17 September 2011 / Elul 18 5771
Wanneer Jy Ingaan / Ki Tavo
Daar is ‘n aantal aspekte uit hierdie parasha wat spesiale vermelding verdien. Sommige daarvan, het ons in vorige parashot reeds behandel. Ek glo egter dat daardie aspekte verdien om herhaal te word, al is dit net kortliks, voordat ek verder gaan met my kommentaar op dit wat God vanjaar op my hart gelê het.
Deuteronomium / Devarim {26:2} “dan moet jy neem uit die eerstelinge van al die vrugte van die land wat jy inbring uit jou land wat die HERE jou God jou sal gee, en dit in ‘n mandjie sit; en jy moet gaan na die plek wat die HERE jou God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, ”
Dank God vir alles wat Hy aan ons voorsien. Dit is uiters belangrik. Uit hierdie parasha, kan ons aflei dat dit nie slegs die uitdrukking van dankbaarheid, wat van belang is nie, maar ook die tasbare bewys van dankbaarheid. Dit beteken om te gee. Uit hierdie parasha en uit die Skrif oor die algemeen, blyk dit dat om te gee, die allerbelangrikste gebaar is om dankbaarheid te betuig; trouens dit blyk om, naas gehoorsaamheid, steeds die vernaamste dankbaarheidsgebaar te wees. Indien jy nie ‘n persoon is wat gee nie, sal jy nie geseën word nie.
Deuteronomium / Devarim {27:12} “Hierdie stamme moet staan om die volk te seën op die berg Gerísim as julle deur die Jordaan getrek het: Símeon en Levi en Juda en Issaskar en Josef en Benjamin. {27:13} En hierdie moet staan om te vervloek op die berg Ebal: Ruben, Gad en Aser en Sébulon, Dan en Náftali. {27:14} En die Leviete moet verklaar en aan al die manne van Israel hardop sê:”
Dit is verbasend hoeveel gelowiges daar is, wat nie geseën word nie. As jy een van hulle is, dan verduidelik hierdie Parasha onomwonde vir jou waarom. In ‘n sekere opsig gehoorsaam jy nie God se bevele nie en laat Hy vervloekinge in plaas van seëninge oor jou kom. Let op die volgorde van seën en vervloeking. Wat seëninge betref, is die volgende drie die vernaamste: jou huislike lewe, jou geldsake en jou kinders. Wanneer dit by vervloeking kom, is hierdie die vernaamste: jou huislike lewe, jou geldsake en jou voorsorg. Oorweeg hierdie aspekte van seën en vervloeking en evalueer jou lewensomstandighede daarvolgens. Aan die hand daarvan behoort jy noukeurig te kan bepaal hóé getrou jy God se bevele gehoorsaam.
Deuteronomium / Devarim {29:1} “Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29:2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.”
En nou, my kommentaar vir hierdie jaar op parasha Ki Tavo! Vergun my om eers vir jou die scenario te skets. Die kinders van Israel was op die punt om die Beloofde Land binne te gaan, maar hulle was lusteloos en Moses het tot ‘n somber evaluasie van hulle gekom. Ja, selfs nadat hulle al die wonderwerke van God ervaar het, het Moses geweet dat hulle afvallig van God sou raak nadat hulle die land binnegegaan het. Hy was oortuig dat alles wat hy vir hulle gesê het en alles wat God hulle beveel het, op dowe ore, ongevoelige harte en blinde oë geval het. Dit is verbasend dat hulle in so ’n treurige geestelike toestand was omdat Moses so pas die omvattende lys van vervloekings en seëninge aan hulle voorgehou het. Volgens my mening, sou dít wat hy gesê het, hulle eerder hul ore laat spits het, hulle harte laat verteder en hul oë laat rek het oor wat hy vir hulle gesê het. Waarom? Omrede hulle die verskil tussen geseën en vervloek te word deur God, ervaar het, maar weet jy, ons is dieselfde.
Jammer, maar ek weet presies hoe Moses moes gevoel het toe hy hulle op die inhoud van vers 29:4 gewys het, want ek voel dikwels netso. Vir bykans sestien jaar het ek al hier lering aangebied en die Woord van God verkondig. Elke week by die gemeente Melech Yisrael, het ek dit getrou nagekom en tog, stem dit my tot onsteltenis, dat ek vandag steeds dieselfde woorde (vers 29:4) aan die gemeente herhaal wat Moses tot die kinders van Israel gerig het – dieselfde woorde wat die kinders van Israel duisende jare gelede gehoor het. Moontlik het Moses besef dat, ten spyte van alles wat hy of God gedoen of gesê het, die kinders van Israel nogtans nie gehoor sou gee nie.
Wanneer ek so oor die gemeente kyk, terwyl ek preek en hulle leer, let ek op hoe maklik mense se aandag deur die geringste versteuring, afgelei word en sien ek ook diegene wat net gewoonweg glad nie geinteresseerd is nie. Tydens sulke tye, kan ek myself nie verhelp om soos Moses te voel nie. Hierdie mense het nie ‘n hart om te besef, oë om te sien en ore om te hoor nie – tot heden toe. Waarom het ons nie met die verloop van duisende jare verander nie? Waarom is ons nog dubbelsinnig wanneer dit op gehoorsaamheid aan die Here en Sy Woord neerkom? Dit is nie asof ons die loon van sonde nie gesien het nie. Die wêreld kan nie voorbly om vinnig genoeg hospitale te bou om siekes te versorg of gevangenisse vir oortreders nie. Dit is beslis nie asof ons nie gesien het hoedat die wêreld teen ons draai nie. Droogtes en veranderende weerpatrone kom wêreldwyd voor. Dit is nie dat ons daarvan onbewus is dat al hierdie verskynsels van die Here kom nie, omdat die Skrif ons gewaarsku het dat dit sal gebeur. Miskien is dit op grond van wat daar in die volgende boodskap staan:
Deuteronomium / Devarim {29:4} “Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.”