Donderdag 16 Oktober 2014

Israel toe!

Shalom Vriende!

Rabbi Ya'acov Farber en sy vrou Ellen is tans besig om hulle te vestig in Israel. Ons is nie seker wanneer Rabbi die parashot sal hervat nie - ons hoop gou!

Ons wens hulle net die beste toe en bid vir ons Vader se leiding!

Liefde en seëninge!

Weeklikse Oordenkings

Sondag 05 Oktober 2014

Wie is in Beheer?

D’Var Torah
In die Begin – Bereshit


Genesis / Bereshit {2:4-2:17} “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, {2:5} was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. {2:6} Maar ‘n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. {2:7} En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. {2:8} Ook het die HERE God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. {2:9} En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad. {2:10} En daar het ‘n rivier uit Eden uitgegaan om die tuin nat te maak; en daarvandaan is dit verdeel en het vier lope geword. {2:11} Die naam van die eerste is die Pison. Dit is hy wat om die hele land Háwila loop waar die goud is. {2:12} En die goud van dié land is goed. Daar is ook balsemgom en onikssteen. {2:13} En die naam van die tweede rivier is die Gihon. Dit is hy wat om die hele land Kus loop. {2:14} En die naam van die derde rivier is die Hiddékel. Dit is hy wat oos van Assur loop. En die vierde rivier is die Frat. {2:15} Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak. {2:16} En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, {2:17} maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”

‘n Kenmerkende negatiewe eienskap van die gevalle en onwedergebore mens is dat hy altyd in beheer wil wees. Nou, ter inligting van diegene wat nie bewus is waarna ek verwys wanneer ek van die gevalle en onwedergebore mens praat nie, verduidelik ek dit graag. In die tuin (Gan) van Eden was Adam geheel-en-al van God afhanklik. Dit was geensins vir hom nodig om te boer, onkruid uit te trek, homself te bekommer oor waar hy sou woon of wat hy moes eet nie omdat God alles aan hom voorsien het. Die mens was oënskynlik egter nie tevrede om van God afhanklik te wees nie en deur die verleiding van die satan, het hy gesondig; so het hy sy onafhanklikheid en selfstandigheid probeer bewerkstellig deur teen God in opstand te kom.

Dit is presies wat ek met gevalle mens bedoel. Hy het gevolglik sy afhanklikheid van God prysgegee en in ‘n bestaan wat deur sonde en selfvertroue oorheers word, verval. God het egter geweet dat die mens Hom sou verwerp en ‘n plan bedink, naamlik om ‘n Verlosser te voorsien om die mens uit sy gevalle toestand te red.

Die Verlosser sou die Messias (Mashiach) wees wat sou kom en die straf vir die sonde betaal - Hόm ken ons nou as Jesus die Messias. Jesus het gekom om die mens te vernuwe en laat terugkeer tot ‘n bestaan waar hy weereens uit vrye wil geheel-en-al van God afhanklik sou wees. Nie elkeen is egter bereid om te aanvaar wat die Messias vir hulle kom doen het nie en het dus God se verlossingsplan verwerp – hierdie mense is onwedergebore!

Stem julle nie saam dat deur Adam se toedoen was nie? Hoeveel van ons sou nie ook graag in sy posisie van sorgvryheid of kommerloosheid in die wêreld wou wees nie? Wanneer ons honger was, sou ons eenvoudig kon pluk en eet; as dit ons sou vermoei, dan kon ons gaan lê en slaap. Ons sou kon rondkyk en al wat sigbaar sou wees, sou skoonheid, kalmte en harmonie gewees het. Dit is egter slegs iets waarvan ons vandag in feëverhale sien of hoor.

Het julle al ooit daarvan gedroom om net te ontvlug na ‘n verlate tropiese eiland om te lewe in die son, see en van vrugte? Dit is presies wat Adam wou gehad het maar hy was ontevrede. Waarom? Omdat hy nie in beheer was nie! Hy wou sy eie lewe beheer. Deur afhanklik te wees van iemand – selfs indien dit, soos in hierdie geval, God was – was vir hom onbevredigend.

‘n Mens sou egter dink dat, wanneer mense ten ene male deur Jesus die Messias gered en hulle siele wedergebore is, hulle dit nie moeilik sou vind om hulle lewens aan God toe te vertrou en Hom toe te laat om geheel en al in beheer te wees nie, maar ongelukkig is dit nie die geval nie!

Dit is een van die moeilikste dinge vir mense om te doen- selfs dié wat gered is (sowel gelowiges in Jesus die Messias as dié wat hernuwe is deur die Heilige Gees (Ruach HaKodesh). Dit is moelik om die beheer van ons lewens aan God af te staan. Ons almal probeer desperaat om aan daardie laaste strooi van ons menslike karakter vas te hou; ons wíl steeds in beheer wees.

Dwarsdeur die Bybelse geskiedenis verneem ons van die kinders van Israel se opstandigheid teen God. Waarom was daar al hierdie opstand? Omdat hulle hul eie dinge op hulle eie wyse wou doen! Dit is ‘n feit dat julle en ek hoegenaamd nie van hulle verskil nie!

Ons raak angsbevange wanneer ons nie in beheer is nie. Dit bekommer ons wanneer ons nie ‘n probleem kan oplos nie en ondertussen beveel God ons om maar net te laat gaan en Hom toe te laat om alles vir ons uit te werk.

Die kinders van Israel het alles verknoei en netso ook hulle lewens; vanweë hulle begeerte om in beheer te wees, het hulle daaronder gely en ly, trouens, tot vandag toe steeds daaronder. Julle sal ook onder die gevolge ly om altyd in beheer te probeer wees. Op grond waarvan reken julle dat julle enigsins sou verskil in julle verhouding tot God as wat die geval met Adam en die kinders van Israel was?

Genesis / Bereshit {3:17} “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. {3:18} Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. {3:19} In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”

Hou dít in gedagte: God beskik oor Sy wyse om aan julle te bewys dat julle nie in beheer is nie! Hy sal julle in ‘n omstandigheid plaas wat dit vir julle onmoontlik mag blyk om daaruit te kom. Hy sal ‘n tragedie oor julle lewe laat kom – moontlik insluitend siekte of (mag God dit verhoed) dood van ‘n geliefde en Hy sal dit alles toelaat om aan julle te bewys dat julle geensins in beheer is nie.

Wat sal julle doen wanneer iets ongunstug julle tref? Sal julle eerstens teen God rebelleer en Hom blameer vir al julle teëspoed? Sal julle dit aan die noodlot of “goed wat gebeur” of slegte gene of blote toeval toeskryf? Of sal julle dit erken as ‘n teken van God dat julle dinge hul gang moet laat gaan, dat julle hoegenaamd nie in beheer is nie en Hom moet toelaat om oor te neem?

Die kinders van Israel het egter nog nie hulle les geleer nie; trouens, selfs die groot slagting (“holocaust”) het hulle nie beweeg om hulle beheer af te staan nie. Nou vra ek julle: Wat moet God julle nog aandoen alvorens julle daarvan sal afsien? Dink daaroor!!

Matthéϋs / Mattityahu {6:25-6:34} “Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? {6:26} Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? {6:27} Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? {6:28} En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; {6:29} en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. {6:30} As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? {6:31} Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? {6:32} Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. {6:33} Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. {6:34} Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 22 September 2014

Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) – Ons Versoening

D’Var Torah
Dag van versoening / Yom Kippur


Levitikus / Vayikra {16:1} “En die HERE het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die HERE nader gekom het; {16:2}  en die HERE het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel. ”.

Indien julle die hele Skrifgedeelte vir hierdie week gelees het, dan besef julle dat na die dood van Nadab en Abihu, Aäron (Aharon) se twee seuns, God vir Aäron begin onderrig het aangaande die Yom Kippur-protokol. Dit is vir my insiggewend dat God juis dié tyd na die dood van Aäron se twee seuns gekies het om hom te onderrig oor Yom Kippur. Het dit moontlik betrekking op die twee sterfgevalle gehad? Soos ons bewus is, het albei gesterf weens hulle opstandigheid teen die opdragte van God. Hulle het ‘n sonde gepleeg wat tot hulle dood gelei het. Die werklikheid is dat ons ook deurentyd sondig – selfs diegene van ons wat deur die bloed van Jesus die Messias gered is. Behoort ons dan nie ook te sterf nie? Die Skrif leer ons tog immers:

Eségiël / Yehezqel {18:4} “Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun—hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe. ”.

God verwys nie hier na spirituele dood nie – Hy verwys na ‘n werklike fisiese dood. Sonde lei tot die dood, al is dit selfs ‘n voortydige dood. Aangesien elkeen egter sterwe, moet ons onthou dat die dood deur die sonde van één mens, Adam, in die wêreld ontstaan het en dus is natuurlike dood die gevolg van sonde. Sonde veroorsaak die dood!

Waarom dus die onderrig oor die versoeningsonderwerp van Yom Kippur juis na die sonde en dood van Aäron se twee seuns? Die rede is dat hulle vanweë hulle sonde gesterf het en Yom Kippur handel dus in geheel oor alles betreffende versoening vir sonde; trouens, die moderne Engelse vertaling vir Yom Kippur is “Dag van Versoening”.

In hierdie parasha oor Yom Kippur, bewys God aan ons hoe ernstig Hy sonde beskou. Opstandigheid teen God se Woord mag dus hoegenaamd nie ligtelik geag word nie. Nadab en Abihu is nie eers die geleentheid gegun om berou te betoon vir die besondere sonde wat hulle dood veroorsaak het nie – hulle het gesondig en het gesterf, Daar bestaan natuurlik altyd die moontlikheid dat ook ons nie die geleentheid gegun mag word om berou te betoon vir die sonde wat moontlik die oorsaak van ons dood kon gewees het nie. In die lig daarvan, is Yom Kippur ingestel en dié besef asook onderhouding daarvan is dus van die uiterste belang.

In ons parasha onderrig God Aäron verder oor optrede ten opsigte van die korporatiewe sonde van die kinders van Israel. Aanvanklik het dit begin met sy optrede ingeval van sy eie sonde en dié van sy familie. Waarom het God Aäron opdrag gegee om eerste met sy eie sonde asook die die sonde van sy huishouding te handel? Myns insiens was dit omdat Aäron reeds bewus was van die opstandige aard van sy twee oudste seuns wat uiteindelik hulle dood voorafgegaan het! Dit was natuurlik nie die eerste keer in die Skrif dat hulle opstandige aard geblyk het nie – hulle dood was die finale rede in die oë van God. Ek is oortuig daarvan dat hulle vóór hierdie finale oordeel wel die geleentheid gegun was om hulle van hul bose weë te bekeer, ofskoon ons in die Skrif nie daarvan verneem nie.

Die hoofsaak is dat Yom Kippur handel oor reiniging van sonde wat tot die dood lei en aangesien ons almal sondig, móét ons besef dat die Yom Kippur – versoening, allerbelangrik is.

Vervolgens laat ek dit deur die apostel Paulus (Shaleach Shaul) aan die hand van die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) aan julle verduidelik:

Romeine / Romim {5:11} “en ook: Loof die Here, alle nasies, en prys Hom, alle volke. {15:12}  En Jesaja sê ook: Die wortel van Isai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. {15:13}  En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! {15:14}  Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan. {15:15}  Tog het ek ten dele taamlik gewaag om aan julle te skrywe, broeders, as een wat julle herinner, kragtens die genade wat my deur God gegee is {15:16}  om ‘n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees. {15:17}  Ek het dan rede om te roem in Christus Jesus, in die dinge aangaande God. {15:18}  Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat Christus nie deur my gewerk het nie om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad, {15:19}  deur die krag van tekens en wonders, deur die krag van die Gees van God, sodat ek die evangelieverkondiging van Christus volbring het van Jerusalem af en rondom tot by Illírikum; {15:20}  maar só, dat ek my eer daarin gestel het om die evangelie te verkondig, nie waar Christus alreeds bekend was nie om nie op die fondament van ‘n ander te bou nie {15:21}  maar soos geskrywe is: Hulle aan wie niks van Hom vertel is nie, sal dit sien; en hulle wat nie gehoor het nie, sal dit verstaan.”.

Daarbenewens ook:

Hebreërs / Ivrim {9:7} “maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan— {9:8}  waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie. {9:9}  Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, {9:10}  omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling. {9:11}  Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, {9:12}  ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. {9:13}  Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, {9:14}  hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.”.

Ek vertrou dat julle op grond van hierdie Skrifgedeeltes en my voorafgaande kommentaar, nou begryp dat Yom Kippur geheel-en-al betrekking het op die versoenende dood van Jesus die Messias.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 15 September 2014

God beheer die skepping

D’Var Torah
Gee om te eet / Ha’azinu

Tora: Deuteronomium / Devarim
In parasha Nitzavim het Moses, ons leermeester (Moshe Rabeinu), die hemel en aarde tot getuie geroep teen die kinders van Israel (bnei Yisrael):

Deuteronomium / Devarim {30:19} “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, ”.

Nou – hier in parasha Ha’azinu, reik Moses aan die hemel en die aarde hulle instruksies uit. Dit is ‘n professie, maar wat hy gespreek het, was in so ‘n mate seker om te gebeur, dat hy trouens, daarna verwys het asof dit wel reeds plaasgevind het.

Deuteronomium / Devarim {32:1} “Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante.”.

Welke instruksies het Moses aan die hemel en aarde uitgereik? Uit die verband van hierdie parasha, word daardie vraag vir ons beantwoord: wanneer die kinders van Israel aan God getrou was, het die hemel reën tydens die betrokke seisoene gegee en andersins sonskyn op die regte tye. Gevolglik het die aarde sy opbrengs gelewer en die kinders van Israel voorspoed geniet.

Deuteronomium / Devarim {32:13} “Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots; {32:14}  dikmelk van beeste en melk van kleinvee, met die vet van lammers en ramme; stiere van Basan en bokke, met die niervet van koring; en druiwebloed het jy gedrink, skuimende wyn.”.

Soos Moses dit egter stel, het die kinders van Israel vet geword:

Deuteronomium / Devarim {32:15} “Toe het Jesúrun vet geword en agterop geskop—jy het vet geword, dik geword, spekvet geword—en hy het God verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy heil geminag. {32:16}  Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. ”.

Wat was dus die gevolg van hulle wat vet geword en hulle rug gekeer het op God wat hulle uit die land Egipte (Mitzrayim) uitgelei en in die Beloofde Land ingelei het?

Deuteronomium / Devarim {32:22} “Want ‘n vuur is aangesteek in my toorn en het gebrand tot in die doderyk daaronder, en dit het die aarde met sy opbrings verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek. {32:23}  Ek sal onheile op hulle ophoop; my pyle sal Ek op hulle wegskiet.
{32:24} As hulle uitgeput is van honger en verteer deur koorsgloed en dodelike siekte, sal Ek die tand van wilde diere teen hulle loslaat met die gif van stofkruipers.”.

Hy sou ‘n oordeel oor hulle laat kom. Dit is ‘n belangrike les vir ons om te leer uit parasha Ha’azinu. Soos wat ek al so dikwels in die verlede gesê het, “die wyse waarop God met Israel in Bybelse tye gehandel het, is presies dieselfde waarop hy vandag met ons handel!”

God is die God van sowel die hemel as die aarde: beide is Sy gebied van heerskappy en besitting – daarom reageer hulle op Sy bevele. Die Skrif leer ons:

Psalms / Tehillim {24:1} “‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; ”.

Alles in die skepping behoort aan God en reageer op Hom! Ons is nie in beheer nie! Waak daarteen dat die ekonome julle mislei! Moenie finansiële vooruitskatters glo nie – hulle is hoegenaamd nie in beheer nie; trouens, hulle is wat God valse profete sou noem. God is in beheer van elke aspek van Sy skepping en dit reageer uitsluitlik volgens Sy wil.

Sou julle graag die geheim wou weet van ‘n voorspoedige lewe – sowel geestelik as fisies? Hier volg dit:

“Luister o Israel.
God is julle God, God is enig.
En julle moet die Here julle God liefhê, met julle hele hart,
Julle hele siel en al julle kragte.
En julle moet julle naaste liefhê soos julleself.”

Dien en prys die Here met alles wat julle besit en Hy sal julle voorspoedig maak. Dien daarenteen voorspoed en dit sal onheil en vernietiging oor julle bring. Dít is die les van parasha Ha’azinu.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 02 September 2014

Navolging van die mens in plaas van God

D’Var Torah
Wanneer julle gekom het / Ki Tavo

Brit Chadashah: Lukas / Uri 23:26 – 56

Deuteronomium / Devarim {29:2} “En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3}  die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4}  Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5}  En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet. {29:6}  Brood het julle nie geëet en wyn en sterk drank nie gedrink nie, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. {29:7}  En toe julle by hierdie plek kom, het Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, uitgetrek ons tegemoet om te veg, maar ons het hulle verslaan {29:8}  en hulle land ingeneem en dit as erfenis gegee aan die Rubeniete en Gadiete en aan die halwe stam van die Manassiete. {29:9}  Onderhou dan die woorde van hierdie verbond en volbring dit, sodat julle voorspoedig kan uitvoer alles wat julle doen. ”.

Ek kan bykans die frustrasie in Moses se stem hoor toe hy hierdie woorde tot die kinders van Israel gerig het. Was hy ooit kwaad vir hulle! Na alles wat God vir hulle gedoen het tot op hierdie tydstip, het hulle nogtans nie ‘n benul gehad van wat aangaan nie. God het aan hulle Sy genade betoon en Sy Gees oor hulle uitgestort. Hulle het die vermoë gehad om te sien, hoor en verstaan wie God was, wat Hy besig was om te doen en wat Hy van hulle verwag het, maar hulle hart was nie by God nie en daarom kon hulle nie sien nie. Hulle was ‘n volk gevul met dade maar geen Gees nie. Hulle houding skyn te gewees “Vergeet wat God gister vir ons gedoen het en wat God vandag vir ons doen”, en Moses het dit besef. Om dié rede het hy dit nodig geag om die kinders van Israel te herhinner aan alles wat God reeds vir hulle gedoen het.

Dit was hoegenaamd nie Moses se skuld dat die mense ‘n gebrek aan waardering teenoor God getoon het nie; trouens, Moses het sy uiterste bes probeer om hulle te onderrig. Daar was geen beter leier en leermeester as Moses nie. Die probleem het by sy “student” gelê. Uit die dialoog, kry ek die indruk dat die kinders van Israel bloot op Moses gesteun het. Moontlik het hulle slegs voorgegee dat hulle in die gebooie van God belangstel, terwyl hulle in werklikheid eintlik slegs die mens gevolg en die land wou binnegaan om hulleself daar te vestig, onder die valse indruk dat hulle dan ‘n normale bestaan sou kon voer.

Toe ek die boek Josua gelees en gelet het op die verhouding van die kinders van Israel tot hom as hulle leier, het ek besef dat net soos in die geval met Moses, was dit ook die geval met Josua. Soos in die geval van Moses, het die kinders van Israel ook slegs op Josua gesteun. Ons sien die bewys daarvan in soverre dat sodra die kinders van Israel ontvang wat hulle wou gehad het, (hulle erfenis van die land) en na die dood van Josua, die ontbloting van die werklike voorneme van hulle harte: hulle het van God afgedwaal, aldus die boek Rigters:

Rigters / Shoftim {21:25} “In dié dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg was in sy oë. ”.

Ongelukkig is die gebeure tussen Moses en sy gemeente van dwalers nie veel anders as wat vandag nog in gemeentes plaasvind nie. Die Rabbi onderrig en preek maar dit val grotendeels  op dowe ore in die gemeentes. Hulle is vol lof vir die preke, maar hulle lewens reflekteer nie wat deur die preke geleer word nie: hulle verander glad nie. Hulle woon Bybelstudie by, maar hulle ken of beoefen geensins die teologie wat geleer word nie. Hulle sit weekliks in die heiligdom, maar daar is geen bewys van ‘n veranderde lewe nie. Al is hulle siende tog sien hulle nie en horende, maar hoor nie! Ek reken dat hierdie mense – soos die kinders van Israel, besig is om die mens te volg en nie die God, wat deur die mens verteenwoordig word nie. Moses het dit besef; hulle kon hom nie fnuik nie en daarom het hy die volgende gesê:

Deuteronomium / Devarim {31:29} “Want ek weet dat julle ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die HERE om Hom deur die werk van julle hande te terg. {31:30}  Toe het Moses voor die ore van die hel”.

Van hoeveel gemeentes is julle bewus, wat doodgeloop het omdat die leier oorlede is, weggegaan of in sonde veral het? Waarom sou so’n iets moes gebeur het? Sou julle nie meen dat dat die gemeente volwasse genoeg was in hulle geloof in die God wat hulle dien nie, om ‘n grondige leerstellige verhouding met die Here voort te sit nie, met of sonder hulle leier? Ja, hulle behoort dit te kon doen! Veral indien die leier hulle aan ‘n grondige teologiese onderrig onderwerp het. Die probleem is egter dat meeste gemeentes net soos die kinders van Israel is:

Eksodus / Shemot {20:18} “En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan. {20:19}  En hulle het vir Moses gesê: Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.”.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 18 Augustus 2014

Die Toralose een!

D’Var Torah
Regters / Shoftim


Deuteronomium / Devarim {16:18} “Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19}  Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. ”.

Geregtigheid is gewigtige en belangrike komponent in enige samelewing. Sonder geregtigheid en beamptes om dit toe te pas, sou daar totale anargie wees. Die wette van die Tora is die gebooie (mitzvoth) van God, die Wet van God, wat aan die kinders van Israel deur Moses voorgehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses gehou is. Die Tora wat Moses aan die kinders van Israel deur Moses oorgedra het, behels die gebooie van God. Waarom is God so gesteld op geregtigheid? Dit is omdat die satan so op ongeregtigheid gesteld is!

In Christelike kringe word die Tora aan die reg gelykgestel, soos wat dit meer dikwels in ons moderne Engelse vertalings van die Bybel, na verwys word en die teenoorgestelde van die reg is wetteloosheid. Die satan staan bekend as die wettelose een. Dit beteken dat wetteloos gelykstaande is aan Toraloos. Derhalwe is dit maklik om tot die gevolgtrekking te kom waarom die satan as die wettelose een bekendstaan: omdat hy sonder die tora (anti-Torah, anti-wet) is.

2 Thessalonisense / Tesolonikum Bet {2:8} “n dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, {2:9}  hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen”.

Indien die satan, synde sonder die Tora, wetteloos genoem word, waar laat dit vandag die kerk, wat leer dat ons nie langer onder die Tora (Wet) is nie?

Matthéüs / Mattityahu {5:17} “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. {5:18}  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. {5:19}  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. ”.

Dit is ‘n ontnugterende gedeelte, veral wanneer ‘n mens in aanmerking neem wat vandag in meeste kerke geleer word. Is dit dan enige wonder dat hulle soveel wanvertolking van hierdie gedeelte aanmoedig om sodoende hulle gebrekkige teologie te regverdig?

Wanneer ons aan ongeregtigheid dink, dink ons onwillekeurig aan ons sekulêre hofstelsel; ‘n stelsel wat in meeste opsigte reg en geregtigheid verwring.

Reg en geregtigheid word egter vandag ook in ons kerke verdraai. Pastore en predikers huiwer vandag geensins om hulle gemeentelede te leer dat hulle nie langer onder die Torah is nie en sodoende verdraai hulle die reg en geregtigheid. Hulle haal gedeeltes uit die boeke van Galasiërs en Efesiërs aan, wat hulle verdraai om hulle teologie te regverdig; maar die feit van die saak is dat God hulle Toraloos noem. Wat gebeur egter wanneer hierdie “Wet” tot hulle voordeel geskryf is?

Deuteronomium / Devarim {18:3} “En dit moet die reg van die priesters wees van die kant van die volk, van die wat ‘n slagoffer bring, of dit ‘n bees of ‘n stuk kleinvee is: hulle moet aan die priester die blad en die twee kakebene en die maag gee. {18:4}  Die eerstelinge van jou koring, jou mos en jou olie en die eerstelinge van die skeersel van jou kleinvee moet jy aan hom gee. {18:5}  Want die HERE jou God het hom uit al jou stamme uitverkies, dat hy altyd kan staan om te dien in die Naam van die HERE, hy en sy seuns.”.

Hier is nou iets wat my waarlik verbaas. Pastore en predikers wat hulle gemeentes leer dat hulle nie langer onder die Tora is nie, gebruik hierdie gedeelte as ‘n Skrifverwysing om van hulle gemeentelede te verwag om vir hulle die eerste vrug van hulle arbeid te bring. Wat ek eintlik bedoel is dat daar gemeenteleiers is wat aan hulle gemeentelede vertel dat indien hulle ‘n nuwe betrekking aanvaar, daar van hulle verwag word om aan die pastoor hulle eerste salaristjek te oorhandig as die eerste vrug – offerande. Hierdie pastore en predikers gebruik God se Tora – ‘n Tora wat hulle beweer nie langer geld nie, tot hulle eie voordeel. Klink dit nie belaglik nie? Eintlik is dit meer as belaglik – dit is skynheilig.

Die gee van tiendes (tien persent van ‘n mens se totale inkomste) is ook ‘n Tora-beginsel, een wat elke kerk aanmoedig.

Vertel gerus vir julle pastoor dat hulle jul tiendes gaan weerhou omdat hy julle geleer het dat julle nie langer onder die Tora is nie en kyk wat hy aan julle kwytraak.

Die Bybelse Wet, Tora, is die fondasie en grondslag van ‘n gemeente van gelowiges. Dit is die grondslag van reg en geregtigheid. God het dit in sy Woord aan ons meegedeel en geleer. Enigiets of enigeen wat dit weerspreek of selfs die Tora marginaliseer, verdraai die reg en is dus wetteloos!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Die mens se wet / God se wet

D’Var Torah
Wanneer jy uitgaan / Ki Tetze

Brit Chadashah: Lukas / Uri 23:1 - 25

Deuteronomium / Devarim {22:1} “Jy mag die bees van jou broer of sy stuk kleinvee nie sien ronddwaal en jou vir hulle verberg nie; jy moet hulle sekerlik na jou broer terugbring. {22:2}  En as jou broer nie naby jou is nie en jy hom nie ken nie, moet jy dit in jou huis neem, en dit moet by jou wees totdat jou broer dit soek; dan moet jy dit aan hom teruggee. {22:3}  So moet jy ook doen met sy esel, en so moet jy doen met sy kleed, ja, so moet jy doen met alles wat van jou broer wegraak, wat hy verloor en wat jy vind; jy mag jou nie verberg nie. {22:4}  Jy mag die esel van jou broer of sy bees nie sien val op die pad en jou vir hulle verberg nie; saam met hom moet jy hulle sekerlik ophelp. {22:5}  ‘n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die HERE jou God ‘n gruwel. {22:6}  As jy op pad ‘n voëlnes kry in een of ander boom of op die grond, met klein voëltjies of eiers, terwyl die moeder op die klein voëltjies of op die eiers sit, mag jy die moeder nie saam met die kleintjies wegneem nie. ”.

Wat ek uit hierdie week se parasha nagelees en dít wat ek toe geskryf het, is geensins ‘n regstreekse byeenraping uit die bovermelde lesing nie. Ek het hierdie gedeelte bloot toevallig gekies omrede die onderwerp waaroor ek wou skryf, geen spesifieke gedeelte van die parasha betref nie, maar eerder op die parasha in geheel betrekking het. Die eerste wat my bygeval het toe ek die parasha Ke Tetze deurgelees het, was ‘n Skrifgedeelte uit parasha Va’etchanan:

Deuteronomium / Devarim {4:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8}  En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? ”.

Die verse uit parasha Ke Tetze bevat ongetwyfeld regmatige en regverdige lesse, wette, statute en uitsprake. Wat hier geleer word, sal met die toepassing daarvan, bydra om die grondslag vir ‘n ware regmatige en eerbare samelewing te verseker. Bykans elke aspek van ‘n gemeenskaplike sosiale lewe, word deur een of meer verse van Ke Tetze gedek.

So byvoorbeeld: Wie in die Bybel het gesê dat vroue gemarginaliseer moet word? Wel, parasha Ke Tetze bewys dit verkeerd. Die verse van die betrokke parasha bevat wette en voorskrifte wat die waardigheid en regte van vroue respekteer. Wie sê dat eienaars toegelaat is om hul slawe wreed te behandel (onthou dat slawerny in die Bybel meesal in plaas van bankrotskap gegeld het. ‘n Skuldenaar het hom daarvolgens aan sy skuldeiser verkoop en kon dus sy onbetaalde skuld afwerk)? Indien ‘n slaaf wreed behandel is en van sy eienaar weggeloop het, moes die persoon wat aan hom asiel verleen het, hom / haar nie na sy wrede eienaar terugstuur nie. Daarbenewens word ons in parasha Ke Tetze geleer hoe om ‘n ander persoon se eiendom te behandel wanneer ons vasstel dat dit aan hom behoort. Ons word geleer hoe om op te tree teenoor iemand wat in nood om hulp en bystand verkeer. So gaan die lys aan. Die bepalings in hierdie parasha is magtig, ryk, prakties en netso toepaslik as wat dit duisende jare gelede was – ons moet dit slegs in ons hedendaagse konteks toepas.

Ek weet wat jy miskien dink, maar wat van hierdie verse?

Deuteronomium / Devarim {21:18} “As iemand ‘n koppige en wederstrewige seun het, wat nie luister na die stem van sy vader en na die stem van sy moeder nie, en hulle hom tugtig, maar hy na hulle nie luister nie, {21:19}  dan moet sy vader en sy moeder hom neem en hom uitbring na die oudstes van sy stad en na die poort van sy woonplek, {21:20}  en hulle moet aan die oudstes van sy stad sê: Hierdie seun van ons is koppig en wederstrewig, hy luister nie na ons stem nie, hy is ‘n deurbringer en dronkaard. {21:21}  Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees. ”.

Ek dink ons moet eerstens onthou dat, volgens God, halstarrige en opstandige mense beslis die toorn van God op hulle lewens sal haal en selfs ‘n voortydige dood deur Sy hand mag oorkom. God se geregtigheid kan nie versag word nie, selfs indien ons Sy geregtigheid nie uitvoer nie. Net omdat iets ons nie pas nie, ons byvoorbeeld ons denkwyse asook ons hedendaagse en liberale regstelsel, beteken dit geensins dat God Sy geregtigheid sal wysig nie. Ek kan julle verseker dat Hy hoegenaamd nie Sy wyse verander om dit volgens ons manier te doen nie; Hy doen dit steeds op Sy wyse. God het ons nie nodig om Sy geregtigheid te laat geld nie. Hy is by magte om dit op Sy eie uit te voer, met of sonder ons. Die mens se wet temper hoegenaamd nie God se wet nie! Beteken dit dat ons God moet vrees? Geensins nie – dit beteken dat ons Hom moet gehoorsaam en ons gehoorsaamheid behoort uit liefde en nie uit vrees vir straf of gevolg te wees nie. Hoe kan ons God voldoende liefhê om Hom te dien?

1 Johannes / Yochanan Alef {4:19} “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.”.

God het ons so lief gehad dat Hy in die vlees na die aarde neergedaal het as Jesus die Messias om te sterf en vir ons sonde te boet. Ons liefde en aanvaarding van Jesus die Messias, maak dit dus vir ons moontlik om God só lief te hê as wat Hy ons liefhet.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Sondag 17 Augustus 2014

Die werklikheid of bedrog

D’Var Torah
Omdat – Ekev


Deuteronomium / Devarim {7:12} “En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; {7:13}  en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ‘n eed beloof het om aan jou te gee. {7:14}  Geseënd sal jy wees bo al die volke; daar sal by jou geen man of vrou onvrugbaar wees nie, ook nie onder jou vee nie. {7:15}  En die HERE sal elke krankheid van jou wegneem en al die kwaai siektes van Egipte wat jy ken, nie op jou lê nie; maar Hy sal dit lê op almal wat jou haat. ”.

Sou julle nie saamstem dat dit ‘n wonderlike voorwaarde is nie? In ruil daarvoor dat ons God se gebooie onderhou, sal Hy ons seën met voorspoed en alle fisiese seëninge; trouens, dit klink byna te goed om waar te wees! Wat ons, deur die  ervaring van die kinders van Israel leer, is dat ons hier geskenk word met ‘n gewaarborgde voorskrif vir welvaart, gesondheid en voorspoed, maar laat ons eers ‘n bietjie wag om te verneem wat God verder sê:

Deuteronomium / Devarim {8:2} “En jy moet dink aan die hele pad waarlangs die HERE jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het tot jou verootmoediging en beproewing, om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie. {8:3}  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. {8:4}  Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie. {8:5}  Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig,”.

Hierdie gedeelte klink byna soos ‘n weerspreking van die inhoud van die voorafgaande Skrifgedeelte! Dit is egter in werklikheid nie die geval nie, want allereers ontstaan die vraag oor hierdie gedeelte: Is God dan nie alwetend nie, want na alles, sê dit vir ons dat God ons opregtheid in die onderhouding van Sy gebooie op die proef sal moet stel? Is Hy dus nie vertroud met die verlede, hede en toekoms nie? Dra Hy nie kennis van alles vanaf die begin van die tyd tot die einde van die tyd nie? Waarom moet God ons dan toets indien Hy bewus is van alles wat in ons harte aangaan?

Die antwoord is geleë in die feit dat daar baie bedrieglike / onegte gelowiges is. Niemand het tyd vir ‘n bedrieër nie, wat nog vir ‘n bedrieglike gelowige? Ons almal verkies egter om te verkeer met – en sake te doen met eerlike mense!

Psalm / Tehillim {27:11} “HERE, leer my u weg en lei my op ‘n gelyk pad, vanweë my vyande.”.

Wat die Psalmis hier sê, is: “Leer my hoe om te lewe soos wat U leef, Here. Leer my om eerlik te wees.”.

‘n Bedrieglike persoon gee voor wat hy / sy nie is nie (hy / sy probeer mense beïndruk en gee dus voor om méér te wees as wat hulle werklik is). Bedrieërs is ongelukkige mense omdat hulle altyd moet voorgee om iets of iemand te wees wat hulle in werklikheid geensins is nie. Eerlike mense daarenteen is as’t ware “deursigtig” – hulle is oop, vertrou hulself en wie hulle is).

Soos in die geval van menslike verhoudings, netso is dit ook met God. God verwag eerlikheid van ons. Ons kan nie voor God ‘n masker dra nie – ‘n mens kan dit probeer, maar Hy sien wat agter die masker is. Die Bybel leer ons dat God nie na ons uiterlike kyk nie, maar wel hoedat ons van binne lyk.

Baie mense onderhou God se gebooie omdat hulle godsdienstig is. Hulle glo meer in godsdiens en daarom dien hulle eerder godsdiens as om God te dien. Ongelukkig is hierdie mense nie altyd eers bewus daarvan dat hulle godsdienstig is nie. Dikwels word hulle deur mense om hulle, nie as godsdienstig beskou nie, maar eerder as opmerksame, toegewyde dienaars van die Here. Alleenlik deur hulle op die proef te stel – soos in die tweede Skrifgedeelte beskrywe – sal hulle harte blootgelê word nie aan God nie, maar aan diegene om hulle, asook aan hulleself.

God toets ons eerlikheid! Sonder twyfel ken Hy ons van binne en van buite, maar ken ons onsself? Ken ander mense ons – wie óns werklik is? Dit is waaroor verootmoediging, soos in Deuteronomium 8:2 gemeld, eintlik gaan! Verootmoediging skei die werklike gelowiges van die onegte gelowiges; eersgenoemde sal die beloftes, soos in Deuteronomium 7:12 – 15 vervat, ontvang terwyl die bedrieërs ontbloot sal word vir wie hulle werklik is.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Dinsdag 12 Augustus 2014

Wees nederig!

D’Var Torah
Sien / Re’eh


Deuteronomium / Devarim {11:29} “As dan die HERE jou God jou inbring in die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem, moet jy die seën op die berg Gerísim lê en die vloek op die berg Ebal. “

Die kinders van Israel, deur Josua (Yehoshua) gelei, was oorkant die Jordaan-(Jordan) rivier teenoor Jerigo, wat suidwes van berg Gerisim en berg Ebal geleë was, gereed om die Beloofde Land binne te trek. Met sy verowering van die land, het Josua eerstens Gilgal verower, wat hy as sy hoofkwartier gebruik het. Daarna het hulle teen Jerigo opgetrek, waarvan die stadsmure omgeval het! Na sy verowering van Jerigo, het Josua deur die vallei van Aijlon getrek en die koning van Ai verslaan. Daarna het Josua noordwaarts getrek na berg Gerisim en berg Ebal.

Josua / Yehoshua {8:30} “Toe het Josua ‘n altaar gebou vir die HERE, die God van Israel, op die berg Ebal, {8:31}  soos Moses, die kneg van die HERE, die kinders van Israel beveel het, soos geskrywe staan in die wetboek van Moses: ‘n Altaar van ongekapte klippe waaroor geen yster geswaai is nie; en dáárop het hulle aan die HERE brandoffers gebring en dankoffers geslag. {8:32}  En daar het hy ‘n afskrif van die wet van Moses op die klippe geskrywe, wat hy geskrywe het voor die oë van die kinders van Israel, {8:33}  terwyl die hele Israel met sy oudstes en die opsigters en sy regters aan weerskante van die ark staan—teenoor die Levitiese priesters, die draers van die verbondsark van die HERE—die vreemdeling sowel as die kind van die land: die een helfte daarvan teen die berg Gerísim en die ander helfte daarvan teen die berg Ebal, soos Moses, die kneg van die HERE, tevore bevel gegee het om die volk van Israel te seën. {8:34}  En daarna het hy al die woorde van die wet voorgelees, die seën en die vloek, net soos dit geskrywe staan in die wetboek. {8:35}  Daar was geen woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele vergadering van Israel, met die vroue en die kinders en die vreemdeling wat onder hulle saamgetrek het nie. ”.

Waarom het God hierdie twee besondere berge gekies om die seëninge en vervloekinge op te stel? Ons kan nie met sekerheid sê nie, maar ek het tot my eie gevolgtrekking oor die onderwerp gekom. Eerstens is hulle naby mekaar en was die stad van Schechem in hulle skaduwee – die stad waar Dina verkrag en alle manlikes deur Levi en Simeon vermoor is. Tweedens, is dit die enigste twee berge geleë in die middel van Israel van oos tot wes en die enigste twee berge bykans in die middel van die land, van noord tot suid. Derdens is dit die hoogste twee berge in hierdie geografiese gebied. Vierdens was dit die waarskynlikste dat die Kanaäniete offers aan hulle gode op hierdie berge gebring het vanweë die ligging en hoogte daarvan.

Deuteronomium / Devarim {12:2} “Julle moet terdeë verniel al die plekke waar die nasies wat julle gaan verdrywe, hulle gode gedien het op die hoë berge en op die heuwels en onder elke groen boom. {12:3}  En julle moet hulle altare omgooi en hulle klippilare verbrysel en hulle heilige boomstamme met vuur verbrand en die gesnede beelde van hulle gode omkap en hulle naam van dié plek laat verdwyn. {12:4}  So mag julle nie doen met die HERE julle God nie; ”.

Aangesien die heidene offers aan hulle demoonse gode op hierdie hoë berge gebring het, was dit ‘n geskikte plek om vir die kinders van Israel te herhinner aan die gevare wat volg op die kanaänitiese godsdienstige praktyke teenoor die seëninge verbonde daaraan om God te volg.

Dit is ook interessant dat God gekies het om die vervloekinge op berg Ebal te laat neerkom, wat toevallig 190 voet (57,9 meter) hoër as berg Gerisim is. Watter betekenis kon daarin geleë wees? Ek meen dat net soos die Kanaäniete hulle heidense gode op hoë plekke aanbid het en onder die indruk verkeer het dat hulle sodoende nader aan hull gode was, so doen ons ook wanneer ons sondig (selfaanbidding) en onsself omhoog verhef, waardeur ons onsself bo die God van hemel en aarde plaas.

Daarom, was berg Ebal ‘n toonbeeld van die mens wat homself bo die Een ware God stel. Enige sodanige verheffing sou natuurlik uitloop op vervloeking en dus sou die vervloekinge op berg Ebal neerkom. Terwyl berg Gerisim, wat laer as berg Ebal geleë was, gedien het as ‘n toonbeeld van die mens se ootmoed sou die seëinge op berg Gerisim rus. Ofskoon albei berge naby mekaar geleë was, kan ek met alle veiligheid sê dat meeste van die heidense aanbidding waarskynlik op berg Ebal plaasgevind het vanweë die besondere hoogte daarvan.

Met Sy keuse van hierdie twee berge, het God dus aan ons getoon dat indien ons onself verhef, sal wat ons dan ontvang, inderdaad vervloeking wees. As ons onsself egter verootmoedig, sal ons geseën word. Soos in vorige parashot bespreek, gebruik God baie sulke toonbeelde in die Bybel.

Jakobus / Yaacov {4:10} “Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.”.

Die hoogmoediges probeer altyd om hulleself bo die ootmoediges te verhef, net soos berg Ebal bo berg Gerisim uittroon. Berg Gerisim was egter die plek van seën, terwyl berg Ebal die plek van vervloeking was!


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Maandag 11 Augustus 2014

Watter groot volk?

D’Var Torah
…En ek het gepleit / Va’etchanan


Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? {4:8}  En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou? {4:9}  Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak:”.

Ek het onlangs gekyk na ‘n dokumentêre program oor die totstandkoming van die staat Israel, wat in 1945 plaasgevind het. Daarin is werklike uittreksels, sowel klank as video-opnames vertoon van David Ben Gurion, Israel se eerste Minister, waarin hy die skamele weermag en patriotte wat vir hulle jong tuisland veg, gelei en aangemoedig het.

Hulle het geveg teen hordes Arabiese volkere, wat hulle aangeval en omsingel het. Dit het geblyk om ‘n onmoontlike situasie te wees. Ten spyte van hulle geringe getalle, swak opleiding, indien enige, en gebrek aan wapens en geskikte gevorderde wapentuig, het hulle die vyand egter wonderbaarlik verslaan en daarin geslaag om hulle sodoende weereens te vestig as ‘n Joodse staat, te midde van omringende vyandiggesinde volkere wat vasbeslote op hulle vernietiging ingestel was. Alleenlik God kon hulle van so ’n oorwinning verseker.

Dit was soos in Bybelse tye toe Israel, met die hulp van God se leërmagte, twee-en driemaal groter en sterker as hulleself, verslaan het.

Deuteronomium / Devarim {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

Ons God is ‘n ontsagwekkende God. Hy is naby Sy volk en beskerm Sy land.

Ek is gereeld in verbinding met vriende in Israel en verneem gevolglik van dinge wat dáár gebeur, wat nie aan die Westerse nuusmedia bekendgemaak word nie. So is ek byvoorbeeld meegedeel van ‘n aanvallende missiel vanaf Hamas wat direk op die sentrale treinstasie van Tel Aviv geprojekteer was. Dit is ‘n digbevolkte en besige area met omringende groot kantoorblokke asook ‘n groot, moderne inkopiesentrum, wat altyd vol kopers is en passasiers wat na en vanaf die treinstasie beweeg. Die Israeliese weermag het ‘n “Iron Dome”-missiel afgevuur om die betrokke teiken vanuit die lug te tref maar dit het sy teiken gemis – iets wat hoogs uitsonderlik gebeur. ‘n Tweede missiel is onmiddelik daarna afgevuur, wat ook op onverklaarbare wyse nie die teiken getref het nie en selfs met ‘n derde missiel het dieselfde gebeur. Daar is sonder versuim ‘n bevel uitgereik om die bogemelde area te ontruim en noodvoertuie asook dokters en ander mediese personeel op ‘n gereedheidsgrondslag te hou vir die behandeling van beseerdes. Daar was geen twyfel dat ‘n missiel sou tref en ongeëwenaarde lewensverlies en skade kon veroorsaak nie. Skielik is daar gerapporteer dat ‘n hewige sterk wind ontstaan het en die omvang daarvan teweeggebring het dat die missielbaan in so ’n mate gewysig is dat dit skadeloos oor die kus beweeg en in die see gestort het. Die vraag ontstaan dus: was dit toeval of ‘n wonderwerk? Veel meer sulke voorvalle het tydens die huidige oorlog met Gasa gebeur; trouens, so dikwels dat dit hoegenaamd nie aan blote toeval gewyt kan word nie – dit is voorwaar wonderwerke!

Hamas en die ander Arabiere nasies kan beslis nie wen nie – hulle sal nooit oorwin nie. Nie op grond daarvan dat hulle nou teen ‘n beter toegeruste, beter opgeleide mag veg nie, maar omdat hulle die stryd teen die God van Israel voer en Hy die land nie aan húlle belowe het nie – Hy het dit aan die kinders van Israel belowe en:

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.

Wees dus vol moed, julle wat deel is van – en ingesluit is onder God se volk – beide Jode en nie-Jode – omrede julle ‘n ontsagwekkende God dien en deel is van ‘n volk vir wie Hy sorg, in so ’n mate dat julle ook met vertroue kan sê:

Deuteronomium {3:7} “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? ”.


Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou