Woensdag 23 Julie 2014

Verdryf al die bewoners


D’Var Torah
Reise – Masei


Númeri / Bamidbar {33:50} “En die HERE het met Moses gespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê: {33:51}  Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle deur die Jordaan in die land Kanaän intrek, {33:52}  moet julle al die bewoners van die land voor julle uit verdrywe en hulle beeldhouwerk verniel; ook moet julle al hulle gegote beelde verniel en al hulle hoogtes verwoes. {33:53}  En julle moet die land in besit neem en daarin woon; want Ek het die land aan julle gegee om dit te besit. {33:54}  En julle moet die land deur die lot as erfdeel verwerwe, volgens julle geslagte; vir die wat baie is, moet julle hulle erfdeel groot maak, en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak. Waar die lot vir iemand val, moet dit sy deel wees; volgens julle vaderlike stamme moet julle dit as erfdeel verwerwe. {33:55}  Maar as julle die bewoners van die land nie voor julle uit verdrywe nie, sal die wat julle van hulle laat oorbly, soos dorings in julle oë wees en soos angels in julle sye, en hulle sal julle beveg in die land waar julle in woon. {33:56}  En soos Ek gedink het om aan hulle te doen, sal Ek aan julle doen. ”.

Wat ‘n deja vu! Ons weet verseker op grond van die Skrif dat Israel God nie gehoorsaam het en nie die bewoners van die land verdryf het nie, met die gevolg dat laasgenoemdes uiteindelik vir hulle ‘n steen des aanstoots (“soos dorings in hulle oë en soos angels in hulle sye”) geword het. Die laaste waarskuwing deur God in die bovermelde gedeeltes het dan ook plaasgevind. Israel het nie die bewoners van die land verdryf nie, wat daartoe gelei het dat hulle inderdaad ‘n steen des aanstoots geword het. En omdat die bewoners in die land aangebly het, het hulle Israel, trouens, ook verlei om hulle god te aanbid, wat, soos ons weet, God gevolglik aan Israel gedoen het, wat Hy oorspronklik van voornemens was om aan die Kanaäniete te doen: Hy het Israel uit die land verdryf.

Laat ons eerlik wees, God skarrel nie rond nie! Sy waarskuwing móét gehoorsaam en Sy opdragte getrou uitgevoer word, andersins sal die gevolge – wat Hy gewaarsku het – beslis plaasvind. Waarom enigeen van ons nog kan dink dat ons die Woord van God kan bestudeer, maar dit wat Hy gesê het, nalaat en nogtans meen dat ons skotvry daarvan kan afkom, is absoluut verregaande! Dit is soos iemand wat behae skep in selfpyniging.

Die Torah is gevul met waarskuwings deur God om ons lewens so te lei ten einde deur Hom geseën te word. Enige onverstandige persone behoort te kan besef wat met Israel van ouds gebeur het vanweë hulle ongehoorsaamheid en dus vanselfsprekend te kan begryp wat húlle te wagte kan wees indien hulle volhard op die verkeerde weg. Nogtans volg talle persone steeds die pad van selfvernietiging.

Die kinders van Israel het in 1948 Eretz (die land van Israel) herbeset. Omdat God nie die bovermelde verse aan hulle herhaal het voordat hulle die land herbeset het nie, beteken egter nie dat Hy Sy plan aangaande die voorwaarde om die land aan hule te gee, verander het nie. Na alles bly God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde – Hy verander nie en Hy weifel nie. In 1948 het God aan hulle ‘n tweede geleentheid gegun om gehoorsaamheid te betoon en weereens in 1967, maar die kinders van Israel het nie aggeslaan op Sy waarskuwings nie, Sy bevele nie uitgevoer en die bewoners van die land nie geëlimineer nie. Hulle ly dus onder dieselfde gevolge vir hulle ongehoorsaamheid as duisende jare gelede. Die bewoners van die land het weereens soos dorings in hulle oë en angels in hulle sye geword. Dit is ontstellend om te besef dat ons weet wat die verloop van sake in die toekoms sal wees.

Sagaria / Zachariah {13:8} “En in die ganse land, spreek die HERE—twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. {13:9}  Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die HERE, my God! ”.

Geseënd is Sy Naam (Baruch HaShem), so moeilik soos dit vir die kinders van Israel gaan wees; ten minste sal God hierdie keer genadig wees en hulle nie heeltemaal uit die land verdrywe nie. Hy sal hulle egter op die rand van vernietiging bring (twee derdes sal aan die hand van die hulle vyand sterf), aldus die Skrif:

Lukas / Uri {13:35} “Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat. Voorwaar Ek sê vir julle dat julle My sekerlik nie sal sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! ”.

Kom spoedig Here Jesus en verlos die kinders van Israel van al hulle moeilikhede.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou




Dinsdag 15 Julie 2014

Vaders raak betrokke!

D’Var Torah
Stamme – Matot


Númeri / Bamidbar {30:1} “En Moses het met die stamhoofde van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: {30:2}  As iemand aan die HERE ‘n gelofte doen of ‘n eed sweer waardeur hy homself verbind om hom van iets te onthou, moet hy sy woord nie breek nie; hy moet handel volgens alles wat uit sy mond uitgaan. {30:3}  Maar as ‘n vrou aan die HERE ‘n gelofte doen of haarself verbind om haar te onthou, terwyl sy in haar vader se huis is in haar jeug, {30:4}  en haar vader van haar gelofte hoor of van die onthouding waartoe sy haarself verbind het, en haar vader swyg teenoor haar, dan sal al haar geloftes van krag wees, en elke onthouding waartoe sy haarself verbind het, sal van krag wees. ”.

Dit blyk ‘n redelike voor-die-hand-liggende Skrifgedeelte te wees en so is dit ook. Indien ons dit egter ietwat van nader beskou, is daar ‘n baie belangrike boodskap aan vaders en hoofde van huishoudings hierin vervat. Wat God hier sê, is dat vaders wat hoofde van huishoudings is altyd pro-aktief in die lewens van hulle kinders moet optree, want al te dikwels laat ouers hulle kinders aan hulle eie genade oor. Hulle voer dan die verskoning aan dat hulle hul kinders vertrou en wil hulle vermoëns gevolglik nie aan bande lê om eerlike, redelike en weldeurdagte besluite op hulle eie te neem nie. Die feit is egter dat alhoewel dit die indruk van goeie ouerskap mag skep – want ons wil tog ons kinders vertrou – dit beslis nie Bybels is nie. God vereis dat vaders as hoofde van hulle huishoudings, werklik betrokke moet wees by die lewens van hulle kinders. Dit behels dus dat hulle kennis behoort te dra van wie hulle kinders se vriende is, met wie hulle gesels, wie hulle kontakte op “Facebook” en elke ander vorm van sosiale media is. Indien julle as ouers nalaat om dit te doen, versuim julle jul plig om ooreenkomstig die gebooie (mitzvah) te sorg dat julle kinders hulle geloftes nakom. Dit is feitlik seker dat julle kinders nie vrywillig sodanige inligting aan hulle vaders sal verstrek nie.

‘n Verdere ongelukkige feit is dat die vader sy verantwoordelikheid om die kinders te moniteer, aan die moeder oorlaat. Ook dit is on-Bybels en veroorsaak ‘n onnatuurlike huishouding waar die moeder – in plaas van die vader – die gesagsrol moet handhaaf. Vaders, indien julle nalaat om aktief betrokke te raak by die lewens van julle kinders, soos wat God hier aan ons verduidelik, sal alles wat húlle doen en sê geld. Ingeval hulle dus ‘n swak –of verkeerde besluit geneem het, sal dit ‘n vernietigende uitwerking op sowel die kinders se lewens as die hele gesin hê.

Wanneer ek vaders al by geleentheid berispe het oor hulle gebrek aan ouerlike toesig, haal hulle feitlik altyd die volgende Skrifgedeelte aan om hulleself te regverdig dat hulle nie oordrewe betrokke geraak het by die lewens van hulle inders nie:

Kolossense / Kolosim {3:21} “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie. ”.

Hierdie gedeelte word natuurlik geheel-en-al buite verband deur hulle aangehaal. Indien ons egter die verse wat hierdie teksvers voorafgaan, lees, kan ons bepaal wat Paulus (Shaul) in gedagte gehad het toe hy hierdie woorde aan die Kolossense gerig het:

Kolossense / Kolosim {3:16} “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die Here. {3:17}  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”.

Gelei deur hierdie aanvangsverse as ons gids, sê Paulus vir die vaders dat, wanneer hulle met hulle kinders verkeer, hulle vir hulle psalms, lofsange en geestelike liedere moet sing, sodat aan hulle raad gegee behoort te word in alle wysheid en alles wat hulle doen, gedoen behoort te word in die naam van die Here Jesus, met danksegging aan God die Vader. Indien hulle egter enigiets anders as dit doen, sou hulle die kinders terg sodat hulle moedeloos word en wegdraai van God en Sy toorn op hulle laat neerkom. Vaders, raak betrokke!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Eerbied en matigheid

D’Var Torah
Píneas – Pinchas


Númeri / Bamidbar {28:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {28:2}  Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring. {28:3}  En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as ‘n voortdurende brandoffer. {28:4}  Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei; {28:5}  met ‘n tiende van ‘n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met ‘n kwart-hin uitgestampte olie. {28:6}  Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, ‘n vuuroffer aan die HERE. {28:7}  En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet. {28:8}  En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei—’n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. {28:9}  Maar op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van ‘n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort. ”.

Met die deurlees van die lys van vereiste offers, het dit my verbaas hoeveel diere, hoeveel graan en olie benodig was om te offer en hoe belangrik die offers in die oë van God was. Alles moes in noukeurige orde, presies soos deur God voorgeskryf, geskied het. Die presiese voorgeskrewe offer moes op die juiste tyd of seisoen, waarop die betrokke feesdag gevier was, gebring word. Hoe hulle daarin geslaag het om alles sonder die gebruik van rekenaars, soos waaroor ons vandag beskik, na te kom, is werklik verstommend. Dit was hoegenaamd nie asof hulle nou en dan ‘n fout kon begaan nie, want so ’n misstap sou ongetwyfeld die dood vir die offer of die priester, wat besig was om te offer, ingehou het.

Daarna het ek gedink: Indien God, volgens die Skrif, gister, vandag en vir ewig, dieselfde is, moet dit vir Hom ‘n gruwel wees om te aanskou hoedat mense vandag teenoor Hom optree en Hom benader.

Dit laat by my geen twyfel nie dat God uiters verdraagsaam moet wees! Op grond van wat ek al van non-denominatiewe kerke gesien het, sowel dié wat ek besoek as dié wat ek by geleentheid op die internet en televisie gesien het, word bykans niks meer ordelik of met eerbied gedoen nie. Ongelukkig geld dit ook ten opsigte van vele Messiaanse gemeentes. Dit verstom ‘n mens ook in hoe ‘n mate die bloed van Jesus asook die Heilige Gees behandel word. Daarbenewens is dit vir my verbysterend wanneer ek verneem hoedat gelowiges die satan bind en na die hel stuur, asof hulle enigsins oor die mag daartoe sou beskik.

Judas / Y’hudah {1:9} “Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!”.

God het aan die satan vrye teuels gegee oor die wêreld en wêreldse stelsels verleen maar slegs Hy kan hom bind en hel toe stuur. Ons kan egter daarvan verseker wees dat wanneer sy tyd aanbreek, God die satan en sy demone daarheen sal stuur.

Het julle opgelet wat ook in vers 7 hierbo vereis word om te offer?
Númeri / Bamidbar {28:7} “En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees ‘n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet.”.

Sterk drank? Beteken dit dat hulle in daardie dae reeds oor distileergeriewe beskik het om werklik sterk drank te produseer? Oënskynlik was dit wel die geval. ‘n Mens kan ook daarvan seker wees dat indien hulle sterk drank in Bybelse tye kon produseer, hulle dit beslis ook gedrink het. Vergun my om julle daarvan te herhinner dat daar trouens geen verbod op die drink van wyn of sterk drank was nie. Die enigste verbod was egter om onder die invloed daarvan te raak. Koning Salomo (Shlomo Melech) het gesê:

Spreuke / Mishlei {23:30} “By die wat láát opbly by die wyn, by die wat ingaan om gemengde drank te proe. {23:31}  Kyk nie na die wyn as dit rooiagtig lyk, as dit sy glans gee in die beker, glad na binne gly nie: {23:32}  op die end byt dit soos ‘n slang en spuug gif uit soos ‘n basilisk. {23:33}  Jou oë sal vreemde dinge sien en jou hart verkeerde dinge spreek; {23:34}  en jy sal wees soos een wat in die hart van die see lê en soos een wat op die top van die mas lê. ”.

Leer dus om eerbiedig en reëlmatig te wees wanneer God aanbid word en hou matigheid voor oë wanneer julle sterk drank gebruik.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 08 Julie 2014

Moet nie opeindig soos Bíleam

D’Var Torah
Balak


Númeri / Bamidbar {22:5} “Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. {22:6}  Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ‘n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek. {22:7}  Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel. {22:8}  Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly. {22:9}  En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou? {22:10}  En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet: {22:11}  Kyk, daar het ‘n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe. {22:12}  Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd. ”.

Nadat hulle hierdie Skrifgedeelte gelees het, meen sommige mense dat God van gedagte kon verander het deurdat Bileam (Bi’lam) toegelaat is om te gaan, maar indien ons egter die gedeelte behoorlik deurlees, besef ons dat God nie van plan verander het nie; trouens, Hy was konsekwent met wat Hy vir Bileam gese het. Kyk na wat ek bedoel:

Númeri / Bamidbar {22:12} “Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.”.

Hier het God nie vir Bileam gesê om nie met die prinse, deur Balak gestuur, saam te gaan nie. Maar dat hy nie moes gaan met die doel om Israel te vervloek nie. Bileam het dit natuurlik verstaan dat hy nie moes gaan nie omdat die hele doel waarom hy saam met hulle moes gaan, sou wees om Israel te vervloek en vergoeding daarvoor te ontvang. Daarom het hy vir hulle gesê: “Jammer, ek kan nie saam met julle gaan nie.”. Toe het die prinse egter teruggekeer met ‘n ander voorstel, beter as die eerste, maar omdat God vir Bileam gesê het dat hy nie kon gaan om te vervloek nie, het Bileam dit vertolk dat hy glad nie kon gaan nie. Hierdie keer het God verduidelik wat Hy bedoel het en vir Bileam gesê:

Númeri / Bamidbar {22:20} “En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen. ”.

God het, met ander woorde, dit aan Bileam duidelik gestel dat hy wel kon gaan maar nie om Israel te vervloek nie. God het, glo ek, inderdaad heeltyd bedoel om Bileam te gebruik om Israel te seën. Waarom dan die insident met die donkie? Omdat God geweet het wat in Bileam se hart aangaan en daarom het Hy geweet dat  Bileam ‘n manier sou vind om nie God se opdrag te gehoorsaam nie; dit was ‘n waarskuwing.

Was dit nie dieselfde geval met baie van die Fariseërs in Jesus se tyd nie? Hulle het gesoek en allerlei maniere gevind om by God se gebooie verby te kom. Een daarvan was:

Markus / Mordecdai {7:6} “En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. {7:7}  Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. {7:8}  Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. {7:9}  En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. ”.

Dit is vir ons maklik om vinger te wys na die Fariseërs en hulle vir hul skynheiligheid te veroordeel, maar is ons enigsins beter as hulle? Hoeveel van ons soek nie ook kreatiewe maniere om by God se gebooie verby te kom nie, veral wat die Sabbat betref? Ons voer verskonings aan of redes om dinge te doen sodat ons sekere Bybelse verbodsbepalings van die Sabat kan systap.

Bileam het gemeen dat hy ‘n manier kon vind om by God se opdragte verby te kom en op een of ander wyse Balak tevrede te stel, God tevrede te stel en nogtans die vergoeding aan hom belowe, te ontvang. Dit was die bedoeling van sy hart, maar kom ons wees eerlik: dit maak nie saak wat ons doen of wat ons voornemens is om te doen nie. God ken altyd die bedoeling van ons harte en oordeel ons daarvolgens.

Jakobus / Ya’acov {4:17} “Wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde. ”.

God het ons in Sy Woord beveel wat om nie te doen nie, maar indien ons in ons harte voorgeneem het om dit wel te doen – met die doel om by Sy Woord verby te kom – is die moontlikheid groot dat ons einde ook soos Bileam s’n sal wees – die dood!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou