Saterdag 25 September 2021

Oorskietkos

Sukkot 
(Tabernakels) 


Levítikus {22:26} "Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {22:27} As ‘n bees of ‘n lam of ‘n bok aankom, moet dit sewe dae lank onder sy moeder bly; maar van die agtste dag af en verder sal dit met welgevalle aangeneem word as ‘n vuuroffergawe aan die HERE. {22:28} ‘n Bees of stuk kleinvee mag julle ook nie saam met sy kleintjie op een dag slag nie. {22:29} En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE. {22:31} Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is die HERE. {22:32} En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, {22:33} wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE." 

Hierdie Sabbat is daar 'n spesiale Torah Parasha - lesing, omrede dit die eerste dag van Sukkot is. Sukkot is 'n dankseggingsfees; dit verteenwoordig, landboukundig, die einde van die najaar-oesseisoen en daarom word dank betuig vir die milddadige oes en voorsiening van God aan Sy kinders. Spiritueel is Sukkot 'n beeld van Jesus die Messias, wat ons op aarde beskut. 

Volg my, soos wat ek die reeks gebeure wat deur die Feeste van die Here uitgebeeld word, verduidelik. Die Feeste van die Lente, wat die dood en opstanding van Jesus verteenwoordig, is reeds verby en uitgebeeld deur Paasfees en Hag HaMatzah (Ongesuurde Brood). Die Fees van Yom HaBikkurim (Eerste Vrugte) wat óns voorstel as die eerste vrugte van Jesus se opstanding, is ook reeds verby. Die Fees wat die instelling van die Heilige Gees se uitstorting oor alle vlees, het reeds begin, soos uitgebeeld deur Shavuot (Pinkster). Die Fees wat die Oordeel oor die Aarde voorstel, word deur Yom Teruah (Dag waarop die Shofar geblaas word) voorgestel en terwyl die voorstelling wat hierdie fees uitbeeld, nog nie fisies plaasgevind het nie, het die viering daarvan reeds verbygegaan met hierdie Bybelse jaar. Die Fees wat die triomfantlike wederkoms van Jesus die Messias as Koning van Israel asook die wêreld verteenwoordig, is ook reeds in hierdie bybelse jaar verby, soos deur Yom Kippur (Dag van Versoening) uitgebeeld. Al wat nog vanjaar oorbly, is die Fees wat Jesus die Messias, nou ons Koning, uitbeeld wat Sy koninkryk op aarde finaal vestig en by ons bly vir eenduisend jaar, gedurende Sy Messiaanse Heerskappy. Dit is waaroor Sukkot alles gaan. 

Dit is vanweë Sukkot dat hierdie gedeelte van Levítikus (Va Yikra) op die eerste dag van Sukkot gelees word. Die rede is, eerstens, omdat die aanvangsgedeelte, waarna hierbo verwys word, die dankoffer beskryf: Sukkot is 'n Dankseggingsfees. Tweedens, omdat die laaste gedeelte van die lesing al die Bybelse feesdae beskrywe en eindig met die Fees van Sukkot, wat ons hierdie Sabbat begin vier. 

Met die lees van bogemelde Skrifgedeelte, het iets baie interessant my opgeval. Laat ek weer dié besondere Skrifgedeelte aanhaal: 

Levítikus {22:29} "En as julle ‘n lofoffer aan die HERE bring, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind. {22:30} Op dieselfde dag moet dit geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe nie. Ek is die HERE." 

Toe ek grootgeword het, het my moeder nooit vir ons oorskietkos, met ander woorde voedsel wat van die vorige dag se maaltye oorgebly het, gegee om te eet nie. Sy het altyd alles wat oorgebly het op die dag waarop sy dit voorberei het, weggegooi. So het ek natuurlik grootgeword onder die indruk dat dit so hoort: mense eet nie voedsel wat oorgebly het nie. Toe ek egter ouer geword het, uit my ouerhuis getrek en op my eie gaan woon het, het ek dit as 'n vermorsing beskou om goeie voedsel weg te gooi, wat ek die volgende dag sou kon eet en veral aangesien ek nou my eie maaltye moes voorberei. Dit was bloot logies en het my sowel tyd as geld gespaar. By tye wanneer ek egter sulke oorblyvoedsel weer wou verhit, het ek gevind dat dit reeds bederf het, dit het totaal bedorwe geraak. 

Nadat ek bogemelde Skrifgedeelte deurgelees het, het ek gewonder:" Hou God nie van oorblyvoedsel nie?" Was my moeder al die jare reg gewees en ek verkeerd? 

Die feit is dat geeneen van ons reg of verkeerd was nie, ons het verskillende voor-en afkeure gehad. Hierdie gedeelte van ons Parasha-lesing vir dié week, het niks met oorblyvoedsel te doen nie, maar inderdaad alles met Jesus die Messias. 

Die dankoffer was vrywillig; elkeen het dit vrywilliglik gegee. Aangesien Jesus die Messias al die offers geword het, omdat sedert Sy dood en opstanding en vóór die vernietiging van die tempel, verteenwoordig die Korban (Offergawe wat vir die Here aanneemlik is) in vers 29 hierbo, die Vader se vrywillige Korban van Sy Seun en die Seun se vry wil om geoffer te word. 

Hebreërs {12:2} "die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het." 

Dit was Jesus die Messias se vreugde om Homself vir ons te offer. Daarom moet hierdie offer 
dieselfde dag geëet word, sodat daar nie geleentheid is dat dit kan bederf of geheel bedorwe raak nie. 

Ons Messias het nie bederf gesien nie: Hy het uit die dood opgestaan en sit nou aan die regterhand van die Vader in die Hemel, waar Hy vir ons as Bemiddelaar optree. 

Psalm {16:10} "want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie." 

Kom gou Jesus! 

PDF weergawe

Sondag 19 September 2021

Gekoop

Ha'Azinu
(Luister)


Deuteronomium {32:1} "Luister, o hemele, dat ek kan spreek, en laat die aarde hoor die woorde van my mond. {32:2}  Laat my leer drup soos die reën, my woord vloei soos die dou, soos reëndruppels op die grasspruitjies en soos reënbuie op die plante. {32:3}  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God! {32:4}  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy. {32:5}  Hulle het verderflik teen Hom gehandel—die wat sy seuns nie was nie, maar hulle skandvlek—’n verkeerde en verdraaide geslag. {32:6}  Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?”   

Parasha Ha'Azinu is 'n lied wat Moses vir die kinders van Israel geskryf het, om te leer en voor te dra, maar hoe weet ons dit was 'n lied? Ons het dit in verlede week se parasha verneem:

Deuteronomium {31:22} "Toe het Moses hierdie lied op dié dag opgeskrywe en dit aan die kinders van Israel geleer. {31:23}  En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, want jy sal die kinders van Israel inbring in die land wat Ek hulle met ‘n eed beloof het; en Ek sal met jou wees."

Die sesde vers van hierdie lied het my veral getref en wel waar Moses sê: "Is Hy nie jou Vader, wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie?". Ek veronderstel dat hierdie woorde moontlik vreemd vir die kinders van Israel geklink het. Hulle het dalk gewonder: " Wat bedoel Moses deur te sê dat  God, ons Vader, ons gekoop het? "Die feit dat God hulle gevestig en bevry het van slawerny, sou nie vir hulle moelik gewees het om te verstaan nie, maar om deur God gekoop te gewees het, sou hulle beslis nie kon begryp nie.

Van kindsbeen af is die kinders van Israel, as deel van standaard-opvoeding ongetwyfeld geleer dat God hulle uit die stof van die aarde geskep het. Dus sou hulle waarskynlik nie kon verstaan waarom Hy hulle moes koop nie. Tog het Moses dit vir hulle in sy lied duidelik gemaak dat dit presies is wat gebeur het: God het die kinders van Israel gekoop! Ek is seker dat baie van ons - ten minste diegene wat nie in Jesus die Messias glo nie - hierdie konsep dat God mense koop, nie verstaan nie; trouens, dit sou klink soos uit slawerny tot slawerny! 
Die feit is dat God die kinders van Israel gekoop het. Moses se lirieke is korrek! Hy hét hulle gekoop, of meer spesifiek, verower soos buit in 'n oorlog. Die vyand - ongeag die semantiek - in hierdie geval, Egipte, het egter aanspraak gemaak op die volk wat God afgesonder het om Sy eie besondere eiendom te wees. Die Egiptenare het hulle as slawe behandel en God moes hulle terugwen - oftewel, hulle koop uit die slawerny.

Psalm {135:4} "Want die HERE het Jakob vir Hom uitverkies, Israel as sy eiendom."

Wat was die koopsom? Dit was die dood van Farao, wat op hulle aanspraak gemaak en as slawe vir sy eie doeleindes aangehou het. Indien julle hierdie dinge kan insien, aanvaar en ontvang, dan behoort julle te verstaan en aanvaar dat die Hernieude Verbond ons meedeel dat Jesus die Messias, oftewel God as mens, na die aarde gekom het om vir ons te sterf en ons terug te koop vir God. Hierdie keer, het God egter nie slegs die kinders van Israel teruggekoop nie, maar wel die ganse wêreld. Waarom sou Hy ons wéér koop as God ons reeds gekoop het? Die antwoord is dat ons in der waarheid onsself weer verkoop het, maar hierdie keer aan sonde. Ons het slawe van die sonde geword - in essensie het ons, ons siele aan die duiwel, die satan, verkoop en ons is in sy besit.

Johannes {8:34} "Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is."

Dan deel koning Salamo ons mee:

Prediker {7:20} "want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie."

Ons, deur ons eie toedoen, het onsself terugverkoop aan slawerny, oftewel die slawerny van die sonde, maar God wou ons terugkoop. Hy wou die mensdom, sowel Jode as as nie-Jode, verlos van die satan, wat hulle in die slawerny van hul sonde hou, maar om hierdie transaksie na te kom, moes daar 'n losprys wees: 'n uitruiling. Vir die kinders van Israel van ouds, was dit Farao en sy leërmag, maar vir die hedendaagse wêreld, is dit Jesus die Messias.

Hebreërs {2:14}  "Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— {2:15}  en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Jesus die Messias was die losprys: Hy was die verruiling vir ons siele. Sy sterwe het vir ons en ons sondes betaal, sodat die satan nie langer aanspraak op ons sou hê nie. God self - in die gedaante van Jesus die Messias - het die prys geword. Jesus was sowel die koper as die verkoper. Hy het ons verlos om God in gees en waarheid te dien.

Galasiërs {5:1} "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie."

Indien jy nog nie Jesus die Messias as jou Verlosser aanvaar het nie, is jy nog steeds 'n slaaf van die sonde. Die betekenis van Sy dood en die losprys, wat dit verteenwoordig, is nie aan jou toegewys nie. Waarom ontvang jy nie vir Jesus as jou Saligmaker nie en word deel van die bevrydende transaksie wat God vir jou bewerkstellig het?

Kom gou Jesus!

Saterdag 04 September 2021

Gehoorsaamheid

Nitzavim - VaYelech
(Hulle Staan – En Hy Het Gegaan)


Parasha Nitzvavim: God stel dit baie uitdruklik dat, as die kinders van Israel, oftewel almal van ons, Sy gebooie gehoorsaam, noukeurig nakom soos wat Hy beveel het, dan sal dit met hulle lewens voorspoedig gaan.  

Deuteronomium {29:29} "Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet"

Daar is ongetwyfeld baie dinge wat God nie aan ons openbaar het nie en gewis, met ons beperkte insig, is daar baie dinge wat ons nie kan begryp en nie sal verstaan nie. Ek begryp nog nie heeltemal hoe God Homself kan manifesteer op wyses wat onafhanklik funksioneer nie, maar nogtans Een kan wees nie. Ek verstaan nie hoe God bepaal het wat Sy volk mag eet en wat nie. Dit maak egter nie saak nie nie want in hierdie Parasha verneem ek dat ek nie veronderstel is om sowel daardie as ander dinge te verstaan nie. Ek is oortuig dat ek nie is nie omdat dit nog nie ten volle aan my geopenbaar is nie; trouens ons word gesê dat daar sekere geheime is wat, om welke rede rede ookal, God verkies het om vir Homself te bewaar. God het egter in die bogemelde vers, dit baie duidelik gestel dat alles wat Hy in die Torah geskryf het - of ek dit verstaan of nie - ek dit móét onderhou. Dan, ingeval ek myself sou probeer vrystel van enige van die gebooie van God, deur te sê dat Hy Homself slegs tot die kinders van Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel gerig het, wat op daardie tyd dáár was óf dat Hy slegs gespreek het tot diegene van die volk Israel en hul toekomstige lewe in die land Israel óf dat hierdie gebooie nie op nie-Joodse gelowiges toepaslik is nie, het Hy vir ons hierdie vers gegee: 

Deuteronomium {29:14} "En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie, {29:15}  maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die HERE onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie."

God verwys na ons hier en, selfs indien ons nie fisies in die land van Israel is nie of selfs indien ons nie almal Joodse gelowiges in Jesus die Messias is nie, wat hierdie parasha lees, is alles wat Hy tot die kinders van Israel gespreek het, steeds op ons van toepassing.

Die land wat ons as gelowiges in Jesus die Messias binnegegaan het, is God se Koninkryk. Voorheen is ons uit Sy Koninkryk uitgesluit vanweë ons sonde, maar nou, deur die aanvaarding van Jesus die Messias as ons versoening, het Hy die prys vir ons sonde betaal en op grond van wat Hy vir ons gedoen het, het ons toegang tot Sy Koninkryk verkry en die land, wat God voorberei het vir almal wat Hom liefhet, binnegegaan. Ons moet egter onthou dat daar 'n Koning in hierdie Koninkryk is, wat daaroor regeer. Hy vertel ons dat Hy 'n jaloerse Koning is, 'n streng Koning wat wette, reëls en regulasies neergelê het, wat Hy van ons verwag om te eerbiedig en ons is verplig om dit te eerbiedig, as ons in sy land wil bly woon. Hy verseker ons egter dat Hy 'n liefdevolle, genadige en welwillende Koning is en het belowe om ons te seën in die land, soos wat ons Sy gebooie gehoorsaam en onderhou, net soos Hy belowe het om Israel te seën indien hulle Hom sou volg en gehoorsaam wanneer hulle die land Israel binnegegaan het.

Begryp julle dit nie? Die land Israel in die Bybel is 'n tipe Koninkryk van God. Moet dit egter nie misverstaan nie! Die Koninkryk van God is nie 'n spirituele Koninkryk nie - dit is fisies en dit is ons. Vandag is die Koninkryk lewendig en gesond en ons, wat in Jesus die Messias glo, is inderdaad dít. Hierdie Koninkryk mag nou wel klein wees in vergelyking met al die hedendaagse sekulêre koninkryke op aarde, maar eendag sal dit die enigste Koninkryk op aarde wees. Dan sal sy Koning, Jesus die Messias, wéér kom om Sy regmatige posisie in te neem op Sy troon, waar Hy vanuit Jerusalem sal regeer.

Dan, net ingeval ons sou sê - soos ek dikwels al mense hoor sê het: "Dis onmoontlik in ons moderne wêreld en teen sy snelle pas, om al hierdie gebooie, wat God van ons vereis, te onderhou". God sê egter:

Deuteronomium {30:11} "Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie. {30:12}  Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:13}  Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê: Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen? {30:14}  Maar baie naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart, om dit te doen."

Kom ons wees eerlik: ons het geen verskoning nie!

Deuteronomium {31:3} "Die HERE jou God, Hy trek voor jou oor; Hy sal hierdie nasies voor jou uit verdelg, en jy sal hulle uit hul besitting verdrywe; Josua, hy trek voor jou oor soos die HERE gespreek het. {31:4}  En die HERE sal met hulle doen soos Hy met Sihon en met Og, die konings van die Amoriete, en met hulle land gedoen het, wat Hy verdelg het; {31:5}  die HERE sal hulle aan julle oorgee, en julle moet met hulle handel geheel en al volgens die gebod wat ek julle beveel het."

Die kinders van Israel sou in die land teenkanting ondervind. Om die land te verower, sou nie maklik gewees het nie. Die Kanaäniete en Hittiete, onder andere, was daar en hulle sou die kinders van Israel nie sonder 'n geveg toelaat nie. Daarom, as ons volhard om die land van Israel as 'n tipe van God se huidige Koninkryk hier op aarde te beskou, wat óns is, dan kan ons ook opposisie van God se vyande, wat die aarde saam met ons bewoon, verwag terwyl ons na alles poog om hulle ook te onteien. Daar is ook demone in die land, wat nie sonder 'n stryd sal opgee nie. Indien jy in Jesus die Messias glo, dan sal jy besef wat ek bedoel, begryp waarvan ek praat. Soos vir Israel sê God egter vir ons:

Deuteronomium {31:6} “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

Laat ons lesse van Israel leer, want soos God met Israel gehandel het, so sal Hy ook met ons Handel. Ons moet dus leer uit hulle foute en ywerig Sy gebooie onderhou, sodat ons lank in die land mag woon en God se vyande verslaan.

Kom gou Jesus!


PDF weergawe