Sondag 30 Desember 2012

God het ‘n Plan met die Lewens van Elkeen van Ons

D’Var Torah 
Name / Shemot 

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 14:13-25

Eksodus / Shemot {2:1} "En ‘n man uit die huis van Levi het gegaan en ‘n dogter van Levi geneem. {2:2} En die vrou het swanger geword en ‘n seun gebaar. En toe sy sien dat hy mooi was, het sy hom drie maande lank weggesteek. {2:3} Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit. {2:4} En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. {2:5} En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. {2:6} Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. {2:7} Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? {2:8} En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. {2:9} Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog. {2:10} En toe die seuntjie groot geword het, bring sy hom na Farao se dogter; en hy het haar seun geword. En sy het hom Moses genoem en gesê: Ek het hom mos uit die water getrek."

Iets baie vreemd het skynbaar plaasgevind. Die farao het ‘n bevel uitgevaardig dat alle pasgebore Joodse seuntjies in die Nylrivier gegooi moes word. Hulle sou vanselfsprekend verdrink het of deur die krokodille verslind word. Dit is egter interessant dat die farao se dogter teenstrydig met haar eie vader se bevel opgetree het en nie net ‘n pasgebore Joodse seun gered het nie maar hom selfs aangeneem het. Wat is dus hier aan die gang? 

Ons wysgere beweer dat die farao se dogter haar tot die Judaisme bekeer het en dus op daardie tydstip by die rivier aangekom het. Sy sou in die rivier gedompel word om haar in haar nuwe geloof in te wy. Die wysgere gaan verder deur te beweer dat toe die kinders van Israel Egipte verlaat het, sy met hulle saamgegaan het. 

Enigiets is moontlik maar nie alles is waarskynlik nie. Weens gebrek aan enige werklike bewys tot die teendeel daarvan, vind ek dit dus besonder moeilik om die wysgere se bewering te glo. Wat egter nie vir my moeilik is om te glo nie, is dat hierdie gebeurtenis ‘n oppermagtige handeling van God was in die lewens van diegene wat Hy aangewys het om die geskiedenis van die Joodse nasie te beïnvloed. 

Die farao se dogter was maar net besig om haar alledaagse lewe te ly. Sy het dus soos gewoonlik na die rivier gegaan om haarself te reinig, op die tydstip toe Moses toevallig in sy mandjie daar verby gedryf het. Heelwaarskynlik het God reeds haar hart versag teenoor die ongunstige posisie van die Jode of moontlik het Hy aan haar ‘n droom of visioen gegee om ‘n kind te kry. Wat die geval ookal was, alles het in die normale verloop van haar lewe plaasgevind. 

Wat kan ons nou leer uit hierdie Bybelse mededeling? Ons leer dat God oor die vermoë beskik om die harte en lewens van elke individu – selfs diegene in magtige posisies – so te raak dat hulle dinge doen wat teenstrydig met hulle eie persoonlikheid is en selfs hulle eie posisies daardeur kan ondermyn. 

Spreuke / Mishlei {21:1} “Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” 

God beskik oor ‘n oppermagtige plan vir elkeen van ons se lewe en die wonderbaarlikste is, dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, hoegenaamd niks buitengewoon in die verloop van ons normale lewe hoef te doen nie, om Sy plan te volbring of ‘n punt in ons lewe te bereik, waar Hy ons wil hê. 

Ons moet eenvoudig ons lewens leef. God sal al die omstandighede beskik en die hart van wie ookal Hy wil, beïnvloed om ons sover te kry om te doen of te wees waar hy ons wil hê. Aangesien God ons met ‘n ewigdurende liefde lief het en sleg die beste vir ons verlang, kan ons Hom vertrou. 

Jeremia / Yirmeyahu {29:11} “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” 

Laat ons dus ophou om oor lewens te kla en slegs vir God toelaat om Sy plan met ons lewens te volbring, tot Sy heerlikheid en ons voordeel. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 23 Desember 2012

Jou Laaste Wense

D’Var Torah 
En Hy Het Gelewe – Vayechi 

1 Petrus / Kefa Aleph 1:1 – 9

Genesis / Bereshit {47:27} “So het Israel dan in Egipteland gewoon, in die land Gosen; en hulle het vaste besittings daarin verwerf en vrugbaar geword en sterk vermeerder. {47:28} En Jakob het sewentien jaar in Egipteland gelewe, sodat die dae van Jakob, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was. {47:29} En toe die dae van Israel nader kom dat hy moes sterwe, het hy sy seun Josef laat roep en vir hom gesê: As ek nou guns in jou oë gevind het, sit dan tog jou hand onder my heup en bewys my liefde en trou—begrawe my tog nie in Egipte nie. {47:30} Wanneer ek met my vaders ontslaap het, bring my dan weg uit Egipte en begrawe my in hulle graf. En hy antwoord: Ek sal handel ooreenkomstig u woord.” 

Dit was vir my nie nodig om veel verder te lees ten einde ‘n baie belangrike beginsel, opgeteken in hierdie week se Parasha, te vind nie. 

Ons lees hier dat toe Jakob ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad het, hy sy gunstelingseun ontbied en aan hom te kenne gegee het die wyse waarop sy begrafnis moes geskied. As onderkoning van Egipte, tweede in beheer naas die farao self, sou Josef die middele en gesag gehad het om sy vader se wense uit te voer. 

Wat is dus die beginsel wat ons hier uit ‘n les kan leer? As ‘n Messiaanse rabbi, is een van my pligte en die minder aangename, om tydens begrafnisse op te tree. Ek onthou nog die geval van ‘n geliefde lidmaat van die gemeente wat gesterf het. Voor sy dood het hy aan my sy begeerte bekendgemaak dat, indien hy sterf ek by sy begrafnis moes optree. Hierdie persoon het hoegenaamd nie ‘n voorgevoel van sy naderende dood gehad nie en het inteendeel toe nog goeie gesondheid geniet. Hy wou my net daarvan bewus maak dat ingeval hy sterf, ek die begrafnis volgens die Messiaans-Joodse gebruik laat geskied. 

Hierdie persoon het familielede gehad wat ek al dikwels ontmoet het. Hy was ongetwyfeld die hoof van sy familie en ‘n besondere agressiewe, charismatiese mens. Hy was egter die enigste Messiaanse gelowige in die familie. Aangesien hy baie jare reeds ‘n gemeentelid was, sou ‘n mens aanvaar het dat hy sy laaste wense met sy familie sou bespreek het. Hy was ook ‘n voorspoedige sakeman, van wie mens sou verwag het dat hy oor ‘n testament beskik het waarin sy begrafnisvoorkeure uiteengesit sou gewees het. 

Toevallig het hy skielik baie siek geword, is kort daarna oorlede en gegaan om by die Here te wees. Ek het vanselfsprekend so gou doenlik met sy familie in verbinding getree om die nodige begrafnisreëlings te tref. Tot my grootste verbasing het geeneen van die familie sy finale wense, soos hy my meegedeel het, uitgevoer nie. Hulle het inteendeel voortgegaan met ‘n Katolieke begrafnis, terwyl hulle my sowel as enige iemand anders in ons gemeente uitgesluit het van enige deelname aan die verrigtinge. Ons het geen beheer gehad oor wat sou plaasvind nie en mede-gemeentelede, wat oor die jare heen hegte verhoudings met hom opgebou het, is nie genooi om lofredes te lewer nie. Toe ek teenoor die familie beswaar aangeteken het, is ek as’t ware opsy gestoot en meegedeel dat geen instruksies aan hulle gegee is of deur hom opgeteken is dat hy ‘n Messiaans-Joodse begrafnis versoek het nie. 

Dit is nou juis die punt. Ons almal gaan eendag sterwe – met die uitsondering van die wegraping, gaan geeneen die planeet lewendig verlaat nie. Jakob het geweet sy dood was op hande en dus het hy seker gemaak dat sy wense oor waar hy begrawe wou word, bekend was. Indien Jakob dit nie met Josef bespreek het nie, is ek oortuig daarvan dat hy, die onderkoning van Egipte, ‘n staatsbegrafnis vir sy vader in Egipte sou gereël het. 

Laat ons ‘n les leer van Jakob en uit hierdie Parasha. Ons tref hier ‘n baie belangrike praktiese voorbeeld aan, wat ons moet oorweeg en ter harte neem. Indien jy nie oor ‘n testament beskik nie, moet jy een (laat) opstel, waarin uitdruklik bepaal word waar en hoe jy begrawe wil word. Aangesien die inhoud van testamente dikwels eers na begrafnisse bekendgemaak word, moet ‘n afskrif van jou begrafnis-instruksie, behoorlik deur getuies onderteken, aan jou trustee(s) of instansie wat jy verkies om jou begrafnis te onderneem, oorhandig word. Moet nie met jou laat gebeur, soos met die persoon hierbo die geval was nie, want dan sal jou familie na goeddenke handel, sonder inagneming van jou geloof en laaste wense. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 22 Desember 2012

Maar as julle Moses geglo het …

D’Var Torah 
En Hy Het Nadergekom – Vayigash 


Genesis / Bereshit {44:31} “sal hy sterwe as hy sien dat die seun daar nie is nie; en u dienaars sal die grys hare van u dienaar, ons vader, met kommer in die doderyk laat afdaal. {44:32} Want u dienaar het die seun deur borgskap van my vader verkry deurdat hy gesê het: As ek hom nie na u bring nie, sal ek lewenslank teenoor my vader skuldig staan. {44:33} Laat u dienaar dan nou tog in die plek van die seun my heer se slaaf bly, en laat die seun saam met sy broers optrek. {44:34} Want hoe kan ek na my vader optrek as die seun nie by my is nie? Mag ek maar net die ellende nie aansien wat my vader sal tref nie!”. 

Beslis ‘n beeld van regstreekse plaasvervanging: Juda bied homself vrywilliglik aan as plaasvervanger vir sy broer Benjamin. Benjamin se oorspronklike naam was Benoni, wat “Seun van my pyn” (so het sy moeder hom met sy geboorte genoem) beteken. Sy het hierdie naam gekies vanweë die pyn wat sy tydens sy geboorte verduur het en uiteindelik haar dood veroorsaak het. Benoni is inderwaarheid ook ‘n beeld van die kinders van Israel, want hulle was ongetwyfeld meeste van die tyd ongehoorsaam, hardnekkig en het ander gode aanbid – dus het hulle hul hemelse Vader veel pyn besorg. Juda, soos ons weet, beteken “Lofpryser van God” en dit is uit die stam van Juda wat Jesus die Messias gekom het. In ons verhaal is Juda ‘n voorstelling van Jesus die Messias. Jakob is ‘n voorstelling van God, die Vader, ten behoewe van wie Juda besig is om op te tree. Egipte, in die Skrif, stel die wêreldgesindheid met sy gepaardgaande dekadensie en materialisme voor. Dus kan ons ‘n betekenisvolle beeld hieruit sien te voorskyn tree. 

Benoni was gevange gehou in Egipte, as straf vir sy sonde (hy is betrap met die onderkoning se drinkbeker in sy sak vol graan). Juda tree na vore en ter wille van sy vader, bied hy homself aan as plaasvervanger vir Benoni: daardeur sou hy vir sy broer instaan, die aanklagte op hóm neem asook die straf wat sy broer opgelê sou word. Ek vertrou werklik dat julle sal kan besef wat ek hier verduidelik aangesien dít die Evangelie is. Ons sien hier in beeldvorm die reddingsplan. Wie beweer dat die Evangelie nie in die Tora voorkom nie? Het Jesus nie gesê: 

Johannes / Yochanan {5:46} “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. {5:47} En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?”. 

Volgens hierdie Skrifgedeelte, kom nie net die Evangelie in die Torah voor nie, maar alles wat daar aangaande Jesus te wete is, word vervat in die woorde van die Tora, soos deur Moses geskryf is; trouens, Jesus is die Lewende Tora. 

Vanweë hulle hardnekkige ongehoorsaamheid, was die kinders van Israel ver van God af. Hulle het dít van die oë, maar nie van die gees nie, nagejaag: wêreldgesindheid, mag en materialisme het hulle verhouding met God verbreek. Hulle was inderdaad “Die Seun van my Pyn” vir God en dit was juis na hierdie mense wat God Sy Seun (vleeswordende God) gestuur het, na die wêreld om húlle sonde op Homself te neem. 

Ons persoonlike situasie was ook hopeloos. Ons was vasgevang deur ‘n wêreldstelsel, wat skoonheid, seks en materialisme nagejaag het, waarvan Egipte tipies was en ons het dit nagevolg en daaraan verslaaf geraak. So het ook ons God se “Seun van my Pyn” geword. As dit nie was dat God iets goeds in ons gesien het nie, sou ons in ons sonde omgekom en die ewigheid in die hopeloosheid van die hel moes deurbring, maar 200 jaar gelede het God Sy Seun, Jesus die Messias, na hierdie wêreld gestuur om ons direkte plaasvervanger te wees. Hy het die straf vir óns sonde op Hom geneem. 

Romeine / Romim {5:6} “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. {5:7} Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe {5:8} maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 08 Desember 2012

God en onmoontlike situasies

D’Var Torah 
Dit het plaasgevind / Miketz 


Genesis / Bereshit {41:14} “Toe laat Farao Josef roep, en hulle het hom gou uit die gevangenis uitgehaal, en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek; en hy het by Farao gekom. {41:15} Toe sê Farao vir Josef: Ek het 'n droom gehad, en daar is niemand wat dit kan uitlê nie; maar ek het van jou hoor verklaar dat jy 'n droom net hoef te hoor om dit uit te lê. {41:16} En Josef het Farao geantwoord en gesê: Niks vir my nie! God sal Farao 'n gunstige antwoord gee.”. 

Ons bevind onsself dikwels in ‘n situasie waarvoor klaarblyklik geen oplossing bestaan nie – ‘n probleem, wat volgens menslike oorweging onmoontlik blyk om ongeskonde daarvan af te kom. Ek is daarvan oortuig dat baie van ons al in soortgelyke situasies verkeer het – hopelose situasies met hoegenaamd geen gunstige vooruitsigte nie. Ek noem dit verloorsituasies, wat slegs erger of selfs onoorkomlik kan word. 

Ek meen dat ons as gelowiges in Jesus die Messias, almal kan terugkyk, voordat ons tot bekering gekom het, en tye in ons lewens onthou waar ons voor situasies, soos hierbo vermeld, te staan gekom het. Noudat ons egter gered is, besef ons dat God selfs in sulke onmoontlike situasies, Sy hand oor ons gehou het. 

In my jongdae het ‘n vriend en ek eendag oor “Cape Cod”-baai, Massachusetts, gaan seil. Ons het vanaf Plymouth na “Cod”-baai gevaar – dit was ‘n pragtige helder sonskyndag met slegs ‘n ligte bries wat die water effens laat dein het. Vol selfvertroue dat alles sou goed gaan en met volle vertroue in my vermoë om te seil asook in die boot wat ek besit het, het ons die vaart aangepak. Halfpad oor die baai – op ‘n punt wat ek sou dink, ons nie kan omdraai nie, het die wind egter begin waai. Aanvanklik het dit my bemoedig omdat dit ons vinniger laat seil het, maar binne minute het die wind stormagtig begin raak. Die baai het verander van ‘n deining na ‘n ontstuimige see met gepaardgaande stortende reën. Ongelukkig het ek die betrokke oggend, vóór ons vertrek, nie na die weervoorspelling geluister nie en eers heelwat later besef dat ‘n tropiese storm vanuit die suide opbeweeg en die hele gebied met erge wind en reën geteister het. Water was besig om in ons boot in te stroom en omdat die kuslyn heeltemal onsigbaar geraak het, was ek bevrees dat ons van koers af gewaai en in die ope see sou beland, waar die omstandighede selfs erger sou wees. Ons het met alle mag probeer om verder te seil sonder om te weet waar ons was of hoe ver ons was om veiligheid te bereik. Die boot het boonop dikwels gedreig om om te slaan. In die verte het ons later ‘n kuswagboot gewaar maar elke poging om aandag te trek, het misluk – ons het gevoel asof ons oorgelaat is om te sterf. Hoe ons egter daarin geslaag het om eindelik die oorkantste oewer te bereik, kan ek nie verklaar nie. Wanneer ‘n mens hieroor terugdink, besef ek net dat God ons gered het. Hy het nog ‘n plan (redding) vir my lewe gehad en dit was bloot nog nie my tyd om te sterf nie. God alleen kan ons uit onmoontlike situasies red en net so kon slegs Hy bereik wat Hy met Josef gedoen het. Geen omstandighede kon méér hopeloos en ontmoedigend as syne gewees het nie – verlate in die gevangenis, met geen kans op parool nie, vergete deur diegene aan wie hy hulp verleen het, sonder vriend of familie. Nogtans, uit die bloute en op één dag het God alles in Josef se lewe verander. 

Genesis / Bereshit {41:37} “En die woord was goed in die oë van Farao en van al sy dienaars. {41:38} Daarop het Farao aan sy dienaars gesê: Kan ons wel iemand vind soos hierdie man in wie die Gees van God is? {41:39} En Farao sê vir Josef: Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand verstandig en wys soos jy nie. {41:40} Jy moet oor my huis wees, en na jou bevel moet my hele volk hulle skik; alleen deur die troon sal ek groter wees as jy. {41:41} Verder het Farao vir Josef gesê: Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipteland. {41:42} Toe trek Farao sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Josef; en hy het hom fyn linneklere laat aantrek en die goue ketting om sy hals gehang {41:43} en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel. {41:44} En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.”. 

Ek weet nie wat julle omstandighede vandag is nie, maar ek is oortuig daarvan dat dit nie hopeloos is nie. God is by magte om dÍt wat menslik onmoontlik skyn te wees, om te keer sodat dit tot julle voordeel en Sy eer kan strek. Julle moet net in Hom glo, Hom vertrou en volhard in die geloof. Wat Hy vir Josef gedoen het, kan en wil Hy ook vir julle doen.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 01 Desember 2012

Afgunstig op verrotting van die gebeente

D’Var Torah 
En hy het geleef / Vayeshev




Genesis / Bereshit {37:8} “ Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? Of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. {37:9} Daarna het hy nog 'n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog 'n droom gehad-die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. {37:10} Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig? {37:11} En sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.”. 

Genesis / Bereshit {37:17} “Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind. {37:18} En hulle het hom van ver af gesien. Maar voordat hy naby hulle kom, het hulle listig raad gehou teen hom om hom dood te maak. {37:19} En hulle het vir mekaar gesê: Daar kom daardie dromer aan! {37:20} Kom dan nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en sê: 'n Wilde dier het hom opgeëet. Dan sal ons sien wat van sy drome word.” 

Afguns is ‘n lokval wat ons van ons vergenoegdheid beroof. 

Filippense / Pilifim {4:11} “Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.”. 

Skynbaar is afguns ‘n dryfkrag in die lewens van baie mense. Dit dryf hulle om mededingend, hardwerkend en suksesvol te wees – ‘n mens sou dus verwag dat so ’n motivering “iets goeds” sou wees. Dit is egter glad nie die geval nie, omdat, soos ons uit ons Skrifgedeelte sal sien, afguns tot wrok en dÍt tot teenspoed kan lei, soos in die geval van Josef. 

Wat lê aan die kern van afguns? Dit is die mening dat ons beter verdien as dit waaroor ons reeds beskik. In Matthéüs (Mattityahu) hoofstuk 20 verse 1 – 16 (lees dit asseblief in julle Bybels) gebruik Jesus ‘n gelykenis betreffende afguns en hierdeur verduidelik Hy God se standpunt daarteenoor. Het julle begryp waaroor die werkers so kwaad was? Hulle het dit as onregverdig beskou dat mense, wat korter ure as hulle gewerk, dieselfde loon as hulle ontvang het. Dit het nie vir hulle saak gemaak dat hulle ontvang het waartoe hulle saamgestem het nie en dit inderwaarheid die grondeienaar se geld was om mee te doen soos wat hy goedgedink het. Hulle was van mening dat hulle méér verdien het aangesien die ander werkers korter ure as húlle gewerk het. Hulle was dus afgunstig. 

Waarop ek graag wil wys, is dit: wanneer ons afgunstig voel, besef ons dit dikwels nie. Ons meen dat ons dit verdien en gevolglik is wat ons ookal moet doen om dit te verdien, in ‘n sekere opsig geregtig – of dit nou ookal uitloop op die vernietiging van vriendskap, ons werk of ons families. Alles net omdat dit regverdig is dat ons ontvang wat óns meen, ons verdien. 

Spreuke / Mishlei {14:30} “n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog 'n verrotting vir die gebeente.”. 

Indien julle nie vergenoegd is nie, is dit beslis ‘n teken van afguns. Moontlik is julle nie afgunstig op dit wat ‘n buurman of vriend besit, of op iets wat julle in ‘n winkel of op ,n advertensie op televisie gesien of oor die radio gehoor het nie. Adverteerders is mees suksesvol indien hulle by ‘n mens ontevredenheid met dit wat jy besit of ‘n besondere begeerte om meer te hê as wat jy het, kan skep. Eweneens is hulle mees geslaagd wanneer hulle daarin geslaag het om ‘n mens te oortuig dat dit wat jy het, onvoldoende is. Hoe dit ookal is, as julle nie tevrede is met dit wat julle het of wie julle is of wáár julle is of wat julle doen nie, swelg julle in die sonde van afguns en die eindresultaat van afguns gaan altyd lei to onvergenoegdheid en eerlank sal julle van julle geluk beroof wees. Julle sal altyd méér as wat julle het, begeer – julle sal nooit vergenoegd wees nie. 

Hóé vergenoegd is julle? Hoe dankbaar is julle vir julle werk, julle werkgewers, julle huis, julle gesin, julle lewe? Indien julle nou sê “Ja, ek is dankbaar vir my huis … MAAR ….”, of vir my man / vrou … MAAR …, dan ly julle ongetwyfeld aan ‘n afgunsprobleem wat heel moontlik op rampspoedige gevolge gevolge kan uitloop. 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou