Saterdag 28 Mei 2011

Die “Regeerder”

28 Mei 2011 / Iyar 24 5771

In Die Woestyn / BaMidbar


Númeri / Bamidbar {1:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê: {1:2} Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof; {1:3} van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron. {1:4} En met julle saam moet daar van elke stam ‘n man wees, ‘n man wat hoof is van sy families. {1:16} Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. ”

Die aangehaalde Skrifgedeeltes uit hierdie week se parasha, is heel voor-die-hand liggend. Dit verduidelik Moses se keuse van leiers, stamhoofde, om saam met hom die aantal kinders van Israel te bepaal. Die vraag ontstaan dus waarom hierdie gedeeltes nou juis kommentaar vereis? Is dit die betiteling (vers 16) wat aan die individuele stamleiers gegee is? Hulle word “regeerders” genoem. Wat is betekenisvol aan die benaming “regeerders” vir stamleiers? Wanneer die eindtyd oorweeg word, is daar inderdaad veel betekenis.

Die volgende gedeelte word uit die boek Eségiël / Yechezkel aangehaal. Dit verwys na ‘n “regeerder” van die eindtyd, wat deur baie aanvaar word as ‘n verwysing na Jesus die Messias gedurende die Duisendjarige Ryk. Ek verskil egter van hierdie opvatting, omdat ek glo dat hierdie “regeerder” eerder ‘n fisiese mens sal wees, iemand anders as Jesus, wat tydens die Duisendjarige Ryk lewend sal wees. Ek meen eerder dat hierdie man heelwaarskynlik uit die koninklike stam van Judas sal kom. Vergun my om dit verder te verduidelik:

Eségiël / Yechezkel {44:2} “ En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly. {44:3} Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan. ”

In hierdie gedeelte is twee afsonderlike persone ter sprake: God (die Here) en die “regeerder”. Aan ons word gesê dat die oostelike poort van die heiligdom ontoeganklik vir enigeen behalwe die “regeerder” sal wees, omdat God deur daardie poort ingegaan het. Ek meen egter dat die God, na wie hier verwys word Jesus die Messias is, wat met Sy wederkoms, die tempel (Bet HaMikdash) sal laat herbou en die priesterdom hervestig. Ek glo dat Hy ‘n “regeerder” uit die huis van Dawid sal aanwys om na Jerusalem en die tempel om te sien. Ek is verder oortuig van my sienswyse, wanneer ek die volgende Skrifgedeelte lees:

Eségiël / Yechezkel {45:7} “En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.”

Wat hier beskryf word, is ‘n gedeelte van die land wat as die “regeerder” se gedeelte van die eiendom, sy persoonlike besitting, sal bekendstaan. Ons wéét sonder twyfel:

Psalm / Tehillim {24:1} “‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;”

Jesus die Messias sal dus nie behoefte hê aan persoonlike eiendom of ‘n plek om te woon nie. Die volgende Skrifgedeelte was van al die tersaaklike gedeeltes vir my die mees openbarende:

Eségiël / Yechezkel {46:16} “ So sê die Here HERE: As die vors aan een van sy seuns ‘n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis. 46:17 Maar as hy van sy erfdeel ‘n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees. ”

Jesus die Messias beskik nou oor ‘n verheerlikte liggaam. Dit is soortgelyk aan die liggaam wat ons sal hê met die opwekking van die dode, wanneer die Messias weer kom. Hier volg wat Jesus aangaande daardie liggame vir ons gesê het:

Lukas / Uri {20:34} “ Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; {20:35} maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. {Luk 20:36} Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. ”

Ongetwyfeld sal Jesus die Messias nie in die huwelik tree nie en dus geen menslike kinders hê nie. Die volgende Skrifgedeelte, glo ek, bevestig egter my teorie dat die “regeerder” iemand anders as Jesus die Messias sal wees:

Eségiël / Yechezkel {46:18} “En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ‘n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie. ”

Indien die “regeerder” Jesus die Messias was, sou dit nodig geblyk het dat dit aan Hom gesê word? Ek dink nie so nie! Sou ons dit ooit van Jesus die Messias – God – kon begryp dat Hy enigeen se erfdeel deur geweld vir Homself sou toeëien of hulle hul besitting ontneem sodat Hy dit in besit kon neem? Nooit!!! Nietemin vind ons tog sulke instruksies aan die “regeerder”. Daarom volstaan ek daarmee: Die “regeerder” is nie Jesus die Messias nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 21 Mei 2011

Moenie Iets In Onbessonnenheid Toewy (of Belowe) Nie

21 Mei 2011/ Iyar 17 5771

Volgens My Statute / BeChukotai


Levítikus/ VaYikra {27:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {27:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand ‘n besondere gelofte aflê mense aan die HERE toewy volgens jou skatting, {27:3} dan moet jou skatting vir ‘n manspersoon van twintig tot sestig jaar, dan moet jou skatting vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die heiligdom. {27:4} Maar is dit ‘n vrou, dan moet jou skatting dertig sikkels wees. ”

Het jy al ooit jouself of enigiets anders aan die Here toegewy? Indien wel, dan handel hierdie hoofstuk (27) van die Skrif daaroor. Tydens die tempeltye sou mense ‘n eed geneem het om hulself of ander artikels aan die diens van God toe te wy. Nie alles wat hulle toegewy het, was diensbaar nie en gevolglik het God voorsiening gemaak vir ‘n stelsel van evaluasie waardeur priesters (cohen) die waarde van enige sodanige toewydingsvoorwerp kon skat. Indien ‘n persoon homself aan die diens van God toegewy het, het die moontlikheid tog altyd bestaan dat hy nie noodwendig gebruik kon word nie; trouens, dit was die Leviete (Liviim) wat deur God aangewys is om Hom te dien. ‘n Geldelike evaluasie kon dus in die plek van die betrokke individu betaal en die geld aan die diens van die Here toegewy word. Ons moet besef dat dit ‘n volkome vrywillige eed was. Geen persoon was verplig om homself of enige van sy besittings aan God toe te wy nie, maar as so ‘n verpligting egter aangegaan is, was dit bindend deur sy eed.

Ek dink dit is doodnatuurlik vir iemand wat in Jesus die Messias en Sy redding glo, om hom-/ haarself aan Hom te wil toewy.

Psalm / Tehillim {116:12} “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my? {116:13} Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep. {116:14} My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.”

Iemand wat die Here liefhet, hoef nie aangesê te word om te doen wat die Psalmis gedoen het nie. Hy / sy doen dit uit vrye wil en uit sy / haar hart. Die apostel Paulus (Shaliach Shaul) gee dieselfde sentimente weer wanneer hy in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) soos volg skryf:

Romeine / Romim {12:1} “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”

Hierdie gedeelte kan vergelyk word met wat ons in Levitikus (VaYikra) 27 van hierdie week se parasha lees. Let daarop dat Paulus ook die toewyding van onsself aan God, as uit vrye wil beskou. Hy gebruik die woorde: “Ek vermaan julle,” wat ‘n algehele vrywillige handeling impliseer.

Daar is egter ook ‘n ander sy hiervan, naamlik, om geloftes te doen wat ons nie nakom nie, kan geestelik en fisies rampspoedig wees:

Spreuke / Mishlei {20:25} “Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg. ”

Ek is al by geleentheid deur grootouers, wat aan die gemeente behoort, maar wie se getroude kinders nie hieraan behoort nie, versoek om vir ‘n nuwe kleinkind ‘n toewydingseremonie aan die Here te hou. Ek is ook al versoek om sodanige seremonie te hou vir ‘n baba van egpare wat die gemeente slegs af en toe besoek maar geen werklike belangstelling in die gemeente of die waardes, wat ons handhaaf, toon nie. Vanselfsprekend plaas dit my in ‘n baie netelige posisie, want volgens hierdie kindertoewydingsdiensformulier word die ouers versoek om te belowe dat hulle hul kind in die tug en vermaning van die Here sal opvoed (Efesiërs / Efesos 6:4). Hoe kan ek mense dan vra om te belowe om hul kind en sy / haar opvoeding aan die Here te wy, terwyl ek terdeë daarvan bewus is dat die ouers nie hul belofte sal nakom nie – veral omdat hulle hulsef nie eers werklik aan die Here gewy het nie?

Deuteronomium / Devarim {23:21} “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. ”

Het jy jouself al ooit aan die Here gewy? Het jy al jou kinders en / of kleinkinders aan Hom opgedra? Het jy jou sakebelange, jou huis of enige ander van jou besittings aan Hom gewy? Indien wel, selfs al het Hy jou nie beveel om dit te doen nie en jy dit uit vrye wil gedoen het, dan móét jy jou beloftes nakom. Onthou om eerder tweemaal te dink voordat jy so ‘n belofte aflê want God sal die nakoming van jou belofte van jou eis!

Deuteronomium / Devarim {23:22} “Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie. {23:23} Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het. ”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 14 Mei 2011

Kranksinnigheid is Nader as wat ons Meen

14 Mei 2011 / Iyar 10 5771

Op Die Berg / BeHar


Levitikus / VaYikra {25:25} “As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het. {25:26} En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, {25:27} moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan. {25:28} Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan. ”

Elkeen van ons ervaar een of ander tyd moeilike tye. ‘n Mens hoef nie ver te soek om te sien hoe waar dit is nie – kyk maar wat in die Verenigde State van Amerika plaasvind! Vanweë die ekonomiese resessie, is baie mense werkloos en ly daaronder. Juis as gevolg van hierdie ongunstige ekonomiese omstandighede, kan vele mense nie hul verpligtinge met betrekking tot verbande nakom nie en verloor hulle hul woonhuise. Gesinne, ouers met hul kinders, word uit hul huise gesit – sommige selfs met geweld – moontlik nie deur hul eie toedoen nie, maar as gevolg van ‘n nasionale sonde van gierigheid. Ja, gesinne met kinders, wat voorheen in rykmanswoonbuurte gewoon het, word deur dié ongunstige ekonomiese toestand wat deur gierigheid gepropageer is, gedwing om in goedkoop eenkamer-motelle te woon of selfs in hul motors te slaap. Hulle leef daagliks van die hand na die mond. Mans en dames wat vroeër bogemiddelde salarisse verdien het, moet nou die minderwaardigste moontlik beskikbare werk verrig om net te kan oorleef.

Almal ondervind soms moeilike tye, maar sou dit nie wonderlik gewees het as die Verenigde State van Amerika en, wat dit betref, alle wêreldlande die Tora gehoorsaam en aan die Bybelse opdragte (soos hierbo) uitvoering gegee het nie? Indien die Tora die landswet was, sou hierdie mense die hoop kon hê om eendag na hul huise en die plek waar hulle kinders grootgemaak is, terug te keer. Hulle sou daarna kon uitsien om terug te gaan na waar hulle grootliks hul lewe deurgebring het – alles sou nie verlore gewees het nie! Daar sou nog geleentheid gewees het om van hul skade te herstel. Sou dit nie ideaal gewees het nie?

Die lewe is siklies: een jaar is teëspoedig en die volgende voorspoedig. Meen julle nie ook dat dit die rigting behoort te wees waarheen ‘n verligte en sorgsame wêreld moes beweeg nie? In plaas daarvan, beweeg die wêreld in die teenoorgestelde rigting. Die “Sharia”-wet – wat die Moslem- of Islamitiese wet is – word oorweeg en toegepas in verskeie state van die Verenigde State asook in ander nie-Moslem-lande oor die wêreld heen! ‘n Wet wat ‘n agtjarige seuntjie in Iran se arm deur ‘n motor laat afry het, as straf omdat hy ‘n brood gesteel het; ‘n wet wat die regte van ‘n vrou misken en mans begunstig, soos in Nigerië waar ‘n vrou gestenig word vir owerspel, maar die man wat daarby betrokke was, ongestraf gelaat het en ‘n wet wat moorde ter wille van eer toelaat. Dit is wat die leiers van ons vrye wêreld toelaat in plaas van om die Tora toe te laat en die navolging van die voorskrifte daarvan, aan te moedig. Sou julle meen dit is vanweë anti-Semitisme of is net téén God of bloot uit vrees vir weerwraak deur die Moslem-gemeenskap?

Die dag sal nog aanbreek waarop daar geen geregtigheid op aarde sal wees nie. Kranksinnigheid sal die wêreld oorneem. Dit is ‘n feit dat, met die Sharia-wet wat geleidelik ons provinsies, state en lande infiltreer, ons inderdaad nader aan daardie kranksinnigheid is as wat ons werklik besef.

Donderdagaande word hier by Melech Yisrael se Schacharit-oggend-biddiens ‘n gebed gebid wat elke oggend in meeste sinagoges regoor die wêreld plaasvind. Dit lui soos volg (vry vertaal):

“Vernuwe ons regters soos in die vroegste tye en raadgewers soos wat dit aanvanklik was; neem droefheid en gekerm van ons weg; en heers oor ons – U, o God, alleen – met goedheid en mededoë, en verdedig ons op grond van U oordeel. Geseënd is U, God, die Koning wat geregtigheid en oordeel liefhet.”

Kom spoedig, Here Jesus!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Saterdag 07 Mei 2011

As Priesters

7 Mei 2011 / Iyar 3 5771

Sê / Emor


Levitikus / VaYikra {21:1} “Verder het die HERE vir Moses gesê: Spreek met die priesters, die seuns van Aäron, en sê vir hulle: Aan ‘n dooie moet ‘n priester hom nie verontreinig onder sy volksgenote nie; Lev 21:2 behalwe aan sy bloedverwant, sy nabestaande: aan sy moeder en sy vader en sy seun en sy dogter en sy broer; Lev 21:3 en aan sy suster wat jongmeisie is, sy nabestaande, wat nie aan ‘n man toebehoort het nie aan haar mag hy hom verontreinig. Lev 21:4 Hy mag hom as getroude man nie verontreinig onder sy volksgenote om hom te ontheilig nie. Lev 21:5 Hulle mag op hul hoof geen kaalte maak en die rand van hulle baard nie wegskeer en in hulle vlees geen insnyding maak nie. Lev 21:6 Heilig moet hulle aan hulle God wees en die Naam van hulle God nie ontheilig nie; want hulle offer die vuuroffers van die HERE, die spys van hulle God; daarom moet hulle heilig wees.”

Vóór die goue kalf-insident, was die ganse volk van Israel veronderstel om ‘n koninkryk van priesters te wees.

Eksodus / Shemot {19:6} “En júlle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.”

Volgens die Skrif, het Moses egter tydens die goue kalf-voorval ‘n algemene beroep op die hele Israel gedoen om te kies om aan die Here se kant te staan. Die Skrif deel dan mee dat al die seuns van die Levi-stam verkies het om hulle aan die Here se kant te skaar. Nadat hulle gedoen het waartoe hulle geroep is, het Moses verklaar dat hulle vanaf daardie dag verorden is vir die diens van God. Sou dit dan toevallig wees dat God hulle bo al die stamme van Israel uitverkies het om voor Hom diens te verrig? Ek dink nie so nie! In plaas daarvan dat die volk ‘n koninkryk van priesters sou wees, is die Leviete dus ‘n stam van priesters gemaak en as sulks het hulle ‘n hoër godsdienstige peil gehandhaaf. Ons moet egter begryp dat die hele volk van Israel alreeds ‘n hoër peil van die Tora gehandhaaf het as die res van die nasies. Hierdie Tora-standaard was aansienlik hoër as die peil van al die ander nasies wat Israel later sou onteien. Die Leviete, hierdie nuwe stam van priesters, sou egter voortaan op ‘n selfs hoër peil as die res van Israel gehou word.

In hoofsaak, is die boek Levitikus aan die priesterdom – die stam van Levi gewy. Ek meld dit juis omdat almal wat in Jesus die Messias glo, priesters is en gevolglik deur God op daardie hoë peil gehou is, waarop die priesterstam van Levi verkeer het. Behalwe natuurlik, dat ons nie hoef deel te neem aan die naderkomsoffers (korbanot) nie aangesien die tempel (BetMikdash) nie langer bestaan nie of ‘n behoefte daaraan nie, aangesien Jesus die Messias ons finale offer (korban) is.

1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”

Wat beteken dit vir ons? Dit bedoel dat ons, as priesters, uiters versigtig moet wees om onsself nie met die sondige weë van die wêreld te besoedel nie. Ek meen dat hierdie Skrifgedeelte dit vir ons opsom.

Efesiërs / Efesos {4:17} “Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie— Eph 4:18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; Eph 4:19 wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. Eph 4:20 Maar julle het Christus nie so leer ken nie, Eph 4:21 as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: Eph 4:22 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, Eph 4:23 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed Eph 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Eph 4:25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Eph 4:26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; Eph 4:27 en gee aan die duiwel geen plek nie. Eph 4:28 Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Eph 4:29 Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. Eph 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Eph 4:31 Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Eph 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”

As ‘n gelowige, is daar egter sommige dinge wat ek nie kan nakom nie. Één voorbeeld is dat ek nie op die Sabbat ‘n begrafnis kan bywoon nie, aangesien dit, volgens die Skrif, ‘n dag is wat opsygesit is as herinnering aan die skepping, ‘n dag vir vreugde, verblyding en vir lewe. Daarom sou dit onvanpas wees vir my of enige gelowige wees om op die Sabbat deel te neem aan enigiets betreffende die dood. Onthou wat Paulus heel gepas vir ons sê:

Romeine / Romim {12:2} “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Woensdag 04 Mei 2011

Om Steeds Die Gebooie Te Onderhou

30 April 2011 / Nisan 26 5771

Afgesonderdes (Heiliges) / Kedoshim


Levitikus / VaYikra {19:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {19:2} Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die HERE julle God, is heilig.”

Die Torah (eerste vyf boeke van die Bybel) handel spesifiek daaroor om ons te onderrig hoedat ons kadesh (afgesonder / heilig) kan wees soos wat God heilig is. In hierdie week se parasha – parasha Kedoshim – verneem ons dat God dit aan Moses opdra om tot die kinders van Israel te spreek en hulle te bevel om kadosh te wees en wel aan die hand van ‘n eensydige lys van wat dit alles behels. God verduidelik aan hulle sekere dinge wat hulle moet doen ten einde soortgelyk aan Sy vlak van heiligheid te verkeer. Hierdie lys is inderdaad ook op ons van toepassing, alhoewel dit vir baie mense onmoontlik lyk om kadosh soos God te wees. Nadat ek egter die lys deurgelees het, kon ek niks vind wat ons nié deur die krag van die Heilige Gees (Ruach HaKodesh), wat in elkeen wat in Jesus die Messias glo, woonagtig is, kan vermag nie. Daar word natuurlik nie van ons verwag om steeds tempel-verwante dinge na te kom nie omdat die tempel nie langer bestaan nie; die res van die vereistes is egter doodeenvoudig. Hier volg juis ‘n voorbeeld van een van die laasgenoemde vereistes:

Levitikus / VaYikra {19: 9} “En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. {19:10} Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.”

Indien jy nie ‘n boer is nie, hoe sal ‘n mens hierdie kadosh-vereiste nakom? Word dit steeds van ons verwag om dit na te kom? Laat my my toe om daarop te wys dat God ons nie dwing om iets te doen nie! Alles wat ons vir die Here doen, moet vanuit die hart gedoen word en nie uit dwang nie. Aangesien meeste van ons nie boer nie en gevolglik nie hierdie gebod met betrekking tot letterlik die kante van landerye / wingerde kan nakom nie, kan ons dit nietemin gehoorsaam as ons in die sakewêreld is. Ek het al met baie gelowige sakelui wat vir hulself werk hieroor gesels. Sommige staan tien persent van hul maatskappywnste aan die armes af, terwyl ander aan humanitêre aangeleenthede of ander projekte vir behoeftiges deelneem. Dít is natuurlik bo-en-behalwe die persoonlike tiendes van hul salarisse. Sodoende kan dit vergelykbaar beskou word daaraan om nie ook die kante van jou landerye skoon af te oes nie.

Hier volg ‘n verdere voorbeeld uit dié week se parasha:

Levitikus / VaYikra {19:19} “Julle moet my insettinge hou. Twee soorte van jou vee mag jy nie laat paar nie. Jou akker moet jy nie met twee soorte saad besaai nie. En ‘n kleed van twee soorte goed, van gemengde stof, mag nie op jou kom nie.”

Ek wil graag in besonder die gedeelte oor veeteelt behandel. Daar is baie soorte diere, soos koeie en soortgelyke diere soos die yak en buffels. Selfs indien ‘n koei deur ‘n yak of buffel gedek sou word en kalf, is dit nie dieselfde soort diere nie; kruisrasteling behoort dus hoegenaamd nie toegelaat te word nie. Verskillende beesrasse (byvoorbeeld ‘n Jerseykoei met ‘n Holsteinbul) kan gekruisteel word, omdat albei van dieselfde sort vee is. ‘n Donkie is nie ‘n perd nie; Dit is twee verskillende diersoorte en so ‘n kruising is myns insiens onheilig. In die verlede het misleide en bevooroordeelde Christene die bogemelde Skrifgedeelte gebruik om apartheid (segregasie en diskriminasie op grond van ras) te regverdig. Of ons nou mense met ‘n ligte-, donker-, geel- of swartvelkleur is, ons is almal mense! Daarom is die bovermelde Skrifaanhaling geensins op onderlinge rasverhoudings toepaslik nie.

Levitikus / VaYikra {19:23} “En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie. {19:24} Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan die HERE wees; ”

Ons wat tuiniers is, besef dat as ‘n mens ‘n jong boom, wat onlangs geplant is, wil laat groei en meer asook beter gehalte vrugte wil verseker, moet die eerste bloeisels afgebreek word sodat die boom vir die eerste drie jaar geen vrug dra nie. Indien dit gedoen word sal die boom in die vierde jaar oorvloedig vrug dra. Volgens die Woord, mag daardie vrugte nie geëet word nie – dit moes aan die Here geoffer word. Om hierdie gebod (mitzvah) vandag uit te voer, kan die vrugte van die vierde jaar moontlik as ‘n gawe aan die Here gebruik word deur dit na die gemeente te bring en dit as ‘n offer vir gebruik tydens die gemeentelike oneg (maaltyd ter ere van die Sabbat) te gebruik.

Die volgende vereiste mag vir sommiges ietwat sensitief voorkom:

Levitikus / VaYikra {20:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {20:2} Jy moet ook aan die kinders van Israel sê: Elkeen uit die kinders van Israel of uit die vreemdelinge wat in Israel vertoef, wat van sy kinders aan Molog gee, moet sekerlik gedood word. Die volk van die land moet hom stenig.”

Moleg was ‘n sataniese afgod aan wie kinders (gewoonlik babas) as menslike offers gebring is. Die doel van hierdie menslike offers was om Moleg te vereer sodat hy die offer en betrokke gesin sou seen.

Hoe word Molegaanbidding in ons hedendaagse konteks nog beoefen? Niemand bring tog meer menslike offerandes – en veral kinders – in Noord-Amerika nie? So’n barbaarse praktyk kan mos nie in ons beskaafde wêreld beoefen word nie, of is dit nog moontlik? Ongelukkig word sataniese offerandes selfs in Noord-Amerika geoffer. In breër konteks, sou ek egter meen dat aborsie een van die hedendaagse Molegaanbiddingsvorms is, waaraan ons sogenaamde beskaafde mense skuldig is. In plaas van die fisiese Molegafgod, aanbid ons die afgod van selfgenot. As ‘n kultuur en as die menslike ras, aanbid ons by die altare van humanisme. Ons beskou onsself as finale gesag om te bepaal wat reg of verkeerd is. Aan hierdie “Moleg”, offer ons ons kinders, tot voordeel van ons eie God (dit is onsself).

Ek vertrou dat julle, aan die hand van hierdie kommentaar, sal besef dat ons vandag steeds die gebooie van die Tora wel kan onderhou.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou