Sondag 30 Desember 2012

God het ‘n Plan met die Lewens van Elkeen van Ons

D’Var Torah 
Name / Shemot 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 14:13-25

Eksodus / Shemot {2:1} "En ‘n man uit die huis van Levi het gegaan en ‘n dogter van Levi geneem. {2:2} En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. {2:3} Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. {2:4} En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. {2:5} En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. {2:6} Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. {2:7} Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? {2:8} En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. {2:9} Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. {2:10} En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek."

Iets baie vreemd het skynbaar plaasgevind. Die farao het ‘n bevel uitgevaardig dat alle pasgebore Joodse seuntjies in die Nylrivier gegooi moes word. Hulle sou vanselfsprekend verdrink het of deur die krokodille verslind word. Dit is egter interessant dat die farao se dogter teenstrydig met haar eie vader se bevel opgetree het en nie net ‘n pasgebore Joodse seun gered het nie maar hom selfs aangeneem het. Wat is dus hier aan die gang? 

Ons wysgere beweer dat die farao se dogter haar tot die Judaisme bekeer het en dus op daardie tydstip by die rivier aangekom het. Sy sou in die rivier gedompel word om haar in haar nuwe geloof in te wy. Die wysgere gaan verder deur te beweer dat toe die kinders van Israel Egipte verlaat het, sy met hulle saamgegaan het. 

Enigiets is moontlik maar nie alles is waarskynlik nie. Weens gebrek aan enige werklike bewys tot die teendeel daarvan, vind ek dit dus besonder moeilik om die wysgere se bewering te glo. Wat egter nie vir my moeilik is om te glo nie, is dat hierdie gebeurtenis ‘n oppermagtige handeling van God was in die lewens van diegene wat Hy aangewys het om die geskiedenis van die Joodse nasie te beïnvloed. 

Die farao se dogter was maar net besig om haar alledaagse lewe te ly. Sy het dus soos gewoonlik na die rivier gegaan om haarself te reinig, op die tydstip toe Moses toevallig in sy mandjie daar verby gedryf het. Heelwaarskynlik het God reeds haar hart versag teenoor die ongunstige posisie van die Jode of moontlik het Hy aan haar ‘n droom of visioen gegee om ‘n kind te kry. Wat die geval ookal was, alles het in die normale verloop van haar lewe plaasgevind. 

Wat kan ons nou leer uit hierdie Bybelse mededeling? Ons leer dat God oor die vermoë beskik om die harte en lewens van elke individu – selfs diegene in magtige posisies – so te raak dat hulle dinge doen wat teenstrydig met hulle eie persoonlikheid is en selfs hulle eie posisies daardeur kan ondermyn. 

Spreuke / Mishlei {21:1} “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” 

God beskik oor ‘n oppermagtige plan vir elkeen van ons se lewe en die wonderbaarlikste is, dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, hoegenaamd niks buitengewoon in die verloop van ons normale lewe hoef te doen nie, om Sy plan te volbring of ‘n punt in ons lewe te bereik, waar Hy ons wil hê. 

Ons moet eenvoudig ons lewens leef. God sal al die omstandighede beskik en die hart van wie ookal Hy wil, beïnvloed om ons sover te kry om te doen of te wees waar hy ons wil hê. Aangesien God ons met ‘n ewigdurende liefde lief het en sleg die beste vir ons verlang, kan ons Hom vertrou. 

Jeremia / Yirmeyahu {29:11} “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” 

Laat ons dus ophou om oor lewens te kla en slegs vir God toelaat om Sy plan met ons lewens te volbring, tot Sy heerlikheid en ons voordeel. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 23 Desember 2012

Jou Laaste Wense

D’Var Torah 
En Hy Het Gelewe – Vayechi 

1 Petrus / Kefa Aleph 1:1 – 9

Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. {47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.” 

Dit was vir my nie nodig om veel verder te lees ten einde ‘n baie belangrike beginsel, opgeteken in hierdie week se Parasha, te vind nie. 

Ons lees hier dat toe Jakob ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad het, hy sy gunstelingseun ontbied en aan hom te kenne gegee het die wyse waarop sy begrafnis moes geskied. As onderkoning van Egipte, tweede in beheer naas die farao self, sou Josef die middele en gesag gehad het om sy vader se wense uit te voer. 

Wat is dus die beginsel wat ons hier uit ‘n les kan leer? As ‘n Messiaanse rabbi, is een van my pligte en die minder aangename, om tydens begrafnisse op te tree. Ek onthou nog die geval van ‘n geliefde lidmaat van die gemeente wat gesterf het. Voor sy dood het hy aan my sy begeerte bekendgemaak dat, indien hy sterf ek by sy begrafnis moes optree. Hierdie persoon het hoegenaamd nie ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad nie en het inteendeel toe nog goeie gesondheid geniet. Hy wou my net daarvan bewus maak dat ingeval hy sterf, ek die begrafnis volgens die Messiaans-Joodse gebruik laat geskied. 

Hierdie persoon het familielede gehad wat ek al dikwels ontmoet het. Hy was ongetwyfeld die hoof van sy familie en ‘n besondere agressiewe, charismatiese mens. Hy was egter die enigste Messiaanse gelowige in die familie. Aangesien hy baie jare reeds ‘n gemeentelid was, sou ‘n mens aanvaar het dat hy sy laaste wense met sy familie sou bespreek het. Hy was ook ‘n voorspoedige sakeman, van wie mens sou verwag het dat hy oor ‘n testament beskik het waarin sy begrafnisvoorkeure uiteengesit sou gewees het. 

Toevallig het hy skielik baie siek geword, is kort daarna oorlede en gegaan om by die Here te wees. Ek het vanselfsprekend so gou doenlik met sy familie in verbinding getree om die nodige begrafnisreëlings te tref. Tot my grootste verbasing het geeneen van die familie sy finale wense, soos hy my meegedeel het, uitgevoer nie. Hulle het inteendeel voortgegaan met ‘n Katolieke begrafnis, terwyl hulle my sowel as enige iemand anders in ons gemeente uitgesluit het van enige deelname aan die verrigtinge. Ons het geen beheer gehad oor wat sou plaasvind nie en mede-gemeentelede, wat oor die jare heen hegte verhoudings met hom opgebou het, is nie genooi om lofredes te lewer nie. Toe ek teenoor die familie beswaar aangeteken het, is ek as’t ware opsy gestoot en meegedeel dat geen instruksies aan hulle gegee is of deur hom opgeteken is dat hy ‘n Messiaans-Joodse begrafnis versoek het nie. 

Dit is nou juis die punt. Ons almal gaan eendag sterwe – met die uitsondering van die wegraping, gaan geeneen die planeet lewendig verlaat nie. Jakob het geweet sy dood was op hande en dus het hy seker gemaak dat sy wense oor waar hy begrawe wou word, bekend was. Indien Jakob dit nie met Josef bespreek het nie, is ek oortuig daarvan dat hy, die onderkoning van Egipte, ‘n staatsbegrafnis vir sy vader in Egipte sou gereël het. 

Laat ons ‘n les leer van Jakob en uit hierdie Parasha. Ons tref hier ‘n baie belangrike praktiese voorbeeld aan, wat ons moet oorweeg en ter harte neem. Indien jy nie oor ‘n testament beskik nie, moet jy een (laat) opstel, waarin uitdruklik bepaal word waar en hoe jy begrawe wil word. Aangesien die inhoud van testamente dikwels eers na begrafnisse bekendgemaak word, moet ‘n afskrif van jou begrafnis-instruksie, behoorlik deur getuies onderteken, aan jou trustee(s) of instansie wat jy verkies om jou begrafnis te onderneem, oorhandig word. Moet nie met jou laat gebeur, soos met die persoon hierbo die geval was nie, want dan sal jou familie na goeddenke handel, sonder inagneming van jou geloof en laaste wense. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 22 Desember 2012

Maar as julle Moses geglo het …

D’Var Torah 
En Hy Het Nadergekom – Vayigash 


Genesis / Bereshit {44:31} “sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!”. 

Beslis ‘n beeld van regstreekse plaasvervanging: Juda bied homself vrywilliglik aan as plaasvervanger vir sy broer Benjamin. Benjamin se oorspronklike naam was Benoni, wat “Seun van my pyn” (so het sy moeder hom met sy geboorte genoem) beteken. Sy het hierdie naam gekies vanweë die pyn wat sy tydens sy geboorte verduur het en uiteindelik haar dood veroorsaak het. Benoni is inderwaarheid ook ‘n beeld van die kinders van Israel, want hulle was ongetwyfeld meeste van die tyd ongehoorsaam, hardnekkig en het ander gode aanbid – dus het hulle hul hemelse Vader veel pyn besorg. Juda, soos ons weet, beteken “Lofpryser van God” en dit is uit die stam van Juda wat Jesus die Messias gekom het. In ons verhaal is Juda ‘n voorstelling van Jesus die Messias. Jakob is ‘n voorstelling van God, die Vader, ten behoewe van wie Juda besig is om op te tree. Egipte, in die Skrif, stel die wêreldgesindheid met sy gepaardgaande dekadensie en materialisme voor. Dus kan ons ‘n betekenisvolle beeld hieruit sien te voorskyn tree. 

Benoni was gevange gehou in Egipte, as straf vir sy sonde (hy is betrap met die onderkoning se drinkbeker in sy sak vol graan). Juda tree na vore en ter wille van sy vader, bied hy homself aan as plaasvervanger vir Benoni: daardeur sou hy vir sy broer instaan, die aanklagte op hóm neem asook die straf wat sy broer opgelê sou word. Ek vertrou werklik dat julle sal kan besef wat ek hier verduidelik aangesien dít die Evangelie is. Ons sien hier in beeldvorm die reddingsplan. Wie beweer dat die Evangelie nie in die Tora voorkom nie? Het Jesus nie gesê: 

Johannes / Yochanan {5:46} “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. {5:47} En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”. 

Volgens hierdie Skrifgedeelte, kom nie net die Evangelie in die Torah voor nie, maar alles wat daar aangaande Jesus te wete is, word vervat in die woorde van die Tora, soos deur Moses geskryf is; trouens, Jesus is die Lewende Tora. 

Vanweë hulle hardnekkige ongehoorsaamheid, was die kinders van Israel ver van God af. Hulle het dít van die oë, maar nie van die gees nie, nagejaag: wêreldgesindheid, mag en materialisme het hulle verhouding met God verbreek. Hulle was inderdaad “Die Seun van my Pyn” vir God en dit was juis na hierdie mense wat God Sy Seun (vleeswordende God) gestuur het, na die wêreld om húlle sonde op Homself te neem. 

Ons persoonlike situasie was ook hopeloos. Ons was vasgevang deur ‘n wêreldstelsel, wat skoonheid, seks en materialisme nagejaag het, waarvan Egipte tipies was en ons het dit nagevolg en daaraan verslaaf geraak. So het ook ons God se “Seun van my Pyn” geword. As dit nie was dat God iets goeds in ons gesien het nie, sou ons in ons sonde omgekom en die ewigheid in die hopeloosheid van die hel moes deurbring, maar 200 jaar gelede het God Sy Seun, Jesus die Messias, na hierdie wêreld gestuur om ons direkte plaasvervanger te wees. Hy het die straf vir óns sonde op Hom geneem. 

Romeine / Romim {5:6} “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. {5:7} Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe {5:8} maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 08 Desember 2012

God en onmoontlike situasies

D’Var Torah 
Dit het plaasgevind / Miketz 


Genesis / Bereshit {41:14} “Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. {41:15} Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. {41:16} En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.”. 

Ons bevind onsself dikwels in ‘n situasie waarvoor klaarblyklik geen oplossing bestaan nie – ‘n probleem, wat volgens menslike oorweging onmoontlik blyk om ongeskonde daarvan af te kom. Ek is daarvan oortuig dat baie van ons al in soortgelyke situasies verkeer het – hopelose situasies met hoegenaamd geen gunstige vooruitsigte nie. Ek noem dit verloorsituasies, wat slegs erger of selfs onoorkomlik kan word. 

Ek meen dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, almal kan terugkyk, voordat ons tot bekering gekom het, en tye in ons lewens onthou waar ons voor situasies, soos hierbo vermeld, te staan gekom het. Noudat ons egter gered is, besef ons dat God selfs in sulke onmoontlike situasies, Sy hand oor ons gehou het. 

In my jongdae het ‘n vriend en ek eendag oor “Cape Cod”-baai, Massachusetts, gaan seil. Ons het vanaf Plymouth na “Cod”-baai gevaar – dit was ‘n pragtige helder sonskyndag met slegs ‘n ligte bries wat die water effens laat dein het. Vol selfvertroue dat alles sou goed gaan en met volle vertroue in my vermoë om te seil asook in die boot wat ek besit het, het ons die vaart aangepak. Halfpad oor die baai – op ‘n punt wat ek sou dink, ons nie kan omdraai nie, het die wind egter begin waai. Aanvanklik het dit my bemoedig omdat dit ons vinniger laat seil het, maar binne minute het die wind stormagtig begin raak. Die baai het verander van ‘n deining na ‘n ontstuimige see met gepaardgaande stortende reën. Ongelukkig het ek die betrokke oggend, vóór ons vertrek, nie na die weervoorspelling geluister nie en eers heelwat later besef dat ‘n tropiese storm vanuit die suide opbeweeg en die hele gebied met erge wind en reën geteister het. Water was besig om in ons boot in te stroom en omdat die kuslyn heeltemal onsigbaar geraak het, was ek bevrees dat ons van koers af gewaai en in die ope see sou beland, waar die omstandighede selfs erger sou wees. Ons het met alle mag probeer om verder te seil sonder om te weet waar ons was of hoe ver ons was om veiligheid te bereik. Die boot het boonop dikwels gedreig om om te slaan. In die verte het ons later ‘n kuswagboot gewaar maar elke poging om aandag te trek, het misluk – ons het gevoel asof ons oorgelaat is om te sterf. Hoe ons egter daarin geslaag het om eindelik die oorkantste oewer te bereik, kan ek nie verklaar nie. Wanneer ‘n mens hieroor terugdink, besef ek net dat God ons gered het. Hy het nog ‘n plan (redding) vir my lewe gehad en dit was bloot nog nie my tyd om te sterf nie. God alleen kan ons uit onmoontlike situasies red en net so kon slegs Hy bereik wat Hy met Josef gedoen het. Geen omstandighede kon méér hopeloos en ontmoedigend as syne gewees het nie – verlate in die gevangenis, met geen kans op parool nie, vergete deur diegene aan wie hy hulp verleen het, sonder vriend of familie. Nogtans, uit die bloute en op één dag het God alles in Josef se lewe verander. 

Genesis / Bereshit {41:37} “En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars. {41:38} Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is? {41:39} En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. {41:40} Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. {41:41} Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. {41:42} Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang {41:43} en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. {41:44} En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.”. 

Ek weet nie wat julle omstandighede vandag is nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit nie hopeloos is nie. God is by magte om dÍt wat menslik onmoontlik skyn te wees, om te keer sodat dit tot julle voordeel en Sy eer kan strek. Julle moet net in Hom glo, Hom vertrou en volhard in die geloof. Wat Hy vir Josef gedoen het, kan en wil Hy ook vir julle doen.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 01 Desember 2012

Afgunstig op verrotting van die gebeente

D’Var Torah 
En hy het geleef / Vayeshev




Genesis / Bereshit {37:8} “ Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:9} Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad-die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. {37:10} Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? {37:11} En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”. 

Genesis / Bereshit {37:17} “Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind. {37:18} En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” 

Afguns is ‘n lokval wat ons van ons vergenoegdheid beroof. 

Filippense / Pilifim {4:11} “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.”. 

Skynbaar is afguns ‘n dryfkrag in die lewens van baie mense. Dit dryf hulle om mededingend, hardwerkend en suksesvol te wees – ‘n mens sou dus verwag dat so ’n motivering “iets goeds” sou wees. Dit is egter glad nie die geval nie, omdat, soos ons uit ons Skrifgedeelte sal sien, afguns tot wrok en dÍt tot teenspoed kan lei, soos in die geval van Josef. 

Wat lê aan die kern van afguns? Dit is die mening dat ons beter verdien as dit waaroor ons reeds beskik. In Matthéüs (Mattityahu) hoofstuk 20 verse 1 – 16 (lees dit asseblief in julle Bybels) gebruik Jesus ‘n gelykenis betreffende afguns en hierdeur verduidelik Hy God se standpunt daarteenoor. Het julle begryp waaroor die werkers so kwaad was? Hulle het dit as onregverdig beskou dat mense, wat korter ure as hulle gewerk, dieselfde loon as hulle ontvang het. Dit het nie vir hulle saak gemaak dat hulle ontvang het waartoe hulle saamgestem het nie en dit inderwaarheid die grondeienaar se geld was om mee te doen soos wat hy goedgedink het. Hulle was van mening dat hulle méér verdien het aangesien die ander werkers korter ure as húlle gewerk het. Hulle was dus afgunstig. 

Waarop ek graag wil wys, is dit: wanneer ons afgunstig voel, besef ons dit dikwels nie. Ons meen dat ons dit verdien en gevolglik is wat ons ookal moet doen om dit te verdien, in ‘n sekere opsig geregtig – of dit nou ookal uitloop op die vernietiging van vriendskap, ons werk of ons families. Alles net omdat dit regverdig is dat ons ontvang wat óns meen, ons verdien. 

Spreuke / Mishlei {14:30} “n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog 'n verrotting vir die gebeente.”. 

Indien julle nie vergenoegd is nie, is dit beslis ‘n teken van afguns. Moontlik is julle nie afgunstig op dit wat ‘n buurman of vriend besit, of op iets wat julle in ‘n winkel of op ,n advertensie op televisie gesien of oor die radio gehoor het nie. Adverteerders is mees suksesvol indien hulle by ‘n mens ontevredenheid met dit wat jy besit of ‘n besondere begeerte om meer te hê as wat jy het, kan skep. Eweneens is hulle mees geslaagd wanneer hulle daarin geslaag het om ‘n mens te oortuig dat dit wat jy het, onvoldoende is. Hoe dit ookal is, as julle nie tevrede is met dit wat julle het of wie julle is of wáár julle is of wat julle doen nie, swelg julle in die sonde van afguns en die eindresultaat van afguns gaan altyd lei to onvergenoegdheid en eerlank sal julle van julle geluk beroof wees. Julle sal altyd méér as wat julle het, begeer – julle sal nooit vergenoegd wees nie. 

Hóé vergenoegd is julle? Hoe dankbaar is julle vir julle werk, julle werkgewers, julle huis, julle gesin, julle lewe? Indien julle nou sê “Ja, ek is dankbaar vir my huis … MAAR ….”, of vir my man / vrou … MAAR …, dan ly julle ongetwyfeld aan ‘n afgunsprobleem wat heel moontlik op rampspoedige gevolge gevolge kan uitloop. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 24 November 2012

God Het Hom Voorspoed Laat Geniet

D’Var Torah 
En Hy Het Uitgegaan / Vayetzei 

Johannes / Yochanan 1:43 – 45

Genesis / Bereshit {28:18} “Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. {28:19} En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. {28:20} En Jakob het ‘n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, {28:21} en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die HERE my God wees. {28:22} En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal ‘n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan. ”. 

Ek skryf eintlik oor tiendes (die gawe van ‘n tiende aan God), maar hierdie Skrifgedeelte is so gebiedend oor dié onderwerp, dat ek nie anders kon as om dit te bespreek nie. Jakob het belowe om van alles wat God aan Hom skenk, ‘n tiende (10 %) daarvan aan Hom af te staan, indien Hy met hom sou wees, hom bewaar op die weg wat hy gaan, vir hom brood gee om te eet, klere om aan te trek, hom in vrede behoue na die huis van sy vader laat terugkeer en sy God sal wees. Soos dit toe gebeur het, hét God aan al hierdie versoeke – en nog veel meer – van Jakob voldoen. 

Op grond van wat Jakob gesê het, is dit duidelik dat om te gee eintlik ‘n daad van aanbidding is. Dit is terselfdertyd ‘n gebaar van liefde en dankbaarheid, nie slegs ten opsigte van God se seëninge op stoflike gebied nie, maar ook teenoor Hom omdat Hy ons God is. Om te gee, is, trouens, ‘n gebaar van ons liefde vir God omdat ons geneig is om krampagtiger aan ons geld vas te klem as enigiets anders wat ons besit en wanneer ons dus daarvan afstaan, beteken dit dat ons God liewer het as ons geld. 

Ek verstrek graag sekere verstommende Bybelse feite. Die woord liefde word nagenoeg 400 keer in die Bybel vermeld, gebed 500 keer maar om te gee, byna 2000 keer. Meeste Bybelkenners stem saam dat indien God in Sy Woord iets twee maal meld, Hy dit uiters belangrik ag; dink dus net daaraan hoeveel te meer Hy dit belangrik ag, wanneer daar gegee word! 

2 Korinthiërs / Korintim Bet {9:7} “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief. ”. 

Baie mense gebruik hierdie Skrifgedeelte om dit te regverdig wanneer hulle gawe aan God minder as 10 persent (‘n tiende) is. Dit is egter ‘n foutiewe vertolking en toepassing van hierdie vers want dit gaan nie oor die bedrag wat gegee behoort te word nie, dít word voldoende gedek dwarsdeur die Skrif. Dit is eerder die gesindheid waarin ons moet gee: die gawe moet vrywillig wees, eerder as om dit uit noodsaak of teësin te doen. Die laaste gedeelte van die vers hierbo, wat soos volg lui, bevestig dit: “…want God het ‘n blymoedige gewer lief.”. 

Maleági / Malachi {3:8} “Mag ‘n mens God beroof? Want julle beroof My, en julle sê: Waarin het ons U beroof? In die tiendes en die offergawe. ”. 

Uieindelik word elke misdadiger gevang, want een of ander tyd begaan hy ‘n fout, raak nalatig en word in hegtenis geneem. Hoe kan enigeen in sy wildste drome ooit dink dat hy daarmee sal wegkom deur God te beroof? Nogtans skenk die meeste gelowiges in Jesus die Messias nie hulle tiende nie. God probeer om ons te laat afsien van iets wat vir ons kosbaar is, sodat ons kan leer hoe om Hom geheel-en-al met belangrike sake te vertrou – soos ons siele. Die vraag is egter: wil ons luister? 

Maleági / Malachi {3:10} “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie. {3:11} Ek sal ook die sprinkaan vir julle afweer, sodat hy die opbrings van julle grond nie sal verwoes nie; ook die wynstok op die land sal vir julle nie onvrugbaar wees nie, sê die HERE van die leërskare.”. 

God het gesê dat ons Hom moet toets en dan sal Hy Homself bewys. Om te besef hoe belangrik dit is, herinner ek julle daaraan dat dit die enigste plek in die Bybel is waar daar geskrywe staan dat ons toegelaat word om God op die proef te stel. Wanneer ons probeer bereken hoeveel ons tiendes behoort te wees, voer ons dikwels gerieflike verskonings aan. God stel geensins in ons gerieflikheid belang nie, maar wel of ons gehoorsaam is. Indien ons voldoende gehoorsaam is om aan God ons tiende te skenk, sal ons vanselfsprekend gehoorsaamheid betoon deur aan Hom ‘n gedeelte van alles anders ook te skenk. As gelowiges, is dit ons uitdruklike plig om God te gehoorsaam, maar te veel van ons kies en keur ons gehoorsaamheid en sluit gevolglik ons oë vir die opdrag om ‘n tiende asook allerbeste aan God te gee. 

Ons word beveel om aan Hom die eerste van ons vrugte te skenk, maar ons neem dit vir onsself en gee slegs aan Hom dit wat oorbly of wat ons eintlik nie meer nodig het nie. Ons skenk dus aan Hom uit ons gerief in plaas van uit ons liefde. Ons gee aan God die krummels van ons lewens of dít wat oorbly nadat óns die fees geniet het. God is hoegenaamd nie ‘n God van oorskietkrummels of skamele oorblyfsels nie. God is ‘n heilige God en verdien die eerste van alles wat ons het. 

Jakob het vir ons die voorbeeld van om tiendes te gee gestel en ons almal weet hoedat God hom persoonlik (hy was die vader van die 12 stamme van Israel), finansieel (hy was ‘n welgestelde man) en geestelik geseën het; in so ’n mate dat God selfs sy naam verander het van Jakob na Israel. 

God verlang méér van jou as jou geld. Hy eis van jou jou algehele gehoorsaamheid en liefdevolle hart. Sal jy jou hart aan Hom gee? Indien wel, sal die vrywillige gawe van alles verder maklik geskied! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 11 November 2012

Jou Geboortereg Verag

11 November 2012 
D’Var Torah 
Geskiedenis – Toledot 


Romeine / Romim 9:1 – 13

Genesis / Bereshit {25:30} “Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. {25:31} En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. {25:32} En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? {25:33} Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. {25:34} En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag. ”. 

‘n Mens is alte geneig om Esau te kritiseer oor so ’n dwaasheid soos om sy geboortereg te verkoop. Hy was ongetwyfeld honger, maar was hy werklik tot die dood toe honger? Ek dink nie so nie! Na my mening het sy vlees bloot die oorhand oor hom gekry. Die lensie gereg het heerlik geruik, smaaklik gelyk en hy was honger. Sommige mense sal enigiets sê om te verkry wat hulle wil hê. Kan julle eerlik sê dat julle dit nog nooit gedoen het nie? Boonop is ek seker dat Jakob in hierdie omstandigheid ook nie geheel-en-al onskuldig was nie; trouens, hy het nie sommer uit die bloute met die “verkoop aan my jou geboortereg”-eis gekom nie. Dit was iets waaraan hy waarsynlik lankal reeds gedink en moontlik beplan het. Ek is daarvan oortuig dat Esau nie doelbewus sy geboortereg verag het nie, andersins sou hy daarna nie so berou oor sy daad gehad het en woede teenoor sy broer gekoester het nie. Anders as in die geval van Jakob, was dit met Esau ‘n besluit wat hy impulsief geneem het. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak nie: die punt is dat versoeking die oorhand oor Esau gekry en hy gevolglik dadelik daaraan toegegee het. 

Dink gerus daaroor na aangesien hierdie presiese scenario sigself moontlik herhaaldelik vandag in die lewens van gelowiges in Jesus die Messias afspeel. Miskien het dit selfs met julle al gebeur! Wanneer ons in Jesus die Messias weergebore word, ontvang ons ‘n geboortereg. Daardie geboortereg is verlossing wat die belofte van ewige lewe inhou terwyl ons die wedren van ons geloofslewe aflê, met die vaste voorneme om te oorwin. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {9:24} “Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal. {9:25} En elkeen wat aan ‘n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ‘n onverwelklike. {9:26} Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. {9:27} Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”. 

Sommige van ons kom egter maklik in versoeking. Net soos Esau, gee ons toe aan die begeerte van ons oë en ons vlees, veral in tye van swakheid. Juis om dié rede, leer ons hier by Melech Yisrael om jouself nooit in situasie te laat beland wat daartoe mag lei dat jy in gevaar verkeer om aan versoeking toe te gee nie. Enkellopendes van die teenoorgestelde geslag behoort nooit saam alleengelaat te word nie, selfs nie eers verloofdes nie. ‘n Getroude persoon behoort ook nooit sonder sy / haar gade alleen in die geselskap van ‘n persoon van die teenoorgestelde geslag te verkeer nie, of dié persoon nou ookal getroud is aldan nie. In elke situasie moet ons op ons hoede wees om nie in versoeking gestel te word of selfs die indruk van boosheid te skep nie. 

1 Petrus / Kefa Aleph {5:8} “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. ”. 

Talle gelowiges in Jesus die Messias het al aan versoeking toegegee en hulle geboortereg vir seks, geld, ‘n partytjie, dwelms, ens. verkoop. Hulle het geensins beplan om hulle geboortereg te verkoop nie – dit het soos in Esau se geval op die ingewing van die oomblik plaasgevind. Kom ons leer iets hieruit: Nadat Esau sy geboortereg verkoop het, kon hy dit nie terugkry nie, dit was te laat. Hy het wel ‘n seëning ontvang en was geseënd in sy lewe, maar hy het sy posisie (as eersgeborene) verloor en moes die tweede plek inneem. Is dit wat julle werklik verlang? 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {10:11} “Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. {10:12} Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”. 

Mag dit nóóit van julle “(vul jou naam hierin)” gesê word, “het sy / haar geboortereg verag nie” nie. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 November 2012

Die opstanding van die dode

D’Var Torah 
Sarah het gelewe – Chaye Sara 


2 Petrus / Kefa Bet 2:4 – 11

Genesis / Bereshit {23:2} “En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is 'n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my 'n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.”. 

Genesis / Bereshit {23:16} “Toe luister Abraham na Efron, en Abraham het aan Efron die geld afgeweeg waarvan hy gespreek het voor die ore van die seuns van Het-vier honderd sikkels silwer gangbaar by die koopman. {23:17} So het dan die stuk grond van Efron wat in Magpéla teenoor Mamre lê, die stuk grond en die spelonk wat daarin is, en al die bome op die stuk grond wat op die ganse gebied daarvan rondom staan, {23:18} die eiendom van Abraham geword voor die oë van die seuns van Het, voor almal wat in die poort van sy stad ingegaan het. {23:19} Daarna het Abraham toe sy vrou Sara begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, oostelik van Mamre, dit is Hebron, in die land Kanaän. {23:20} So is dan die stuk grond en die spelonk wat daarin was, deur die seuns van Het aan Abraham afgestaan om dit as graf in eiendom te besit.”. 

Ek wil graag aan twee sake uit hierdie twee Skrifgdeeltes, aangehaal uit dié week se parasha, aandag skenk. In die eerste groep Skrifgedeeltes word vertel dat Sarah gesterf en Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag. Die feit dat Abraham gekom het om oor haar rou te beklaag, veronderstel dat hulle met haar afsterwe nie op dieselfde plek was nie. Aangesien ‘n reis destyds nie was soos dit vandag is nie, is dit dus onmoontlik om te bepaal hoe lank dit Abraham moes geneem het om die plek van Sarah se afsterwe te bereik. Juis om hierdie rede, glo ek, verstrek die Skrif aan ons dié woorde van Abraham: “…dat ek die dode van my af weg kan begrawe.”. 

Soos ons verneem het, was Sarah ‘n pragtige vrou en na my mening is dit hoe Abraham haar graag wou onthou. Sy was nou dood en weens ‘n gebrek aan hedendaagse verkoelingsgeriewe en dit toe ook nie prakties moontlik was om haar te balsem nie, kon Sarah se ontbindende liggaam en doodsreuk beslis nie aangenaam gewees het nie. Derhalwe kan ek begryp waarom Abraham haar so spoedig moontlik voor sy aangesig wou weghê. Hierdie waarheid bewys ook hoe bedorwe ons sterflike liggame is. Daar is niks goeds aan ons vlees nie; trouens, dit is die speelgrond van die duiwel. Eenhonderd persent van al ons sonde is as gevolg van ons vlees: begeerte van die oë, wellus van die vlees, lewenstrots. Juis om hierdie rede leer die Skrif ons: 

Romeine / Romim {8:3} “Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, {8:4} sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”. 

Die volgende saak wat ek wil oorweeg, handel oor die vraag: “Waarom het Abraham verkies om Sarah in Kanaän te begrawe?”. Ek meen die feit dat Abraham verkies het om haar dáár te begrawe, illustreer weereens sy geloof in die belofte van God. God het Abraham belowe dat Hy aan hom hierdie land as ‘n besitting gee. Ofskoon Abraham nooit die vervulling van daardie belofte beleef het nie, sou hy tog. Eendag, met die opstanding, sal Sarah opstaan uit hierdie plek in Hebron – nie net sy nie, aangesien Abraham, Isak, Ragel, Jakob en Lea ook daar begrawe is. Dit word selfs deur die rabbi’s gemeen dat Adam en Eva dieselfde plek deel. Waarom is die aartsvaders en vermoedelik ook Adam en Eva in die land Kanaän begrawe? Die rede, volgens my mening, is dat met die opstanding, hulle in hulle vlees die vervulling van God se belofte sal aanskou. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 03 November 2012

God Weet Wanneer Jy Lieg

3 November 2012 
D’Var Torah 
En Hy Het Verskyn – Vayera 


Genesis / Bereshit {18:13} “Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? {18:14} Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor 'n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal 'n seun hê. {18:15} Maar Sara het dit ontken en gesê: Ek het nie gelag nie-want sy was bang. Maar Hy sê: Nee, maar jy het gelag.”. 

Wanneer lieg ‘n mens? Hier word vertel dat Sara gelieg het omdat sy bang was. Dit is beslis een van die redes waarom mense dit doen. Ander redes is om hulle aansien te behou, hulle teen gevaar te beskerm, ‘n tipe voorsprong of voordeel te verkry, vir finansiële gewin, die oorhand te bekom, ander te beïndruk, iemand anders te beskerm, hulself te verontskuldig, ens. Hierdie is slegs sommige redes waarom mense lieg, maar daar is natuurlik talle ander ook. In die Skrif, word die ware rede vir leuens egter verstrek: 

Johannes / Yochanan {8:44} “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan.”. 

Mense lieg dus omdat die satan hulle vader is. Maar vanselfsprekend waar! Die feit is dat almal een of ander tyd lieg, selfs ook diegene wat wedergebore gelowiges in Jesus die Messias is en ons almal het verskonings vir leuens. Sara s’n was omdat sy bang was. Het julle geweet dat om te oordryf ‘n leuen is? Ofskoon dit die mees algemene van alle leuens is, oordryf gelowiges tog sonder om te blik of te bloos. 

Dit is vir my interessant dat ons, as ouers, ons kinders geensins hoef te leer hoe om te lieg nie. 

Psalm / Tehillim {58:3} “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.”. 

Die mees betreurenswaardige feit is, dat ons sondig en vanaf geboorte leuenaaars is! Jesus die Messias het gekom om ons van sulke sondigheid te verlos maar baie van ons, wat wedergebore gelowiges is maak ons nogtans aan leuens skuldig. Bedoel dit dan dat ons kinders van die duiwel is? Ons vlees is wel! Wanneer ons ons bekeer, is ons wedergebore uit die Gees – ons vlees verander geensins nie en behou die ou sondige gewoontes. Dit is dus ‘n ononderbroke stryd tussen ons gees en vlees. 

Dit is juis hier waar die volgende Skrifgedeelte van toepassing is: 

Fillipense / Pilifim {2:12} “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;”. 

Verlossing hou nie by wedergeboorte op nie – ons moet ons eie verlossing uitwerk deur die eliminasie van vleeslike sonde. Ons moet ons vlees onderwerp aan ons gees en dus met alle leuenagtigheid wegdoen. 

Romeine / Romim {6:11} “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.”. 

Ek is oortuig daarvan dat Sara ‘n duur prys vir haar leuen betaal het. Sy het aan haar vlees toegegee en gevolglik toegelaat dat die duiwel deur haar praat. Moontlik was dit die rede waarom die duiwel haar kon beïnvloed om haar slavin aan haar man te gee sodat sy vir hom ‘n kind kon baar. 

Dink ‘n oomblik daaroor na welke gevolge moontlik aan jou leuens toegeskryf kan word. God wéét wanneer jy lieg! “’Maar Hy sê :’ Nee, maar jy het gelag.’”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou


Sondag 14 Oktober 2012

Elkeen gaan sy eie gang

14 Oktober 2012 
D’Var Torah 
Noag  /Noach

Genesis / Bereshit {6:9} “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel. ”. 

Met die lees van hierdie Skrifgedeelte, is dit heel moontlik dat mense die verkeerde indruk van Noag mag kry. Hy was, na alles, net ‘n gewone mens, soos enige ander, ons inkluis. Juis daarom val Hy onder die kategorie van alle mense – hy was gebore as ‘n sondaar en, selfs indien hy moontik gered was, het hy nogtans gesondig. Dit herhinner ‘n mens aan die volgende twee Skrifgedeeltes: 

Prediker / Kohelet {7:20} “want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie. ”. 

Romeine / Romim {3:23} “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, ”. 

Indien Jesus die Messias in die versoeking gestel was om te sondig, dan kan ons seker wees dat dit ook met Noag die geval was. Jesus was egter sondeloos – iets wat ek my verstout om te sê, nie van Noag gesê kan word nie. 

Hebreërs / Ivrim {4:15} “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.”. 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph {10:12} “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. {10:13} Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra. ”. 

Wat word dan in die Skrif bedoel wanneer gesê word: “Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote.”? Wat ons wel moet doen om die betekenis daarvan te begryp, is om verder in hierdie parasha te lees. Daarvolgens blyk dit dat Noag in baie bose tye gelewe het: 

Genesis / Bereshit {6:11} “Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. {6:12} Toe sien God die aarde aan, en—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”. 

Die mense se lewens het in die oë van God bedorwe geraak. Vir my beteken dit dat hulle afgewaal het van God en Sy doel met die mensdom – hulle het hulle eie gang gegaan. Dit was nie dat hulle abnormale lewens gely het nie; hulle het wel normale lewens gely, maar op ‘n abnormale wyse. 

Matthéüs / Mattityahu {24:38} “Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, ”. 

Juis daarom, in vergelyking met almal wat in Noag se tyd op aarde was, was hy ‘n tzaddik (regverdige). Ek gee hier egter hoegenaamd nie te kenne dat God mense volgens ‘n kurwe gradeer nie. Noag was regverdig maar nie volmaak nie. 

In die Skrif word ons meegedeel dat die bose tye waarin Noag gelewe het, op aarde herhaal sal word vóór die wederkoms van Jesus die Messias. Met ander woorde, die mense sal normale lewens ly: eet, drink, trou en in die huwelik gee, maar hulle sal dit op abnormale wyses doen – nie volgens die doel van God, soos wat dit in die tyd van Noag was nie. Is dit nie vandag reeds die geval nie? Die wêreld is vol boosheid en elkeen gaan sy eie gang – selfs sogenaamde gelowiges! 

God se toenaderings tot die mens, word grotendeels verontagsaam en meer en meer Christene asook baie Messiaanse Jode, is besig om af te dwaal van die tradisionele konserwatiewe waardes. Hulle luister veel eerder na liberale predikers, wat tekens en wonders najaag in plaas daarvan om tot hulle sinne te kom en eerder Tora-gesentreerde lewens te ly. Dit is behoorlik asof dit wat reg is, verkeerd geword het en dit wat verkeerd is, reg geword het. 

2 Petrus / Kefa Bet {3:3} “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel ”. 

Ek dink ons het alreeds daardie stadium bereik!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 07 Oktober 2012

Lig uit duisternis, dag uit nag.

7 Oktober 2012 
D’Var Torah 
In Die Begin / Bereshit (Genesis) 

Genesis / Bereshit 1:1 – 6:8
Johannes / Yochanan 1:1 – 5


Genesis / Bereshit {1:3} “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. {1:4} Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; {1:5} en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. ”. 

Daar heers by heelparty mense verwarring met betrekking tot hierdie vers, omdat dit spreeek van God wat om lig roep en dan die lig van die duisternis skei. Die vers gaan dan verder om te sê dat God die lig “dag” en die duisternis “nag” genoem het. Dit het alles, so word ons meegedeel, op die eerste van die skepping plaasgevind. Dit is egter nie die verwarrende deel nie. Die verwarring ontstaan, wanneer vers 14 gelees word: 

Genesis / Bereshit {1:14} “En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. {1:15} Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. {1:16} God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. {1:17} En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde {1:18} en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. {1:19} En dit was aand en dit was môre, die vierde dag. ”. 

Hierdie verse blyk ‘n herhaling te wees van wat vantevore op die eerste dag plaasgevind het. Wat baie mense dus verwar, is die verband tussen die lig en duisternis van die eerste skepping dag en die lig en duisternis op die vierde dag. Dit blyk dieselfde te wees, maar vind op twee afsonderlike dae plaas, wat die vraag laat ontstaan of dit werklik dieselfde is? Die feit is egter dat dit hoegenaamd nie dieselfde is nie. Die verskil tussen die twee skeppingsdae word duideliker wanneer ons God se dubbele gebruik van die woorde “lig en duisternis”, “dag en nag” verstaan. 

Johannes / Yochanan {11:8} “Die dissipels sê vir Hom: Rabbi, die Jode het onlangs probeer om U te stenig, en gaan U weer daarnatoe? {11:9} Jesus antwoord: Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag wandel, stamp hy hom nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. {11:10} Maar as iemand in die nag wandel, stamp hy hom, omdat die lig nie in hom is nie. ”. 

Een van die sub-temas van Johannes se Evangelie is die begrippe van “lig en duisternis”, “dag en nag” en hy gebruik dit met betrekking tot “goed en kwaad”. Wat dus deur Johannes in die bovermelde verse gesê word, is dat as iemand in die dag wandel – dit wil sê geregtigheid – sal hy hom nie stamp nie, maar as iemand in ongeregtigheid, oftewel in die nag wandel, sal hy homself stamp. Dit word selfs duideliker wanneer ons lees wat Jesus ons vertel het. 

Johannes / Yochanan {8:12} “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê. ”. 

Dit word nou meer klaarblyklik wat op die eerste skeppingsdag plaasgevind het. God, wat almagtig is en bewus was daarvan dat die wêreld wat Hy van voornemens was om te skep, in boosheid sou verval, het die konsep van Jesus die Messias (God wat die menslike gestalte aanneem) ingestel, waardeur “lig uit duisternis, dag uit nag” geskei is, terwyl beide “goed uit kwaad (= sonde)” verteenwoordig. 

In verse 14 tot 19 van Genesis {1}, het God die son, maan en sterre geskep. In effek, het God op die vierde dag tyd geskep en hierin lê die onderskeid tussen die eerste en vierde skeppingsdag. 



Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou