Metzora
(Iemand wat ly aan Tzara’at (Leprose))
Ek vertrou dat julle die hele Parasha sal deurlees anders glo ek nie dat julle ten volle sal waardeer wat ek hier geskryf het nie. Net in geval dit wel gebeur, verstrek ek as voorbeeld slegs enkele gedeeltes, sodat julle kan begryp wat ek bedoel.
Levitikus {14:7} "En hy moet op hom wat van die melaatsheid gereinig moet word, sewe maal sprinkel en hom reinig, en die lewendige voël moet hy oor die oop veld laat wegvlieg.{14:8} Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ’n bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly. {14:33} VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê:{14:34} As julle in die land Kanaän inkom wat Ek julle as besitting gee, en Ek die plaag van melaatsheid in ’n huis van die land van julle besitting laat kom, {14:35} moet hy aan wie die huis behoort, kom en aan die priester te kenne gee en sê: Dit lyk my of daar ’n plaag in die huis is. {14:47} En hy wat in die huis slaap, moet sy klere was; en hy wat in die huis eet, moet sy klere was. {15:1} VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: {15:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As enige man ’n vloeiing uit sy vlees het, dan is dié vog onrein. {15:3} En dit sal sy onreinheid deur die vloeiing wees: As sy vlees die vog laat loop of sy vlees verstop raak van die vog — dit is ’n onreinheid in hom {15:4} Elke bed waar hy op lê wat die vloeiing het, sal onrein wees; en alles waar hy op sit, sal onrein wees.{15:5} En elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en ’n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein; {15:17} Ook elke kledingstuk en elke vel waar die saadvloeiing op kom, moet in die water gewas word en dit bly tot die aand toe onrein. {15:18} En wat die vrou aangaan met wie ’n man vleeslike gemeenskap het — altwee moet ’n bad neem en sal tot die aand toe onrein wees.
Verstaan julle wat ek bedoel? Daar moes ‘n groot aantal onrein mense gewees het; trouens, dit sou bykans onmoontlik gewees het om nie onrein te wees nie. Wie sou kon geweet het wie onrein was of geslagsgemeenskap gehad het of wie ‘n plaag in hulle huis gehad het, as hulle dit nie self vertel het nie? Indien dit alles vandag op ons van toepassing was, sou ons afgesonder soos kluisenaars moes leef om nooit iets of iemand aan te raak nie uit vrees om onrein te raak.
Uit hierdie Parasha is dit duidelik dat onreinheid besmetlik is, soos ‘n verkoue of griep. Hoe het mense dan alledaags te werk gegaan en normale lewens gely gedurende die Bybelse tye in Israel? Verbasend genoeg, het hulle tog daarin geslaag! Ek vermoed elkeen was versigtig genoeg om die nodige voorsorg te tref dat hulle ander mense nie besmet nie.
Hierdie rituele reiniging het egter net gegeld vir diegene wat die tempel besoek het. Vir elke manlike persoon sou dit beteken om driemaal per jaar op die drie heilige dae: Pasga, Pinkster en die Fees van die Tabernakels voor God te verskyn. Hulle het gekom met die doel om ‘n naderkomsoffer (Korbanot) of enige ander tipe offer aan die Here te bring. Enigiets wat ‘n persoon onrein gemaak het, het hom natuurlik ongeskik gemaak om in die teenwoordigheid van God te kom. Daarom was dit om ritueel rein te wees, ‘n alledaagse deel van die Israeliet se lewe. Aangesien daar nie langer ‘n Tempel in Jerusalem is nie, is hierdie wette vandag nie meer van krag nie. Veronderstel ons neem hierdie wette in moderne tye oor, maar pas slegs die beginsels daarvan toe maar nie die wette van hierdie Parasha nie. Sou dit nie ‘n ideale samelewing gewees het as iemand met verkoue, griep of enige ander oordraagbare of besmetlike siekte, opreg omgegee en voorsorg getref het om nie hulle kieme te versprei nie? Ons sou nie net ‘n meer bedagsame samelewing gehad het nie, maar ook ‘n gesonder een. Dink net hoeveel lewens gered sou word en minder siektes daar sou gewees het. Die koste van gesondheidsorg en – versekering sou aansienlik minder gewees het en minder inentings sou nodig gewees het. Miskien behoort ons ‘n “Elkeen Behoort die Tora te Gehoorsaam” – beweging te begin en voorstel dat elkeen waar moontlik die Tora - beginsels op hulle lewens toepas. Indien dit lewensvatbaar was, sou dit ‘n wonderlike wêreld tot gevolg gehad het!
Kom gou Jesus!
![]() |
| PDF weergawe |
