Maandag 22 September 2014

Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) – Ons Versoening

D’Var Torah
Dag van versoening / Yom Kippur


Levitikus / Vayikra {16:1} “En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; {16:2}  en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. ”.

Indien julle die hele Skrifgedeelte vir hierdie week gelees het, dan besef julle dat na die dood van Nadab en Abihu, Aäron (Aharon) se twee seuns, God vir Aäron begin onderrig het aangaande die Yom Kippur-protokol. Dit is vir my insiggewend dat God juis dié tyd na die dood van Aäron se twee seuns gekies het om hom te onderrig oor Yom Kippur. Het dit moontlik betrekking op die twee sterfgevalle gehad? Soos ons bewus is, het albei gesterf weens hulle opstandigheid teen die opdragte van God. Hulle het ‘n sonde gepleeg wat tot hulle dood gelei het. Die werklikheid is dat ons ook deurentyd sondig – selfs diegene van ons wat deur die bloed van Jesus die Messias gered is. Behoort ons dan nie ook te sterf nie? Die Skrif leer ons tog immers:

Eségiël / Yehezqel {18:4} “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe. ”.

God verwys nie hier na spirituele dood nie – Hy verwys na ‘n werklike fisiese dood. Sonde lei tot die dood, al is dit selfs ‘n voortydige dood. Aangesien elkeen egter sterwe, moet ons onthou dat die dood deur die sonde van één mens, Adam, in die wêreld ontstaan het en dus is natuurlike dood die gevolg van sonde. Sonde veroorsaak die dood!

Waarom dus die onderrig oor die versoeningsonderwerp van Yom Kippur juis na die sonde en dood van Aäron se twee seuns? Die rede is dat hulle vanweë hulle sonde gesterf het en Yom Kippur handel dus in geheel oor alles betreffende versoening vir sonde; trouens, die moderne Engelse vertaling vir Yom Kippur is “Dag van Versoening”.

In hierdie parasha oor Yom Kippur, bewys God aan ons hoe ernstig Hy sonde beskou. Opstandigheid teen God se Woord mag dus hoegenaamd nie ligtelik geag word nie. Nadab en Abihu is nie eers die geleentheid gegun om berou te betoon vir die besondere sonde wat hulle dood veroorsaak het nie – hulle het gesondig en het gesterf, Daar bestaan natuurlik altyd die moontlikheid dat ook ons nie die geleentheid gegun mag word om berou te betoon vir die sonde wat moontlik die oorsaak van ons dood kon gewees het nie. In die lig daarvan, is Yom Kippur ingestel en dié besef asook onderhouding daarvan is dus van die uiterste belang.

In ons parasha onderrig God Aäron verder oor optrede ten opsigte van die korporatiewe sonde van die kinders van Israel. Aanvanklik het dit begin met sy optrede ingeval van sy eie sonde en dié van sy familie. Waarom het God Aäron opdrag gegee om eerste met sy eie sonde asook die die sonde van sy huishouding te handel? Myns insiens was dit omdat Aäron reeds bewus was van die opstandige aard van sy twee oudste seuns wat uiteindelik hulle dood voorafgegaan het! Dit was natuurlik nie die eerste keer in die Skrif dat hulle opstandige aard geblyk het nie – hulle dood was die finale rede in die oë van God. Ek is oortuig daarvan dat hulle vóór hierdie finale oordeel wel die geleentheid gegun was om hulle van hul bose weë te bekeer, ofskoon ons in die Skrif nie daarvan verneem nie.

Die hoofsaak is dat Yom Kippur handel oor reiniging van sonde wat tot die dood lei en aangesien ons almal sondig, móét ons besef dat die Yom Kippur – versoening, allerbelangrik is.

Vervolgens laat ek dit deur die apostel Paulus (Shaleach Shaul) aan die hand van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) aan julle verduidelik:

Romeine / Romim {5:11} “en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke. {15:12}  En Jesaja sê ook: Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. {15:13}  En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! {15:14}  Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan. {15:15}  Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is {15:16}  om ‘n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees. {15:17}  Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God. {15:18}  Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, {15:19}  deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum; {15:20}  maar só, dat ek my eer daarin gestel het om die evangelie te verkondig, nie waar Christus alreeds bekend was nie om nie op die fondament van ‘n ander te bou nie {15:21}  maar soos geskrywe is: Hulle aan wie niks van Hom vertel is nie, sal dit sien; en hulle wat nie gehoor het nie, sal dit verstaan.”.

Daarbenewens ook:

Hebreërs / Ivrim {9:7} “maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan— {9:8}  waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie. {9:9}  Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, {9:10}  omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling. {9:11}  Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, {9:12}  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. {9:13}  Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, {9:14}  hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”.

Ek vertrou dat julle op grond van hierdie Skrifgedeeltes en my voorafgaande kommentaar, nou begryp dat Yom Kippur geheel-en-al betrekking het op die versoenende dood van Jesus die Messias.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 15 September 2014

God beheer die skepping

D’Var Torah
Gee om te eet / Ha’azinu

Tora: Deuteronomium / Devarim
In parasha Nitzavim het Moses, ons leermeester (Moshe Rabeinu), die hemel en aarde tot getuie geroep teen die kinders van Israel (bnei Yisrael):

Deuteronomium / Devarim {30:19} “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, ”.

Nou – hier in parasha Ha’azinu, reik Moses aan die hemel en die aarde hulle instruksies uit. Dit is ‘n professie, maar wat hy gespreek het, was in so ‘n mate seker om te gebeur, dat hy trouens, daarna verwys het asof dit wel reeds plaasgevind het.

Deuteronomium / Devarim {32:1} “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.”.

Welke instruksies het Moses aan die hemel en aarde uitgereik? Uit die verband van hierdie parasha, word daardie vraag vir ons beantwoord: wanneer die kinders van Israel aan God getrou was, het die hemel reën tydens die betrokke seisoene gegee en andersins sonskyn op die regte tye. Gevolglik het die aarde sy opbrengs gelewer en die kinders van Israel voorspoed geniet.

Deuteronomium / Devarim {32:13} “Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots; {32:14}  dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.”.

Soos Moses dit egter stel, het die kinders van Israel vet geword:

Deuteronomium / Devarim {32:15} “Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop—jy het vet geword, dik geword, spekvet geword—en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag. {32:16}  Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. ”.

Wat was dus die gevolg van hulle wat vet geword en hulle rug gekeer het op God wat hulle uit die land Egipte (Mitzrayim) uitgelei en in die Beloofde Land ingelei het?

Deuteronomium / Devarim {32:22} “Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek. {32:23}  Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
{32:24} As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.”.

Hy sou ‘n oordeel oor hulle laat kom. Dit is ‘n belangrike les vir ons om te leer uit parasha Ha’azinu. Soos wat ek al so dikwels in die verlede gesê het, “die wyse waarop God met Israel in Bybelse tye gehandel het, is presies dieselfde waarop hy vandag met ons handel!”

God is die God van sowel die hemel as die aarde: beide is Sy gebied van heerskappy en besitting – daarom reageer hulle op Sy bevele. Die Skrif leer ons:

Psalms / Tehillim {24:1} “‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; ”.

Alles in die skepping behoort aan God en reageer op Hom! Ons is nie in beheer nie! Waak daarteen dat die ekonome julle mislei! Moenie finansiële vooruitskatters glo nie – hulle is hoegenaamd nie in beheer nie; trouens, hulle is wat God valse profete sou noem. God is in beheer van elke aspek van Sy skepping en dit reageer uitsluitlik volgens Sy wil.

Sou julle graag die geheim wou weet van ‘n voorspoedige lewe – sowel geestelik as fisies? Hier volg dit:

“Luister o Israel.
God is julle God, God is enig.
En julle moet die Here julle God liefhê, met julle hele hart,
Julle hele siel en al julle kragte.
En julle moet julle naaste liefhê soos julleself.”

Dien en prys die Here met alles wat julle besit en Hy sal julle voorspoedig maak. Dien daarenteen voorspoed en dit sal onheil en vernietiging oor julle bring. Dít is die les van parasha Ha’azinu.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 02 September 2014

Navolging van die mens in plaas van God

D’Var Torah
Wanneer julle gekom het / Ki Tavo

Brit Chadashah: Lukas / Uri 23:26 – 56

Deuteronomium / Devarim {29:2} “En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3}  die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4}  Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5}  En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet. {29:6}  Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. {29:7}  En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan {29:8}  en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete. {29:9}  Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen. ”.

Ek kan bykans die frustrasie in Moses se stem hoor toe hy hierdie woorde tot die kinders van Israel gerig het. Was hy ooit kwaad vir hulle! Na alles wat God vir hulle gedoen het tot op hierdie tydstip, het hulle nogtans nie ‘n benul gehad van wat aangaan nie. God het aan hulle Sy genade betoon en Sy Gees oor hulle uitgestort. Hulle het die vermoë gehad om te sien, hoor en verstaan wie God was, wat Hy besig was om te doen en wat Hy van hulle verwag het, maar hulle hart was nie by God nie en daarom kon hulle nie sien nie. Hulle was ‘n volk gevul met dade maar geen Gees nie. Hulle houding skyn te gewees “Vergeet wat God gister vir ons gedoen het en wat God vandag vir ons doen”, en Moses het dit besef. Om dié rede het hy dit nodig geag om die kinders van Israel te herhinner aan alles wat God reeds vir hulle gedoen het.

Dit was hoegenaamd nie Moses se skuld dat die mense ‘n gebrek aan waardering teenoor God getoon het nie; trouens, Moses het sy uiterste bes probeer om hulle te onderrig. Daar was geen beter leier en leermeester as Moses nie. Die probleem het by sy “student” gelê. Uit die dialoog, kry ek die indruk dat die kinders van Israel bloot op Moses gesteun het. Moontlik het hulle slegs voorgegee dat hulle in die gebooie van God belangstel, terwyl hulle in werklikheid eintlik slegs die mens gevolg en die land wou binnegaan om hulleself daar te vestig, onder die valse indruk dat hulle dan ‘n normale bestaan sou kon voer.

Toe ek die boek Josua gelees en gelet het op die verhouding van die kinders van Israel tot hom as hulle leier, het ek besef dat net soos in die geval met Moses, was dit ook die geval met Josua. Soos in die geval van Moses, het die kinders van Israel ook slegs op Josua gesteun. Ons sien die bewys daarvan in soverre dat sodra die kinders van Israel ontvang wat hulle wou gehad het, (hulle erfenis van die land) en na die dood van Josua, die ontbloting van die werklike voorneme van hulle harte: hulle het van God afgedwaal, aldus die boek Rigters:

Rigters / Shoftim {21:25} “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. ”.

Ongelukkig is die gebeure tussen Moses en sy gemeente van dwalers nie veel anders as wat vandag nog in gemeentes plaasvind nie. Die Rabbi onderrig en preek maar dit val grotendeels  op dowe ore in die gemeentes. Hulle is vol lof vir die preke, maar hulle lewens reflekteer nie wat deur die preke geleer word nie: hulle verander glad nie. Hulle woon Bybelstudie by, maar hulle ken of beoefen geensins die teologie wat geleer word nie. Hulle sit weekliks in die heiligdom, maar daar is geen bewys van ‘n veranderde lewe nie. Al is hulle siende tog sien hulle nie en horende, maar hoor nie! Ek reken dat hierdie mense – soos die kinders van Israel, besig is om die mens te volg en nie die God, wat deur die mens verteenwoordig word nie. Moses het dit besef; hulle kon hom nie fnuik nie en daarom het hy die volgende gesê:

Deuteronomium / Devarim {31:29} “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30}  Toe het Moses voor die ore van die hel”.

Van hoeveel gemeentes is julle bewus, wat doodgeloop het omdat die leier oorlede is, weggegaan of in sonde veral het? Waarom sou so’n iets moes gebeur het? Sou julle nie meen dat dat die gemeente volwasse genoeg was in hulle geloof in die God wat hulle dien nie, om ‘n grondige leerstellige verhouding met die Here voort te sit nie, met of sonder hulle leier? Ja, hulle behoort dit te kon doen! Veral indien die leier hulle aan ‘n grondige teologiese onderrig onderwerp het. Die probleem is egter dat meeste gemeentes net soos die kinders van Israel is:

Eksodus / Shemot {20:18} “En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan. {20:19}  En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou