Sondag 28 Februarie 2021

Tempelberg

 Tetzaveh

(U Sal Beveel)


Eksodus 27:20 – 30:10

Esegiël 43:10 – 27

Hebreërs 13:10 – 17


Eksodus {29:42} “Dit moet 'n voortdurende brandoffer vir julle geslagte wees, by die ingang van die tent van samekoms, voor die aangesig van die Here, waar Ek met julle sal saamkom om daar met jou te spreek. {29:43} En daar sal Ek met die kinders van Israel saamkom en die tent sal deur my heerlikheid geheilig word. {29:44} So sal Ek dan die tent van samekoms en die altaar heilig. Ek sal Aäron en sy seuns ook heilig om vir My die priesteramp te bedien. {29:45} En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle 'n God wees; {29:46} en hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is wat hulle uit Egipteland uitgelei het om in hulle midde te woon. Ek is die Here hulle God.”


Waarom moes die Altaar van die Offerande geplaas word by die ingang vóór die Tent van Samekoms? Waarom kon dit nie agter by een van die sykante geplaas gewees het nie?


Uit hierdie Parasha verneem ons dat daar ‘n uitgebreide stelsel van Offerande was wat vereis het dat Aäron en sy seuns toegelaat sou word om die Tent van Samekoms binne te gaan. Teneinde hulle in staat te stel om verby die Altaar te beweeg, moes hulle vooraf geheilig en gereinig word van enige sonde. Geen sondige priesters kon in die teenwoordigheid van ‘n Heilige God en die Altaar kom nie, waarop die sondoffers verbrand is en daardie doel gedien het.


Met die Tent van Samekoms het die Here ‘n plek vir Homself geskep waar Hy onder onheilige mense kon woon, maar nogtans apart van hulle wees. Soos ek verlede week gesê het, wat was dus die doel van die Here om onder hulle te woon? Dit was so dat hulle ‘n persoonlike verhouding met Hom kon hê. Soos die bogemelde Skrif lui, “Hulle sal weet dat Ek die Here hul God is, wat hulle uit die land van Egipte gelei het, sodat Ek onder hulle kon woon. Ek is die Here hulle God.”


God is nie ‘n God van reëls en regulasies nie - Hy is ‘n God van verhoudinge! Dit is egter onmoontlik vir ‘n sondige, onheilige volk om enige soort verhouding met ‘n Heilige God te hê vandaar die behoefte aan ‘n Altaar van Offerande en diere-offers. Diens by die Tora en vervulling van die gebooie, het ‘n mens nie heilig gemaak nie. Wat ‘n mens wel heilig maak, is vergifnis van sonde deur die plaasvervangende diere-offers.


Het julle opgelet dat, toe die Parasha gelees is, Aäron en sy seuns hulle hande op die offerdier moes lê voordat dit geslag is? Die handoplegging het die oorplasing van hul sonde op wat ookal geoffer word, veplaas. Die dier, waarop hul hande gelê was, is toe geslag en aan die Here geoffer as plaasvervanger vir die dood van die menslike sondaar; in die geval van ons Parasha, was dit vir Aäron en sy seuns.


Die Here is vandag netso heilig as wat Hy in bybelse tye was en ons as mense is netso onheilig as wat ons in die bybelse tye was. Ons het egter steeds ‘n offerande nodig om die prys van ons sonde - soos in bybelse tye - nodig indien ons ‘n verhouding met God verlang. Wat is vandag ons offerande vir sonde aangesien daar nie langer ‘n Tent van Samekoms of ‘n Tempel in Jerusalem is, waar diere die prys vir ons sonde kan betaal nie? Waarop lê ons vandag ons hande om ons sonde vir ons te verplaas teneinde ‘n verhouding met die Heilige God te vestig? Dit is vanselfsprekend Jesus die Messias.


Jesaja {59:2} “maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”


Jesaja {59:3} “Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.”


Daar is ‘n interessante punt wat ek graag met julle wil deel aangaande die Altaar en die Offerande: dit behels ‘n verklaring deur Jesus:


Matthéüs {23:34} “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, {23:35} sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.”


Let daarop dat Sagaria tussen die Altaar en die Tempel vermoor is. Vandeesweek se Parasha vertel ons dat Aäron en sy seuns geheilig moes word deur die diereoffer te gebruik voordat hulle verby die die Altaar kon gaan, wat beteken het dat niks wat sondig was toegelaat is tussen die Altaar en die Tent van Samekoms nie en dieselfde sou gegeld het tussen die Altaar en dieTempel, waar Sagaria vermoor is. Die Altaar van Offerande is doelbewus so geplaas dat die priesters vergifnis kan ontvang vir enige sonde wat gepleeg is voordat hulle die Tent van Samekoms kon betree. Dit kon egter nie versoening vir enige sonde bied wat verder as die Tempel gepleeg is nie. Sagaria se moord het plaasgevind aan die verkeerde kant van die Altaar (tussen die Altaar en die Tempel); derhalwe was daar geen versoening daarvoor nie.


Met dit in gedagte, is die Tempelberg nie besoedel nie vanweë die Koepel van die Rots of omdat die Moskee ook daarop was, soos deur vele beweer word. Hierdie gedeelte van die vaste eiendom is besoedel deur die bloed van Sagaria, wat tussen die Altaar en die Tempel vermoor is en waarvoor daar geen versoening was nie. Derhalwe sal die Tempelberg, in die huidige toestand, altyd besoedel wees. Die bestaande berg sal vernietig moet word en ‘n nuwe berg op die plek daarvan opgerig word sodat die Messias se Duisendjarige Tempel in Jerusalem gebou kan word. - dit is wat presies sal gebeur.


Sagaria {14:4} “En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”


Wanneer Jesus na die aarde terugkeer, sal Sy voete raak aan die Olyfberg, wat die drie pieke, waarvan die Tempelberg één is, hierdie bergreeks skeur en ‘n nuwe onbesoedelde berg gevorm word waarop die Messiaanse Duisendjarige Tempel kan en sal opgerig word.


Jesaja {2:1} “DIE woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. {2:2} En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. {2:3} En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.”


Kom gou Jesus!



PDF weergawe

Saterdag 20 Februarie 2021

Tabernakel

 Terumah

(Offerande)


Eksodus 25:1-27:19 

Jesaja 66:1-24 

Matthéűs 5:33-37 

Hebreërs 9:1-10


Eksodus {25:1} “Die Here het vir Moses gesê: {25:2} “Sê vir die Israeliete hulle moet elkeen vir My 'n offergawe bring. Julle moet die offergawes aanvaar soos dit vir My aangebied word, {25:3} en wel die volgende: goud, silwer en brons; {25:4} verder ook nog blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, {25:5} rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle en doringhout; {25:6} olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierookoffers; {25:7} oniks en ander halfedelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word. {25:8} Hulle moet vir My 'n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon. {25:9} Die tabernakel en al sy toebehore moet gemaak word presies volgens die plan wat Ek jou gewys het.”


God het nie net vir Moses beveel om die Tabernakel te bou nie, maar ook die planne getoon! Netsoos Moses Berg Sinai met twee kliptafels verlaat het, glo ek dat hy ook die argiteksplanne vir die Tabernakel, God se Heiligdom, by hom gehad het. 


Die tabernakel het ‘n weg vir God voorsien om tussen Sy mense te woon ten spyte van hulle gevalle toestand! Deur die konstruksie van die Tabernakel, sou ‘n helige God nou woon te midde van ‘n onheilige mensdom. Die werklikheid is dat die Tabernakel ‘n herskepping van die Tuin van Eden is vir God om te bewoon. Dit was eintlik God se toevlug, ‘n plek sonder onvolmaakthede, waar niks aangaande die dood of enige onreinhede kon inkom nie. Die Tabernakel was in geheel God-gesentreerd. Die hele stelsel van offerandes, wat in die boek Levitikus {1-4} vir ons opgeteken is, was mensgesentreerd; mens wat na God kom. Die menslike benadering tot God was deur middel van offerandes, terwyl God se benadering tot die mens deur die Tabernakel was. Vanweë sonde kon die mens nie voor ‘n heilige God verskyn nie; hulle het misluk in hulle verhouding met Hom omdat God nie met sonde omgaan nie. Dus het die Tabernakel wat die offerande gefasiliteer het, vir die mens ‘n weg moontlik gemaak om God te nader en vir God om by die mens te wees.


Eksodus {25:8} “Hulle moet vir My 'n heiligdom oprig dat Ek tussen hulle kan woon.”


God benadruk hier drie sake: Sy behoefte aan ‘n Heiligdom sodat die mens ‘n visuele uitdrukking van Sy Persoonlkheid kan hê, terwyl Sy heiligheid steeds gehandhaaf word. Hierdie drie: Heiligdom, Teenwoordigheid en Heiligheid, verteenwoordig God se vermoë om onder Sy mense te woon.


Levitikus {26:11} “Ek sal by julle woon en nie 'n afsku van julle hê nie. {26:12} Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees.”


Die Heiligdom was die plek vir God om tussen Sy mense te woon, terwyl hulle in die wildernis was en dit was waar die mense kon offerandes bring vir boetedoening vir hulle sonde. Daardeur kon die kinders van Israel - God se waardevolle besitting - genootskap hê en met mekaar kon gemeenskap hê.


“Shekinah” is die woord wat die sigbare, heilige Teenwoordigheid van God weergee. Hy het daardeur verskyn tussen die gerubs bokant die Versoenings/Genadesetel in die Tabernakel. Hy het daardeur verskyn op die berg Sinai in die vorm van die rook, donderweer en weerlig asook die Wolkpilaar en Vuurpilaar wat die kinders van Israel in die wildernis beskerm het.


Die Tabernakel was ‘n konstante sigbare herinnering aan die kinders van Israel  van hulle sondigheid. Die konstruksie en teenwoordigheid onder hulle was ‘n duidelike bevestiging van die Heiligheid van God. Dit het ook die verstandhouding getoon dat hulle God op Sý wyse en nie dié van hulle nie moes nader! Die Tabernakel was ‘n uitdrukking van die genade van God - ten spyte van hulle sondigheid en vanweë Sy liefde vir hulle, het Hy in elk geval gekies om onder hulle te woon.


Hebreërs {10:19} “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom, {10:20} en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam”


Ten slotte was die Tabernakel ‘n “tipe” van Jesus. In Jesus het die Vader neergedaal in menslike vorm om sodoende gemeenskap met ons te hê en aan ons ‘n weg voorsien om die skeidsmuur van sonde wat ons geskei het te voorsien.


Jesus is vanselfsprekend nie genoem in die Tora nie. Die Vader het Hom verberg in simbolieke, gereserveer vir hulle wat gewillig is om Hom te soek, Hom te vind, Hom te herken en en in Hom te glo. In die Tora en die simbole van Messias Jesus, word ons voorsien met die boumateriaal en kostruksiemetode wat vir ons nodig is om met Jesus in ‘n verhouding te tree, God met ons! Sy menslike liggaam was die Tabernakel wat Sy heiligheid van ‘n sondige mensdom afgesonder het. Indien iemand vir ons gesê het daar was 100,000,00 Rand se waarde in goud weggesteek êrens in ‘n kamer van ons huis en ons dit kan hou as ons dit ontdek het, sou ons nie ‘n minuut versuim om die huis af te breek terwyl ons die goud soek nie. God het die ewige lewe met Hom in die Hemel en in Sy Woord. Goud sal slegs vir jou aardse lewe hou, terwyl die ewige lewe Ewig is. Oorweeg wat is die waardevolste!   

 

Kom gou Jesus!


PDF weergawe




 


Sondag 14 Februarie 2021

Skuld

 Mishpatim

(Oordele)


Eksodus 21:1-24:18

Jeremia 34:8-22;33:25-26

Matthéüs 5:38-42


Eksodus {21:2} “Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal. {21:3} As hy alleen was toe hy jou slaaf geword het, moet hy alleen vrygelaat word. As hy toe getroud was, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. {21:4} As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee het, en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en dan hoef net die slaaf vrygelaat te word. {21:5} As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. {21:6} Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar 'n gaatjie in sy slaaf se oor steek met 'n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.”


Nadat ons hierdie Parasha gelees het, sal ons waarskynlik wonder waarom die Here mense sou toegelaat het om ander mense te koop. Ek is ook oortuig daarvan dat julle sal wonder waarom ‘n slaaf wat besluit het om by sy eienaar aan te bly nadat hy hom vir ses jaar lank gedien het, na ‘n deurkosyn gebring en sy oor met ‘n els deurboor sou word. 


Sekere soorte slawerny in Bybelse tye, was nie slawerny soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel maak geen voorsiening vir ‘n persoon om bankrot te raak nie. Iemand wat in skuld was aan ‘n lener en nie kon betaal nie, het homself verkoop om sy skuld te delg. Die Skrif leer ons dat indien ons plegtig ‘n belofte aflê, ons dit móét nakom. Om geld te leen of om op krediet te koop, was altyd onderhewig aan ‘n belofte om dit terug te betaal; daar was dus geen ander uitweg in daardie tyd as om homself te verkoop nie. Die nakoming van ‘n belofte, is baie ernstig deur God beskou.


Numeri {30:2} “As iemand aan die Here 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.”


Die mense het in Bybelse tye geld geleen netsoos dit vandag die geval is. Boere het geld geleen ten opsigte van toekomstige oeste en tydens moeilike jare hulle land verpand of geleen teen hulle boerdery-toerusting, soos ‘n os wat die ploeg getrek het. Indien hulle egter nie hulle lenings kon afbetaal nie, was bankrotskap nie ‘n opsie nie en was daar hoegenaamd geen uitweg om hulle skuld af te skrywe nie.


Bankrotskap is in ons moderne tye ‘n skuiwergat, wat slegs vier- of vyfhonderd jaar bestaan. Volgens die Woord van God mag skuld egter nie afgeskryf word nie - dit móét betaal word. Wat het dus gebeur as iemand nie sy skuld betaal het nie? Die Here het voorsiening gemaak vir so’n gebeurlikheid deur van die skuldenaar te vereis om gratis te werk vir die skuldeiser. Die Here, wat die boosheid van die menslike hart ken, het egter ‘n tydbeperking op die slawe-arbeid geplaas. Ses jaar was al wat ‘n skuldeiser uit ‘n skuldenaar kon kry. Selfs dan moes hy aan die skuldenaar verblyf verskaf en hom redelik behandel, soos deur die Tora voorgeskryf. Aan die einde van die ses jaar moes die skuldeiser die skuldenaar wegstuur met voldoende goedere om aan hom hulp te verleen om sy lewe weer as ‘n skuldvrye man te begin.


Spreuke {22:17} “Luister goed, luister wat die wyse mense sê; probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet”


Uit hierdie gedeelte is dit duidelik om af te lei dat die leen van geld nie deur God aangemoedig word nie.


Daar is ook ‘n ander voorsiening betreffende slawe in hierdie week se Parasha. Indien die persoon wat homself verkoop het in slawerny om sy skuld af te betaal, besluit om welke rede ookal, vrywillig by sy eienaar aan te bly, kon hy dit doen deur sy oor te laat deurboor by die deurkosyn van die huis. Dit sou die slaaf verplig om in ‘n lewenslange slaaf - eienaar verhouding te verkeer. Ons moet ons egter self afvra waarom die deurboring van ‘n oor by die deur of deurkosyn van die huis moes plaasvind? Ek glo dat hierdie gedeelte die vraag vir ons beantwoord:


Eksodus {12:22} “Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. {12:23} As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.”


Die kinders van Israel was in hierdie tyd slawe en in ware gebondenheid aan die Egiptenaars. Soos ons gelees het, is vryheid egter aan hulle verleen deur die bloed van ‘n lam aan die deurkosyne van hulle huise aan te wend. Dit is nie en was nooit die Here se wil vir Sy mense om in slawerny aan enigeen behalwe aan Hom te verkeer nie. Dus is iemand wat verkies het om aan sy menslike eienaar se huis as slaaf aan te bly, as ‘n skande geag dat hy aan die deurpos van sy eienaar se huis deurboor moes word, as ‘n simbool dat hulle buite die wil van God gehandel het. Die skande is simbolies omdat die deurpos waarteen die slaaf se oor deurboor is, herinner aan die deurposte in Egipte waarteen die bloed van ‘n lam gesmeer moes word, toe Israel hul vryheid verkry het en Egipte verlaat het. Hierdie persoon het homself beskaam deur hom weereens aan slawerny te onderwerp. Dus het die deurpos wat eenmaal vir hulle vryheid geskenk het, nou vir hulle slawerny gebring.  


Kom gou Jesus!

 

PDF weergawe

Sondag 07 Februarie 2021

Dors?

 Yitro

(Jethro)

Eksodus 18:1–20:23

Jesaja 6:1-17:6; 9:5-6

Matthéüs 5:17-32

Hebreërs 12:18-24

 

Eksodus {19:10] “Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit, {19:11} en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie. {19:12} Die mans by Lot sê toe vir hom: “Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit! {19:13} Ons gaan hierdie plek verdelg. Daar is 'n groot geroep by die Here oor die plek en sy mense, en Hy het ons gestuur om die plek te verdelg.”


In vandeesweek se Parasha - Parasha Jethro - in besonder die gedeelte wat ek hierbo aanhaal, sien ons dat die Here die kinders van Israel oproep om die Berg Sinai te nader. Wat was die betekenis om die berg Sinai te nader? Wat was so belangrik in verband met Berg Sinai dat die Here sy volk geroep het om by die berg byeen te kom?


Daar is vele “tipes” in die Skrif (‘n tipe is iets wat simboliseer of dinge as voorbeeld voorhou wat die ideaal dien of eienskappe definieer). In die Bybel se verhaal van Josef en sy broers, kan Josef gesien word as ‘n sinnebeeld van Jesus (deur sy broers verkoop, maar hulle aan die einde red). In die aangehaalde Skrifgedeelte hierbo, sien ek Berg Sinai as ‘n tipe van wat in die duisendjarige ryk gaan plaasvind:


Esegiël {47:1} “Die man met die meetstok het my teruggebring na die ingang van die tempel toe. Toe sien ek daar kom water onder die tempel se drumpel uit aan die oostekant. Die tempel het oos gekyk. Die water het regs van die tempel weggeloop, suid van die altaar verby.”


In hierdie Skrifgedeelte beskryf Esegiël ‘n gebeurtenis wat sal plaasvind vanaf die duisendjarige Tempel; dit is die Tempel wat ons wederkerende Messias sal bewoon.


Esegiël gebruik die denkbeeldigheid van water wat van onder die drumpel van die Tempel uitvloei, om die Woord van God, wat voortvloei uit Jerusalem, te beskrywe. Soos ons verder in hierdie gedeelte van Esegiël se profesie lees, sien ons dat hierdie water genesing sal bring en lewe sal skenk aan alles waaraan dit raak. Dit gaan sonder om dit te verduidelik, hoedat dat Esegiël die Tora beskrywe, wat voortgaan vanuit Jesus, genesing en lewe vir elkeen wat daardeur aangeraak word.


Openbaring {22:1 “Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. {22:2} Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies. {22:3} Daar sal niks meer wees wat deur God vervloek is nie. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en sy dienaars sal Hom dien. {22:4} Hulle sal Hom sien, en sy Naam sal op hulle voorkoppe wees. {22:5} Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van 'n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer.”


Weereens lees ons van ‘n suiwer rivier van Lewende Water wat vloei van die troon van God, wat onmiskenbaar die Woord van God - Tora - is, wat voortkom van die Vader en die Seun (Jesus die Lam).


Wat ons hier sien in albei hierdie gedeeltes is die Woord van God wat versprei word vanaf God na die wêreld toe. Een gedeelte, dié van Esegiël, beskrywe die duisendjarige ryk wanneer Jesus terugkeer om die Duisendjarige Tempel te bewoon. Die ander gedeelte, dié van Johannes in Openbaring, beskrywe die eindtyd van die ryk wanneer die Woord van God sal voortkom van beide die Vader en die Seun. Ofskoon die gebeure in verskillende typerke is, beskrywe albei soortgelyke gebeure; God wat deur die Tora spreek tot Sy mense. 


Kom ons kyk hierdie week weereens na dié week se Parasha, in besonder die gedeelte hierbo aangehaal. Lees gerus daardie voorafgaande Skrifgedeeltes van {Eksodus 19:1 - 19:6} en ook die geskrifte wat daarop volg, wat handel oor God wat die Tien Gebooie, Tora, aan die mense gee. Die gebeure in hierdie gedeeltes beskryf die Woord van God, wat uitgaan vanaf God na Israel, wat genesing en lewe aan hulle sal bring en deur Moses se inskrywing die Woorde, aan die die hele wêreld. Hierdie Parasha beskrywe ‘n gebeurtenis soortgelyk aan dié gedeelte in die boeke van Esegiël en Openbaring, wat albei verwys na ‘n tyd wanneer die Woord van God sal uitgaan vanaf God sodat die hele wëreld Sy lewende Tora sal hoor en ken. Die aangehaalde gedeelte uit hierdie week se Parasha is dus ‘n voorspelling van die gebeure deur Esegiël en Johannes beskryf en n “tipe” van hulle.


God het aan ons drie voorbeelde van Lewende Water gegee…...Moenie langer dors ly nie. Dit is tyd om te kom drink!       

Kom gou Jesus!


PDF weergawe