D’Var Torah
Name / Shemot
Eksodus / Shemot {2:1} "En ‘n man uit die huis van Levi het gegaan en ‘n dogter van Levi geneem. {2:2} En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. {2:3} Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. {2:4} En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. {2:5} En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. {2:6} Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. {2:7} Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? {2:8} En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. {2:9} Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. {2:10} En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek."
Iets baie vreemd het skynbaar plaasgevind. Die farao het ‘n bevel uitgevaardig dat alle pasgebore Joodse seuntjies in die Nylrivier gegooi moes word. Hulle sou vanselfsprekend verdrink het of deur die krokodille verslind word. Dit is egter interessant dat die farao se dogter teenstrydig met haar eie vader se bevel opgetree het en nie net ‘n pasgebore Joodse seun gered het nie maar hom selfs aangeneem het. Wat is dus hier aan die gang?
Ons wysgere beweer dat die farao se dogter haar tot die Judaisme bekeer het en dus op daardie tydstip by die rivier aangekom het. Sy sou in die rivier gedompel word om haar in haar nuwe geloof in te wy. Die wysgere gaan verder deur te beweer dat toe die kinders van Israel Egipte verlaat het, sy met hulle saamgegaan het.
Enigiets is moontlik maar nie alles is waarskynlik nie. Weens gebrek aan enige werklike bewys tot die teendeel daarvan, vind ek dit dus besonder moeilik om die wysgere se bewering te glo. Wat egter nie vir my moeilik is om te glo nie, is dat hierdie gebeurtenis ‘n oppermagtige handeling van God was in die lewens van diegene wat Hy aangewys het om die geskiedenis van die Joodse nasie te beïnvloed.
Die farao se dogter was maar net besig om haar alledaagse lewe te ly. Sy het dus soos gewoonlik na die rivier gegaan om haarself te reinig, op die tydstip toe Moses toevallig in sy mandjie daar verby gedryf het. Heelwaarskynlik het God reeds haar hart versag teenoor die ongunstige posisie van die Jode of moontlik het Hy aan haar ‘n droom of visioen gegee om ‘n kind te kry. Wat die geval ookal was, alles het in die normale verloop van haar lewe plaasgevind.
Wat kan ons nou leer uit hierdie Bybelse mededeling? Ons leer dat God oor die vermoë beskik om die harte en lewens van elke individu – selfs diegene in magtige posisies – so te raak dat hulle dinge doen wat teenstrydig met hulle eie persoonlikheid is en selfs hulle eie posisies daardeur kan ondermyn.
Spreuke / Mishlei {21:1} “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.”
God beskik oor ‘n oppermagtige plan vir elkeen van ons se lewe en die wonderbaarlikste is, dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, hoegenaamd niks buitengewoon in die verloop van ons normale lewe hoef te doen nie, om Sy plan te volbring of ‘n punt in ons lewe te bereik, waar Hy ons wil hê.
Ons moet eenvoudig ons lewens leef. God sal al die omstandighede beskik en die hart van wie ookal Hy wil, beïnvloed om ons sover te kry om te doen of te wees waar hy ons wil hê. Aangesien God ons met ‘n ewigdurende liefde lief het en sleg die beste vir ons verlang, kan ons Hom vertrou.
Jeremia / Yirmeyahu {29:11} “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.”
Laat ons dus ophou om oor lewens te kla en slegs vir God toelaat om Sy plan met ons lewens te volbring, tot Sy heerlikheid en ons voordeel.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou