Sondag 26 Augustus 2012

Bybelse Geregtigheid

Wanneer Julle Weggaan / Ke Tetze 




Deuteronomum / Devarim {21:20} “en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. {21:21} Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees. Maar as hierdie woord waarheid is: Die maagdom is aan die dogter nie gevind nie— {22:21} dan moet hulle die dogter na die deur van haar vader se huis uitbring, en die manne van haar stad moet haar stenig, dat sy sterwe, omdat sy ‘n skanddaad in Israel begaan het deur in die huis van haar vader te hoereer. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. {22:22} As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei. As iemand betrap word wat ‘n persoon uit sy broers, uit die kinders van Israel, steel en hom hard behandel en hom verkoop, dan moet dié dief sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. ”. 

Wanneer dit in die hedendaagse liberale samelewing by misdaad (moord ingesluit) teen die samelewing kom, is die neiging al hoe meer om eerder tronkstraf op te lê as die doodstraf; trouens, meeste Westerse lande van die wêreld, met inbegrip van ons land, Kanada, het reeds die doodstraf afgeskaf. Die Verenigde State is egter verdeeld oor die oplegging van die doodstraf en gevolglik verskil dit van Staat to Staat. Die meer liberale linksgesinde State het dit wel afgeskaf, terwyl die meer konserwatiewe regsgesinde state dit steeds toepas. 

Ons gevangenis-sisteme is in ‘n haglike toestand: oorvol tronke en ‘n personeeltekort. Die betrokke gevangenis in Toronto wat deur ons gemeente bedien word, is oorspronklik ontwerp vir ongeveer 250 gevangenes, maar moet vir dubbel soveel voorsiening maak. Dit is die geval in meeste gevangenisse; wat egter is, is dat as gevolg van oorbevolking, talle gevangenes in die samelewing vrygelaat word voordat hulle hul vonisse uitgedien het, wat die samelewing asook wetsgehoorsame burgers in gevaar stel. Ongelukkig is baie moordenaars sodoende vroëer vrygelaat, wat weer tot verdere moorde gelei het. 

Ongodsdienstige liberale persone probeer ons voortdurend oortuig dat rehabilitasie die antwoord is aangesien ons gevangenis-sisteem juis ontwerp is om oortreders te rehabiliteer, sodat hulle eindelik vrygelaat en ‘n produktiewe bydrae tot die samelewing sou kon lewer. Ek wens dit was waar! Indien dit egter nie was vir Christelike en Messiaans-Joodse gevangenisbedienings, soos ons s’n wat die Goeie Nuus (Besora Tova) van redding aan gevangenes verkondig nie, is dit onwarskynlik dat soveel gevangenes geheel-en-al gerehabiliteer sou kon word. 

Die satan wil hê dat die doodstraf afgeskaf moet word – hy wil nie die kwaad (bose) van die samelewing laat weerhou nie; inteendeel is dit sy begeerte dat die kwaad moet toeneem oor die hele wêreld en dit is vandag ongelukkig reeds die geval. Net soos God geduldig gewag het vir die volheid van die kwaad om te manifesteer voordat Hy die land Kanaän geoordeel het, so wag Hy ook geduldig vir die volheid van die kwaad om te manifesteer voordat hy die aarde oordeel. Intussen gaan die satan onverpoosd voort! 

Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Slegs sekere misdade, waarvan vier hierbo in ons Skrifgedeeltes vermeld word, vereis die doodstraf. Ander strafmetodes vir mindere ernstige misdade word deur God bepaal – dit sal egter ‘n lesing op sigself verg. 

Ek is heeltemal ten gunste van die rehabilitasie ten opsigte van oortreders van spesifieke tipes misdaad, maar wanneer dit egter moord betref, soos in die Skrif vermeld, behoort die doodstraf as regsreël toegepas te word, omdat God gesê het: “So moet jy dan die kwaad uitroei onder jou uit…”.

‘n Mens kan nou redeneer: “Wat van daardie oortreders wat moord gepleeg, maar in die gevangenis tot bekering gekom het en na vrylating, ‘n aanwins vir die samelewing geword het? Hierdie mense sou mos nooit gered gewees het indien hulle nie in die gevangenis beland het nie?” My antwoord op die eerste gedeelte van hierdie vraag is dat dit die rare uitsondering is dat werklike bekering in ‘n gevangenis plaasvind en daarom geensins die reël nie. Wat die tweede gedeelte van die vraag betref, vertel ek graag hierdie ware verhaal: 

Ted Bundy was ‘n reeksmoordenaar, wat erken het dat hy 30 moorde gepleeg het. Aangesien hy sommige van hierdie misdade in die staat Florida gepleeg het en hy dáár in hegtenis geneem is, is hy die doodvonnis opgelê. Bundy was ‘n koelbloedige genadelose moordenaar wat verdien het om vir sy misdade te sterf. Voor sy teregstelling, het Dr. James Dobson – ‘n sielkundige en stigter van die Christelike evangeliese organisasie, “Focus on the Family”, hom besoek. Dr. Dobson het Ted Bundy na die Here gelei. Voor sy dood, het Bundy sy geloof in Jesus as sy Messias bely en om vergifnis van sy sonde gebid. Indien sy belydenis en berou opreg was, soos wat baie mense glo dit inderdaad was, het daar twee dinge gebeur: ‘n gevangenis is gered en Ted Bundy is nou in die hemel by sy Verlosser, maar Bybelse geregtigheid het geskied en die kwaad is onder ons uitgeroei.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 19 Augustus 2012

Die Tora en die invloed daarvan op die lewe van ‘n gelowige

19 Augustus 2012 
D’Var Torah 
Rigters / Shoftim 


Deuteronomium / Devarim {18:18} “‘n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. {18:19} En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”. 

Hierdie is ‘n besondere belangrike Skrifgedeelte. God het alreeds daardie Profeet (Navi) wat soos Moses is, verwek. Moses het die kinders van Israel gelei uit slawerny na vryheid, uit gebondenheid na vrylating. Wat Moses fisies gedoen het, het die Profeet – net soos Moses – geestelik gedoen. Soos Moses, het Hy verlos en verlos Hy nog steeds almal wat Hom volg uit die slawerny van sonde en gebondenheid deur die satan. Daardie Profeet is Jesus die Messias. Dit is egter nie die punt wat ek wil maak ten opsigte van hierdie Skrifgedeelte uit vandeesweek se parasha nie. Wat ek graag uit hierde gedeelte wil bespreek, is:

Deuteronomium / Devarim {18:18}: “… en ek sal My woorde in sy mond lê, en Ek sal vir hulle alles sê wat Ek hom beveel. {18:19}“En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. ”. 

 Ek vind dit betreurenswaardig en steurend dat daar soveel “Christene” is wat glo dat Jesus die Messias iets nuuts onder die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) gedoen het en “Christene” gevolglik nie onder die Tora is nie. Dit is hoegenaamd nie wat ek aflei uit die bovermelde Skrifaanhaling nie. Uit wat ek lees, word aan my vertel dat Jesus slegs gespreek het wat die Vader aan Hom gegee het om te spreek. Is dit trouens nie wat Jesus aan ons bevestig het nie? 

Johannes / Yochanan {8:28} “En Jesus sê vir hulle: Wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, dan sal julle weet dat dit Ek is; en uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek.”. 

Dink daaroor! Sou die Vader aan Sy Seun gesê het om te weerspreek wat Hy in Sy Woord sê? Hoegenaamd nie! Ons God is dieselfde gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek besef dat ek vantevore al hierdie onderwerp behandel het, maar ek kan dit nie genoeg benadruk nie en sal nie ophou om dit te sê totdat die Kerk dit regstel nie: “Daar is niks nuuts in die Hernieude Verbond nie en Jesus het nie die Tora weerspreek nie”. 

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.”. 

Jesus het gekom ter vervulling van wat die Tora en profete aangaande Hom voorspel het. Hy het nie gekom om ‘n einde aan die Tora te maak en ‘n nuwe godsdiens in te stel nie. Boonop verseker Hy ons hier dat die Tora geldig sal bly “totdat alles vervul is.”. Dit beteken: totdat die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek, wat nie sal plaasvind tot ná die Duisendjarige Ryk nie. 

Ek beweer nie dat die Mesiaanse Judaïsme al die antwoorde kan verstrek óf indien jy nie ‘n Messiaanse Joodse gelowige is nie, jy nie gered is nie. Wat ek wel sê, is indien jy glo dat jy nie langer onder die Tora is nie, is jy mislei en onbeteulde misleiding kan begryplikerwyse tot verlies van jou redding lei. Die Torah is vandag nog net so geldig soos wat dit met die skepping van die aarde was. 

Konteks is alles. Hier by Kehila Melech Yisrael, vier ons die kerngebruike van Joodse lewe, met inbegrip van die Sabbat, Kosher en Feesdae (Moedim), ons nadruk is op die Tora, wat die gebooie van God bevat. Vanselfsprekend eerbiedig ons slegs daardie gebooie, wat vandag nog toepaslik is, aangesien die tempel nie langer bestaan nie. Ons volg die Tora, soos van toepassing op ‘n wêreld sonder ‘n fisiese tempel. Die Tora en die invloed wat dit op die lewe van ‘n Messiaanse Joodse gelowige het, is juis dit wat ons onderskei en van die wêreld afsonder. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 12 Augustus 2012

Die Emanasies van God

12 Augustus 2012-08-11 
D’Var Torah 
Sien / Re’eh 

1 Johannes / Yochanan Aleph 4:1 – 6

Deuteronomium / Devarim {13:6} “As jou broer, die seun van jou moeder, of jou seun of dogter of die vrou wat jy liefhet, of jou vriend wat soos jou eie siel is, jou in die geheim verlok en sê: Laat ons gaan en ander gode dien—wat jy en jou vaders nie geken het nie, {13:7} uit die gode van die volke wat rondom julle is, naby jou of ver van jou af; van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde— {13:8} dan moet jy nie inwillig en na hom nie luister nie; ook mag jou oog hom nie verskoon nie, en jy mag jou nie ontferm en niks om sy ontwil wegsteek nie, {13:9} maar jy moet hom sekerlik doodmaak; jou hand moet eerste teen hom wees om hom dood te maak, en daarna die hand van die hele volk. {13:10} En jy moet hom stenig, dat hy sterwe; want hy het probeer om jou weg te drywe van die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. {13:11} En die hele Israel sal dit hoor en vrees, en hulle sal nie meer so ‘n verkeerde ding by jou doen nie. ”. 

Hierdie Skrifgedeelte is myns insiens ‘n ernstige struikelblok wat veroorsaak dat Joodse mense Jesus as die Messias verwerp. Ek sal dus my uiterste bes doen om duidelikheid oor dié gedeelte te probeer verkry en verduidelik waarom dit nie op die geloof in of aanbidding van Jesus die Messias, toegepas behoort te word nie. 

Indien jy ‘n Joodse persoon was en hierdie Skrifgdeelte gelees het, sou jy nie skepties gewees het as ‘n Christen na jou gekom en vir jou vertel het dat God drie persone is nie, naamlik die God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees, en dat jy Hulle nou moet aanbid nie? Dit het met my persoonlik gebeur! Nadat ek intellektueel tot die gevolgtrekking gekom het dat Jesus (ek het Hom toe nog nie as Jesus geken nie!) die Messias van die Joodse mense is, het dit my jare geneem voordat ek Hom volkome aanvaar het. Dit was aanvanklik vir my selfs moeilik om die naam “Jesus” te sê, om nie eers te praat van om in Hom te glo en Hom te aanbid nie! As Jood was ek te bang om ‘n vreemde God te dien, maar dit het natuurlik alles verander en nou ken ek die Messsias van Israel persoonlik. Ek wéét wie Hy is en is dankbaar vir wat Hy vir my gedoen het. Ek ken Hom ook op die Naam wat Sy Vader aan Hom gegee het: Jesus, wat Redder beteken. Vanweë my eie persoonlike ervarings, kan ek egter begryp hoedat my broers en susters in die vlees, hierdie God in drie persone moet ervaar. 

Ek is egter nie gemaklik met die terme “Drietal” (“Trinity”) of “Drie-eenheid” nie, omdat dit die indruk wek dat daar drie gode is, wat die moontlikheid (één wat reeds plaasgevind het) laat ontstaan dat mense, veral Jode, tot die gevolgtrekking kom dat gelowiges in die Messias Jesus, veelgodery (politeïsme) beoefen. Ons weet dit is nie waar nie! Christelike liedere soos “God in drie Persone, die Heilge Drietal”, wat in vele kerke gesing word, help egter nie om hierdie valse indruk uit die weg te ruim nie. 

Meeste gelowiges – Joods of nie-Joods in die Messias Jesus, wat ek al teëgekom het, sou geen probleme hê met die voordra van die “Sh’ma”, wat in Deuteronomium / Devarim 6:4 voorkom nie: “Hoor, Israel, die Here onse God is ‘n enige Here.”. Daarom is ek van mening dat die misverstand onder die Joodse gemeenskap bloot semanties is. 

Ons kan nie die feit wegredeneer nie dat God een is – nie ‘n Drietal van een of Drie-eenheid van een nie, maar onteenseglik slegs EEN is. Messiaanse gelowiges aanbid geensins drie gode nie. Ook nie God Een God met drie persoonlikhede nie. Hy is Een God wat funksioneer en Homself gemanifesteer het as die Av (Vader), Ben (Seun) en Ruach Hakodesh (Heilige Gees) en dit verander hoegenaamd nie die feit van Sy Eenheid nie. 

Dit is tog eienaardig dat ofskoon die breër Joodse gemeenskap die beginsel van die pluariteit van God verwerp, dit nie ‘n Christelike konsep is nie maar eerder ‘n Joodse een. ‘n Gewilde boek (ek sal nie die titel vermeld nie) oor Joodse mistisisme, verwys na die drie manifestasies of openbarings van God nie, maar wel tien. Hierdie boek moem dit die “Sefirot”. Waar het hulle aan hierdie konsep gekom? Waarskynlik uit die Skrif! Dit is waar hulle gevind het dat God Homself op verskillende wyses aan die mens openbaar. Met inagneming hiervan, toon ek julle na, ‘n voorbeeld, uit die Skrif, van die pluraliteit van God: 

Jesaja / Yeshayahu {48:12} “Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste. {48:13} Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. {48:14} Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die HERE liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs. {48:15} Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees. {48:16} Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here HERE my met sy Gees gestuur. ”. 

In vers 12 deur die middel van vers 14, verwys die spreker van hierdie verse na Homself as die Een wat Israel geroep het, wat die Eerste en die Laaste is. Dan in vers 13 beskryf dieselfde spreker Homself as die Skepper van hemel en aarde. Dit is dus heel duidelik dat die Spreker in vers 12 deur die middel van vers 14, God is. In hierdie verse spreek God, die Spreker, skynbaar oor Homself, maar doen dit in die derde persoon. Dit mag aanvanklik voorkom asof God na iemand anders verwys – moontlik Sirus, koning van Persië – maar lees weer vers 16. In hierdie vers is dit duidelik dat die spreker steeds God is, maar Hy beskrywe twee persone wat die sending verrig, plus ‘n meervoudige werkwoord wat gebruik word. Wat in effek hier gesê word, is dat God en Sy Gees vir God gestuur het. Derhalwe is dit duidelik dat Jesaja in hierdie gedeelte die pluraliteit van God beskrywe; in hierdie geval, drie manifestasies. 

Daarbenewens, verwys ek graag na die volgende Skrifgedeeltes wat die Messias as God beskrywe: 

Miga / Michah {5:2} “En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. ”. 

Jeremia / Yirmeyahu {23:5} “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. {23:6} In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID. ”. 

Beide hierdie gedeeltes is ongetyweld Messiaans en albei verwys na die Messias as synde God. 

Ten slotte wil ek graag daarop wys dat die gedeelte uit ons Torah-deel van hierdie week – Parasha Te’eh – nie van toepassing is op Messiaanse gelowiges wat Jesus die Messias aanbid nie. Vandeesweek se gedeelte is eerder van toepassing op heidense afgodery: die aanbidding van heidense gode, soos wat die volkere van Israel moes gaan onteien. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 05 Augustus 2012

Hy Reken Af Met Die Goddeloses (Sondaars)

5 Augustus 2012 
D’Var Torah 
As Gevolg Van – Ekev 

Romeine / Romim 8:31 – 39

Deuteronomium / Devarim {7:22} “En die HERE jou God sal hierdie nasies so langsamerhand voor jou uit verjaag; jy mag hulle nie gou vernietig nie, dat die ongediertes nie teen jou die oorhand kry nie. {7:23} Maar die HERE jou God sal hulle aan jou oorgee en hulle in groot verwarring bring totdat hulle verdelg word. {7:24} Ook sal Hy hulle konings in jou hand gee, dat jy hulle naam onder die hemel kan laat verdwyn; niemand sal teen jou standhou totdat jy hulle verdelg het nie.”. 

Ek weet dat God se opdrag aan Israel met betrekking tot die Kanaäniete – vir baie van julle – streng, wreed en genadeloos klink; trouens, dit is Skrifgedeeltes soos hierdie wat die Kerk gebruik om tussen die God van die Tanach (Hebreeuse Skrifte) en die God van die Brit Chadasha (Hernieude Verbond) te onderskei. Op grond van wat hulle beweer, het die God van Israel ‘n ongunstige reputasie onder kerkgangers verkry. Ek het al dikwels hoor sê dat die God van die “Ou Verbond” ‘n God van oorlog en vernietiging is maar die Jesus van die “Nuwe Verbond”, ‘n God van vrede en genade is. Dit kan egter nie verder van die waarheid verwyder wees nie omdat dit één en dieselfde God is. Het God dan nie gesê nie: 

Maleagie / Malachi {3:6} “Want Ek, die HERE, het nie verander nie; en julle, kinders van Jakob, is nie verteer nie.”. 

Hebreërs / Ivrim {13:8} “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.”. 

Die God van die Bybel – die God van Israel – was barmhartig, is barmhartig en sal altyd barmhartig wees. Die mense wat Hy van plan was om te onteien en vernietig, het behoort aan ‘n volk wat gruwels soos die offerande van kinders, godsdienstige goedgekeurde seksorgies (manlik sowel as vroulik) asook ander afskuwelikhede, verbonde aan hulle afgodsdiens beoefen. Wat God beplan het om hulle aan te doen, was beslis wat hulle verdien het. 

Ons word ook vertel: 

Genesis / Bereshit {15:13} “Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. {15:14} Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. {15:15} Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. {15:16} En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.”. 

Die Amoriete, wat deel van die Kanaäniete was, was selfs gedurende die tyd van Abram, alreeds sondig. Let daarop dat sedert die tyd waarop God dit aan Abram meegedeel het tot die tyd wat Israel die Land Kanaän binnegegaan het, ‘n tydperk van vierhonderd-en-dertig jaar verloop het. God was genadig aangesien Hy aan hulle vierhonderd-en-dertig jaar verleen het om te sien of hulle van hulle sonde sou afsien, maar hulle het nie en inderdaad selfs sondiger geraak. Dink gerus daaraan: hoe lank sou julle hulle gegee het? Hoeveel langer, meen julle, moes God nog gewag het? Probeer belasting ontduik of bly in gebreke om julle verband of huur te betaal en kyk hoe lank dit die regering neem om julle te vervolg. 

Matthéüs / Mattitayahu {25:32} “en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; {25:33} en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. {25:41} Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele.”. 

Hierdie gedeelte beskryf wat Jesus met Sy wederkoms sal doen alvorens Hy Sy Duisendjarige Ryk sal totstandbring. Hy sal al die goddeloses vanoor die wêreld heen bymekaarmaak, hulle oordeel en hulle dan na die ewige verdoemenis in die hel stuur. Die Kanaänitiese verbond mag moontlik uit miljoene mense bestaan het, maar indien hierdie gedeelte verwys na die bymekaarmaak van al die goddeloses vanoor die hele aarde, praat ‘n mens ongetwyfeld van biljoene. Soveel vir die siening dat: “die God van die “Ou Verbond”, ‘n God van oorlog en vernietiging is, maar die Jesus van die “Nuwe Verbond” ‘n God van vrede en genade is.” 

Noudat ons begryp wie God is en hoe Hy teenoor goddeloses, indien julle nog nie gered is nie, optree, dink aan ‘n weergebore gelowige in Jesus die Messias: Hoe lank meen julle gaan God aan júlle tyd gun om julle van julle sonde te bekeer, voordat júlle geoordeel word? 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou