Saterdag 17 September 2011

Ons Oë, Ons Ore en Ons Hart

17 September 2011 / Elul 18 5771

Wanneer Jy Ingaan / Ki Tavo

Deuteronomium / Devarim 26:1 – 29:8

Daar is ‘n aantal aspekte uit hierdie parasha wat spesiale vermelding verdien. Sommige daarvan, het ons in vorige parashot reeds behandel. Ek glo egter dat daardie aspekte verdien om herhaal te word, al is dit net kortliks, voordat ek verder gaan met my kommentaar op dit wat God vanjaar op my hart gelê het.

Deuteronomium / Devarim {26:2} “dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, ”

Dank God vir alles wat Hy aan ons voorsien. Dit is uiters belangrik. Uit hierdie parasha, kan ons aflei dat dit nie slegs die uitdrukking van dankbaarheid, wat van belang is nie, maar ook die tasbare bewys van dankbaarheid. Dit beteken om te gee. Uit hierdie parasha en uit die Skrif oor die algemeen, blyk dit dat om te gee, die allerbelangrikste gebaar is om dankbaarheid te betuig; trouens dit blyk om, naas gehoorsaamheid, steeds die vernaamste dankbaarheidsgebaar te wees. Indien jy nie ‘n persoon is wat gee nie, sal jy nie geseën word nie.

Deuteronomium / Devarim {27:12} “Hierdie stamme moet staan om die volk te seën op die berg Gerísim as julle deur die Jordaan getrek het: Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin. {27:13} En hierdie moet staan om te vervloek op die berg Ebal: Ruben, Gad en Aser en Sébulon, Dan en Náftali. {27:14} En die Leviete moet verklaar en aan al die manne van Israel hardop sê:”

Dit is verbasend hoeveel gelowiges daar is, wat nie geseën word nie. As jy een van hulle is, dan verduidelik hierdie Parasha onomwonde vir jou waarom. In ‘n sekere opsig gehoorsaam jy nie God se bevele nie en laat Hy vervloekinge in plaas van seëninge oor jou kom. Let op die volgorde van seën en vervloeking. Wat seëninge betref, is die volgende drie die vernaamste: jou huislike lewe, jou geldsake en jou kinders. Wanneer dit by vervloeking kom, is hierdie die vernaamste: jou huislike lewe, jou geldsake en jou voorsorg. Oorweeg hierdie aspekte van seën en vervloeking en evalueer jou lewensomstandighede daarvolgens. Aan die hand daarvan behoort jy noukeurig te kan bepaal hóé getrou jy God se bevele gehoorsaam.

Deuteronomium / Devarim {29:1} “Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29:2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.”

En nou, my kommentaar vir hierdie jaar op parasha Ki Tavo! Vergun my om eers vir jou die scenario te skets. Die kinders van Israel was op die punt om die Beloofde Land binne te gaan, maar hulle was lusteloos en Moses het tot ‘n somber evaluasie van hulle gekom. Ja, selfs nadat hulle al die wonderwerke van God ervaar het, het Moses geweet dat hulle afvallig van God sou raak nadat hulle die land binnegegaan het. Hy was oortuig dat alles wat hy vir hulle gesê het en alles wat God hulle beveel het, op dowe ore, ongevoelige harte en blinde oë geval het. Dit is verbasend dat hulle in so ’n treurige geestelike toestand was omdat Moses so pas die omvattende lys van vervloekings en seëninge aan hulle voorgehou het. Volgens my mening, sou dít wat hy gesê het, hulle eerder hul ore laat spits het, hulle harte laat verteder en hul oë laat rek het oor wat hy vir hulle gesê het. Waarom? Omrede hulle die verskil tussen geseën en vervloek te word deur God, ervaar het, maar weet jy, ons is dieselfde.

Jammer, maar ek weet presies hoe Moses moes gevoel het toe hy hulle op die inhoud van vers 29:4 gewys het, want ek voel dikwels netso. Vir bykans sestien jaar het ek al hier lering aangebied en die Woord van God verkondig. Elke week by die gemeente Melech Yisrael, het ek dit getrou nagekom en tog, stem dit my tot onsteltenis, dat ek vandag steeds dieselfde woorde (vers 29:4) aan die gemeente herhaal wat Moses tot die kinders van Israel gerig het – dieselfde woorde wat die kinders van Israel duisende jare gelede gehoor het. Moontlik het Moses besef dat, ten spyte van alles wat hy of God gedoen of gesê het, die kinders van Israel nogtans nie gehoor sou gee nie.

Wanneer ek so oor die gemeente kyk, terwyl ek preek en hulle leer, let ek op hoe maklik mense se aandag deur die geringste versteuring, afgelei word en sien ek ook diegene wat net gewoonweg glad nie geinteresseerd is nie. Tydens sulke tye, kan ek myself nie verhelp om soos Moses te voel nie. Hierdie mense het nie ‘n hart om te besef, oë om te sien en ore om te hoor nie – tot heden toe. Waarom het ons nie met die verloop van duisende jare verander nie? Waarom is ons nog dubbelsinnig wanneer dit op gehoorsaamheid aan die Here en Sy Woord neerkom? Dit is nie asof ons die loon van sonde nie gesien het nie. Die wêreld kan nie voorbly om vinnig genoeg hospitale te bou om siekes te versorg of gevangenisse vir oortreders nie. Dit is beslis nie asof ons nie gesien het hoedat die wêreld teen ons draai nie. Droogtes en veranderende weerpatrone kom wêreldwyd voor. Dit is nie dat ons daarvan onbewus is dat al hierdie verskynsels van die Here kom nie, omdat die Skrif ons gewaarsku het dat dit sal gebeur. Miskien is dit op grond van wat daar in die volgende boodskap staan:

Deuteronomium / Devarim {29:4} “Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 10 September 2011

Die Geliefde en die Mindergeliefde in die Moderne Samelewing

10 September 2011 / Elul 11 5771

Wanneer Jy Uitgaan / Ki Teitzei



Deutoronomium / Devarim {21:15} As ‘n man twee vroue het, een wat hy liefhet en een wat hy nie liefhet nie, en hulle baar vir hom seuns, sowel die geliefde as die nie-geliefde vrou, en die eersgebore seun behoort aan die nie-geliefde vrou, {21:16} dan mag hy, op die dag as hy sy seuns sy besittings laat erwe, nie die eersgeboortereg aan die seun van die geliefde vrou gee tot nadeel van die seun van die nie-geliefde vrou, die eersgeborene, nie. {21:17} Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom ‘n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne. “

Die gebruik dat aan die oudste seun ‘n dubbele porsie van die vader se erflating toekom, word in die Westerse wêreld slegs by uitsondering nog toegepas. Vandag is dit meer algemeen dat al die kinders, hetsy seuns of dogters, gelykop erf. Ek dink hierdie verandering is teweeggebring op grond van die toenemende verbintenis tot finansiële verpligtinge van die gesin in ons modern wêreld.

In Bybelse tye het die oudste seun – met die afsterwe van hul vader – egter die familiehoof geword. Dit het dus sy verantwoordelikheid geword om die familie te lei en vir die moeder en ongetroude broers en susters te sorg. In die lig van sy bykomende verantwoordelikheid, het hy vir ‘n addisionele erfporsie in aanmerking gekom. In teenstelling hiermee, is meeste families deesdae versprei: Hulle woon nie meer saam in dieselfde land nie – om nie eers te praat van dieselfde huis, dorp of stad nie. Die konsep van die oudste seun se leierskap bestaan nie meer nie. Sy erfporsie het dus gelyk met dié van die ander kinders geword, behalwe natuurlik in die geval van ouerlike begunstiging.

Jy sal miskien meen dat hierdie Skrifgedeelte betreffende die seun van die geliefde vrou en die seun van die mindergeliefde vrou, nie eintlik vandag op Noord-Amerika betrekking het nie, maar die feit is, dat dit wel die geval is. Ons is almal bewus daarvan dat veelwywery verbode is in die Weste; derhalwe sal ‘n man deesdae slegs één vrou hê. Dit is om dié rede dat wanneer meeste mense hierdie Skrifgedeelte lees, hulle dit as totaal ontoepaslik beskou. Terwyl die gedagte aan moontlike egskeiding miskien ondenkbaar en uitsonderlik was tot en met die afgelope eeu, is dit vandag iets alledaags. Ons samelewing het alte dikwels ervaar dat egskeiding soms baie traumaties kan wees – veral wanneer kinders en toesig oor hulle ter sprake kom. Dit laat die vraag ontstaan van die kinders van die mindergeliefde vrou en dié van die geliefde vrou. Egskeiding maak hierdie gebod wéér ‘n werklikheid.

Ek glo nie aan egskeiding nie, maar daar is sommige gelowiges wat getroud was en geskei het voordat hulle in Jesus geglo het en weer getroud is met iemand van hierdie geloof, nadat hulle gelowig geword het. Kom ons aanvaar byvoorbeeld dat dié persoon kinders by beide vroue gehad het: ‘n Seun by sy vorige vrou en nou ‘n seun by sys huidige vrou. Wat gebeur in so ‘n geval? Word hulle selfs verplig om die vereiste van die Tora, soos in die bovermelde Skrifgedeelte uiteengesit, na te kom? Wat my betref, is die antwoord ‘n uitdruklike “ja”. Waarom? Omdat gelowige gesinne op Bybelse beginsels gefundeer is en derhalwe volgens die voorskrifte en lering van die Bybel moet funksioneer. Niks aangaande hierdie gebod, is afhanklik van die tempel of die land Israel nie. Daarom is hierdie gebod betreffende die seun van die mindergeliefde vrou vandag steeds net so geldig en toepaslik soos toe dit ingestel is.
In die huis van ‘n gelowige gesin, moet die eersgebore seun, of hy van die mindergeliefde vrou is of nie, as toekomstige familiehoof grootgemaak word, met die verantwoordelikheid van toekomstige familieleierskap asook om die familie bymekaar te hou, indien die vader sterf. Dit sou ook die verantwoordelikheid impliseer om die moeder en ongetroude broers en susters te onderhou.

Daar is nog ‘n interessante feit waarop ek graag sou sou wys.

Eksodus / Shemot {4:22} “Dan moet jy vir Farao sê: So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel. “

God het hier ‘n verklaring gedoen: Hy het Israel verklaar as Sy eniggebore Seun. Volgens God se eie Woord, moet Israel ‘n dubbelporsie ontvang. Het hulle? Ja, hulle het!

Jesaja / Yeshayahu) {49:5} “En nou sê die HERE wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word—en Ek word geëer in die oë van die HERE, en my God is my sterkte— {49:6} Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde. {49:7} So sê die HERE, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ‘n afsku is by die volk, ‘n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die HERE wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.”



Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 03 September 2011

Geloof en Oorlog

3 September 2011 / Elul 4 5771

Geloof en Oorlog


Deuteronomium / Devarim {20:1} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou. {20:2} En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek; {20:3} en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie; {20:4} want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee. {20:5} Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie. {20:6} En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie. {20:7} En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie. {20:8} Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie. {20:9} En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word. ”

Ek het iets baie interessant gemerk toe ek die voorafgaande verse van hierdie week se parasha gelees het, naamlik dat God se leërmag ‘n vrywillige leër was! In die boek Numeri (BaMidbar) vind ons dat Moses die manskappe van twintig jaar en ouer, wat geskik was om oorlog te voer, laat tel het. Dit het natuurlik die indruk geskep dat Israel se leër tot krygsdiens verplig was. Hier lees ons egter dat God verskeie redes verstrek het vir iemand wat verkies het om nie te gaan oorlog voer nie – die eenvoudigste rede was vrees! Hieruit blyk dit dat al wat so ‘n person moes aanvoer om vir militêre diens vrygestel te word, was dat hy bevrees was. ‘n Mens kan aanvaar dat daar met enigeen wat dit gedoen het, moontlik die spot gedryf is, maar vir sommige het dit desnieteenstaande ‘n beter opsie geblyk as om te sneuwel.

As ‘n mens nou kyk wat met verpligte krygsdiens vir Wêreldoorloë I en II gebeur het, sien ons dat al die volkere wat in hierdie oorloë betrokke was, hul burgers tot krygsdiens verplig het. Enige van dié nasies, het dus geen ander keuse gehad om van betrokkenheid in militêre diens vrygestel te word nie. Ek onthou dat gedurende die Viëtnamese oorlog, die opsies vir Amerikaanse burgers was om te gaan veg óf tronkstraf opgelê te word of om na Kanada uit te wyk. Ek is nie ten gunste daarvan om konskripsie te ontduik nie en glo vas dat indien jou land jou nodig het, jy bereid behoort te wees om dit te verdedig. Destyds met die Viëtnamese oorlog, het die Verenigde State van Amerika nie in gevaar verkeer nie en die oorlog was basies om die verspreiding van kommunisme teen te staan. Soos ons egter bewus is, het die VSA die oorlog verloor, maar toevallig is die Viëtnamese vandag veel beter daaraan toe as wat hulle ooit sou gewees het.

Waarom was God dan so toegeeflik en genadig om toe te laat dat diegene wat vreesagtig was, nie verplig was om te gaan veg nie nie? Die vernaamse rede was dat die veilgheid en moreel van die troepe, wat oorlog sou voer, van die uiterste belang in die leer is. Soldate maak op mekaar staat en as een van hulle vreesbevange is, kan daar nie op so ’n manskap staatgemaak word nie. Erger nog, is dat één soldaat wat vreesagtig is, sy vrees moontlik onwetend onder die ander manskappe kan laat versprei, wat vanselfsprekend chaos kan veroorsaak, net soos wat die tien verspieders onder die kinders van Israel veroorsaak het toe hulle die beloofde land moes binnegaan. Gevolglik sal so ’n vreesagtige mens meer van ‘n struikelblok as hulp wees.

Daar is egter ‘n veel belangriker rede as dit:

Deuteronomium / Devarim {20:4} “want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee. ”

God is die Een wat vir Israel veg. Waarom sou God dan nie hulle wat bevrees is, deel van Sy leer wil hê nie? Dit is omdat hulle wat vreesagtig is, nie ‘n vrees-probleem het nie – inteendeel hulle ervaar ‘n geloofsprobleem! Die Skrif sê vir ons:

Hebreërs / Ivrim {11:6} “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. ”

Indien ons die Bybel glo en ook alles wat dit ons van God meedeel, dan móét ons oor die geloof beskik dat Hy in beheer is van alles in ons lewens. Ons lewens is in God se hande. Ten slotte wil ek graag die volgende Skrifgedeelte in julle midde laat:

1 Johannes / Yochanan Aleph {4:18} “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. ”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou