Shelach
(Stuur)
Numeri {13:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {13:2} Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ‘n owerste onder hulle. {13:3} En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE—hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel. {13:4} En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur. {13:5} Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori. {13:6} Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne. {13:7} Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef. {13:8} Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun. {13:9} Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. {13:10} Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi. {13:11} Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi. {13:12} Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli. {13:13} Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. {13:14} Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. {13:15} Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi. {13:16} Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem. {13:17} En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18} En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19} en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20} ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe."
Nadat ek dié Skrifgedeeltes gelees het, was dit vir my duidelik dat God hierdie landverkenningsopdrag eintlik as 'n toets gebruik het. Lees gerus wat ek hiermee bedoel: “...hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is...” ({13:19}).
Sien julle wat was hier besig om te gebeur? God het Moses beveel om 'n owerste uit elke stam te stuur om vas te stel of die land “goed of sleg” was! As dit nie inderdaad 'n toets vir hierdie manne was nie, dan weet ek nie so mooi nie, maar waarom beskou ek dit as 'n toets? Dit was op grond van wat God voorheen aan Moses en die kinders van Israel gesê het alvorens Hy hulle uit Egipte sou verlos.
Eksodus (Shemot) {3:8} “Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete."
Indien God voorheen vir Moses en die kinders van Israel gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n land was wat oorloop van melk en heuning, waarom sou Hy hulle dan nou opdrag gee om te gaan en ondersoek in te stel of die land goed of sleg is, indien dit nie 'n toets was nie?
Ek weet nie of julle met my sal saamstem nie, maar vir my is hierdie Skrifgedeeltes werklik 'n bemoediging. God het al soveel “Beloofde Land”-tipe beloftes aan my gemaak, maar ek vind dat ek altyd die “land” eers moet gaan verken. Iemand sal miskien wonder waarvan ek praat, maar vergun my om dit met 'n voorbeeld toe te lig. God spreek deesdae met my om meer openhartig en toegeneë teenoor die Moslems te wees. Hy het dit selfs op my hart gelê om in die moslem-gemeenskap, wat in die nabyheid van ons gemeente geleë is, in te gaan en die Evangelie (Besorah Tova) met hulle te deel. Toe ek egter daar ingegaan het om die gemeenskap te verken, het ek boerkas ('n algeheel bedekkende buitekleed, wat deur sommige Moslemvroue gedra word) gesien, vroue met hoofbedekkings en rokke tot op die grond, mans wat soos Semiete lyk, maar ek kon die haat teenoor my, 'n Jood, duidelik aanvoel. Meestal het ek Moslems gesien wat moontlik vir 'n Christelik-georiënteerde Evangelie ontvanklik kon wees, maar nooit as te nimmer in 'n miljoen jaar 'n Joodse Messias sou aanvaar en volgens Sy wil sou gewandel het nie. Nietemin wéét ek dat God dit op my hart gelê het om na hierdie gemeenskap te probeer uitreik. Nou ja, ek kon òf teruggekeer het met 'n ongunstige verslag òf geweier het om enigiets verder met die Moslems te doen te hê. Ek kon verkies het om te glo en vertrou dat God die wyse om vir die Messias na hierdie Moslem-gemeente uit te reik, sou beskik ten spyte van wat ek gesien en aangevoel het asook ten spyte van die feit dat ons Messiaanse Jode is.
Die feit is dat elkeen van ons betreklik gereeld gekonfronteer word met toetse soortgelyk aan die wat God op die kinders van Israel gelê het. As gelowiges in Jesus die Messias, lees ons God se beloftes in die Bybel en glo ons ook God se beloftes, maar wanneer ons op die proef gestel word om dit uit te voer, gebeur dit soms dat in plaas daarvan om die oorwinning wat die Here ons beloof het, ons slegs die reuse in die land sien!
Die lewe sou vir hierdie geslag van Israel veel eenvoudiger gewees het, as hulle God geglo het toe Hy gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n goeie land was. Toe Moses hulle opdrag gegee het om die land te gaan verken, kon hulle slegs geantwoord het: “Moses, dit is onnodig vir ons om te doen, wat jy beveel het. God het ons verseker dat dit 'n goeie land is en gesê dat Hy dit as 'n besitting aan ons sal gee. Wat God gespreek het, is goed genoeg vir ons; ons is gereed om die land in besit te gaan neem”.
Die lewe kan en sal ook soveel eenvoudiger vir ons wees, indien ons dieselfde sê en doen.