solank as wat koning Saul God gevolg en gehoorsaam was, was hy onder die beskerming van God, maar sodra hy gesondig het, is daardie beskerming weggeneem en was hy onder die invloed van die Satan. Die bose gees was van God afkomstig! Dit bewys, soos ek vroeër gesê het, dat die Satan niks kan doen tensy God hom dit toelaat nie en Hy sal hom slegs toelaat indien ons sondig, maar, ons wat gered is, het ‘n Voorspraak vir sonde:

1 Johannes {2:1} "MY kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige."

Hoe kan julle verhoed om vervloek te word? Ontvang Jesus die Messias as julle Here en Redder, en leef dan ‘n lewe wat die Here behaag. - ‘n lewe, waar as julle sondig, julle Jesus die Messias het om om vergifinis te vra. Hy sal julle saak by die Vader bepleit en julle sal van ‘n sondaar tot ‘n geredde persoon verander word.   

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Heiligheid

Chukat
(Statute)

My kommentaar op Parasha Chukat is gebaseer op die volgende gedeeltes van die Skrif:

Numeri {19:1} "VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {19:2} Dit is die wetsinsetting wat die HERE beveel het deur te sê: Spreek met die kinders van Israel dat hulle vir jou ’n rooi koei sonder gebrek bring waar geen liggaamsgebrek aan is, waarop geen juk gekom het nie. {19:3} En julle moet haar aan die priester Eleásar gee, en hulle moet haar buitekant die laer uitbring en voor hom slag. {19:4} En die priester Eleásar moet van haar bloed met sy vinger neem en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die tent van samekoms sprinkel. {19:5} Daarna moet hulle die koei voor sy oë verbrand; haar vel en haar vleis en haar bloed, saam met haar mis, moet hulle verbrand. {19:6} En die priester moet sederhout en hisop en skarlakendraad neem en dit binne-in die brand van die koei gooi. {19:7} Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in die water bad, en daarna mag hy in die laer kom; en die priester sal tot die aand toe onrein wees. {19:8} Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in die water was en sy liggaam in die water bad, en hy sal tot die aand toe onrein wees. {19:9} En ’n rein man moet die as van die koei bymekaarmaak en buitekant die laer op ’n rein plek neersit, en dit moet vir die vergadering van die kinders van Israel bewaar word vir die reinigingswater: dit is ’n sondoffer. {19:10} En die een wat die as van die koei bymekaargemaak het, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. En dit moet vir die kinders van Israel en vir die vreemdeling wat onder hulle vertoef, ’n ewige insetting wees. {19:11} Die een wat aan ’n dooie, enige lyk van ’n mens, raak, hy sal sewe dae lank onrein wees. {19:12} Op die derde dag en op die sewende dag moet hy hom daarmee ontsondig — dan sal hy rein wees; maar as hy hom op die derde dag en op die sewende dag nie ontsondig nie, sal hy nie rein wees nie. {19:13} Elkeen wat aan ’n dooie raak, aan die lyk van ’n mens wat gesterf het, en hom nie ontsondig nie, verontreinig die tabernakel van die HERE, en dié siel moet uit Israel uitgeroei word. Omdat geen reinigingswater op hom uitgegooi is nie, sal hy onrein wees; sy onreinheid is nog aan hom." 

Hierdie Skrifgedeeltes het betrekking op verontreiniging. Die besprinkeling van die mengsel, wat voorberei is uit die  rooi vers en die ritueel van die was van iemand se liggaam en klere, het alles betrekking gehad op spirituele verontreiniging. Soos ons gelees het, kon geeneen wat verontreinig is, - waardeur ‘n mens ookal ontreinig is - die kamp van die kinders van Israel binnegaan of voor die Here in die tabernakel (Mishkan) of die tempel (Bet Ha Mikdash) verskyn nie. ‘n Onrein persoon moes gereinig word alvorens hy, dit selfs kon binnegaan en deel van die gemeente word. Ons as gelowiges in Jesus die Messias kan selfs vandag nog verontreinig word. Spirituele verontreiniging het nie geëindig met die koms van Jesus die Messias in die wêreld nie; dit het ook nie geëindig nadat Hy versoening (kappora) vir ons sondes gedoen het nie en ook nie na Sy hemelvaart om Sy plek aan die regterkant van die troon van die Vader in te neem nie. Ons kan steeds spiritueel verontreinig raak. Miskien is die toepassing of gevolge van ons verontreiniging nie meer dieselfde as wat dit destyds was nie (omdat daar nie langer ‘n tabernakel of tempel is nie), maar die gevolge verskil. Spirituele verontreiniging skei ons van God. Hierdie feit blyk duidelik wanneer ons die ritueel (soos in die Skrif beskrywe) met die  rooi vers verstaan, dat dit as’t ware ‘n voorstelling of simbool van die versoenende bloed van Jesus die Messias is, wat figuurlik besprinkel is oor almal wat in Hom glo en Hom as Here en Redder aanneem. Met die lees van die hele gedeelte van Parasha Chukat oor hierdie onderwerp, behoort ons die ooreenkoms tussen die besprinkeling van die bloed van die rooi vers oor ‘n onrein persoon en die besprinkeling van die bloed van Jesus die Messias oor ons as gelowiges te verstaan. Let byvoorbeeld daarop, dat die bloed wat deur die priester (cohen) besprinkel is, die persoon oor wie dit besprinkel is, ritueel rein (tahor) gemaak het, terwyl die rein persoon, naamlik die priester, deur wie die besprinkeling gedoen is, ritueel onrein geword het. Dit is asof dié een wat die besprinkeling gedoen het, die onreinheid van die een wat besprinkel is, op homself geneem het. Dit is ‘n volmaakte Tora - voorbeeld van wat Jesus die Messias - ons “Cohen” - vir ons gedoen het.

Jesaja {53:6} "Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom."

Hoe het iemand in die Bybelse tye onrein geword? Die antwoord, uit ons Skrifgedeelte, is naamlik deur in aanraking te kom met enigiets wat ‘n persoon van God geskei het. Spesifieke vermelding in hierdie Parasha is om in aanraking te kom met ‘n dooie liggaam of ‘n huis binne te gaan waarin iemand gesterf het. Daar was egter, volgens die Skrif, baie wyses om onrein te raak en ‘n persoon spiritueel te verontreinig. God is lewe en enigiets wat op die dood betrekking gehad het, asook sonde, kon nie in Sy teenwoordigheid, (Sy fisiese teenwoordigheid) destyds, Sy Shekinah (Gees) kom nie. Vanaf die bestaan van die tabernakel, tot en met die tyd van die tempel, was die Here fisies teenwoordig tussen die gerubs in die vorm van ’n wolk wat verskyn het bo-oor die Kapparet (genadetroon) in die Heilige van Heiligstes. Om hierdie rede kon geeneen wat verontreinig was deur enigiets wat God as onrein geag het, die kamp van die kinders van Israel en vanselfsprekend ook die die tabernakel of tempel binnegaan nie.

Deuternomium {23:14} "Want die HERE jou God wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer heilig wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie."

Ofskoon ons spirituele onreinheid ons nie verhinder om ons Messiaanse sinagoge binne te gaan of in ons samelewings van vandag te woon nie, ons eie onreinheid - indien dit nie aangespreek en deur die bloed van Jesus die Messias besprinkel word nie, skei dit ons van God. Skeiding van God beteken dat Sy beskerming oor ons asook Sy seëninge van ons weggeneem word. Dit stel ons bloot aan misleiding en al die werke van die Satan. Wat is dus die “mengsel” wat vandag ons onreinheid kan wegneem? Dit is die bloed van Jesus die Messias wat vir ons gestort is en oor ons lewens moet wees. Hierdie bloed moet egter keer op keer afgebid word omdat ons op sovele wyses weer en weer verontreinig raak. Dit is verkeerd vir ons om te dink dat slegs omdat ons gered is deur die gestorte bloed van Jesus, ons nie langer Sy bloed oor ons lewens moet pleit nie. Inteendeel, dit moet op ‘n daaglikse basis by herhaling geskied. Nie om Jesus opnuut te offer nie, soos wat sommige denominasies deur die Eucharistie (nagmaal) doen en die proses transubstansiasie noem nie, maar deur die belydenis, berou en om die bloed van Jesus die Messias te pleit oor ons lewens. Dit moet minuut na minuut en indien nodig , selfs sekonde na sekonde besprinkel word, sodat ons voortdurend in ‘n toestand kan verkeer wat God se beskerming oor ons lewens verseker. Jesus die Messias is die Eén wat versinnebeeld word deur deur die rooi vers, deur Sy bloed oor onsself te pleit en deur belydenis en berou, word ons rein en bly ons spiritueel skoon.  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe