Saterdag 11 April 2009

Lewe in - of sonder die Teenwoordigheid van God

Paasfees of Pasge / Pesach | Afrikaans skakel | English link |

11 April 2009 / Nisan 17th 5769

Eksodus / Shemot 33:12-34:26
Numeri / BaMidbar 28:19-25
Eségiël / Yechezekiel 36:37-37:14
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:6-8

Eksodus {33:14} "En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? {33:15} Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. {33:16} Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is."

Moses het die invloed van God se teenwoordigheid op die lewens van die kinders van Israel terdeë besef. Daarsonder sou hulle wees soos al die ander volkere op aarde. Moses het inderdaad ondervind hoe dit was om onder ander nasies te leef, waar die teenwoordigheid van God ontbreek het. Hy het in Egipte en Midian gewoon en dit gevolglik eerstehands beleef waaroor dit by afgodsdienstige nasies gaan. Nou, na sy ervaring by die brandende doringbos op die bergtop, wou hy nooit weer terugkeer na waar hy sonder God se teenwoordigheid sou wees nie. Dit is dus verstaanbaar waarom Moses so verbind was aan God en so passievol was oor die verhouding wat hy met Hom gehad het, dat hy hoegenaamd nie bereid was om êrens heen te gaan as die teenwoordigheid van God nie saam met hom gegaan het nie. Onthou julle die rede wat hy aangevoer het vir God se teenwoordigheid by die kinders van Israel? "So sal ons, ek en U volk, onderskeie wees van elke volk wat op aarde is.".

Moses het geweet dat die teenwoordigheid van God in mense se lewens, hulle anders gemaak het; inderdaad so verskillend, dat dit hulle anders as enige ander volk op aarde sou maak.

Wat beteken dit dus om in die teenwoordigheid van God te leef? Wanneer ons in Sy teenwoordigheid is, word Hy ons passie, ons fokuspunt. Daar is krag in God se teenwoordigheid. Die kinders van Israel sou dus geen ander volk hoef te vrees nie omdat, solank hulle in die teenwoordigheid van God was, niemand hulle sou kon verslaan nie. Daar is geen vrees in Sy teenwoordigheid nie, maar wel berou, vergifnis en verandering van karakter. Daar is ook waarheid, leiding, onderrig, profetiese openbaring, berusting en volkome vrede in God se teenwoordigheid. Dit was geen wonder dat Moses nie sonder die teenwoordigheid van God wou wees nie. Sou jy?

Op hierdie Sabat vier ons die eerste oorgang (of tussenkomende) dag van Paasfees. Vir ons gaan dit alles om die dood en opstanding van Jesus, die Messias. Elke element van die Paas-seremonie, beskrywe op een - of - ander wyse wat ons Messias vir ons gedoen het. Waarom moes die Messias aarde toe kom en sterf? Hy móés kom en sterf sodat ons gered kan word, maar ook om die volgende rede:

Johannes / Yochanan {16:7}"Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; "

Vóór Jesus die Messias - God wat in die vlees na die aarde gekom het in menslike vorm - was die kinders van Israel sonder 'n profeet, selfs sonder die teenwoordigheid van God; Sy teenwoordigheid het van die tempel uitgegaan, soos deur die profeet, Esegiël, beskrywe in hoofstukke 10 en 11 van sy boek. Uiteindelik, na meer as vierhonderd jaar, het die Messias gekom en was die kinders van Israel weereens in die teenwoordigheid van God.

Jesus was egter op die punt om te vertrek. Hy moes Sy plek in die hemel inneem sodat Hy 'n belangrike deel in ons en die wêreld se verlossingsproses kon volbring, maar dié keer sou God ons nie sonder Sy teenwoordigheid laat nie. Hy sou die Heilige Gees stuur om met ons te wees.

Johannes / Yochanan {14:16} "En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid"

Almal wat in Jesus die Messias glo, het die teenwoordigheid van God binne in hulle, "...So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.". Kan julle waarlik sê dat julle 'n volkome ander lewe lei?

Congregation Melech Yisrael all rights reserved

Saterdag 04 April 2009

Die Roeping van Bediening

Opdrag / Tzav | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

4 April 2009 / Nisan 10th 5769

Levitikus / VaYikra 6:1-8:36

Maléagi / Mal'achi 3:4-24

Hebreërs / Ivrim 9:11-28

Levitikus / Vayikra {6:8} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {6:9} Gee bevel aan Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die brandoffer: Dit, die brandoffer, moet op sy vuurherd op die altaar die hele nag lank tot die môre toe bly, en die altaarvuur moet daardeur aan die brand gehou word. {6:10} En die priester moet sy linnekleed aantrek, en die linnebroek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as wegneem waartoe die vuur die brandoffer op die altaar verteer het, en dit langs die altaar uitgooi. {6:11} Daarna moet hy sy klere uittrek en ander klere aantrek, en die as buitekant die laer op ‘n rein plek uitbring. {6:12} En die vuur op die altaar moet daardeur aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie; maar die priester moet elke môre daaroor hout aan die brand steek en die brandoffer daaroor reglê en die stukke vet van die dankoffers daaroor aan die brand steek. {6:13} Vuur moet gedurigdeur op die altaar aan die brand gehou word; dit mag nie doodgaan nie. “

Soos ons voortgaan om hierdie week se oordenking te lees, verstrek dit eintlik - tenminste volgens my mening - 'n volledige taakbeskrywing vir die priesters. Dit is werklik nogal 'n omvangryke taak!

Meeste mense huldig die onbaatsugtige siening dat die bediening 'n voltydse beroep is. Hulle dink daar is iets besonders en uniek daaraan om in die Here se diens te staan. Inteendeel - dit is inderdaad werk, soos ons in vandeesweek se oordenking sal sien; trouens, soveel werk dat God seker gemaak het dat die priesters vir hul werk van 'n vergoeding gewaarborg sou wees.

Levitikus / Vayikra {7:7} “Soos die sondoffer, so die skuldoffer; een wet geld vir hulle die priester wat daardeur versoening doen, aan hom kom dit toe.”

Hier word ons vertel dat die priester die vel van die sondoffer kon hou. Dit kon gelooi en gebruik word vir die maak van wynsakke, sandale, gordels asook ander leerprodukte, wat hulle kon aantrek, gebruik of verkoop. Soos verder uit die oordenking blyk, het die priester 'n gedeelte van die offerandes as voedsel vir hom en sy gesin ontvang. Die half-sikkel-tempelbelasting is ook gebruik om die priesters te onderhou. Ja, God het voorsiening gemaak dat priesters vir hul arbeid vergoed is, maar, soos in die geval van die res van die wêreld, moes hulle werk daarvoor en hard het hulle beslis gewerk!

Baie gelowiges - wanneer hulle met hul werkgewer of werkomstandighede ontevrede raak, of die trekpas kry of afgelê word of bedank, voel hulself skielik geroepe tot die bediening as voltydse werk. Daar is egter niks verkeerd daarmee om vir die Here te werk nie; Trouens, dit is bewonderingswaardig. Die probleem is egter, dat hierdie mense onder die wanindruk verkeer dat die bediening nie harde werk is nie. Hulle dink dit is miskien minder frustrerend en veroorsaak minder stres as om in die sekulêre wêreld te moet oorleef.Wel, indien hierdie week se oordenking dit nie duidelik uitspel nie, laat my toe om my geringe bydrae uit eie ondervinding, by te voeg.

Ek was 'n algemene kontrakteur voordat ek vir die Here begin werk het. Toe ek die roeping tot die bediening ontvang het, was my kontrakteursonderneming baie voorspoedig en het ek uit my werk tevredenheid geput. Ek was dus nie gefrustreerd, ontevrede of sat daarvoor om in 'n sekulêre omgewing te werk nie; trouens, ek kon my onderneming suksesvol bedryf en boonop twee tot drie aande per week my diens vrywillig aan die gemeente wy. Boonop was ek 'n ouderling en raadslid, wat die bywoning van vergaderings en deelname aan soms uiters moelike besluitnemings vereis het. Daarbenewens het ek elke diens, spesiale diens, Bybelstudie en meeste gebedsbyeenkomste bygewoon.

Ek noem dit nie om bewonder te word nie! Ek deel dit met julle omdat, ten spyte van alles wat ek reeds besig was om vir die Here te doen, ek nie voorbereid was vir dit wat op my gewag het toe ek Rabbi en leier van 'n gemeente geword het nie. Die werk wat ek nou doen, die tyd en inspanning wat dit vereis en wat ek wy aan die behartiging van die gemeente, die bloedsweet wat dit verg om te help, voorbidding te doen, berading, besoeke en selfs om net vir die gemeentelede beskikbaar te wees; studies, gebedsbyeenkomste, onderrig en sosiale gemeente aktiwiteite; raadsvergaderings en afhandeling van al die administratiewe take wat aandag vereis, oortref by verre enige werk wat ek in my hele lewe moes verrig.

Moenie my verkeerd verstaan nie; ek kla nie. Ek geniet wat ek doen en sou niks daaraan wou verander nie, solank dit die Here behaag, maar ek dink diens in die bediening behels WERK, en harde werk daarby. Boonop is God jou Werkgewer: Hy verwag ons allerbeste vir Hom!

Die priesters moes werk en is vergoed daarvoor. Dus moet ons nooit aan die bediening as 'n beroep dink wat nie harde werk vereis nie. Onthou, diegene in beroepsbediening is ook arbeiders, wat julle loon waardig is.

Noudat ek dit van my bors afgekry het, wil ek julle daaraan herhinner dat, in werklikheid, elke gelowige in Jesus die Messias, hom-/haarself moet beskou as in die voltydse bediening van God, ongeag wat sy / haar sekulêre werk is.

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved