Saterdag 30 Oktober 2010

Wat Ontbreek

30 Oktober 2010 / Chesvan 22 5771

Sara Het Gelewe / Chayei Sarah

Genesis / BeReshit 23:1-25:18

1 Konings / Melachim Aleph 1:1-31

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 15:50-57

Genesis {23:1} “En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe.


Ek is ‘n voorstaander van éénmaal getroud, altyd getroud (dit is vanselfsprekend totdat die dood ons skei)! Dit is my filosofie dat dit drie persone (man/vrou en Jesus) neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee (man en vrou) om dit op die rotse te laat beland. Ongeag dus wat jy dink oor wat ek in hierdie kommentaar sê, dit is my standpunt en sal nie verander nie.

Interessant genoeg het talle heiliges van die Bybel wankelrige huweliksverhoudings gehad. Moses en sy vrou Sippora, soos ons bewus is, het ‘n meningsverskil oor die besnydenis van hul seun gehad en dit het tot ‘n breuk in hul verhouding gelei. Moses se skoonvader, Laban, het hulle egter weer versoen. Nietemin is daar in die Skrif geen aanduiding dat die versoening hoegenaamd permanent was nie. In hierdie Parasha verneem ons dat Sara in Hebron oorlede is, terwyl ons in verlede week se Parasha gelees het, dat Abraham in Berséba gewoon het. Met vandag se hoofweë is dié twee stede slegs 45 minute van mekaar af oftewel ‘n rit (sonder verkeer) wat agt-en-twintig minute duur. In die tyd van Abraham was egter ‘n aansienlike afstand deur die wildernis en boonop ‘n moeilike en opdraande reis deur ‘n bergagtige gebied – veral vir ‘n bejaarde man soos Abraham. Dus het hulle nie meer saamgewoon nie!

Genesis {22:19} “ En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon.


Die rabbis glo egter dat Abraham en Sara uiteen is oor die akida (binding) van Isak. Dit was ten spyte van die feit dat Isak blykbaar reeds in sy dertigs was toe die akida plaasgevind het. Indien ons egter die mening van die rabbis as waarheid aanvaar, beteken dit dat sowel Moses as Abraham met hul vrouens geredeneer en uitmekaar is oor onenigheid rakende hule kinders. Kinders is wel belangrik maar behoort glad nie tussen hul ouers, wat mekaar liefhet en God in hul huwelik het, te kom nie.

Dit laat my ongetwyfeld wonder oor hierdie groot Godsmanne, wat sulke vername rolle in die Bybelgeskiedenis vertolk het. Wat het dan in hul lewens ontbreek en / of in hul huweliksverhoudings wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Ek wil nie graag één party uitsonder nie, maar indien ons beide (Abraham en Moses) se situasies van naderby beskou, is daar inderdaad één opvallende ooreenkoms. In albei gevalle was hul kinders betrokke.

Ek maak grootliks op my vrou se mening staat en ofskoon ek altyd ernstige oorweging daaraan skenk, is ons dit eens dat die finale besluit – sonder uitsondering – altyd myne moet wees. Dit mag vir sommige mense miskien vreemd klink, maar my vrou besef dat ek ‘n vroom, Godvresende man is en nooit ‘n vername besluit sal neem voordat ek God nie éérs in gebed en indien nodig, deur te vas, geraadpleeg het nie. Moontlik is die verskil tussen mý vrou en die vrouens van Moses en Abraham, dat sy met dieselfde Heilige Gees (Ruach HaKodesh) vervul is as waarmee ek vervul is. Derhalwe erken sy dit wanneer God deur my werk of wanneer ek deur my vlees gelei word. Dit was nie die geval met beide Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Ons moet egter onthou dat die Gees in daardie tyd van die geskiedenis nie op alle vlees uitgestort is nie. Soos ons bewus is, was dit eers met die Shavuot in die eerste eeu, na die hemelvaart van die opgestane Jesus die Messias, dat die Heilige Gees op alles vlees uitgestort is, op diegene wat Jesus die Messias as hul Here en Redder aanvaar het. Voor dié tyd het die Gees gerus op slegs diegene, op wie die Here dit bestuur het en selfs dan, het dit volgens die wil van die Here, gekom en gegaan, volgens Sy wil.

Dit voer ons terug na die beginpunt waar ek gesê het dat dit drie persone neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee om dit op die rotse te laat beland. Dit wil dus vir my voorkom asof in die huwelike van sowel Sippora as Sara, die Derde Persoon ontbreek het!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 23 Oktober 2010

Profesie en Bespotting

23 Oktober 2010 / Chesvan 15 5771

Profesie en Bespotting

En Hy Het Verskyn / VaYera

Genesis / BeReshit 18:1 – 22:24

2 Konings / Melachim Bet 4:1 – 37

2 Petrus / Kefa Bet 2:4 – 11

Genesis {18:9} “Toe sê hulle vir hom: Waar is Sara, u vrou? En hy antwoord: Daar in die tent. {18:10} En Hy sê: Ek sal oor ‘n jaar sekerlik weer na jou toe kom—dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê. En Sara het geluister by die ingang van die tent wat agter Hom was. {18:11} Maar Abraham en Sara was oud, ver op hulle dae; dit het met Sara nie meer volgens die reël van die vroue gegaan nie. {18:12} En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is? {18:13} Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het? {18:14} Sou iets vir die HERE te wonderbaar wees? Hierdie tyd, oor ‘n jaar, sal Ek na jou terugkom, en Sara sal ‘n seun hê.


Hierdie week se Parasha is so omvattend dat dit eintlik moeilik is om te besluit waarop om te fokus, maar onderwyl ek gebid het, het die Here hierdie vers aan my uitgewys:


Genesis {18:12} “En Sara het by haarself gelag en gedink: Sal ek wellus hê nadat ek oud geword het en my heer oud is?


Met al die belangrike dinge wat in hierdie parasha plaasvind (soos die verskyning van engele in menslike gedaante, die belofte van ‘n erfgenaam vir Abraham en die vernietiging van Sodom en Gomorra), is dit maklik om die baie persoonlike en subtiele interaksie tussen God, die Skepper van hemel en aarde, en Sarah, vrou van Abraham, mis te kyk.


Sarah, soos ons bewus is, was onvrugbaar; sy was reeds op ‘n gevorderde leeftyd, post menopousaal en verby die verwagting om kinders te hê. Dit is vandag in ons veronderstelde moderne, verligte en verdraagsame samelewing, moeilik en dikwels werklik pynlik sowel as beskamend om kinderloos te wees, maar destyds was dit uit-en-uit vernederend.

My eggenote en ek is kinderloos en ten spyte van die feit dat ons op grond daarvan die geleentheid gegun word om God te dien, sonder die verdeelde aandag om ‘n gesin groot te maak, was dit vir ons pynlik en het dit dikwels smart asook tot ons verdriet, bespotting meegebring – selfs deur lede van ons gemeente. Ek self het nie kinders nie met die gevolg dat ek by geleentheid gekorrigeer is wanneer ek aan ouers leiding gegee het met betrekking tot die grootmaak van kinders. Daar is al selfs aan my gesê: “Dit is maklik vir jóú om te praat – jý het geen kinders nie!”. Diegene wat dit nie reguit aan my gesê het nie, het moontlik dieselfde mening gehuldig. My eggenote is ookal verkwalik oor haar kinderloosheid, gewoonlik uiters subtiel, maar nietemin spottenderwys. Ons kan albei daarvan getuig dat dit besonder pynlik is!

Stel julle dus voor hoedat Sarah moes gevoel het in ‘n tyd en samelewing wat nie so verlig en verdraagsaam soos ons s’n is nie; dit was trouens ‘n samelewing waarin ‘n kinderlose vrou verstoot en deur die ander vrouens as ‘n verworpeling behandel is.

Wat ek vreemd vind on te begryp is waarom Sarah op die drie besoekers (twee engele en God) reageer het deur te lag? Daar moes ongetwyfeld geweldige pyn in haar hart gewees het vanweë die swaarkry as gevolg van soveel jare se bespotting wat sy moes verduur het. ‘n Meer begryplike reaksie – na my mening – sou eerder ‘n hewige afkeer van die opmerkings van ‘n verdere drie onsensitiewe mense wees.

Ek het egter tot die gevolgtrekking gekom dat Sarah in werklikheid, om welke rede ookal, in haar binneste, hierdie besoekers geglo het. Dit sou die enigste verduideliking wees vir die feit dat sy gelag het. Dit was eerder ‘n reaksie van behoedsame hoop, wat haar teleurstelling, toe dit nie volgens haar tysberekening gerealiseer het nie, verduidelik sowel as haar begeerte om selfvervulling van hierdie profesie. Sy kon nie die pyn van verdere teleurstelling verduur nie. Erger nog, sy kon nie die blote gedagte dat die profesie moontlik net nog ‘n bydrae was tot haar reeds té lange lys van bespottings, verduur nie.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 16 Oktober 2010

Kom Weg Van Voor die hand liggende Afgodery

16 Oktober 2010 / Cheshvan 8 5771

Gee jý pad / Lech Lecha

Genesis / Bereshit 12:1 – 17:27

Jesaja / Yeshayahu 40:27 – 41:16

Romeine / Romim 4:1 – 25

Genesis {12:1} “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. {12:2} En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. {12:3} En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.


Waarom sou God van Abram verwag om sy land, sy familie en sy eie ouers te verlaat? Dit klink nie reg of redelik nie. Al wat Abram immers mee vertroud was, was die stad waarin hy gewoon het en die familie en vriende saam met wie hy dáár groot geword het. Hoe kon God van iemand van Abram se ouderdom verwag om alles waaraan hy gewoond was, agter te laat en te trek – nie slegs ‘n blok verder weg of na die anderkant van die stad nie, maar wel na ‘n ander land? In daardie dae was dit hoegenaamd nie so maklik om so rond te trek nie. Gewoonlik is die mense gebore en het hulle naderhand gesterf in dieselfde dorp. Die antwoord daarop is dat God ons uit ‘n omgewing van afgodediens wil verwyder sodat Hy in ons ‘n ware verhouding met Hom, die enige ware God, kan skep.

Dit is geen geheim nie dat die Russies-Ortodokse-, Grieks-Ortodokse- en Katolieke Kerk diep betrokke in die eerbetoon van heiliges is. Indien ons begryp waaruit hierdie praktyk ontstaan het, sal ons moontlik die praktyk in sy regmatige perspektief kan plaas.

Toe keiser Konstantyn van Rome gepoog het om sy verdeelde ryk te verenig, het hy ‘n algemene godsdiens gekies om dit te verwesenlik. Dit was nie ‘n epiphanie wat hom tot geloof gebring het nie; sy lewe het geensins daarvan getuig dat hy tot ‘n reddende kennis van Jesus as die Messias gekom het nie. Konstantyn het gesoek na ‘n oplossing vir ‘n politieke probleem wat sy ryk geteister het en dit het sy houvas daarop toenemend laat verswak.

Die Christelike geloof het binne die Romeinse Ryk reeds in gewildheid begin toeneem. Konstantyn het dus bloot gekies om die Christelike geloof sy amptelike godsdiens van die Ryk te verklaar. Hy moes dit egter aanvaarbaar maak vir die algemene publiek, wat in afgodsaanbidding en die heidendom gedompel was. Om dit te verwesenlik, het Konstantyn die Christelike geloof vir sy eie doeleindes aangepas. In die Romeinse Ryk was baie mense daaraan gewoond om op Sondag die songod te aanbid; Konstantyn het gevolglik die dag van aanbidding, van Saterdag na Sondag gewysig. Verder was hulle daaraan gewoond om die gode van die Wintersonstilstand te verheerlik. Op baie heidense feesdae is die geboorte van hulle gode gevier, met inbegrip van Sol Invictus, wat volgens oorlewering op 25 Desember weergebore is en dikwels voorgestel word met ligstrale vanuit sy hoof (presies soos wat Jesus uitgebeeld is). Konstantyn het gevolglik 25 Desember as die geboortedag van Christus laat verklaar. Hulle was gewoond daaraan om Ishtar, godin van vrugbaarheid te herdenk om en by Paasfees, toe Jesus gesterf het. Konstantyn het die herdenking van Ishtar na Paasfees gewysig en dit met die dood van Christus verbind. Die aanbidding van die jeugdige God, Tammuz, en sy moeder, wat as “Madonna en Kind” bekendgestaan het, is vervang deur “Maria en Jesus”. Daar was egter ‘n verdere probleem wat bygelê moes word en dit was die groot aantal gode wat deur die bevolking aanbid is. Konstantyn moes met ‘n oplossing vir hulle vorendag kom, ten einde ‘n sekere vorm van die veelvuldige gode-aanbiddingspraktyke te behou sonder om ‘n algehele kompromie met die monoteïsme van die Christelike geloof aan te gaan: Gevolglik is die konsep van die heiliges ingestel.

Ek is bewus daarvan dat ek die hele proses vereenvoudig het en dus baie fyner besonderhede uitgelaat het. My doel is egter nie om afgodsdiens te verheerlik òf ‘n volledige verslag van die geskiedenis te verstrek nie, maar wel om God te verheerlik – die God van hemel en aarde, die God van Israel, deur slegs die grondbeginsels en eindresultate van die besluite wat geneem is, kortliks te skets.

Wat is dus die punt wat ek deur die voorafgaande verduidelikings wil maak? Eenvoudig dit: Ek het al talle mense wat aan die kerke hierbo gemeld behoort, sowel as ander mense soos hulle, wat daarop aanspraak maak dat hulle gered en wedergebore gelowiges is, teëgekom. Hulle behoort steeds aan hul onderskeie kerke en aanbid saam met hul kerke, volgens hul onderskeie kerklike tradisies. Indien jy miskien een van hulle is, dan versoek ek jou om die volgende te oorweeg: “As God Abram beveel het om “pad te gee” uit die afgodsomgewing waarin hy hom bevind het, selfs sover gegaan om hom in ‘n ander land in te lei (Onthou: Daar was toe geen telefone of ander elektroniese kommunikasiemiddels soos vandag om met vriende en familie tuis in verbinding te bly nie), sou Hy dan nie begeer dat diegene wat beweer dat hulle wedergebore is, uit hierdie duidelik afgodies godsdienste moet weg kom nie?

Die apostel Paulus het hierdie beginsel beslis begryp toe hy geskryf het:

2 Korinthiërs (Korintim Bet) {6:14} “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? {6:15} En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? {6:16} Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. {6:17} Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; {6:18} en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 09 Oktober 2010

Ook My Hartsbegeerte

9 Oktober 2010 / Cheshvan 1 5771

Noag / Noach Congregation Melech Yisrael

Genesis / BeReshit 6:9 – 11:32

Jesaja / Yeshayahu 66:1 – 24

1 Petrus / Kefa Aleph 3:18 – 22

Genesis / Bereshit {8:20} “En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. {8:21} En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. {8:22} Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”


Daar is feitlik geen boek in die Bybel waar die woord “sonde” nie met betrekking tot die mens gebruik word nie. Een van die belangrikste Skrifgedeeltes wat oor die sonde van die mens handel. Kom in die boek Jeremia (Yirmeyahu) voor:


Jeremia / Yirmeyahu {17:9} ” Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”


In sy ongeredde en onwedergebore toestand, is die menslike hart uitermate boos. Is dit dan geen wonder dat ons ten einde nuwe skepsels te word wat aan God toegewy is en met Sy liefde gevul te wees, nuwe harte moet ontvang nie?


Esegiël / Yechkiel {36:26}” En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. {36:27} En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.


Een van die vernaamste struikelblokke en twispunte tussen die Messiaanse Judaïsme en tradisionele Judaïsme is die verkryging van ‘n nuwe hart. Judaïsme, in sy huidige vorm, kan nie die transformasie, wat mense beleef wanneer hulle Jesus die Messias as hul Heer en Redder aanneem, begryp nie. Hulle verwerp die geloof in Hom, vanweë beperkte menslike redeneervermoë en ‘n sondige hart.


God het hul oë met ‘n sluier bedek. My oë was ook eens bedek en ek het ook met die Christendom die spot gedrywe. Ek het wedergebore Christene as ‘n eienaardige klomp beskou. Dit was egter nie totdat ek gebroke, verneder en ‘n laagtepunt in my eie lewe bereik het nie, dat ek die Here aangeroep en Hy my verhoor het, maar nie soos ek verwag het nie!


Ek het nie vir Jesus as die Messias gesoek nie, maar eerder verlossing deur ‘n God wat ek geweet het, bestaan en met Wie ek nooit werklik ‘n verhouding gehad het nie. Ek het ‘n punt bereik wat ek met graagte Ortodokse Judaïsme sou aanneem, indien God dit op my pad gelê het, maar dit het nie gebeur nie! In plaas daarvan het Hy aan my ‘n nuwe hart geskenk en my koue hart van klip weggeneem. Sondigheid het my letterlik verlaat en is deur goedheid vervang. Hoe verduidelik ‘n mens só iets aan die Jode in Judaïsme? Hoe kan ‘n mens dit aan hulle vertel sodat hulle dit sou begryp? Dit is onmoontlik! Dit wat ek, asook miljoene mense soos ek, op die oomblik van verlossing ervaar het, kan hoegenaamd nooit in woorde uitgedruk word nie.


Daardie Jode wie se oë nog geheel-en-al versluier is, kan nie sien nie, en begryp nie wat ons hulle vertel nie. Juis daarom verdedig hulle hul blinde godsdienstige gelowe so heftig. Kom ons wees eerlik: Judaïsme, net soos vele ander gelowe, het die krag en werkinge van die Heilige Gees probeer vervang. Hulle het gepoog om die Gees se vermoë te vervang om ‘n sondige hart weg te neem en dit met ‘n nuwe hart met werke van die vlees, te vervang.


Oor die algemeen, is die menslike hart steeds sondig omdat dit “van sy jeug af sondig was”. As bewys hiervan, hoef ons maar net na die wêreldtoestand van vandag te kyk: Ons wentel af tot die rand van vernietiging deur kernoorlog. Hoeveel boser kan dinge in die wêreld raak as wanneer ‘n nasie van mening is dat kernwapens nodig is as afskrikmiddel teen die aggressie van ander volkere? Dit is slegs ‘n kwessie van tyd wanneer die volheid van boosheid in die hart van die mens bereik word, wanneer vrees, agterdog en haat voldoende rede sal wees om ‘n wêreldwye uitwissing aan die gang te sit.

Dit is geen wonder dat die apostel Paulus (Shaliach Shaul) die volgende aangaande sy Joodse broeders geskryf het nie.

Romeine (Romim) {10:1} “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. {10:2} Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. {10:3} Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. {10:4} Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

Dit is ook my hartsbegeerte.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 02 Oktober 2010

Ek Volstaan Daarmee

2 Oktober 2010 / Tishrei 22 5771

In die Begin / BeReshit Congregation Melech Yisrael

Genesis / BeReshit 1:1 – 6:8

Jesaja / Yeshayahu 42:5 – 43:10

Johannes / Yochanan 1:1 – 5

Genesis / BeReshit {1:1}”In die begin het God die hemel en die aarde geskape. {1:2} En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.


Sedert Darwin om en by 1884 met sy leer van “The Origin of the Species” na vore gekom het – vandag beter bekend as “ Die Teorie van Evolusie” – is die skeppingsbegrip steeds ter sprake. Die geloof in ‘n Skepper van hemel en aarde en alles wat bestaan, met inbegrip van die mens, is sedertdien meedoënloos betwis. Nou, alhoewel Darwin se teorie nooit as korrek bewys is nie en Darwin self sy teorie op sy sterfbed gerepudieer het, het die Evolusieteorie daarin geslaag om nog te bestaan, vooruit te gaan en selfs te floreer. Dit word nou bykans universeel in meeste publieke skole oor die wêreld heen geleer.

Dit alles ten spyte daarvan dat Darwin se teorie in werklikheid ‘n teorie in krisis is. Dit is in krisis vanweë die geweldige vooruitgang wat ons die vyftig jaar in molekulêre biologie, biochemie en genetika behaal het. Hoe dit ookal sy, al hierdie mens-onthullende bewyse is sekondêr wanneer die groot hoeveelheid profetiese bybelse getuienisse, wat verklaar dat God waarlik Skepper van die hemel en aarde is, in ag geneem word. As bewys, verwys ek na hierdie gedeelte van die profeet, Jesaja, dieselfde profeet wat die geboorte van Jesus die Messias voorspel het:

Jesaja / Yeshayahu {40:1}”Troos, troos my volk, sê julle God. {40:2} Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. {40:3} ‘n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis ‘n grootpad vir onse God! {40:4} Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. {40:5} En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek. {40:6} ‘n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ‘n blom van die veld. {40:7} Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! {40:8} Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. {40:9} o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ‘n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! {40:10} Kyk, die Here HERE sal kom as ‘n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. {40:11} Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. {40:12} Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met ‘n span die maat geneem, en in ‘n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met ‘n weegtoestel en die heuwels met ‘n weegskaal? {40:13} Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? {40:14} Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? {40:15} Kyk, die nasies is soos ‘n druppel aan die emmer, en soos ‘n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos ‘n stoffie! {40:16} En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. {40:17} Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken. {40:18} By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel? {40:19} Die ambagsman giet ‘n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. {40:20} Wie te arm is vir so ‘n offergawe, kies ‘n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom ‘n kunsvaardige ambagsman om ‘n beeld op te rig wat nie wankel nie. {40:21} Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie? {40:22} Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos ‘n dun doek en sprei dit uit soos ‘n tent om in te woon. {40:23} Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; {40:24} skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos ‘n stoppel. {40:25} By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. {40:26} Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie. {40:27} Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? {40:28} Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. {40:29} Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. {40:30} Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; {40:31} maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie. ”


Ek volstaan daarmee! Die Evolusieteorie is nie bloot ‘n teorie nie - dit is ‘n vorm van afgodsdiens. Dit ontken die bestaan van ‘n Skepper en verwys na Sy skepping as blote toeval. Mag God die siele van hulle wat dit glo en verkondig genadig wees!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou