Saterdag 30 Maart 2019

Dien Hom Met Opregtheid en Waarheid

Shemini
(Agste)


Levitikus/ Vayakira {9:23} “Daarop het Moses en Aäron in die tent van samekoms gegaan; en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. En die heerlikheid van die HERE het aan die hele volk verskyn {9:24}  vuur het van die aangesig van die HERE uitgegaan en op die altaar die brandoffer en die stukke vet verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle gejuig en op hulle aangesig geval.”

Levitikus/ Vayakira {10:1} “En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. {10:2}  Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE.”

Dit was vir my interessant dat beide hierdie Skrifgedeeltes verwys na vuur wat vanuit die hemel gekom het. Ofskoon albei vure van die aangesig van God afgekom het, het dit met ‘n heel verskillende doel gebeur. In beide gevalle was dit ‘n verterende vuur – die één het egter die korban (naderkomsoffer) op die altaar verteer en lewe meegebring terwyl die ander vuur die seuns van Aäron verteer en dus die dood meegebring het.

Die Hebreeuse woord vir vuur is “Aish” en daarvan word die woorde “Ish” (as ēēsh uitgespreek) en vir vrou “Isha” (as ēēsha uitgespreek) afgelei. Die feit dat die woorde vir man en vrou van die woord vir vuur afgelei is, dui vir ons aan dat die vuur van God binne-in ons moet wees.

Die rabbi’s glo dat elke mens met die vonk van God in hulle geskep is. Hierdie vonk of essensie van God moet aangesteek / ontbrand word, vir ons om waarlik te lewe. Ek is van mening dat dit juis dít was wat Paulus bedoel het toe hy geskryf het:

Romeine / Romim {12:1} “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Die korban moes altyd op die altaar geplaas word, waar dit deur die vuur van God verteer sou word. Dit was dan juis dáár waar sondevergifnis plaasgevind het. Vandag egter, moet ons by die kruis bly, waar die vuur van God die sonde in ons binneste sal verteer – ten einde daagliks aan onsself te sterf en daagliks tot eer van die Messias, Jesus, te lewe. By baie mense bestaan daar ‘n wanvertolking van die woorde van Johannes die Doper toe hy gesê het:

Lukas / Uri {3:16} “antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie—Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.”

Christene van die Pinkster-denominansies vertolk hierdie Skrifgedeelte asof God hulle gaan vul, nie slegs met die Heilige Gees nie maar ook met die vuur (=krag) van die Heilige Gees. Ofskoon dit blykbaar aansluit by hulle “brandende”– teologiese oortuigings, is dit hoegenaamd nie wat met hierdie vers bedoel word nie. Die werklike betekenis hiervan gaan terug na die Tora, besonderlik die verse hierbo aangehaal. Die vuur van God daal neer van die hemel om een van twee dinge te doen en dit is óns keuse wat dit vir ons sal doen. Indien ons onsself as lewende korbanot (offers) wy, dan sal ons aan onsself sterwe en vir Jesus die Messias lewe. Indien ons verkies om ons eie gang te gaan en nie die gebooie van God te gehoorsaam nie, sal die vuur uit die hemel in oordeel neerdaal en ons lewens verteer.

Josua / Yehoshua {24:14} “Vrees dan nou die HERE en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE. {24:15}  Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2012-04-15


Saterdag 23 Maart 2019

Dit is nie wetties (legalisties) nie, dit is om gehoorsaam te wees

Tzav
(Opdrag)

Levitikus / VaYikra 6:8-8:36

Levitikus / Vayikra {8:5} “Toe sê Moses aan die vergadering: Dit is die saak wat die HERE beveel het om te doen. {8:6} En Moses het Aäron en sy seuns laat nader kom en hulle met water gewas. {8:7} Daarop het hy hom die rok aangetrek en hom met die gordel gegord en hom die mantel aangetrek; ook het hy hom die skouerkleed aangetrek en hom gegord met die band van die skouerkleed en daarmee hom die skouerkleed omgebind. {8:8} Verder het hy hom die borstas aangeheg en in die borstas die Urim en die Tummim gesit. {8:9} En hy het die tulband op sy hoof gesit en aan die tulband, aan die voorkant, die goue plaat, die heilige kroon, bevestig, soos die HERE Moses beveel het. {8:10} Toe het Moses die salfolie geneem en die tabernakel en alles wat daarin was, gesalf en dit geheilig. {8:11} En hy het daarvan sewe maal op die altaar gesprinkel en die altaar gesalf en al sy gereedskap, met die waskom en sy voetstuk, om dit te heilig. {8:12} Daarna het hy van die salfolie op die hoof van Aäron gegiet en hom gesalf om hom te heilig. {8:13} Ook het Moses die seuns van Aäron laat nader kom en hulle die rokke aangetrek en hulle gegord met 'n gordel en hulle die musse omgebind soos die HERE Moses beveel het.”

Soos ons verder tot aan die einde van hierdie week se parasha lees, sien ons dat Moses God se bevele tot in die fynste besonderheid uitgevoer het. Ek bring dit juis onder julle aandag omdat ons dikwels, vanweë ons tipe aanbiddingsdiens daarvan beskuldig word dat ons wetties is. Ek wonder dus, was Moses inderdaad wetties of kon hy nie maar ‘n paar kortpaaie geneem en die hele proses veel korter en eenvoudiger gemaak het nie? Die antwoord is natuurlik beslis NEE!

Om dinge volgens reëls uit te voer en in ooreenstemming met God se opdrag, is van kardinale belang. Dit is nie wetties nie – dit is om gehoorsaam te wees. Indien God ons beveel om iets op ‘n bepaalde wyse uit te voer en ons doen dit gerieflikheidsonthalwe op ‘n ander wyse, is dit afgodery. Ja, dit is sonder twyfel afgodery! Ons sou onsself voordoen om God te wees, terwyl ons redeneer dat óns beter weet en oor ‘n verbeterde en vinniger wyse beskik om dinge uit te voer.

1 Korinthiërs / Koritim Alef {14:40} “Laat alles welvoeglik en ordelik toegaan.”

Ek glo dat wat Paulus (Shaul) hier vir ons vertel, is dat daar God se wyse en daar ‘n menslike wyse is, maar dat ons dinge op God se wyse móét uitvoer.

Myns insiens raak baie gelowiges te gesteld op wat hulle as wetties beskou. Laat my toe om dit vir julle te definieer. Wettigheid is enigiets wat ons doen wat menslik bedink word, wat dan toegevoeg word tot wat werklik deur God vereis word. Ook om ‘n legalis te wees, is om te probeer om God se gebooie af te dwing op ‘n “nuwe” gelowige, wat nog nie vir Jesus as sy / haar Messias aangeneem het nie. Dit is presies die punt wat Paulus in die boek van Romeine maak, toe hy gesê het:

Romeine / Romim {14:1} “1 En neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. {14:2} Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. {14:3} Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem.”

Hierdie Skrifgedeelte verwerp geensins die Tora nie, soos sommiges sou wou leer nie, maar alles wat betrekking daarop het om die gebooie af te dwing op diegene wat nog swak (nuwe gelowiges) is of aan ‘n Messiaanse Joodse gemeente behoort, maar hulself nog nie daartoe verbind het of Jesus as hul Messias aanvaar het nie.

Om dinge op die regte wyse – God se wyse – te doen, is nie legalisties / wetties nie: Dit is die wyse waarop Hý verwag dat dinge gedoen moet word.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2013-03-17


Saterdag 16 Maart 2019

Gevangenskap is van die menslike verbeelding

VaYikra
(En Hy Het Geroep)


Levitikus / Vayikra {6:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:2} As iemand sondig en ontrou handel teen die HERE deurdat hy teenoor sy naaste ontken dat iets aan hom toevertrou of as pand gegee is of deur hom geroof is, of dat hy sy naaste iets afgepers het, {6:3} of dat hy iets gekry het wat weg was, en dit ontken; of dat hy vals sweer ten opsigte van enigiets wat 'n mens kan doen om hom daarmee te besondig {6:4} as hy dan sondig en skuldig word, moet hy teruggee wat hy deur roof ontvreem of deur afpersing verkry het, of wat aan hom toevertrou was, of verlore goed wat hy gevind het; {6:5} of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet daar ten volle vergoeding voor gee en nog die vyfde deel daarvan byvoeg; aan hom aan wie dit behoort, moet hy dit gee op die dag as hy boete doen. {6:6} En hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as boete aan die HERE 'n ram sonder gebrek as skuldoffer na die priester bring. {6:7} Dan moet die priester vir hom versoening doen voor die aangesig van die HERE, en dit sal hom vergewe word enigiets wat 'n mens doen, sodat hy daardeur skuldig word.”

Ek vertrou dat soos jy hierdie week se parasha asook verlede week s’n lees, jy gemerk het dat die Torah nooit gevangenskap as ‘n vorm van straf gebruik het nie. Gevangenskap as sulks is van die menslike verbeelding en nie van God nie. Indien ‘n dief – iemand wat iets deur onderdrukking bekom het of iets wat aan hom toevertrou was, misbruik het, iemand wat iets teruggehou het van wat ‘n persoon verloor het of iemand wat oor enige van die voorafgaande sake valslik gesweer het – skuldig bevind is, is hy nie gevange geneem, soos wat vandag in sommige van hierdie misdrywe gebeur nie. In plaas daarvan, leer die Tora dat die benadeelde persoon vergoed moet word. Nie slegs moes die item wat geneem of weerhou is, teruggegee word nie, maar wel 20 % daarop toegevoeg word. Indien iemand dus ‘n lam gesteel het, sou hy lam vir lam moes terugbetaal, plus ‘n bykomende geldelike bedrag van 20 % van die waarde van ‘n lam. Dit was egter nie al nie! ‘n Dief moes, soos ons hierbo gelees het, ‘n ram na die priester bring as sondoffer. Hieruit kan afgelei word dat diefstal ‘n aansienlike duur les vir die skuldige party geword het.

Wat sou die geval gewees het waar die dief, onderdrukker of persoon wat ‘n deposito teruggehou het, nie in staat was om die boete te betaal nie? Die Tora leer ons dat hulle en indien nodig selfs hulle onmiddelike gesinslede as slawe verkoop sou word, waar hulle die boete sou moes afwerk tot-en-met die shmitah-jaar (die sewende jaar van kwytskelding). Volgens my mening sou dit ‘n voldoende afskrikwyse wees, maar bowenal is die Tora-stelsel één wat beskerm en rehabilitasie aanmoedig.

Ek glo dat daar voldoende bewys is dat ons moderne stelsel van gevangenskap ontoereikend, onprakties en teenproduktief is. Dit laat nie slegs die slagoffer sonder vergoeding nie, maar die samelewing moet die oortreder huisves en voed teen ‘n gemiddelde koste van $ 25 000,00 per jaar (2013). Indien die regte van kriminele vandag in oënskou geneem word asook geriewe soos gratis gesondheid- en tandheelkundige sorg tot hulle beskikking terwyl hulle gevangenes is, wie word meer gestraf – die krimineel of die slagoffer en samelewing? Erger nog, die krimineel word aangehou saam met honderde ander misdadigers waar die meerderhied van mekaar leer, vriendskappe ontstaan en verbintenisse met mekaar aangaan en hulle die gevangenis verlaat, erger as toe hulle gearresteer is.

Indien dit nie vir gevangenisbedienings was nie, soos dié wat ons hier by Melech Yisrael het nie, sou die terugval in misdaad van veel groter omvang gewees het as wat dit alreeds is.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2013-03-10


Saterdag 09 Maart 2019

Geseënd om gered te wees

Pekude
(Berekenings)


Eksodus / Shemot {38:21} “Dit is die berekening van die koste van die tabernakel, van die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Moses, deur die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van die priester Aäron.”

Soos wat ‘n mens verder in hierdie Skrifgedeelte lees, besef jy dat die kosteberekening, wat verstrek word, beperk is. Nie alles wat vir die konstruksie van die tabernakel (Mishkan) gebruik is, was bereken nie – dit wil sê, al die onverwerkte materiaal, wat in die oprigting daarvan gebruik is. Ons het ‘n gedetaileerde berekening van die gewig van die goud, silwer en koper wat benodig was, maar geen presiese hoeveelhede van hout, edelgesteentes of weefstof word verstrek nie. Ek glo nie dit was te wyte aan ‘n oorsig aan die kant van God of Moses nie. Ek twyfel ook nie daaraan dat hierdie Skrifgedeelte bedoel is om ‘n werklike oudit van die boeke te wees nie. Na aanleiding van die lysting van die goud, silwer en koper, lei ek af dat God slegs die mees kosbare verbruiksartikels opgenoem het, want soos vandag, was dit ook in Moses se tyd waardevolle metale.

Neem byvoorbeeld die goud; bykans 1,930 pond goud was in die konstruksie van die tempel gebruik. Daar is sestien onse in ‘n pond wat sou uitreken op 30,880 onse goud. Met inagneming van die huidige Amerikaanse prys van goud van ongeveer $1,260 per ons, sou dit beteken dat $ 38,908,800 Amerikaanse waarde van goud vir die tempel gebruik is. ‘n Mens mag wel sê dat die goudwaarde tóé aansienlik minder was, as wat dit nou is, maar dit moet in gedagte gehou word dat alles relatief is en dat dit gevolglik vir hulle net so ‘n astronomiese bedrag was, as wat dit nou vir ons is. Indien die waarde van die silwer en koper hierby ingereken word, is ‘n geweldige groot bedrag in die tempel belê. Wat egter interessant is, is dat elke ons goud, silwer en koper vrywilliglik deur die Egiptenaars aan die kinders van Israel gegee is, vóór hulle vertrek uit Egipte. Die Egiptenaars is nie deur die Hebreërs geplunder soos ‘n vyand in oorlog geplunder word nie. God het dit op die harte van die Egiptenaars gelê om dit te oorhandig en die kinders van Israel om dit te vra.

Eksodus / Shemot {11:2} “Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis. {11:3}  En die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.”

Dit herinner my aan ‘n profesie van duisende jare tevore deur die profeet Jesaja:

Jesaja / Yesayahu {61:1} “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; {61:2}  om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; {61:3}  om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking. {61:4}  En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag. {61:5}  Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. {61:6}  Maar júlle sal priesters van die HERE genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem.”

Benewens die profesie in dié verband, het hy ook geskrywe:

Jesaja / Yesayahu {60:5} “Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.  {60:11} En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog.”

Voorwaar wonderlike profesieë! Die feit is egter dat dit wel gebeur en reeds gebeur het sedert die totstandkoming van die staat Israel. Die Joodse volk wat oor die wêreld heen versprei is en voorspeod geniet het in die lande waarin God hulle gevestig het, stuur die rykdom van volkere na die land. Met die toenemende vervolging en anti-Semitisme dwarsoor die wêreld, immigreer Jode na Israel en bring die rykdom van volkere saam met hulle. Evangeliese Christene, veral uit die Verenigde State, het dit op hulle geneem om Israel finansieel te ondersteun. Ek weet van ‘n Joodse bediening in Israel wat feitlik geheel-en-al deur Christene ondersteun word tot die jaarlikse bedrag $55 miljoen.

Dit hou nooit op om my te verstom hoedat ons God te werk gaan nie! Hy is dieselfde: gister, vandag en tot in alle ewigheid. Ek is só geseënd  om wedergebore en gered te wees!

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2014-02-19


Saterdag 02 Maart 2019

Met Blou, Pers en Bloedrooi Geweef

VaYakhel/Pekude
(En Hy Het Byeengebring)


Soos julle uit die titel sal merk, is daar hierdie week ‘n dubbele Tora-lesing. En ek het na verwante Skrifgedeeltes uit elke deel gesoek en verskaf één kommentaar vir albei Parashot. Graag wil ek hiermee ook erkenning verleen aan Rabbi Jonothan Cahn, wie se lesings in hierdie kommentaar bygewerk is.

(Uit parasha Vayakhel)
Eksodus {36:35 – 36:38) “Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs. (36:36)  En hy het vier pilare van akasiahout daarvoor gemaak en dit met goud oorgetrek; hulle kramme was ook van goud; en hy het daarvoor vier silwervoetstukke gegiet. (36:37)  Hy het ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; (36:38)  en die vyf pilare wat daarby behoort, met hulle kramme; en hy het hulle toppe en ringe met goud oorgetrek; en hulle vyf voetstukke was van koper.”

(Uit parasha Pekude)
Eksodus {39:1} “Hulle het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir Aäron gemaak soos die HERE Moses beveel het.”

Ons weet dat alles wat God doen van betekenis is. Sekerlik is dit van toepassing op wat Hy in die Bybel doen en wat Hy in die tabernakel (Mishkan) gedoen het. Wat insiggewend van die bovermelde Skrifgedeeltes is, is die verwysing na die drie kleure: blou, pers en bloedrooi. Wat ook interessant is, is dat die tabernakel uit drie dele bestaan het: die buitevoorhof, die Heiligdom en die Heiligste der Heilige – oftewel die Kadosh Kedoshim.

Blou is die kleur van die hemel, dit wil sê die lug en daarom verteenwoordig blou dus die hemel. Skarlaken is rooi en die Hebreeuse woord vir rooi is “Adom”, waaraan die naam “Adam” ontleen is. Die grond in die Midde-Ooste is rooierig en Adam is uit die Midde-Oosterse stof van die aarde geformeer – vandaar sy naam. Die naam Adam is nie slegs die naam van die eerste mens nie, maar verwys ook na die ganse mensdom. Die kleur, Adom, rooi of skarlaken rooi, verteenwoordig dus die mens. Dit is dus interessant dat met hierdie twee kleure blou en rooi, ons ‘n skakel het tussen hemel en aarde: God en die mens; trouens, dit is waaroor die tabernakel eintlik gaan – die ontmoeting of skakeling tussen God en mens en mens met God. Die tabernakel is op soortgelyke wyse met betrekking tot hierdie twee kleure saamgestel. Ons vind die Heiligste der Heilige waar God woon en die voorhof waar die mens woon.

Die middelste kleur in ons Skrifgedeeltes vermeld, is pers (purperrooi), wat, soos ons weet, ‘n samevoeging van blou en rooi is. Wat verder van hierdie kleur interessant is asook die betrekking daarvan tot die tabernakel, is dat laasgenoemde die Plek van Ontmoeting (dit wil sê die “ontmoeting” van blou en rooi) genoem is. Nie net dat dit ‘n volgorde van die kleure is nie: blou is altyd eerste en rooi altyd laaste, met pers altyd in die middel. Daar was ook dieselfde kleurvolgorde met die oprigting van die tabernakel: blou (hemel / die Heiligste der Heilige) is eerste en die voorhof (rooi / die mens) laaste opgerig en waar dié twee gedeeltes bymekaarkom (ontmoet), in die middel, die altaar. Ons sien dus hier dat die beweging is van die hemel af na die mens. 

Op die voorhangsel van die tabernakel is gerubs ingeweef in dieselfde kleure: blou, pers en bloedrooi en die bedekking van die ingang na die tabernakel, weereens in blou, pers en bloedrooi.

Wanneer ons die Hoëpriester (Kohen HaGadol) sien en hoe hy in die tabernakel diens verrig, merk ons dat hy van die voorhof na die Heiligste der Heilige beweeg: van die altaar na die ark, waaroor die teenwoordigheid van God was. Dit is baie interessant omdat dit ‘n afskaduwing is van Jesus se beweging vanaf die kruis: vanaf die mens na die altaar, na God toe, oftewel van die kruis na die hemel. Hy het by die mens begin en na God opgevaar.

Volgens die Skrif, is ons met die geregtigheid van Jesus beklee, dit wil sê dat ons die klere van God dra in blou, pers en bloedrooi. “Wie kan ons skei van die liefde van die Messias…”. Dit behels om in God te lewe en God in ons; om ons in Sy vreugde te verbly, om deur sy oë te kyk en in Sy voetspore te volg. Elke geslote deur gaan oop vir dié een wat in God lewe, elke sluier van vrees sal deur die krag van God weggeem word. Indien ons in God wandel, sal Hy ons bemagtig net soos blou en rooi in pers kan verander!  

Kom gou Jesus!
PDF weergawe

Voorheen uitgegee: 2012-03-11