Saterdag 27 Junie 2009

Sinnelike Sondes wat ons Lewens Teister

Korag / Korach | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


27 Junie 2009 / Tammuz 5th 5769

Numeri / BaMidbar 16:1-18:32

1 Samuel / Sh'muel Aleph 11:14-12:22

Romeine / Romim 13:1-7


Numeri / Bamidbar {16: 1} "En Korag, die seun van Jishar, die seun van Kehat, die seun van Levi, saam met Datan en Abíram, seuns van Elíab, en On, die seun van Pelet, seuns van Ruben, het manne geneem, {16:2} en hulle het opgestaan voor die oë van Moses saam met twee honderd en vyftig man uit die kinders van Israel, owerstes van die vergadering, manne wat opgeroep was vir die volksvergadering, manne van naam. {16:3} En hulle het bymekaargekom teen Moses en Aäron en aan hulle gesê: Dit is nou genoeg; want die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE? {16:4} Toe Moses dit hoor, het hy op sy aangesig geval; {16:5} en hy het met Korag en sy hele bende gespreek en gesê: Môre vroeg, dan sal die HERE bekend maak wie Hom toebehoort en wie die heilige is, en wie Hy na Hom laat nader kom: wie Hy uitkies, sal Hy na Hom laat nader kom. {16:6} Doen dit: Neem vir julle vuurpanne, Korag en sy hele bende, {16:7} en gooi daar môre vuur in en lê daar reukwerk op voor die aangesig van die HERE; dan sal die man wat die HERE uitkies, die heilige wees. Dit is nou genoeg, kinders van Levi! {16:8} Verder het Moses vir Korag gesê: Luister tog, kinders van Levi! {16:9} Is dit julle nie genoeg dat die God van Israel julle uit die vergadering van Israel afgeskei het om julle na Hom te laat nader kom, om die dienswerk van die HERE se tabernakel te verrig en te staan voor die vergadering om hulle te dien nie, {16:10} en Hy jou laat nader kom het en al jou broers, die kinders van Levi, saam met jou—dat julle nou ook die priesteramp begeer? {16:11} Daarom, jy en jou hele bende is mense wat teen die HERE vergader; want Aäron, wat is hy, dat julle teen hom murmureer? {16:12} En Moses het gestuur om Datan en Abíram, die seuns van Elíab, te laat roep; maar hulle het gesê: Ons sal nie opkom nie. {16:13} Is dit nie genoeg dat jy ons uit ‘n land wat oorloop van melk en heuning laat optrek het om ons in die woestyn om te bring, dat jy ook gedurig oor ons die baas wil speel nie?"


Toe die bogemelde gebeurtenis plaasgevind het, het Moses reeds jare lank die kinders van Israel deur die wildernis gelei. Wat het dan skielik, skynbaar uit die niet, gebeur dat hierdie leiers besluit het om in opstand te kom? Waarom het hulle hierdie besonderde tyd gekies om dit te doen? Verstaan mooi, dit was nie 'n oproer deur gewone manne nie; hierdie was owerstes van die vergadering, of volgens die Skrifgedeelte "manne van aansien". Dit beteken dat hulle deel van die leierskap was en hooggeag in Edah. Hoe het dit dan gebeur dat hulle hierdie spesifieke tyd gekies het om 'n kragmeting met Moses en Aäron te hê?

Soos dit vir my lyk, was daar skynbaar 'n toename van gebeure op dié tydstip wat tot hierdie oproer gelei het. Eerstens, moet ons onthou dat Korag 'n lid van die Levi-stam was, waartoe Moses en Aäron ook behoort het. Uit Korag se redes, kan ons aflei dat hy Moses en Aäron geensins beter of meer bekwaam as hyself beskou het nie. Nogtans was Moses die één wat opdragte gegee het en nie hy nie. Toe het Moses sy broer, Aäron gekies om hoëpriester te wees - 'n keuse wat duidelik Korag se vermoede van nepotisme laat onstaan het. Boonop het Moses verklaar dat die hoëpriesterlike posisie uitsluitlik tot die afstamming van Aäron beperk sou wees; al Aäron se kinders sou nou vir ewig 'n bevoorregte posisie onder die Levitiese priesterskap geniet. Hule sou voorrang geniet en feitlik soos koninklikes behandel word, terwyl, soos ons uit die Oordenking Naso van drie weke gelede gesien het, die ander Levitiese families al die hande-arbeid moes verrig. Hulle sou die mense wees wat verantwoordelik was vir die oppak van die tabernakel, om al die toebehore daarvan deur die woestyn te dra en die opslaan daarvan elke keer wat hulle kamp opgeslaan het. Hulle sou die offerhandes moes behartig asook ander pligte uitvoer om die tabernakel in stand te hou, terwyl Moses, Aäron en al die seuns van Aäron slegs die opdragte sou gee. Tweedens, was dit 'n ideale geleentheid vir 'n rebellie. Die voorval van die spioene was nog vars in almal se geheue. Laat ek dus julle geheue ook verfris. Die kinders van Israel was ongehoorsaam aan God deurdat hulle die land nie wou binnegaan nie. Toe hulle hul fout besef, het hulle besluit om te doen wat God oorspronklik vir hulle gesê het om te doen en die land in te neem. Dit het hulle egter gedoen ten spyte van Moses se waarskuwing dat God nie met hulle sou wees nie. Gevolglik is hulle behoorlik deur die Amalekiete verslaan. Ek is dus seker dat hulle Moses blameer het vir hul nederlaag. Watter meer geleë tyd was dit nie om díe situasie te benut en vir Korag om 'n opstand aan te hits nie?

Waarom sou die leierskap van die stam van Reuben dan betrokke geraak het? Hulle het niks meer met die priesterskap te doen gehad nie en was dus maar 'n gewone stam. Wag 'n bietjie; daar is dit! Kon dit gewees het dat hulle by die opstand aangesluit het juis omdat hulle as 'n gewone stam beskou is? Onthou dat die stam van Reuben die aansienlikste stam van Israel moes wees. Hulle het egter hul posisie as hoof onder die stamme verbeur omdat Reuben, die eersgeborene van Jakob, sy vader se bed besoedel het omdat hy met een van sy vader se vrouens geslaap het.

Dus, sou die leier van die stam van Reuben dit as 'n geleë oomblik vir 'n opstand beskou het. 'n Perfekte geleentheid om die stam van Reuben hoofstam onder die stamme van Israel te hervestig.

Wat die oproer dus eintlik op daardie besonderde tydstip aangevuur het, was hoogmoed en jaloesie: twee sinnelike sondes wat tot vandag toe nog ons lewens teister.


Spreuke / Mishlei {8:13}”Die vrees van die HERE is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en ‘n slegte wandel en ‘n huigelagtige mond haat ek."


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved





Saterdag 20 Junie 2009

Vir Wie Het God Geseën

Stuur Jouself / Shelach | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

20 Junie 2009 / Sivan 28th 5769
Númeri / BaMidbar 13:1-15:41
Joshua / Yehoshua 2:1-24
Hebreërs / Ivrim 3:7-19

Númeri / Bamidbar {13:22} "hulle het in die Suidland opgetrek en tot by Hebron gekom; en daar was Ahíman, Sesai en Talmai, die kinders van die Enakiete. En Hebron is sewe jaar voor Soan in Egipte gebou. {13:23} Daarop het hulle tot by die dal Eskol gekom en daar ‘n rank met een tros druiwe afgesny, en twee het dit aan ‘n draagstok gedra; ook van die granate en van die vye. {13:24} Dié plek het hulle die dal Eskol genoem vanweë die tros wat die kinders van Israel daar afgesny het. {13:25} En ná verloop van veertig dae het hulle teruggekom van die land te verken. {13:26} En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. {13:27} En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte. {13:28} Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien."

Perspektief beteken alles in die lewe - beslis ook die verskil tussen sukses en mislukking. Wanneer verskillende mense na dieselfde halfglas water kyk, sien sommige dit as halfvol en ander as halfleeg - aldus die cliché. In hierdie week se oordenking, het ons 'n uitstekende voorbeeld daarvan. Die twaalf spioene wat Moses uitgestuur het om die land Kanaän te verken, het iets teëgekom wat, tot vandag toe, heeltemal merkwaardig is. Op hulle reis deur die land, waarheen Moses hulle gestuur het om te spioeneer, het hulle gevind dat dit nie net welig en pragtig was nie, maar ook 'n oorvloed van vrugte en produkte aangetref. Dit was so geil dat hulle druiwetrosse gevind het wat só groot was dat één tros deur twee manne gedra moes word. Die idee hiervan was so merkwaardig dat dit selfs tot vandag deur due regering van Israel as toerismelogo gebruik word. Met inagneming van wat die twaalf spioene gesien het, moet ons saamstem dat daar geen twyfel bestaan oor die feit dat die land, wat hulle besoek het, nie slegs 'n oorvloedige land was nie, maar ook 'n ongelooflike gawe van God.

Númeri / Bamidbar {13:26} En hulle het weggegaan en by Moses en Aäron en die hele vergadering van die kinders van Israel gekom in die woestyn Paran, in Kades, en aan hulle berig gebring, en aan die hele vergadering en hulle die vrugte van die land laat sien. {13:27} En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.

Ten spyte van die skoonheid en oorvloed van die land, het tien van hierdie manne nogtans die glas nie halfvol gesien nie, maar halfleeg! Waarom? Omdat hulle reuse in die land gesien het. Hulle vooruitsig was nie op die positiewe gerig nie, naamlik die magtige onverskrokkenheid van God en Sy belofte dat hierdie land vir hulle sou kon voorsien, maar eerder op die negatiewe van wie hulle moes onteien om die land te verkry. Hulle het geen visie en geen vertroue in hulself of in hul God gestel nie.

Númeri / Bamidbar {13:28} Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.

Die negatiewe denkwyse wat hierdie manne openbaar het, moet 'n gees wees omdat ons dieselfde gees vind, wat mense vandag nog beïnvloed - ja, selfs gelowiges in Jesus die Messias. Dit is mense wat dieselfde halfleë-houding openbaar, soos die tien manne. Ongeag die projek, ongeag die uitdaging, vind sommige mense altyd 'n rede om op die negatiewe te fokus: daar is altyd 'n rede waarom hulle iets nie kan of behoort te doen nie. Hulle is die "kan nie doen"-mense, nes die tien spioene, huldig hulle 'n negatiewe perspektief oor naastenby alles. Ongelukkig, as ons hierdie Bybelse verslag as voorbeeld noem, blyk hierdie tipe mense nie net in die meerderheid (tien uit twaalf) te wees nie, maar het hulle ook 'n negatiewe invloed op ander en neig hulle om mislukkings te wees. Teenoor hulle, is diegene wat dieselfde saak oorweeg en 'n ander perspektief het: hulle sien die glas halfvol.

Númeri / Bamidbar {13:30} Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.
{14:6} En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur {14:7} en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land. {14:8} As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning. {14:9} Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!

Hierdie twee manne het 'n totaal verskillende perspektief as die res, oor dieselfde eiendom openbaar. Hulle was die "kan doen"-mense, die tipe wat die positiewe sien en oortuig is dat hulle, met die hulp van God, elke negatiewe beswaar en struikelblok kan oorkom. Vir hulle het dit nie saak gemaak wie in die land was nie, reus of dwerg, want hulle was seker dat met die hulp van God, hulle 'n uitweg sou vind. Hierdie is die tipe mense by wie 'n mens graag betrokke sou wou raak omdat hulle selfvertroue het en op hul God vertrou. Dit is nie dat hulle struikelblokke ignoreer nie, maar met 'n glas halfvol-geesteshouding, beskou hulle dit as uitdagings wat geensins onoorkomlike berge is nie.
Dit is tog jammer dat - soos in ons Bybelse verslag aangetoon - "kan doen"-mense soos Kaleb en Josua, in die minderheid is. Hulle is egter die mense wat geneig is om 'n taak uit te voer en in die lewe sukses te behaal. Dink vir 'n oomblik daaroor, as die keuse aan 'n mens gestel word, wie sou jy graag wou wees: 'n "kan doen"-persoon of "kan nie doen"-persoon? Wie sou jy verkies om vir jou te werk? Vir wie sou jy eerder volg? Met wie sou jy verkieslik in 'n besigheid saamgaan? Vir wie het God geseën?

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 13 Junie 2009

Laste en Vermoëns van Leierskap

In Jou Opset / BeHa'Alotecha | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


13 Junie 2009 / Sivan 21st 5769

Númeri / BaMidbar / 8:1-12:16

Sagaría / Zecharyah 2:14-4:7

1 Korinthiërs / Korintim Aleph 10:6-13


Númeri / Bamidbar {8:6} "Neem die Leviete onder die kinders van Israel uit en reinig hulle. {8:7} En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig {8:8} Daarna moet hulle ‘n jong bul neem en die spysoffer wat daarby behoort: fynmeel met olie gemeng; en ‘n ander jong bul moet jy as sondoffer neem. {8:9} En jy moet die Leviete voor die tent van samekoms laat nader kom en die hele vergadering van die kinders van Israel versamel. {8:10} Dan moet jy die Leviete voor die aangesig van die HERE laat nader kom, en die kinders van Israel moet hulle hande op die Leviete lê. {8:11} En Aäron moet die Leviete as beweegoffer beweeg voor die aangesig van die HERE namens die kinders van Israel, sodat hulle daar kan wees om die dienswerk van die HERE te verrig. {8:12} En die Leviete moet hulle hande op die kop van die bulle lê; en berei jy een as sondoffer en een as brandoffer vir die HERE, om vir die Leviete versoening te doen. {8:13} Dan moet jy die Leviete stel voor Aäron en sy seuns en hulle as beweegoffer aan die HERE beweeg. {8:14} En jy moet die Leviete onder die kinders van Israel uit afsonder, dat die Leviete myne kan wees. {8:15} En daarna moet die Leviete inkom om die tent van samekoms te bedien. So moet jy hulle dan reinig en hulle as beweegoffer beweeg."


Terwyl ek vandeesweek se oordenking oorweeg en bepeins het, het ek besef dat alles wat Moses as leier moes doen, ook op my betrekking het. Hierdie oordenking behels die take wat hy, as deel van sy posisie as leier, moes verrig. Aanvanklik is die taak van wyding van die Leviete aan God, aan hom opgedra.

Dit opsigself was 'n aansienlike taak en ek is oortuig dat dit buitengewone bestuurs-en administratiewe vaardighede vereis het. Laat ons van één ding seker wees: Daar was hoegenaamd geen kans om foute te begaan met dít wat hy moes uitvoer nie.

Dit het my daaraan laat dink dat ofskoon ek die geestelike leier van ons gemeente is, daar ook van my verwag word om allerlei administratiewe en bestuursfunksies - wat nie deel van my geestelike bediening uitmaak nie - te verrig. Tog hét dit betrekking daarop, want die geestelike sy kon nie reg gewees het sonder dat die administratiewe-en bestuursgedeelte van my werk, ook reg is nie: Dit is algeheel toepaslik. Bediening behels meer as die geestelike, alhoewel die geestelike by uitstek belangrik is; bediening is ook bestuur en administrasie.

Moses het onder 'n swaar las gebukgegaan, sowel geestelik as fisies, maar oënskynlik het God hom met die nodige vaardigheded toegerus om sy werk uit te voer. Waarvandaan het Moses hierdie vaardighede ontvang? Die geestelike het voortgevloei uit 'n omskepte lewe: Moses deur God! Ek bedoel dat hy waarlik 'n onmoeting met God gehad het, nie slegs fisies vanuit 'n brandende bos nie, maar hy het God ook ontmoet op 'n persoonlike en verhoudingswyse, wat sy lewe vir ewig verander het. Maar, soos ons Moses ken, om 'n goeie leier te wees, het hy meer as bloot geestelik - vervul te wees, nodig gehad: Hy moes 'n goeie bestuurder en administrateur wees. Wanneer hierdie vaardighede met die Gees gekombineer word, het dit al die eienskappe van 'n goeie leier. Dus verstaan ons waar en hoe Moses die geestelike ontvang het, maar wat van die fisiese?

Moses het grootgeword as 'n prins in Egipte. As sulks is hy opgelei om 'n leier van manne, 'n krygsman en 'n staatsman te wees. Te oordeel aan die wyse waarop hy opgetree het om bykans 'n miljoen mense in die woestyn te beheer, kan 'n mens ekerlik aflei dat hy in Egipte deeglik onderrig is. Daarbenewens het hy veertig jaar lank in Midian skape opgepas. Ek besef dat ek Moses se jare as skaapherder dikwels voorgestel het asof hy net rondgesit het, met een oog op die skape en die ander op die groeiende weiding.

Ja, in die verlede het ek die indruk geskep dat Moses sy tyd bloot nutteloos verwyl het, maar moontlik het ek 'n valse indruk geskep. Ek is oortuig dat Moses veel meer as 'n skaapherder was. Hy was, trouens, saam met sy skoonvader, in die veebedryf. Om skape op te pas is maar 'n deel van die pligte van 'n herder. Deur die besit van hierdie skape, het Moses tog sekerlik skape gekoop en verkoop asook op die plaaslike markte met skaapprodukte soos melk, kaas en wol handel gedryf. Benewens die skape, het die kudde ook bokke behels, wat ook vir finansiële gewin geteël is. Moses was 'n entrepeneur, en indien julle enige kennis van die Midde-Oostelike kultuur het, sou julle besef dat hy ook 'n bedrewe onderhandelaar was en oor vaardige bedingingsvermoëns beskik het.

Oorweeg gerus ook hierdie verdere aspek van Moses se leierskapvermoë: Hy moes met mense se aanhoudende klagtes, negatiwiteit en valse beskuldigings opgeskeep sit. Dít is waar die geestelike en genade van God ter sprake kom.


Númeri / Bamidbar {11:1} "En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2} Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. {11:4} En die gemengde bevolking wat onder hulle was, is met lus bevang. Toe het die kinders van Israel ook weer geween en gesê: Wie sal vir ons vleis gee om te eet? {11:5} Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel. {11:6} Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë."


Waarheen gaan ek hiermee? Wel, ek het die gelentheid gehad om met baie messiaanse rabbi's te gesels en is dikwels vertel dat mense hul werk ligtelik opneem en slegs twee dae per week (Vrydag en Saterdag) werk. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie! Gemeenteleiers moet - en dis nie ongewoon nie - 60 tot 70 uur per week werk, wat nodig is om alles te doen wat van hulle vereis word. So, volgende keer as julle dink dat julle moeg is vir jul sekulêre werk en verkieslik jul rabbi's se werk sou wou hê, dink aan Moses en ook aan wat ek sopas gesê het!


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 06 Junie 2009

Heen-en-Weer-Beweging

Rigting-Bepaling / Naso | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link


Númeri / BaMidbar 4:21-7:89

Rigters / Shoftim 13:2-25

Handelinge / Ma'asei Acts 21:17-26


Númeri / Bamidbar {4:21} "En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {4:22} Neem die volle getal op ook van die seuns van Gerson volgens hulle families, volgens hulle geslagte. {4:23} Jy moet hulle tel van dertig jaar oud en daarbo, tot vyftig jaar, almal wat verplig is om diens te doen, om dienswerk te verrig by die tent van samekoms. {4:24} Dit sal die dienswerk van die geslagte van die Gersoniete wees by die diens en by die vervoer: {4:25} hulle moet die tentdoeke van die tabernakel dra, ook die tent van samekoms, sy dekkleed en die dekkleed van robbevelle wat daar bo-oor is, en die bedekking vir die ingang van die tent van samekoms {4:26} en die behangsels van die voorhof en die bedekking vir die ingang van die poort van die voorhof wat rondom die tabernakel en die altaar is, en hulle lyne sowel as al die gereedskap wat by die bediening daarvan behoort; en alles wat daarvoor gedoen moet word, moet hulle verrig."


Netsoos God spesifieke verantwoordelikhede aan die priesterlike familie van Gerson toegewys het, het hy so ook aan die priesterlike families van Merári en Kohát verantwoordelikhede toegewys. Elke familie moes 'n spesifieke taak verrig en nie een van die onderskeie families kon die ander s'n uitvoer nie. Indien hulle dit wel sou gedoen het, sou dit gewees het asof "vreemde vuur" voor die aangesig van die Here gebring word en ons weet hoe Hy vantevore al in so 'n situasie gehandel het! Elke Levitiese familie moes hul eie spesifieke taak uitvoer elke keer wat God besluit het om Israel te verskuif en hulle moes dit in die regte volgorde verrig.

Ek glo dat God ook aan elkeen van ons sekere verantwoordelikhede toegewys het, wat ons hier op aarde nakom. Dit is waarom ons geleer word:


1 Korínthiërs / Korintim Alef {12:14} "Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. {12:15} As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:16} En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie—behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? {12:17} As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? {12:18} Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het."


Ons het almal gesien hoedat atlete aan die Olimpiese Spele deelneem. Elke atleet moet hardloop slegs in die baan wat aan hom / haar toegewys is. Indien hulle uit hul bane in 'n ander atleet se baan inbeweeg, word hulle gediskwalifiseer. As julle in die verkeerde baan hardloop of in iemand anders se baan inbeweeg of tussen bane slinger, gaan julle beslis gediskwalifiseer word en sal julle die resies nie kan voltooi nie en gevolglik die doel in julle roeping mis.


Wees dus versigtig dat julle nie gaan waar God julle nie geplaas het nie. Wees versigtig om nie te doen wat God julle nie beveel het om te doen nie. Dit berus by ons om te bepaal waarheen God ons geroep het en in daardie baan te bly. - dit is uiters belangrik. Indien julle in die korrekte baan kom, die één wat God vir julle bestem het, en alles wat julle afrem, afgewerp het, soos om na ander te kyk en julle te bemoei met wat hulle doen, dan gaan julle die resies wen wat God voor julle gestel het en sal julle die prys ontvang wat Hy voorberei het vir almal wat oor die wenstreep gaan.


Romeine / Romim {1:16} "Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek."


As julle eerste prioriteit is om nie die Joodse volk tot die Messias, Jesus te bekeer nie, volgens die Skrif, hardloop julle dan in die verkeerde baan. Julle moet verseker getuig aan elkeen wat julle teëkom - ongeag wie hulle is - maar jul eerste prioriteit moet Jode wees! Dit is my prioriteit en dit is die baan waarin ek is. Ook is dit die rede waarom ek nie uitgaan om in ander kerke te preek nie, want dit is nie die baan waarin God my geplaas het nie.


Ek wil julle graag help. Sommige van julle hardloop holderstebolder. Julle doen dit vir 'n rukke terwyl julle al jul krag daarvoor inspan; na 'n tydjie, wanneer julle daarmee verveeld raak, besluit julle dat God wil hê dat julle iets anders moet doen, en bestee dan al julle tyd aan iets anders. Julle wissel voortdurend van bane en diskwalifiseer julself. Hardloop in die baan waarin God julle geplaas het en bly daarin.


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved