Saterdag 24 Junie 2017

Maak die Lewe Eenvoudiger

Shelach
(Stuur)

Numeri {13:1} “En die HERE het met Moses gespreek en gesê: {13:2}  Stuur vir jou manne uit, dat hulle die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel sal gee, kan verken. Van elke vaderlike stam moet julle een man stuur, elkeen ‘n owerste onder hulle. {13:3} En Moses het hulle uitgestuur uit die woestyn Paran, volgens die bevel van die HERE—hulle almal manne wat hoofde was van die kinders van Israel. {13:4}  En dit is hulle name: Van die stam van Ruben: Sámmua, die seun van Sakkur. {13:5}  Van die stam van Símeon: Safat, die seun van Hori. {13:6}  Van die stam van Juda: Kaleb, die seun van Jefúnne. {13:7}  Van die stam van Issaskar: Jígeal, die seun van Josef. {13:8}  Van die stam van Efraim: Hoséa, die seun van Nun. {13:9}  Van die stam van Benjamin: Palti, die seun van Rafu. {13:10}  Van die stam van Sébulon: Gáddiël, die seun van Sodi. {13:11}  Van die stam van Josef, vir die stam van Manasse: Gaddi, die seun van Susi. {13:12}  Van die stam van Dan: Ammíël, die seun van Gemálli. {13:13}  Van die stam van Aser: Setur, die seun van Mígael. {13:14}  Van die stam van Náftali: Nagbi, die seun van Wofsi. {13:15}  Van die stam van Gad: Géhuel, die seun van Magi. {13:16}  Dit is die name van die manne wat Moses gestuur het om die land te verken; En Moses het Hoséa, die seun van Nun, Josua genoem. {13:17}  En Moses het hulle gestuur om die land Kanaän te verken en vir hulle gesê: Trek hier in die Suidland op en beklim die gebergte. {13:18}  En bekyk die land, hoe dit is, en die volk wat daarin woon, of dit sterk of swak, of dit min of baie is; {13:19}  en hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is; en hoe die stede is waar hulle in woon, laers of vestings; {13:20}  ook hoe die land is, of dit vet of skraal is, of daar bome in is of nie; en wees dapper en bring van die vrugte van die land saam. Dit was toe die tyd van die eerste druiwe."
Nadat ek dié Skrifgedeeltes gelees het, was dit vir my duidelik dat God hierdie landverkenningsopdrag eintlik as 'n toets gebruik het. Lees gerus wat ek hiermee bedoel: “...hoe die land is waar hulle in woon, of dit goed of sleg is...” ({13:19}).
Sien julle wat was hier besig om te gebeur? God het Moses beveel om 'n owerste uit elke stam te stuur om vas te stel of die land “goed of sleg” was! As dit nie inderdaad 'n toets vir hierdie manne was nie, dan weet ek nie so mooi nie, maar waarom beskou ek dit as 'n toets? Dit was op grond van wat God voorheen aan Moses en die kinders van Israel gesê het alvorens Hy hulle uit Egipte sou verlos.
Eksodus (Shemot) {3:8} “Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ‘n goeie en wye land, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete."
Indien God voorheen vir Moses en die kinders van Israel gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n land was wat oorloop van melk en heuning, waarom sou Hy hulle dan nou opdrag gee om te gaan en ondersoek in te stel of die land goed of sleg is, indien dit nie 'n toets was nie?
Ek weet nie of julle met my sal saamstem nie, maar vir my is hierdie Skrifgedeeltes werklik 'n bemoediging. God het al soveel “Beloofde Land”-tipe beloftes aan my gemaak, maar ek vind dat ek altyd die “land” eers moet gaan verken. Iemand sal miskien wonder waarvan ek praat, maar vergun my om dit met 'n voorbeeld toe te lig. God spreek deesdae met my om meer openhartig en toegeneë teenoor die Moslems te wees. Hy het dit selfs op my hart gelê om in die moslem-gemeenskap, wat in die nabyheid van ons gemeente geleë is, in te gaan en die Evangelie (Besorah Tova) met hulle te deel. Toe ek egter daar ingegaan het om die gemeenskap te verken, het ek boerkas ('n algeheel bedekkende buitekleed, wat deur sommige Moslemvroue gedra word) gesien, vroue met hoofbedekkings en rokke tot op die grond, mans wat soos Semiete lyk, maar ek kon die haat teenoor my, 'n Jood, duidelik aanvoel. Meestal het ek Moslems gesien wat moontlik vir 'n Christelik-georiënteerde Evangelie ontvanklik kon wees, maar nooit as te nimmer in 'n miljoen jaar 'n Joodse Messias sou aanvaar en volgens Sy wil sou gewandel het nie. Nietemin wéét ek dat God dit op my hart gelê het om na hierdie gemeenskap te probeer uitreik. Nou ja, ek kon òf teruggekeer het met 'n ongunstige verslag òf geweier het om enigiets verder met die Moslems te doen te hê. Ek kon verkies het om te glo en vertrou dat God die wyse om vir die Messias na hierdie Moslem-gemeente uit te reik, sou beskik ten spyte van wat ek gesien en aangevoel het asook ten spyte van die feit dat ons Messiaanse Jode is.
Die feit is dat elkeen van ons betreklik gereeld gekonfronteer word met toetse soortgelyk aan die wat God op die kinders van Israel gelê het. As gelowiges in Jesus die Messias, lees ons God se beloftes in die Bybel en glo ons ook God se beloftes, maar wanneer ons op die proef gestel word om dit uit te voer, gebeur dit soms dat in plaas daarvan om die oorwinning wat die Here ons beloof het, ons slegs die reuse in die land sien!
Die lewe sou vir hierdie geslag van Israel veel eenvoudiger gewees het, as hulle God geglo het toe Hy gesê het dat die land wat Hy aan hulle sou gee, 'n goeie land was. Toe Moses hulle opdrag gegee het om die land te gaan verken, kon hulle slegs geantwoord het: “Moses, dit is onnodig vir ons om te doen, wat jy beveel het. God het ons verseker dat dit 'n goeie land is en gesê dat Hy dit as 'n besitting aan ons sal gee. Wat God gespreek het, is goed genoeg vir ons; ons is gereed om die land in besit te gaan neem”.
Die lewe kan en sal ook soveel eenvoudiger vir ons wees, indien ons dieselfde sê en doen.


Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-06-05

Saterdag 17 Junie 2017

Uitnodiging

BeHa'Aalotecha
(In Julle Opset)
 
Eksodus / Shemot {12:43} “Verder het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. {12:44}  Maar elke slaaf wat ‘n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. {12:45} Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. {12:46}  In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. {12:47} Die hele vergadering van Israel moet dit hou. {12:48} En as ‘n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos ‘n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie.”
Ons gemeente vier elke jaar 'n groot Paasfees. Dit word gevier met 'n behoorlike spysenier-voorbereide maaltyd, waarheen almal – sonder voorbehoud – genooi word om dit by te woon. Baie van die genooides is nie-Jode of nie lede van 'n Messiaanse gemeente nie. Sommige is selfs nie wedergebore in Jesus die Messias nie en die mans dus nie besny nie. Nietemin laat ons hulle toe want in werklikheid benut ons Paasfees ook as 'n geleentheid om gemeentelede te leer aangaande hul Bybelse Joodse oorsprong en diegene – sowel Jode as nie-Jode – wat nie wedergebore is nie, te vertel van die redding wat deur Jesus die Messias gebied word, soos bewys deur die Pesach Seder (Paasorde).
Op grond van die bovermelde Skrifaanhaling, is ek dikwels reeds gevra waarom ons onbesnede mans toelaat om ons Paasfees by te woon. Hierdie week se Parasha beantwoord dié vraag vir ons, maar voordat ons dit behandel, is daar tog iets wat ek graag wil meld.
Lamsvleis word nie meer by 'n Paasfeesmaaltyd bedien nie. Dit is hoofsaaklik omrede daar geen tempel is waarheen die Paaslam gebring kan word om geslag te word en nie 'n Levitiese priesterdom is om die slagting te behartig nie. Beide is Tora-vereistes. Daarbenewens is Jesus die Messias die Lam wat reeds geoffer is; om dus met Paasfees lamsvleis te eet, sou byna daarop kom dat Jesus 'n tweede maal geoffer word, wat na my mening, inderdaad, heiligskennend sou wees.
In antwoord op die vraag waarom onbesnedenes dan toegelaat word om ons Paasfeesviering by te woon, verwys ek na die Skrifgedeeltes van vandeesweek se Parasha.
Númeri / BaMidbar {9:1} ”En die HERE het met Moses gespreek in die woestyn Sinai—in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, in die eerste maand—en gesê {9:2} dat die kinders van Israel die pasga op die bepaalde tyd moet hou. {9:3} Op die veertiende dag in hierdie maand, teen die aand, moet julle dit op die bepaalde tyd hou; volgens al sy insettinge en al sy verordeninge moet julle dit hou. {9:4}  Toe het Moses met die kinders van Israel gespreek dat hulle die pasga moet hou. {9:5}  En hulle het die pasga gehou op die veertiende dag van die eerste maand, teen die aand, in die woestyn Sinai; net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen. {9:6}  En daar was manne wat deur die lyk van ‘n mens onrein geword het en op dieselfde dag die pasga nie kon hou nie. Daarom het hulle nader gekom voor Moses en Aäron op dieselfde dag, {9:7} en dié manne het vir hom gesê: Ons is onrein deur die lyk van ‘n mens; waarom moet ons te kort gedoen word, dat ons die offer van die HERE nie op die bepaalde tyd onder die kinders van Israel sou bring nie? {9:8} En Moses het vir hulle gesê: Bly staan, dat ek kan hoor wat die HERE julle sal beveel. {9:9} Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {9:10} Spreek met die kinders van Israel en sê: As iemand van julle of van julle geslagte deur ‘n lyk onrein word of op ‘n ver reis is, moet hy tog die pasga vir die HERE hou. {9:11} In die tweede maand, op die veertiende dag, teen die aand, moet hulle dit hou; met ongesuurde brode en bitter kruie moet hulle dit eet. {9:12} Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“
Ek het 'n lang gedeelte aangehaal omdat ek wil hê ons moet die volle konteks van wat gesê is, verstaan. Die eintlike vers wat ons moet verstaan en ook ons vrae sal beantwoord, is egter die laaste een:
Númeri / BaMidbar {9:12} “Hulle moet daarvan niks laat oorbly tot die môre toe of ‘n been daaraan breek nie; volgens die hele insetting van die pasga moet hulle dit hou.“

Indien julle die konteks van wat God vir Moses gesê het, lees en verstaan, dan sal julle sien dat die Paasfees, waarna God verwys, eintlik die ware Lam en nie die Paas-seremonie as sulks is nie. Daarom deel God ons in die eerste Skrifgedeelte (hierbo aangehaal) mee dat geen onbesnede man van die Paaslam mag eet nie. Aangesien daar nou nie langer 'n tempel of Levitiese priesterdom bestaan nie, wat ek verduidelik het, die rede is waarom ons nie langer lamsvleis met Paaasfees eet nie, eet die onbesnedene dus nie van die Paaslam nie, wat natuurlik Jesus die Messias verteenwoordig. Omdat geen lamsvleis met Paas geëet word nie, raak die hele vraagstuk van die besnedene of onbesnedene, dus irrelevant.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2010-05-29

Saterdag 10 Junie 2017

Die Restitusiegawe

Nasso
(Verhoog)
Númeri / BaMidbar {5:5} ”Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {5:6}  Spreek met die kinders van Israel: As ‘n man of vrou enige menslike sonde doen, sodat ontrou teen die HERE gehandel word, en dié siel skuldig word, {5:7}  dan moet hulle hul sonde wat hulle gedoen het, bely; daarna moet hy wat hy skuldig is, ten volle teruggee en die vyfde deel daarvan byvoeg, en hy moet dit aan dié een gee teen wie hy hom skuldig gemaak het. {5:8} Maar as die man geen losser het aan wie die skuld teruggegee kan word nie, behoort die skuld wat teruggegee moet word, aan die HERE, aan die priester, behalwe die versoeningsram waarmee hy vir hom versoening doen. {5:9}  En elke heffing van al die heilige gawes van die kinders van Israel wat hulle na die priester bring, moet syne wees. {5:10}  En elkeen se heilige gawes dit moet syne wees: wat iemand aan die priester gee, moet syne wees.”
Soms, wanneer iemand sondig, hoef hy nie net om vergifnis te vra nie, nie net by God of die persoon teen wie hy gesondig het nie, maar moet hy ook restitusie doen. So byvoorbeeld, moes 'n dief nadat hy gevang is, restitusie doen aan die persoon van wie hy gesteel het. Hy moes dít wat gesteel is, aan die eienaar teruggee, plus twintig persent méér. Wat sou egter gebeur as die dief eers jare later gevang, die slagoffer reeds oorlede is en daar geen lewende bloedverwante was nie? Hierdie Skrifgedeelte uit Parasha Naso beantwoord daardie vraag vir ons. Daarvolgens moes restitusie aan 'n bloedverwant gedoen word en sou daar geen bloedverwant wees nie, moes dit aan die priester (Cohen) gedoen word. Wat sodanige restitusie dan ookal behels het moes die priester dit vir eie persoonlike gebruik ontvang. Soos ons weet is daar nie langer 'n tempel in Jerusalem of 'n Aaron-priesterdom wat die tempeldiens verrig nie. In die lig daarvan moet ons onsself afvra: “Indien hierdie gebod van die tempel of Aaron-priesterdom afhanklik was, is dit vandag nog toepaslik? “ Die antwoord is onteenseglik “Ja” en ek sal nou-nou verduidelik om welke rede.
Self indien Jesus die Messias ons sondes vergewe wanneer ons dit bely, is daar nogtans gevolge van sonde as ons bedrieg, iets gesteel, iets geleen het sonder om dit terug te gee of iemand skade berokken het as gevolg van ons sonde. Wat gebeur egter indien ons onsself in 'n situasie bevind, soos wat dit in die Skrif hierbo bepaal? Daar is nie meer 'n tempel of priester nie. Hoe doen ons dus restitusie indien die persoon teenoor wie ons gesondig het, reeds oorlede is, sonder bloedverwante of die besigheid waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie?
Dit is nie my taak om iemand nou te beskuldig nie, maar ek is oortuig daarvan dat ek vertroulik kan sê dat êrens in die wêreld in die jongste verlede 'n pastorale leier of 'n gemeente moontlik hierdie Skrifgedeelte misbruik het. Ek kan sekerlik sê dat mense wat aan hul gemeentelede onomwonde verklaar dat hulle nie langer onderhewig aan dié Wet is nie, hierdie Skrifgedeelte op hulself toegepas en gevolglik ongematigde en onbybelse geskenke ontvang het van welmenende mense en pesone met die beste bedoelings, wat eerlik vrygespreek wou word deur restitusie te doen. Ek is reeds deur sulke mense genader oor hoe hierdie Skrifgedeelte vertolk en vandag toegepas behoort te word. Ek is selfs gevra of ek hul restitusie-offer sou aanvaar, wat ek vanselfsprekend nooit sal doen nie.
Nadat ek dit noukeurig gelees het en tot die Here gebid het om leiding met betrekking tot die juiste toepassing van dié Skrifgedeelte, meen ek dat ek God se antwoord hierop ontvang het.
Ten spyte daarvan dat die tempel in Jerusalem vandag nie meer bestaan nie en daar selfs nie meer 'n priester is om die gawes van restitusie – ingevalle soos in ons Parasha gespesifiseer – te ontvang nie, glo ek dat God dit steeds van ons vereis om restitusie te doen. Selfs indien die persoon teenoor wie ons gesondig het oorlede is sonder naasbestaandes of die besigheid, waarvan ons iets geneem het, nie meer bestaan nie, is ons steeds verplig om restitusie te doen. Hoe moet ons dit dan doen? Moet ons dit vir ons pastoor of rabbi gee vir persoonlike gebruik? Volstrek nie! Restitusie moet altyd gedoen word, wanneer dit vereis word, maar behoort toepaslik gedoen te word. Dit moet altyd aan die vereistes van die Tora voldoen, wat betref die persoon / persone teen wie gesondig is of hul naasbestaandes. Indien die persoon dus reeds oorlede is of daar geen naasbestaandes is nie óf die betrokke besigheid nie langer bestaan nie, dan, meen ek, dat die restitusie-geld aan die gemeente (kehila) waaraan die persoon behoort, gegee en dit uitdruklik gespesifiseer word dat dit 'n restitusiegawe is, wat aangewend moet word vir die uitbreiding van God se Koningkryk, dus vir sending of evangelisasie.

Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-05-22

Saterdag 03 Junie 2017

Volkstelling vir Oorlog en Wonderwerke

BaMidbar
(In die Wildernis)
 
1 Petrus / Kefa Aleph {2:9} “Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,”
Ek kan nie onthou dat ek ooit één van my kommentare met 'n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) begin het nie – dit kan dus selfs die eerste keer wees! Die rede waarom ek juis met hierdie Skrifgedeelte begin het, is op grond van wat ons uit Parasha BaMidbar leer.
Númeri {1:47} “Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. {1:48}  Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê:  {1:49} Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; {1:50}  maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. {1:51} En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. {1:52} En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. {1:53} Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem.  {1:54} En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.”
Hierdie Parasha handel oor die telling van die kinders van Israel, alhoewel dit 'n uitsonderlike telling was, in soverre dat slegs diegene tussen twintig jaar en vyftig jaar oud getel is, dus almal wat weerbaar was om oorlog te voer. Dit sou gevolglik beteken dat enigeen van vyftig jaar of ouer uitgesluit is uit die sensus. Die totale aantal weerbare manne, geskik om oorlog te voer, was ses honderd en drie duisend, vyf honderd en vyftig. Omrede die Leviete verantwoordelik was vir die godsdienstige lewe van die gemeente van Israel, met hul aanspreeklikheid as God se verteenwoordigers onder die mense en andersom, is hulle vrygestel van oorlog en gevolglik ook van die sensus.
Ek is seker sommige van julle mag dink dat ek gaan praat oor gelowiges in Jesus die Messias, synde mense met gewetensbesware (teen oorlogvoering, om godsdienstige redes), maar dit is die allerlaaste wat ek in gedagte het. Die feit is dat die Leviete wel oorlog toe gegaan het, maar nie aan die oorlogvoering deelgeneem het nie, soos ons uit die volgende Skrifgedeelte kan aflei:
Joshua (Y'hoshua) {3:8} “Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan. {3:9} Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die HERE julle God. {3:10}  Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ‘n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe: {3:11}  Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.”
Vandag bestaan daar nie meer 'n Mishkan nie vir ons as 'n koninklike priesterdom, om in te dien en daarom die ondersteunende rol as bewaarders van die Verbondsark te vervul en al die voorskrifte van die korban (toenadering/offer)-stelsel is ook nie meer nodig nie. Nietemin word ons, in die voorafgaande verse uit 1 Petrus, 'n koninklike priesterdom genoem. Ons rol as priesters het sedert die dae van die Mishkan en die tempel tog ietwat ontwikkel. Vandag as priesters van God, ofskoon ons nie verantwoordelik vir die instandhouding van die tabernakel of tempel, met inbegrip van die offerstelsel, is nie, is ons soos die Leviete in Bybelse tye, steeds daarvoor verantwoordelik om God (die Vader) onder die mense te verteenwoordig. Derhalwe glo ek dat iemand wat vandag in Jesus die Messias glo, wáár moontlik, ookal die Goeie Nuus (Besorah Tova) aangaande Jesus die Messias en Sy vrye gawe van redding, moet verkondig. Dit sluit natuurlik ook die gewapende magte in.
Ontelbare verhale oor wonderwerke wat op die slagveld plaasvind en selfs reddings dáár, het ons bereik uit die oorloë wat vandag gevoer word deur Kanada, die Verenigde State en Israel. Nou ja, ek is nie 'n voorstaander van oorlog nie, maar ongelukkig is oorlog, soos ook in die Bybelse tye, tog soms noodsaaklik. Wat gelowiges in Jesus die Messias betref, selfs as 'n koninklike priesterdom, het ons 'n God om te verteenwoordig en watter geskikter plek is daar nie, as om Hom te verteenwoordig onder soldate, wat elke dag die dood in die oë staar en moontlik vrae oor hul ewige bestemming het nie.


Kom gou Jesus!

Voorheen uitgegee: 2010-05-15