Donderdag 23 Januarie 2020

Gemaksone

VaEra
(En Ek Het Verskyn)


Eksodus {6:2} "En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. {6:3} Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; {6:4} en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. {6:5} Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;"

Alhoewel God verskyn het aan Abraham, Isak en Jakob om Sy verbond met hulle te bevestig, het hulle slegs as vreemdelinge in die land vertoef tot hulle dood toe, dit het nooit aan hulle behoort nie. Volgens hierdie week se Tora-gedeelte, sou dit alles verander. Die belofte van God, wat aan die voorvaders van die kinders van Israel gedoen is, sou finaal vervul word in hulle verlossing uit die wrede slawerny wat hulle besig was om onder die Egiptenaars te ly. Wat in die verlede bloot ‘n belofte was, was nou op die punt om ‘n vervulde realiteit te word. Die vervulling van die belofte was, trouens, so belangrik dat van hierdie tyd af vorentoe en dwarsdeur die Tora - selfs tot in die Tanach (Hebreeuse Geskrifte) - sou God na Homself verwys as: “Die God wat die kinders van Israel uit Egipte gelei het.”

Honderde jare het verloop tussen die tyd van die belofte en die tyd van vervulling. Nog ‘n voorbeeld van God wat dinge doen volgens Sy tydsbepaling en nie ons s’n nie. Waarom het God honderde jare gewag om Sy belofte te vervul terwyl die kinders van Israel bitter gely het in Egipte? Waarom het ‘n liefdevolle en besorgde God toegelaat dat mense, Sy mense, in slawerny moes ly onder die wrede opsieners voordat Hy finaal besluit het om hulle te verlos? 

Ek word dikwels ‘n soortgelyke vraag oor die groot slagting (“Holocaust”) gevra: “As daar dan ‘n God is en Hy ons liefhet, waarom het Hy toegelaat dat dit gebeur?” Dit is jammer dat mense so gou is om God te blameer as onmenslik (“brutaal”) sonder om hulle eie onmenslikheid te besef; ‘n onmenslikheid wat manifesteer in woede, haat, vooroordeel, oorlog en moord, om enkeles te noem. Ek gaan egter nie die vraag van die groot menseslagting in hierdie kommentaar aanspreek nie, behalwe om te sê dat die vervloekinge in die Tora (Deuteronomium 28), die antwoord hierop is. God is ‘n liefdevolle, goeie en deernisvolle God, maar ons moet ook onthou dat Hy ‘n regverdige God is en nie sal toelaat dat die skuldiges ongestraf bly nie. Gelukkig strek Sy geregtigheid, soos Hy ons gewaarsku het, verder as net een geslag.

Deuteronomium {5:9} "Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;"

Nou gaan ons terug na ons oorspronklike vraag van waarom God honderde jare gewag het voordat Hy die kinders van Israel sou verlos.

Soos in ‘n vorige kommentaar aangedui, het God die kinders van Israel in Egipte laat woon om hulle getalle te vermeerder sodat hulle ‘n lewensvatbare nasie kon word. In Kanaän het die kinders van Israel begin assimileer maar in Egipte was hulle gedwing om apart te woon. Dit het dit vir hulle moontlik gemaak om ‘n nasie te word. God het geweet dat Sy nuwe nasie sou moes veg om die land te verower, wat Hy aan Abraham, Isak en Jakob belowe het, sodat hulle voldoende in getalle moes wees om ‘n leer op die been te bring om daardie taak uit te voer. God het ook ‘n volk nodig gehad wat Egipte as ‘n nasie sou wou verlaat wanneer die tyd daarvoor aangebreek het. Hy kon hulle dus nie toelaat om gerieflik daar te woon nie. In Duitsland, voor die Tweede Wereldoorlog, was die Jode gerieflik en vooruitstrewend, hulle het hulself eerstens as Duitsers en tweedens as Jode geag. As gevolg hiervan en toe die Nazi’s se mag toeneem, het die Jode nie die land verlaat toe hulle nog kon nie. Ons sien ‘n ander voorbeeld hiervan uit die tyd van die Babiloniese ballingskap. Slegs vyftig-duisend Jode het Babilon verlaat toe koning Kores ‘n dekreet om Jerusalem te herbou, uitgevaardig het. Dit was ook omdat hulle gerieflik, voorspoedig was en floreer het binne die Babiloniese samelewing. Dieselfde situasie word nou oor die wêreld heen herhaal met die opkoms van anti-Semitisme.  

In Egipte is die kinders van Israel gebruik, misbruik en tot slawerny gedoem vir honderde jare, met die gevolg dat toe die geleentheid vir hulle ontstaan het om Egipte te verlaat, hulle baie verlig was om weg te gaan. God het Sy doel bereik; hulle gatalle het intussen vermeerder, hulle is nie geassimileer nie en die belangrikste van alles was dat hulle gewillig was om te gaan. Vandag sou ‘n mens met aansienlike moeite die Joodse bevolking van die Verenigde State en Kanada kon oorreed om as één man dié lande te verlaat en in Israel te gaan woon. Die rede daarvoor is dat hulle gerief en voorspoed geniet en daar geen aansporing vir hulle is om te verhuis nie. Dit sou moeilike tye, ongehinderde anti-Semitisme, vervolging en ontberings verg om die Jode van die wêreld sover te kry om hulle gemaksone te verlaat - dit is aan die kom, maar miskien sal dit teen die tyd wat dit aanbreek, te laat wees! Die tyd wat die kinders van Israel lyding in Egipte moes verduur, was die tyd wat God gebruik het om hulle vir hulle vertrek voor te berei. Dit het honderde jare geduur om hulle sover te kry, om te vertrek, maar toe die volheid van God se tyd aangebreek het, was hulle bereid om te gaan.

Ons moet kennis neem van hoe God met Israel te werk gegaan het, want dit is hoe Hy met ons handel. Miskien het jy al deur jare van beproewing, verdrukking en moeilike tye gegaan. Jou lewe was rampspoedig en jy werk soos ‘n slaaf, maar raak net dieper in die skuld en depressie. Jy werk moontlik vir iemand wat soortgelyk is aan enige Egiptiese opsiener en daar is voetspore op jou rug van almal wat al oor jou geloop het. Om hierdie rede bevraagteken en twyfel jy aan jou verhouding met God, terwyl jy voel dat Hy jou verlaat het en nie langer vir jou omgee nie. Skep moed, want as jy ‘n kind van God is en Jesus die Messias in jou lewe ingenooi het as jou Here en Redder, dan is God besig om jou vir ‘n verandering voor te berei (Hy tugtig altyd diegene vir wie Hy lief is), maar jy is nog nie heeltemal gereed daarvoor nie. Hy het ‘n plan en ‘n doel vir jou en wanneer die volheid van Sy tydsbepaling aanbreek en Hy weet dat jy gereed is om jou ou lewe en bagasie agter te laat, sal Hy jou uit jou slawerny roep.      

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Vrydag 17 Januarie 2020

God se Tyd

Shemot
(Eksodus)


Eksodus  {2:23} "En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. {2:24} En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. {2:25} En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken."

In hierdie Skrifgedeelte word net terloops gemeld: “En in daardie lang tyd”, skep miskien die indruk asof slegs ‘n paar dae verloop het tussen die tydperk wat Israel in slawerny in Egipte verval het en die dood van die Farao van Egipte. Die feit is egter dat honderde jare verloop het; trouens, tweehonderd- en- vyftig jaar. 

Dit is nie die eerste keer wat ons hierdie tipe van terminologie in die Skrifte teëkom nie. Dit kom dwarsdeur die hele (Tanach) Hebreeuse Geskrifte voor:

Genesis {4:3} "En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ’n offer gebring."

Genesis {38:12} "En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet."

Rigters {11:4} "En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel."

2 Kronieke {21:19} "En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie."

Selfs al het sekere van hierdie gebeure nie honderde jare geduur nie, maar “met verloop van tyd”, bring dit ons onder die indruk dat alles gebeur met die verloop binne God se tydsbepaling en niks vind plaas vóór die tyd nie.

Ons is altyd so haastig dat God in ons lewens moet intree; ons verwag dat alles onmiddelik moet gebeur. Dit is veral waar, wanneer dit ‘n gebedsversoek is oor iets wat ons wil hê. Tipies is ons ongeduldige mense. Ons haat dit om in lang toue te staan en raak briesend wanneer die persoon in die ry voor ons sukkel met kleingeld wanneer daar vir die aangekoopte items betaal moet word. Ons krimp omtrent ineen indien die kassier moet gaan om die korrekte prys van een of meer items van die kliënt te gaan vasstel, terwyl ons moet rondstaan en wag. My vrou en ek het eendag by ‘n kruidenierswinkel gestaan, terwyl die persoon voor ons van die kassier verwag het om keer op keer die totaal van haar aankope te verstrek en dan, indien die bedrag nog binne haar begroting was, het sy die ry verlaat om nog ‘n verdere item te gaan haal en die totaal dienooreenkomstig aan te pas. Dit het meer as viermaal gebeur terwyl ons hulpeloos toegekyk en gewag het, Dít was werklik ‘n toets vir ons geduld!

God beskik egter oor oneindige geduld - Hy doen alles “met verloop van tyd”. Hy raak nooit gejaagd nie, Hy is nooit haastig nie en wag altyd tot die geskikte tyd om op te tree. Dit was die geval met Moses in hierdie week se Parasha. Hier leer ons dat God hoegenaamd niks doen voor die regte tyd nie. Hoe weet God wanneer die tyd reg is vir Hom om op te tree? Dit is wanneer Sy doel vervul is, wat dit ook al mag wees!

Johannes {7:6} "Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie Maar julle tyd is altyd daar. {7:7} Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. {7:8} Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie."

Hier is die einddoel, “die verloop van tyd”. Jesus moes op ‘n spesifieke wyse sterf: ‘n Romeinse kruis, in ‘n spesifieke stad; Jerusalem en op ‘n bepaalde dag; die derde Pesach (Paasfees) nadat Hy Sy bediening hier op aarde begin het. Ofskoon die Satan dikwels probeer het om Jesus te laat doodmaak, het Hy altyd gefaal en Jesus het daarin geslaag om ongedeerd weg te kom en nie leed aangedoen te word nie, omdat Sy tyd nog nie aangebreek het nie. Toe Jesus se tyd wel aangebreek het, het Hy gegaan, op die bestemde tyd, na Jerusalem en ons weet wat daarna plaasgevind het.

Die wyse waarop God in die Skrif gewerk het, is dieselfde as wat Hy vandag nog in ons individuele lewens doen. Ons is altyd haastig om met dinge aan te gaan. Ons verlang dat alles wat ons bid of vra dadelik moet gebeur, volgens óns tydsberekening. Ek dink ons almal benodig ‘n realiteitstoets en ons almal behoort te leer uit vandeesweek se Parasha. Dit is nie ons tydsberekening wat saak maak nie - dit is God s’n. Hy het Sy volmaakte tyd om te gee wat ons vra, solank as wat ons vra en bid volgens Sy wil. Hy sal dit alles skenk maar dit sal altyd “ met verloop van tyd” wees, dit is, volgens Sy tydsbepaling!      

Kom gou Jesus!

PDF weergawe


Vrydag 10 Januarie 2020

Vergewe Jy Jouself Ten Volle?

VaYech
(En Hy Het Gelewe)


Genesis {50:12} "En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het: {50:13} sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre. {50:14} Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het. {50:15} Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! {50:16} Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: {50:17} So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. {50:18} En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. {50:19} Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? {50:20} Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ’n groot volk in die lewe te hou. {50:21} Wees dan nou nie bevrees nie: ék sal julle en julle kinders onderhou. So het hy hulle dan getroos en na hulle hart gespreek."

Ons het die einde van die verhaal oor Josef bereik. Ek het deurgaans gesê dat Josef ‘n ewebeeld van Jesus die Messias was. In die lig daarvan, laat ons die paralelle tussen die twee vergelyk: Josef is deur sy broers verwerp, deur hulle verkoop aan nie-Jode wat oor sy lot besluit het; sy broers het hom as dood geag; hy is in die tronk opgesluit, bevry en onder die nasies, waarvan Egipte, ‘n voorbeeld is, vernaam geraak. In vergelyking: Jesus die Messias was ook verwerp deur Sy broers (die Joodse mense) ook deur hulle verkoop aan nie-Jode, wat oor Sy lot besluit het; Sy broers het Hom ook as dood geag; Hy is begrawe, toe opgewek en vernaam onder die nie-Jode geword.

Die ooreenkomste tussen Josef en Jesus die Messias eindig nie daar nie. Wat ek aangeraak het, is slegs die punt van die ysberg. Dit beteken dat die ooreenkomste geensins toevallig kan wees nie. God het vir ons die Evangelie opgeteken deur die verhaal van Josef honderde jare voordat dit werklik plaasgevind het. Die “Ou Verbond” is dus nie slegs vir die Jode nie, dit is vir almal.

Dit is egter nie die onderwerp van my lesing nie. Ek het die bovermelde gedeelte so tipies van die hedendaagse gelowiges gevind. Ek sal verduidelik. Julle sal onthou dat in verlede week se Parasha, Vayigash, Juda en sy broers hulle harte voor Josef uitgestort het en hulle sonde aan hom bely. Op daardie stadium het Josef homself nog nie aan sy broers openbaar nie. Gevolglik het hy, nadat hy sy identiteit onthul het, sy broers verseker dat hy hulle sonde vergewe en hulle vrygespreek van wat hulle hom aangedoen het.

Genesis {45:4} "Verder sê Josef vir sy broers: Kom tog nader na my. En toe hulle nader kom, sê hy: Ek is julle broer Josef vir wie julle na Egipte verkoop het. {45:5} Maar wees nou nie bedroef nie, en laat daar geen ontstemming by julle wees dat julle my hierheen verkoop het nie. Want om lewens te behou, het God my voor julle uit gestuur. {45:6} Want daar was nou twee jaar hongersnood in die land, en daar is nog vyf jaar waarin nie geploeg of geoes sal word nie. {45:7} Maar God het my voor julle uit gestuur om vir julle ’n oorblyfsel op die aarde te verseker en om julle in die lewe te hou tot ’n groot verlossing."

Josef se broers is vergewe en alles wat in die verlede gebeur het was vergete. Josef het aansienlike opgang in sy lewe gemaak, maar duidelik uit ons vorige gedeelte, was dit nie die geval met sy broers nie. Ofskoon Josef hulle duidelik vergewe het, het hulle hulself nie vergewe nie en gevolglik steeds skuldig gevoel.

Indien ons met die vergelyking van Josef as ‘n ewebeeld van Jesus die Messias voortgaan, is hierdie scenario nie verskriklik soortgelyk aan die lewens van baie gelowiges vandag nie? Alles wat met Josef gebeur het, was soos hyself erken het, deur God beskik tot voordeel van sy broers, toekomstige geslagte van Israel sowel as vele ander nasies. Die broers se bekentenis aan Josef het hulle toegelaat om die voordele onder sy beskerming te geniet, omdat hy in die magtige posisie van onderkoning van Egipte was. Dit het Josef bevestig, was alles deur God beskik vir daardie uitsluitlike doel. Net so was alles wat met Jesus die Messias gebeur het, die beskikking van die Vader vir die uitdruklike doel om tot kinders van Israel se voordeel te wees en sodoende ook vir die hele wêreld. Wanneer ons ons sonde bely voor Jesus - die sonde wat ons teen Hom gepleeg het deur die oortreding van Sy gebooie, soos in die Tora vervat, vergewe Hy ons. Trouens ons word verseker:

Miga {7:19} "Hy sal Hom weer oor ons ontferm, ons ongeregtighede vertree; ja, U sal al hulle sondes in die dieptes van die see werp."

Vergewe ons onsself wat Josef se broers nie gedoen het nie? Baie van ons laat dit na! Ten spyte van die feit dat ons vergifnis ontvang het, verkeer ons steeds onder die skuldgevoel van die verlede: ou bagasie wat ons neerdruk en ons vreugde demp. Laat hierdie week se Parasha en in besonder die Skrifgedeeltes waaruit ek aangehaal het, jou bemoedig sodat jy nie soos Josef se broers word nie. Aanvaar die vergifnis wat Jesus die Messias aan jou geskenk het en gaan aan met jou lewe - Josef het!

Ons het nou die boek Genesis afgehandel. By die afhandeling van die lees van elke boek van die Tora is dit gebruiklik om te sê:

Chazak, Chazak V’nitzChavek  (Wees sterk, wees sterk en laat ons versterk word)!  

Kom gou Jesus!

PDF weergawe

Saterdag 04 Januarie 2020

Vergewe en Word Vergewe

VaYigash
(En Hy Het Nadergekom)


Genesis {44:18} "Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ’n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao. {44:19} My heer het sy dienaars gevra en gesê: Het julle ’n vader of broer? {44:20} En ons het my heer geantwoord: Ons het ’n ou vader; en daar is ’n jong seun, ’n kind van die ouderdom, maar sy broer is dood; en hy het alleen oorgebly van sy moeder, en sy vader het hom lief. {44:21} Toe het u aan u dienaars gesê: Bring hom af na my toe, dat ek my oog op hom kan rig. {44:22} En ons het my heer geantwoord: Die seun kan sy vader nie verlaat nie, want sy vader sal sterwe as hy hom verlaat. {44:23} Daarop het u aan u dienaars gesê: As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my aangesig nie weer sien nie. {44:24} En toe ons na u dienaar, my vader, opgetrek het en hom die woorde van my heer te kenne gegee het, {44:25} het ons vader gesê: Gaan koop weer vir ons ’n bietjie voedsel. {44:26} Maar ons het gesê: Ons kan nie aftrek nie. As ons jongste broer by ons is, sal ons aftrek; want ons mag die aangesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie. {44:27} En u dienaar, my vader, het aan ons gesê: Júlle weet dat my vrou vir my twee gebaar het — {44:28} die een het van my af weggegaan, en ek het gesê: Voorwaar, hy is verskeur, verskeur! En ek het hom tot hiertoe nie gesien nie."

Miskien voel ek sinies, omdat ek met die lees van hierdie Skrifgedeelte, gedink het: “Watter onsin het uit Juda se mond gekom! Hoe kan enigeen so onbeskaam soos hy leuens vertel? Sy broer, Josef, is dood? Sy vader was onder die indruk dat hy deur ‘n wilde dier verskeur is? Hy was wel deeglik bewus van wat eintlik met sy broer gebeur het en dat hy hom as ‘n slaaf verkoop het! ”. Ja, dié een wat voorgestel het dat hulle stiefbroer as’t ware verander word in ‘n handelsartikel en vir wins verkoop word, was nou in ‘n poging om homself te verontskuldig en sy ander stiefbroer te red, deur skaamteloos te lieg. Die waarheid was egter dat ons almal weet aan wie hy besig was om dié leuens te vertel.

Kom ons stel onsself vir ‘n wyle in Josef se plek. As dit jy of ek was aan wie Juda hierdie leuens vertel het, sou ons hom summier op sy plek gesit het!. Ekself soos wat julle moontlik kan aflei van wat ek reeds hierbo gesê het, het al gewonder waarom God hierdie soort leuens in die Bybel laat opteken het. Stel julle voor, as ons in Josef se plek was, die tweede magtigste persoon in Egipte, wat kon besluit of iemand lewe of sterf en iemand lieg so vir ons? Wat egter meer verstommend is, is Josef se reaksie!

Genesis {45:1} "TOE kon Josef hom nie langer bedwing voor almal wat by hom gestaan het nie, en hy roep: Laat almal van my af weggaan! En daar het niemand by hom gestaan toe Josef hom aan sy broers bekend gemaak het nie. {45:2} Daarop bars hy in trane uit, sodat die Egiptenaars en ook die huis van Farao dit gehoor het. {45:3} En Josef sê vir sy broers: Ek is Josef! Leef my vader nog? Maar sy broers kon hom nie antwoord nie, want hulle was verskrik voor hom."

Óf Josef was ‘n heilige óf die Here probeer ons hier iets vertel. Dit is natuurlik laasgenoemde! Uit my vorige kommentare weet ons dat Josef ‘n sinnebeeld van Jesus die Messias is ofskoon ons negatief teenoor Juda sou opgetree het, die Here dit nie sou doen nie. Hier het ons ‘n volmaakte beeld van die onvoorwaardelike liefde, genade en ontferming wat Jesus die Messias vir ons het. Soos Juda, voordat ons gered is, was ons ook leuenaars en bedrieërs, wat altyd alles skeefgetrek het tot ons eie voordeel (erken dit maar!), maar toe is ons gered en alles het verander. Wat ons in Josef sien, is wat Jesus die Messias ons in die Nuwe Testament geleer het.

Markus {11:25} "En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe. {11:26} Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie."

Josef het die volste reg gehad om vir sy broers kwaad te wees vóór hierdie storie van Juda. Deur te luister na sy leuens, behoort hom selfs meer kwaad te gemaak het, maar dit het nie! Jy of ek sou ons humeure verloor het, maar die Here leer ons hier ‘n belangrike les: “As ons nie vergewe nie, sal ons ook nie vergewe word nie.” Ons leer ook ‘n bietjie meer van die karakter van ons Hemelse Vader; Dit is iets wat belangrik is. Josef, as die manifestasie van God in die vlees, sien Josef se onvoorwaardelike vergifnis teenoor sy broers, as dit wat God ons leer deur Homself aan Sy eie Torah te onderwerp. 

Kom gou Jesus!

PDF weergawe