Saterdag 21 September 2013

Die tuin van Eden (Goedheid) - Gan Eden

D’Var Torah
In die begin - Bereshit


Genesis / Bereshit (2:4) “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, {2:5}  was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. {2:6}  Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. {2:7}  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. {2:8}  Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. {2:9}  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. {2:10}  En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. {2:11}  Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. {2:12}  En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. {2:13}  En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. {2:14}  En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. {2:15}  Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. {2:16}  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, {2:17}  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”.

Moontlik sal dit wat ek nou gaan leer, vir julle ietwat verwarrend voorkom, maar dit is wat God op my hart gelê het.

Ons is nog altyd geleer dat die tuin van Eden (Gan Eden) ‘n letterlike fisiese aardse plek was. Baie mense het oor die jare heen, die werklike ligging sonder welslae probeer karteer, maar ek is oortuig daarvan dat dit ‘n mors van tyd was. Soos ek dit verstaan, was en is die Tuin van Eden geen fisiese plek nie.

Eerstens glo ek dat die aarde en die Tuin van Eden twee verskillende entiteite was. Die aarde is ‘n fisiese plek en die Tuin van Eden ‘n spirituele plek - moontlik op of selfs buite die aarde. Adam en Eva (Chava) is uit die stof van die aarde geskep maar daarna in die Tuin van Eden gevestig waar, so glo ek, verheerlikte gestaltes aan hulle gegee is. Hulle verheerlikte gestaltes was baie soortgelyk aan dié van Jesus na Sy opstanding. Julle sal onthou dat Hy met Sy opgestane spirituele gestalte deur mure kon beweeg maar ook ‘n maaltyd saam met Sy dissipels kon nuttig. Met hulle verheerlikte gestaltes kon Adam en Eva vir God sien, saam met God wandel en met God praat, so normaalweg as wat ons vandag met mekaar praat. Ek glo ook dat hulle uit vrye wil tussen die spirituele en fisiese kon verwissel. Nogtans kon hulle eet en beweeg in die tuin, wat hulle voedsel verskaf het en wat hulle moes versorg. In wese was hulle in staat om met hulle verheerlikte gestaltes, dinge te doen waartoe ons vandag met ons fisiese liggame nie in staat is nie.

Tweedens word ons in die bovermelde Skrifgedeelte meegedeel dat die Tuin van Eden deur ‘n mis bevogtig is aangesien daar toe nog geen reën was nie. Verderaan verneem ons egter dat ‘n rivier deur die Tuin van Eden gevloei het. Wat was dit dan - is die Tuin van Eden deur ‘n mis of ‘n rivier besproei? Myns insiens geeneen van die twee nie. In plaas daarvan, so glo ek, was die Tuin van Eden ‘n spirituele entiteit, moontlik ‘n wêreld binne die spirituele ryk of selfs ‘n spirituele wêreld, bo ons aarde, waaruit Adam en Eva eindelik verdryf is.

“Oos” verteenwoordig altyd die ewigheid; die Tuin van Eden, word ons meegedeel, was geleë in die ooste: die troon van God. Met dit in gedagte, was die twee bome in die Tuin van Eden, moontlik nie letterlike bome nie, maar spirituele skeppings. Die eerste, die boom van lewe was Jesus, terwyl die boom van kennis van goed en kwaad, die satan was. Die riviere wat die Tuin van Eden besproei het, was dus nie letterlike riviere nie - hulle het die Woord verteenwoordig wat uit God gevloei het.

“Gan Edan”, vertaal, beteken “tuin van goedheid”. Ons verneem dat ‘n rivier uit hierdie tuin gevloei en in vier riviere vertak het. Dit herinner my aan die Skrifgedeelte in Psalms (T’hillim):

Psalm / Mizmor {36:8} “Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. ”.

Daar was ‘n enkele rivier wat uit die Tuin van Eden gevloei en in vier riviere vertak het - ‘n  verskynsel wat nie by riviere voorkom nie, want riviere vertak gewoonlik in syriviere en nie in afsonderlike riviere nie. Alle riviere ontspring uit hulle eie hoofbron. Dít is vir my ‘n verdere aanduiding dat die Tuin van Eden ‘n spirituele en nie ‘n fisiese plek was nie. Kom ons skenk aandag aan die name en betekenis van die riviere.

Die eerste rivier is Pison (Pishon) genoem, wat “vermeerder” of “rondom” beteken. Die naam van die tweede rivier, Gihon, beteken “voortvloei”. Die derde rivier, Tigris (Hiddekel) se naam beteken “voorspoed” en die betekenis van die vierde rivier, Eufraat (Frat) is “vrugbaarheid”. Ek glo dat wat ons hier in die name van die riviere sien, is dat God die Tuin van Goedheid omring het en toename deur die voortvloeiing van Sy Gees bewerkstellig het, wat voorspoed en vrugbaarheid meegebring het.

Of ek korrek is of nie, moet nog bewys word, maar wat ons wel weet, is dat die Tuin van Eden aan die einde herstel sal word, soos in Openbaring beskrywe!

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. {21:2}  En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. {21:3}  En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. {21:4}  En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. {21:5}  En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou  

Sondag 15 September 2013

Nuwe Hemel en Aarde

Noag – Noach


Genesis / Bereshit {6:13} “En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg. {6:14}  Maak vir jou ‘n ark van goferhout. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik bestryk. {6:15}  Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. {6:16}  ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak. {6:17}  Want kyk, Ék bring ‘n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ‘n lewensgees in is. Alles wat op die aarde is, sal wegsterwe. ”.

Ek meen dat baie mense deur die voorbeeld van gebeure wat in die eindtyd sal plaasvind, verwar word. Ek kan egter geensins beweer dat my begrip daarvan korrek en finaal is nie, want soos alle ander mense moet ek die Skrif na die beste van my vermoë volgens die Skrif vertolk.

In vandeesweek se parasha lees ons dat vanweë die geweld en korrupsie op aarde in Noag se tyd, God besluit het om alle vlees deur ‘n vloed te verdelg. Noag en sy onmiddelike gesin was die enigste mense wat toegelaat is om te oorleef. Ofskoon God gewalg is deur die geweld wat op aarde plaasgevind het, was Hy nog nie klaar met die mensdom nie: die satan se invloed oor die mensdom moes geëlimineer word en net soos God die demoniese gode van Egipte (Mitzrayim) in die oë van die wêreld oorwin het, moes Hy die satan verslaan en verneder ten einde vir die ganse mensdom redding te verseker. Die vloed het sy taak volbring in Noag se tyd en alle vlees wat op aarde oorgebly het, het gesterf. Toe die waters egter gesak het, is die ark oopgemaak en die oorlewende mense en diere het uitgegaan om die aarde te vul. Dit was op daardie tydstip wat God die volgende belofte gemaak het:

Genesis / Bereshit {9:11} “En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. {9:12}  En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte: {9:13}  my boog gee Ek in die wolke; dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. {9:14}  As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, {9:15}  dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer ‘n vloed word om alle vlees te verdelg nie. ”.

Hierbenewens het God ook belowe om nooit weer alle vlees van die aangesig van die aarde te verdelg nie.

Genesis / Bereshit {8:21} “En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. {8:22}  Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”.

Die sleutelwoorde hier is: “Van nou af…”

Wanneer Jesus na die aarde terugkeer en onder ons kom woon, sal die mense, as vlees en been, steeds die aarde bewoon. Gelowiges in Jesus die Messias, wat vóór Jesus se wederkoms, gelowig geword het, sal selfs indien hulle alreeds gesterf het, opgewek word en sowel die dode in Jesus die Messias as diegene wat dan nog gelewe het, sal verheerlikte liggame ontvang – baie soos wat Jesus met Sy opstanding gehad het.

1 Johannes / Yochanan Alef {3:2} “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. ”.

Ná die duisendjarige ryk van die Messias op aarde, sal die satan, wat in die hel weggesluit is, weereens vrygelaat word om die nasies te verlei.

Openbaring / Hitgalut {20:3} “en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word. ”.

Geweld sal weereens die aarde vervloek soos wat die satan en sy demone oor die aarde losgelaat word, totdat God die aarde veroordeel deur Sy verterende vuur.

Hebreërs / Ivrim {12:29} “Want onse God is ‘n verterende vuur. ”.

Openbaring / Hitgalut {20:14} “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. {20:15}  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp. ”.

Dit is dan wanneer God alle dinge tot hulle Adam-en-Eva (Chava) toestand, dit is vóór die val, sal herstel toe daar geen sonde was nie, die mens nie van vlees en been was nie en die Tuin van Eden (Gan Eden) herstel sal word.

Openbaring / Hitgalut {21:1} “En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. ”.

Vanaf hierdie tyd en tot in ewigheid sal die mens oor slegs verheerlikte liggame beskik en die aarde sal nie langer deur sonde geteister word nie.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {15:50} “Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie. ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dag van versoening - Yom Kippur

D’Var Torah
Dag van versoening - Yom Kippur


Levitikus {16:1} “En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; {16:2}  en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. {16:3}  Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ‘n jong bul as sondoffer en ‘n ram as brandoffer. {16:4}  Hy moet ‘n heilige linnerok aantrek en ‘n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ‘n linnegordel moet hy hom gord en ‘n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek. {16:5}  En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem. {16:6}  Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen. {16:7}  Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die HERE stel by die ingang van die tent van samekoms. {16:8}  En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die HERE en een lot vir Asásel. {16:9}  Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die HERE op gekom het en hom as sondoffer berei; {16:10}  maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die HERE gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur. ”.

Hierdie is ‘n uiters belangrike Tora-lesing en dit is nie bloot toevalig dat dit oor die dood as sulks handel nie. Yom Kippur handel alles oor die ewige dood, wat, ter inligting van diegene wat nie weet nie, beteken om die ewigheid - van God geskei - in die hel te verkeer. Yom Kippur handel daarenteen ook oor die ewige lewe, wat saam met God in die hemel deurgebring word: vandaar die besondere belang daarvan. In daardie opsig som Yom Kippur dus die behoefte aan verlossing van sonde op en verpersoonlik dit die lewe en werk van ons Messias, Jesus; trouens, die offerande wat op Yom Kippur gebring word, is die enigste offerande - van almal wat dwarsdeur die jaar gewy word - wat vir onopsetlike sonde versoening doen. Dít maak die feit dat Jesus die Messias deur Yom Kippur verteenwoordig word, des te meer begryplik. Kom ons kyk na die betekenisvolle ooreenkoms tussen Yom Kippur en Jesus die Messias, anders as wat hierbo gemeld is betreffende ewige lewe en ewige dood.

Yom Kippur was die enigste dag waarop iemand toegelaat is om die Kadosh Kedoshim (heiligdom) binne te gaan om vir die ganse volk van Israel versoening te doen. Netso moes Jesus die Messias op slegs één spesifieke dag sterf om vir die wêreld versoening te doen - Hy kon dit op geen ander tyd doen nie.

Johannes / Yochanan {7:6} “Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. {7:7}  Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. {7:8}  Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie.”.

Op Yom Kippur is alleenlik die hoëpriester (Cohen Gadol) toegelaat om die heiligdom binne te gaan om versoening te doen soos eweneens die geval was met Jesus die Messias, ons Hoëpriester.

Hebreërs (Ivrim) {9:11} “Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ”.

Bykomende Bybelse rabbynse onderrig, deel ons mee dat die hoëpriester die lot moes werp om te bepaal watter bok vir die olah-offerande en watter een vir Asásel gebruik sou word. Die betrokke lesing lui soos volg:

“Die Cohen Gadol het sy hande in ‘n klein houtkissie gesteek wat die twee goue looitjies bevat het: één gemerk “vir God” en die ander “vir Asásel”, en dit uitgehaal, één  in elke hand. Hy het dan sy hande in die lug opgesteek om die twee items te vertoon. Daarna het die Cohen Gadol elke lot op die kop van die bok naaste aan daardie hand geplaas en verklaar: “Aan God, ‘n chatot (sonde - ) offerande.”. Die Cohen Gadol het in hierdie verklaring die onnoembare Naam van God gebesig en almal wat daar vergader was, het in antwoord hierop uitgeroep: “Baruch Shem K’vod Malchuto L’Olam Vo’ed (Geseënd is Sy glorieryke Naam vir ewig)” [Mishnah Yoma 37a en 37b] - Vry vertaling.

Dit is ook daarop gewys dat die bok wat “God se bok” genoem is se looitjie toevallig altyd in die Cohen Gadol se regterhand en dié “vir Asásel” in sy linkerhand voorgekom het. Jesus die Messias is natuurlik deur albei bokke verteenwoordig. Die Cohen Gadol het dan die heiligdom binnegaan met die bloed van “God se bok” en dit oor die Kapporet gesprinkel op die Asásel-bok het die sonde van Israel gerus en is dit in die wildernis losgelaat, by ‘n krans afgegooi en het doodgegaan. Insgelyks het Jesus die Messias die sonde van die wêreld op Sy skouers gedra en is buite die mure van Jerusalem geneem en doodgemaak. Boonop, aangaande die bloed, deel die boek Hebreërs ons mee: 

Hebreërs / Ivrim {9:12} “ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.”.

Die konsep van “God se bok”, waar die looitjie in die Cohen Gadol se regterhand voorgekom het, is dit ook betekenisvol in soverre Jesus, met Sy hemelvaart, aan die regterhand van die Vader (YHVH) gaan sit het.

Hebreërs {12:2} “ie oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het. ”.

Yom Kippur handel alles oor Jesus; al die feesdae / bepaalde tye (Moedim) het op Jesus die Messias betrekking. Wanneer ons dus ‘n feesdag vier of eerbiedig, vier en eerbiedig ons Jesus die Messias, ons Kapporah.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou                                                                                                                                                                                                                                                 



Sondag 01 September 2013

Mashiach as Goddelike – God / mens

D’Var Torah 
Luister - Ha’azinu 


Deuteronomium / Devarim {32:20} “En Hy het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg, Ek wil sien wat hulle einde sal wees; want ‘n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. {32:21} Hulle het my ywer gewek deur wat nie-God is, My geterg deur hulle nietige afgode. Ék sal dan hulle ywer wek deur die wat ‘n nie-volk is, deur ‘n dwase nasie sal Ek hulle terg. ”. 

Indien daar ooit ‘n saak vir die bestaan van die Kerk was, is dit juis dit! Nie-Jode was heidense afgodsaanbidders – hulle was nie God se mense nie omdat hulle demone aanbid het. In die oë van God was hulle’n dwase nasie aan wie God se mense – Israel – die kennis en begrip van die Één Ware God moes bring. Israel het egter in hulle opdrag gefaal. 

Die Kerk, soos wat ons dit vandag min of meer ken, het tydens die eerste eeu, op die hoogtepunt van die verwerping van Jesus die Messias er die Joodse volk, ontstaan. Israel het sy rug gekeer op die beloofde Mashiach (Messias) en daardeur ook op hulle God, met die gevolg dat God Homself tot die nasies gewend het. 

Johannes / Yochanan {5:23} “sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. ”. 

Die volk Israel het God dus getart met hulle nietige afgode en gevolglik het Hy hulle beweeg tot naywer teenoor diegene wat nie Sy volk was nie – vandaar die totstandkoming van die Christendom en die Kerk. 

Ons het onlangs ‘n reeks lesings gehad deur rabbi Tzahi Shapira, skrywer van die boek “The Kosher Pig”. Sy lesings het op die goddelikheid van die Messias betrekking gehad. Dié tweeledige reeks het in ‘n plaaslike openbare biblioteek in Toronto plaasgevind. Die tradisionele Judaïsme van vandag aanvaar geensins die Messias as goddelik – God / mens – nie. Rabbi Shapira het dit bewys op grond van sowel die verlede van Judaïsme as die lerings van die wyses van ouds en daarop gewys dat die Goddelikheid van die Messias ‘n aanvaarde feit in pre-moderne tradisionele rabbiniese Judaïsme was. 

Ons het naastenby vyfduisend pamflette dwarsdeur die Joodse gemeenskap van Toronto versprei, waadeur belanghebbendes genooi is om aan die dialoog oor die goddelikheid van die Messias deel te neem. In plaas daarvan om ons te ontmoet om die feite op algemeen – Joods te bespreek, het ons egter bespotting, beledigings en verwerping deur ‘n groep wat hulself “Jode vir Judaïsme” noem, ervaar. Die “beste” beskuldiging waarvan hierdie groep ons aangekla het, was dat óns Christelike sendelinge was wat die Jode tot die Christendom probeer bekeer het! Niks kan egter verder van die waarheid verwyder wees nie. 

Ons gemeente bestaan uit Jode en nie-Joodse lidmate, wat Jesus as die Messias aanvaar het en volgens die Tora leef. As ons egter wel enigiets aan die Joodse mense doen, is dit om hulle op te voed volgens wat die wyses van ouds geleer het en wat hulle eie geëerde rabbis oor die eeue heen aangaande die Messias geleer het. Ons bedoeling is eintlik om hulle méér Joods in te stel maar beslis nie om hulle te bekeer daarvan om Joods te wees nie. 

Die woorde en haat wat hierdie groep Jode vir Judaïsme geopenbaar het, het my laat glo dat indien hulle hul sin kon kry, hulle óns sou laat arresteer en doodmaak. 

Die Kerk in geheel mag moontlik nie die Jode tot naywer tart nie, maar Messiaanse Judaïsme, wat ná duisende jare laat herleef is, daag Jode beslis uit om hule tradisionele gelowe te heroorweeg. Bid asseblief dat God hulle oë sal open dat hulle hul Messias, Jesus, mag sien. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou