D’Var
Torah
Dag van
versoening / Yom Kippur
Levitikus / Vayikra {16:1} “En die HERE het met Moses gespreek ná die
dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig
van die HERE nader gekom het; {16:2} en
die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger
tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die
versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in
die wolk op die versoendeksel. ”.
Indien julle die hele Skrifgedeelte vir hierdie week gelees het, dan
besef julle dat na die dood van Nadab en Abihu, Aäron (Aharon) se twee seuns,
God vir Aäron begin onderrig het aangaande die Yom Kippur-protokol. Dit is vir
my insiggewend dat God juis dié tyd na die dood van Aäron se twee seuns gekies
het om hom te onderrig oor Yom Kippur. Het dit moontlik betrekking op die twee
sterfgevalle gehad? Soos ons bewus is, het albei gesterf weens hulle
opstandigheid teen die opdragte van God. Hulle het ‘n sonde gepleeg wat tot
hulle dood gelei het. Die werklikheid is dat ons ook deurentyd sondig – selfs
diegene van ons wat deur die bloed van Jesus die Messias gered is. Behoort ons
dan nie ook te sterf nie? Die Skrif leer ons tog immers:
Eségiël / Yehezqel {18:4} “Kyk, al die siele is
myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die
siel wat sondig, dié moet sterwe. ”.
God verwys nie hier na spirituele dood nie – Hy verwys na ‘n werklike
fisiese dood. Sonde lei tot die dood, al is dit selfs ‘n voortydige dood.
Aangesien elkeen egter sterwe, moet ons onthou dat die dood deur die sonde van
één mens, Adam, in die wêreld ontstaan het en dus is natuurlike dood die gevolg
van sonde. Sonde veroorsaak die dood!
Waarom dus die onderrig oor die versoeningsonderwerp van Yom Kippur juis
na die sonde en dood van Aäron se twee seuns? Die rede is dat hulle vanweë
hulle sonde gesterf het en Yom Kippur handel dus in geheel oor alles
betreffende versoening vir sonde; trouens, die moderne Engelse vertaling vir
Yom Kippur is “Dag van Versoening”.
In hierdie parasha oor Yom Kippur, bewys God aan ons hoe ernstig Hy
sonde beskou. Opstandigheid teen God se Woord mag dus hoegenaamd nie ligtelik
geag word nie. Nadab en Abihu is nie eers die geleentheid gegun om berou te
betoon vir die besondere sonde wat hulle dood veroorsaak het nie – hulle het
gesondig en het gesterf, Daar bestaan natuurlik altyd die moontlikheid dat ook
ons nie die geleentheid gegun mag word om berou te betoon vir die sonde wat
moontlik die oorsaak van ons dood kon gewees het nie. In die lig daarvan, is
Yom Kippur ingestel en dié besef asook onderhouding daarvan is dus van die
uiterste belang.
In ons parasha onderrig God Aäron verder oor optrede ten opsigte van die
korporatiewe sonde van die kinders van Israel. Aanvanklik het dit begin met sy
optrede ingeval van sy eie sonde en dié van sy familie. Waarom het God Aäron
opdrag gegee om eerste met sy eie sonde asook die die sonde van sy huishouding
te handel? Myns insiens was dit omdat Aäron reeds bewus was van die opstandige
aard van sy twee oudste seuns wat uiteindelik hulle dood voorafgegaan het! Dit
was natuurlik nie die eerste keer in die Skrif dat hulle opstandige aard geblyk
het nie – hulle dood was die finale rede in die oë van God. Ek is oortuig
daarvan dat hulle vóór hierdie finale oordeel wel die geleentheid gegun was om
hulle van hul bose weë te bekeer, ofskoon ons in die Skrif nie daarvan verneem
nie.
Die hoofsaak is dat Yom Kippur handel oor reiniging van sonde wat tot
die dood lei en aangesien ons almal sondig, móét ons besef dat die Yom Kippur –
versoening, allerbelangrik is.
Vervolgens laat ek dit deur die apostel Paulus (Shaleach Shaul) aan die
hand van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) aan julle verduidelik:
Romeine / Romim {5:11} “en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom,
alle volke. {15:12} En Jesaja sê ook:
Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te
heers, op Hom sal die nasies hoop. {15:13}
En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur
die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die
Heilige Gees! {15:14} Maar ek self ook,
my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid
is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan. {15:15} Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan
julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat
my deur God gegee is {15:16} om ‘n
dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die
evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees,
geheilig deur die Heilige Gees. {15:17}
Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God.
{15:18} Want ek sal nie waag om iets te
sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie om die heidene tot
gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, {15:19} deur die krag van tekens en wonders, deur die
krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus
volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum; {15:20} maar só, dat ek my eer daarin gestel het om
die evangelie te verkondig, nie waar Christus alreeds bekend was nie om nie op
die fondament van ‘n ander te bou nie {15:21}
maar soos geskrywe is: Hulle aan wie niks van Hom vertel is nie, sal dit
sien; en hulle wat nie gehoor het nie, sal dit verstaan.”.
Daarbenewens
ook:
Hebreërs / Ivrim {9:7} “maar in die tweede die hoëpriester alleen, een
maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die
sondes van die volk uit onwetendheid begaan— {9:8} waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak,
dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel
nog standhou nie. {9:9} Dit was ‘n beeld
met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word,
wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie,
{9:10} omdat dit net bestaan het in spys
en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot
op die tyd van herstelling. {9:11} Maar
Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur
die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil
sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, {9:12} ook nie met die bloed van bokke en kalwers
nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige
verlossing teweeggebring. {9:13} Want as
die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes
besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, {9:14} hoeveel te meer sal die bloed van Christus,
wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete
reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”.
Ek vertrou dat julle op grond van hierdie Skrifgedeeltes en my
voorafgaande kommentaar, nou begryp dat Yom Kippur geheel-en-al betrekking het
op die versoenende dood van Jesus die Messias.