D’Var Torah
In die begin - Bereshit
Genesis / Bereshit (2:4) “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, {2:5} was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. {2:6} Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. {2:7} En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. {2:8} Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. {2:9} En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. {2:10} En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. {2:11} Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. {2:12} En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. {2:13} En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. {2:14} En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. {2:15} Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. {2:16} En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, {2:17} maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”.
Moontlik sal dit wat ek nou gaan leer, vir julle ietwat verwarrend voorkom, maar dit is wat God op my hart gelê het.
Ons is nog altyd geleer dat die tuin van Eden (Gan Eden) ‘n letterlike fisiese aardse plek was. Baie mense het oor die jare heen, die werklike ligging sonder welslae probeer karteer, maar ek is oortuig daarvan dat dit ‘n mors van tyd was. Soos ek dit verstaan, was en is die Tuin van Eden geen fisiese plek nie.
Eerstens glo ek dat die aarde en die Tuin van Eden twee verskillende entiteite was. Die aarde is ‘n fisiese plek en die Tuin van Eden ‘n spirituele plek - moontlik op of selfs buite die aarde. Adam en Eva (Chava) is uit die stof van die aarde geskep maar daarna in die Tuin van Eden gevestig waar, so glo ek, verheerlikte gestaltes aan hulle gegee is. Hulle verheerlikte gestaltes was baie soortgelyk aan dié van Jesus na Sy opstanding. Julle sal onthou dat Hy met Sy opgestane spirituele gestalte deur mure kon beweeg maar ook ‘n maaltyd saam met Sy dissipels kon nuttig. Met hulle verheerlikte gestaltes kon Adam en Eva vir God sien, saam met God wandel en met God praat, so normaalweg as wat ons vandag met mekaar praat. Ek glo ook dat hulle uit vrye wil tussen die spirituele en fisiese kon verwissel. Nogtans kon hulle eet en beweeg in die tuin, wat hulle voedsel verskaf het en wat hulle moes versorg. In wese was hulle in staat om met hulle verheerlikte gestaltes, dinge te doen waartoe ons vandag met ons fisiese liggame nie in staat is nie.
Tweedens word ons in die bovermelde Skrifgedeelte meegedeel dat die Tuin van Eden deur ‘n mis bevogtig is aangesien daar toe nog geen reën was nie. Verderaan verneem ons egter dat ‘n rivier deur die Tuin van Eden gevloei het. Wat was dit dan - is die Tuin van Eden deur ‘n mis of ‘n rivier besproei? Myns insiens geeneen van die twee nie. In plaas daarvan, so glo ek, was die Tuin van Eden ‘n spirituele entiteit, moontlik ‘n wêreld binne die spirituele ryk of selfs ‘n spirituele wêreld, bo ons aarde, waaruit Adam en Eva eindelik verdryf is.
“Oos” verteenwoordig altyd die ewigheid; die Tuin van Eden, word ons meegedeel, was geleë in die ooste: die troon van God. Met dit in gedagte, was die twee bome in die Tuin van Eden, moontlik nie letterlike bome nie, maar spirituele skeppings. Die eerste, die boom van lewe was Jesus, terwyl die boom van kennis van goed en kwaad, die satan was. Die riviere wat die Tuin van Eden besproei het, was dus nie letterlike riviere nie - hulle het die Woord verteenwoordig wat uit God gevloei het.
“Gan Edan”, vertaal, beteken “tuin van goedheid”. Ons verneem dat ‘n rivier uit hierdie tuin gevloei en in vier riviere vertak het. Dit herinner my aan die Skrifgedeelte in Psalms (T’hillim):
Psalm / Mizmor {36:8} “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. ”.
Daar was ‘n enkele rivier wat uit die Tuin van Eden gevloei en in vier riviere vertak het - ‘n verskynsel wat nie by riviere voorkom nie, want riviere vertak gewoonlik in syriviere en nie in afsonderlike riviere nie. Alle riviere ontspring uit hulle eie hoofbron. Dít is vir my ‘n verdere aanduiding dat die Tuin van Eden ‘n spirituele en nie ‘n fisiese plek was nie. Kom ons skenk aandag aan die name en betekenis van die riviere.
Die eerste rivier is Pison (Pishon) genoem, wat “vermeerder” of “rondom” beteken. Die naam van die tweede rivier, Gihon, beteken “voortvloei”. Die derde rivier, Tigris (Hiddekel) se naam beteken “voorspoed” en die betekenis van die vierde rivier, Eufraat (Frat) is “vrugbaarheid”. Ek glo dat wat ons hier in die name van die riviere sien, is dat God die Tuin van Goedheid omring het en toename deur die voortvloeiing van Sy Gees bewerkstellig het, wat voorspoed en vrugbaarheid meegebring het.
Of ek korrek is of nie, moet nog bewys word, maar wat ons wel weet, is dat die Tuin van Eden aan die einde herstel sal word, soos in Openbaring beskrywe!
Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. {21:2} En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. {21:3} En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. {21:4} En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. {21:5} En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou