VaEra
(En Ek Het Verskyn)
Eksodus {6:2} "En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:3} Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:4} en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. {6:5} Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;"
Alhoewel God verskyn het aan Abraham, Isak en Jakob om Sy verbond met hulle te bevestig, het hulle slegs as vreemdelinge in die land vertoef tot hulle dood toe, dit het nooit aan hulle behoort nie. Volgens hierdie week se Tora-gedeelte, sou dit alles verander. Die belofte van God, wat aan die voorvaders van die kinders van Israel gedoen is, sou finaal vervul word in hulle verlossing uit die wrede slawerny wat hulle besig was om onder die Egiptenaars te ly. Wat in die verlede bloot ‘n belofte was, was nou op die punt om ‘n vervulde realiteit te word. Die vervulling van die belofte was, trouens, so belangrik dat van hierdie tyd af vorentoe en dwarsdeur die Tora - selfs tot in die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) - sou God na Homself verwys as: “Die God wat die kinders van Israel uit Egipte gelei het.”
Honderde jare het verloop tussen die tyd van die belofte en die tyd van vervulling. Nog ‘n voorbeeld van God wat dinge doen volgens Sy tydsbepaling en nie ons s’n nie. Waarom het God honderde jare gewag om Sy belofte te vervul terwyl die kinders van Israel bitter gely het in Egipte? Waarom het ‘n liefdevolle en besorgde God toegelaat dat mense, Sy mense, in slawerny moes ly onder die wrede opsieners voordat Hy finaal besluit het om hulle te verlos?
Ek word dikwels ‘n soortgelyke vraag oor die groot slagting (“Holocaust”) gevra: “As daar dan ‘n God is en Hy ons liefhet, waarom het Hy toegelaat dat dit gebeur?” Dit is jammer dat mense so gou is om God te blameer as onmenslik (“brutaal”) sonder om hulle eie onmenslikheid te besef; ‘n onmenslikheid wat manifesteer in woede, haat, vooroordeel, oorlog en moord, om enkeles te noem. Ek gaan egter nie die vraag van die groot menseslagting in hierdie kommentaar aanspreek nie, behalwe om te sê dat die vervloekinge in die Tora (Deuteronomium 28), die antwoord hierop is. God is ‘n liefdevolle, goeie en deernisvolle God, maar ons moet ook onthou dat Hy ‘n regverdige God is en nie sal toelaat dat die skuldiges ongestraf bly nie. Gelukkig strek Sy geregtigheid, soos Hy ons gewaarsku het, verder as net een geslag.
Deuteronomium {5:9} "Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;"
Nou gaan ons terug na ons oorspronklike vraag van waarom God honderde jare gewag het voordat Hy die kinders van Israel sou verlos.
Soos in ‘n vorige kommentaar aangedui, het God die kinders van Israel in Egipte laat woon om hulle getalle te vermeerder sodat hulle ‘n lewensvatbare nasie kon word. In Kanaän het die kinders van Israel begin assimileer maar in Egipte was hulle gedwing om apart te woon. Dit het dit vir hulle moontlik gemaak om ‘n nasie te word. God het geweet dat Sy nuwe nasie sou moes veg om die land te verower, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob belowe het, sodat hulle voldoende in getalle moes wees om ‘n leer op die been te bring om daardie taak uit te voer. God het ook ‘n volk nodig gehad wat Egipte as ‘n nasie sou wou verlaat wanneer die tyd daarvoor aangebreek het. Hy kon hulle dus nie toelaat om gerieflik daar te woon nie. In Duitsland, voor die Tweede Wereldoorlog, was die Jode gerieflik en vooruitstrewend, hulle het hulself eerstens as Duitsers en tweedens as Jode geag. As gevolg hiervan en toe die Nazi’s se mag toeneem, het die Jode nie die land verlaat toe hulle nog kon nie. Ons sien ‘n ander voorbeeld hiervan uit die tyd van die Babiloniese ballingskap. Slegs vyftig-duisend Jode het Babilon verlaat toe koning Kores ‘n dekreet om Jerusalem te herbou, uitgevaardig het. Dit was ook omdat hulle gerieflik, voorspoedig was en floreer het binne die Babiloniese samelewing. Dieselfde situasie word nou oor die wêreld heen herhaal met die opkoms van anti-Semitisme.
In Egipte is die kinders van Israel gebruik, misbruik en tot slawerny gedoem vir honderde jare, met die gevolg dat toe die geleentheid vir hulle ontstaan het om Egipte te verlaat, hulle baie verlig was om weg te gaan. God het Sy doel bereik; hulle gatalle het intussen vermeerder, hulle is nie geassimileer nie en die belangrikste van alles was dat hulle gewillig was om te gaan. Vandag sou ‘n mens met aansienlike moeite die Joodse bevolking van die Verenigde State en Kanada kon oorreed om as één man dié lande te verlaat en in Israel te gaan woon. Die rede daarvoor is dat hulle gerief en voorspoed geniet en daar geen aansporing vir hulle is om te verhuis nie. Dit sou moeilike tye, ongehinderde anti-Semitisme, vervolging en ontberings verg om die Jode van die wêreld sover te kry om hulle gemaksone te verlaat - dit is aan die kom, maar miskien sal dit teen die tyd wat dit aanbreek, te laat wees! Die tyd wat die kinders van Israel lyding in Egipte moes verduur, was die tyd wat God gebruik het om hulle vir hulle vertrek voor te berei. Dit het honderde jare geduur om hulle sover te kry, om te vertrek, maar toe die volheid van God se tyd aangebreek het, was hulle bereid om te gaan.
Ons moet kennis neem van hoe God met Israel te werk gegaan het, want dit is hoe Hy met ons handel. Miskien het jy al deur jare van beproewing, verdrukking en moeilike tye gegaan. Jou lewe was rampspoedig en jy werk soos ‘n slaaf, maar raak net dieper in die skuld en depressie. Jy werk moontlik vir iemand wat soortgelyk is aan enige Egiptiese opsiener en daar is voetspore op jou rug van almal wat al oor jou geloop het. Om hierdie rede bevraagteken en twyfel jy aan jou verhouding met God, terwyl jy voel dat Hy jou verlaat het en nie langer vir jou omgee nie. Skep moed, want as jy ‘n kind van God is en Jesus die Messias in jou lewe ingenooi het as jou Here en Redder, dan is God besig om jou vir ‘n verandering voor te berei (Hy tugtig altyd diegene vir wie Hy lief is), maar jy is nog nie heeltemal gereed daarvoor nie. Hy het ‘n plan en ‘n doel vir jou en wanneer die volheid van Sy tydsbepaling aanbreek en Hy weet dat jy gereed is om jou ou lewe en bagasie agter te laat, sal Hy jou uit jou slawerny roep.
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |


