Saterdag 27 September 2008

Hulle moes weet

Julle staan / Nitzavim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

27 September 2008 / Elul 27th 5768

Deuteronomium / Devarim 29:9-30:20

Jesaja / Yeshayahu 61:10-63:9

Romeine / Romim 10:1-13

Deuteronomium / Devarim {29:10} “Julle staan vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12} om oor te gaan in die verbond van die HERE jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit; {29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy aan jou vaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het.

Hierdie skrifgedeelte van ons oordenking (Parasha) het my belangstelling geprikkel. Ons word deur Moses (Moshe) vertel dat miljoene mense, so te sê, vóór God (HaShem) gestaan het. Die rede dat hulle in 'n verbond (brit) met Hom mag gaan omdat hulle Sy volk, en Hy hulle God sou word. Ek het myself afgevra: wanneer en hoe is ek by dié verbond ingesluit, vir dieselfde rede as wat in hierdie Skrifgedeeltes in breë trekke verduidelik word? Wanneer het ek werklik deel geword van God se verbond (brit)? Wanneer het ek hom, my God, genoem en Hy my Sy volk genoem? Was dit met my geboorte binne 'n Joodse gesin? Het ek, deur genetiese oordrag, vanselfsprekend deel van die verbond geword? Het dit plaasgevind toe my ouers my na die sinagoge geneem en ek deelgeneem het aan die gebede en liturgie? Was dit miskien toe ek die Hebreeuse skool bygewoon en die antieke geskiedenis van ons volk bestudeer het? Het dit dalk tydens my Bar Mitzvah (wat 'seun van gebooie' beteken), toe ek dertien jaar oud geword het, gebeur? Trouens, my ouers het hierdie mondigwording oordadig met aansitete, dans en talle groot geskenke vir die Bar Mitzvah-seun, gevier. Dit moes tog immers een of ander invloed op my verhouding met God gehad het!


As ek egter terugkyk op die wending wat my lewe geneem het, ten spyte van hierdie gebeure in my lewe; my geboorte binne 'n Joodse gesin, my oordadige Bar Mitzvah en my bywoning van ons ortodokse sinagoge, moet ek erken dat hierdie gebeure in geen opsig hoegenaamd die verhouding tussen God en myself verander het nie.; Dit het Hom sekerlik nie my God en vir my, Sy volk gemaak nie. Om die waarheid te sê - en dit sê ek uitdruklik - sonder die geringste twyfel of aarseling, ek het gevoel asof niks tussen my en God gebeur het nie. In werklikheid het absoluut niks op geen tydstip tussen - of tydens hierdie gebeure, plaasgevind nie! Inteendeel, as gevolg daarvan het ek meer sekulêr geword en myself 'n nie-gelowige begin noem.

Was dit omdat ek nie voor God gestaan het toe hierdie gebeure van my lewe plaasgevind het nie? Is dit waarom ek geen veranderinge in my verhouding tot God ervaar het nie? Of kon dit gewees het dat ek God misgeloop het omdat ons kalenders nie ooreengestem het nie? Kon ek moontlik 'n dag te vroeg of 'n dag te laat vir ons ontmoeting dáár gestaan het? Betreurenswaardig, is die antwoord op al die voorgaande vrae: NEE, want geen van hierdie dinge het inderwaarheid my verhouding tot God verander nie - al wou ek ook hoe graag - want dit was alles betekenislose menslike handelinge.


Veronderstel dus dat ek voor God gestaan het in die sinagoge of met my Bar Mitzvah en niks het toe gebeur om my verhouding tot God (HaShem) te verander nie, hoe het die verhouding tussen God (HaShem) en die kinders van Israel (bnei Yisrael) dan verander toe húlle voor God (HaShem) gestaan het? Hoe het Hy hulle God geword en hulle Sy volk gemaak deur net dáár te staan?


Ek vra julle: Is ons veronderstel om die woorde: "Julle staan vandag almal voor die aangesig van die Here julle God;" letterlik op te neem? Het God daadwerklik dáár saam met Moses voor die hele byeenkoms gestaan? Indien wel, wat het dan op daardie tydstip in die kinders van Israel (bnei Yisrael) se verhouding tot God gebeur, wat inderdaad sou uitloop op 'n blywende en betekenisvolle verandering in hul lewens en in hul verhouding met Hom - 'n verandering wat hulle, van die vernaamste ("julle hoofde") tot die laagste ("waterdraer") sosiale groepe in Israel sou beïnvloed?


Ek sal nie eers probeer om daardie vraag te beantwoord nie, maar sal verkieslik die antwoord aan julle oorlaat. Ek wil egter net sê dat ek nie die teologie aanhang, wat verkondig dat daar één manier van redding vir "Ou Testament" - heiliges en 'n ander vir dié van die "Nuwe Testament" bestaan nie. Ek glo dat ons almal op dieselfde wyse gered word! Hulle het uitgesien na die kruis waarop die offerstelsel gedui het en ons kyk terug na waarheen die Heilige Gees (Ruach HaKodesh) nou wys. Ek stem ook nie saam met die leer, waarvolgens die Levitiese offerstelsel sonde bedek het, maar dit nie weggeneem het nie. Jesus (Yeshua) het ook nie ons sonde weggeneem nie. Deur die dood, begrafnis en opstanding van Jesus (Yeshua), was die offerstelsel nie langer nodig nie, omdat God die rol van ons versoening op Homself geneem het; ons het dus gegaan van sondaars tot heiliges wat sondig! Tensy julle egter 'n uitsondering is en sondelose volmaaktheid bereik het! Wat Jesus (Yeshua) se koms vir ons beteken het, was om ons gewetens van dooie werke te reinig! Trouens, dit was iets waarin die offerstelsel teen die tyd van Jesus (Yeshua) se koms, reeds ontaard het.

Handelinge / Massei HaTalmidim {4:12} “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.”

Soos wat ek dit sien, het die Levitiese offerstelsel in geheel, op Jesus (Yeshua) gedui. Die kinders van Israel (bnei Yisrael), wat dáár voor God gestaan het - aldus ons oordenking (Parasha) - het toe moontlik nie hul Verlosser Jesus (Yeshua) by name geken nie, maar, ek glo, dat hulle tog geweet het dat hul verlossing het van Iemand en nie iets nie, gekom het

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 13 September 2008

Jesus (Yeshua) Handhaaf Die Voorskrifte Van Die Torah

Wanneer jy uitgaan / Ki Teitzei | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

13 September 2008 / Elul 13 5768

Deuteronomium (Devarim) 21:10-25:19

Jesaja (Yeshayahu) 54:1-10

1 Korinthiërs (Korintim Aleph) 5:1-5

Johannes / Yochanan {8:3} “En die skrifgeleerdes en die Fariseërs het ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Hom gebring. {8:4} En toe hulle haar tussen hulle in laat staan het, sê hulle vir Hom: Meester, hierdie vrou is op ‘n daad van egbreuk betrap; {8:5} en Moses het ons in die wet bevel gegee om sulke vroue te stenig; maar U, wat sê U? {8:6} En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. {8:7} Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. {8:8} En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. {8:9} En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het. {8:10} En toe Jesus Hom oprig en niemand sien behalwe die vrou nie, sê Hy vir haar: Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie? {8:11} En sy antwoord: Niemand nie, Here. En Jesus sê vir haar: Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.”

Julle wonder miskien waarom ek hierdie D’var Torah met 'n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) begin het. Die eerste rede is dat een van die verse wat deur Jesus (Yeshua) gespreek is, verwys na ons oordenking (Parasha) vir hierdie week. Die tweede rede is dat hierdie gedeelte dikwels verkeerdelik aangehaal word deur nie-Messiaanse gelowiges om te bewys dat die Wet herroep is en ons nou onder genade in plaas van die Wet, verkeer. Hieronder volg dus die Skrifgedeelte van ons oordenking vandeesweek, waarna ek verwys:

Deuteronomium / Devarim {22:22} “As ‘n man betrap word terwyl hy met ‘n getroude vrou gemeenskap het, moet hulle altwee sterwe: die man wat met die vrou gemeenskap gehad het, en die vrou. So moet jy dan die kwaad uit Israel uitroei.”

So, het Jesus (Yeshua) dan inderdaad die Torah oortree deurdat Hy nie die vrou wat in egbreuk betrap is, veroordeel het nie? Volgens dié verhaal uit Johannes (Yochanan), kon die afleiding gemaak word dat Jesus (Yeshua) voorkeur verleen het aan genade bo die Wet. Na alles het Hy vir die vrou se beskuldigers gesê: "Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste 'n klip op haar gooi". Dit kon die indruk skep dat Jesus (Yeshua) genade bo die Wet verdedig. Nietemin, die feit is egter dat Jesus (Yeshua) geensins, deur wat Hy gesê of gedoen het, die Torah oortree het nie. Hoegenaamd nie! Laat my toe om dit te verduidelik.

Die skrifgeleerdes en Fariseërs het, soos vertel word, die vrou (in ons Skrifgedeelte) daadwerklik betrap in egbreuk. Dit beteken natuurlik dat sowel die man as die vrou albei op daardie tydstip teenwoordig was en beide betrap is in die daad van geslagsgemeenskap. Dit dien daarop gelet te word dat die skrifgeleerdes en Fariseërs slegs die vrou na Jesus (Yeshua) gebring het. As hulle egter wel so gesteld was op Jesus (Yeshua) se nakoming van die Torah en hoe Hy hierdie vrou in verhouding tot die Wet sou veroordeel, waarom het hulle dan nie ook - soos, trouens, deur die Torah voorgeskryf - die skuldige man ook gebring nie? Albei moes, na alles, saam gewees het toe hulle op heterdaad betrap is. Die rede is voor-die-hand-liggend en word aan ons verstrek in die Skrifgedeelte uit Johannes (Yochanan):

Johannes / Yochanan {8:6} "En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig..."

Die Torah vereis dat beide die man en die vrou gestenig word, indien hulle in die daad van owerspel betrap word. Tog, het die skrifgeleerdes en Fariseërs slegs die vrou na Jesus (Yeshua) gebring. Derhalwe was hierdie voorval nie 'n daad van Jesus (Yeshua) om voorkeur aan genade bo die Wet te verleen nie. Inteendeel, dit was 'n poging van die skrifgeleerdes en Fariseërs om die voorskrifte van die Torah omver te werp en Jesus (Yeshua) te laat sondig. Ons Here het egter dwarsdeur hulle gesien: Aangesien die vrou op heterdaad betrap is, waar was die man dan? Die feit is dat Jesus (Yeshua) inderdaad die voorskrifte van die Torah verdedig. Gevolglik kan hierdie gedeelte nie vertolk word as bewys dat die Hebreeuse Geskrifte (Tanach), geskrifte van die Wet is, terwyl die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) geskrifte van genade is nie.

Daar is egter iets anders wat ek graag, na aanleiding van ons skrifgedeelte uit Johannes (Yochanan) hoofstuk agt, aan die hand wil doen. Mense vra dikwels: Wat was Jesus (Yeshua) besig om op die grond te skrywe wat veroorsaak het dat die skrifgeleerdes en Fariseërs, een vir een, die toneel verlaat het?

Johannes / Yochanan {8:7} “Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi. {8:8} En weer het Hy neergebuk en op die grond geskrywe. {8:9} En toe hulle dit hoor, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan, van die oudste af tot die laaste toe; en Jesus het alleen agtergebly, en die vrou wat daar tussen hulle in gestaan het.”

Uit die verband van dié gedeelte sou ons kon veronderstel dat wat Jesus (Yeshua) ookal besig was om op die grond te skrywe, iets te doen gehad het met die sonde van hulle wat hierdie vrou van owerspel beskuldig het. Indien dit waar was, waarom sou dit wat Jesus (Yeshua) geskryf het, hulle laat weggaan het? Die moontlike antwoord daarop, so glo ek, word vir ons gegee in hierdie Skrifgedeelte uit die Hebreeuse Geskrifte (Tanach):

Jeremia / Yirmeyahu {17:13} “O HERE, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die HERE, die fontein van lewende water, verlaat.”

Die manne wat hierdie vrou beskuldig het, en in die proses vir Jesus (Yeshua) op die proef gestel het, was wel deeglik in die Torah onderrig. Toe Jesus (Yeshua) egter neergebuk het, het Hy moontlik begin om hulle sondes in die grond te skryf en toe, die tweede keer, hul name naas hul sonde, en hulle sodoende beskaamd laat weggaan. Vanselfsprekend was hierdie beskuldigers nie sonder sonde nie; dus het hulle, een vir een stadig begin weggaan, soos hul name deur die vinger van Jesus (Yeshua) (God in die vlees) in die grond geskryf is.


Congregation Melech Yisrael All rights Reserved

Saterdag 06 September 2008

Nie Onopgelos of Ongewreek (Onversoen)

Rigters / Shoftim | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link

6 September 2008 / Elul 6 5768

Deuteronomium / Devarim 16:18-21:9

Jesaja / Yeshayahu 51:12-52:12

Johannes / Yochanan 1:19-27

Deuteronomium / Devarim {21:1} “As hulle in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, een vind wat dood in die veld lê, sonder dat dit bekend is wie hom gedood het, {21:2} dan moet jou oudstes en jou regters uitgaan en die afstand meet na die stede wat rondom die een lê wat gedood is. {21:3} En die stad wat die naaste lê aan hom wat gedood is—die oudstes van dié stad moet ‘n jong koei neem waarmee nie gewerk is nie, wat nie in ‘n juk getrek het nie. {21:4} En die oudstes van dié stad moet die koei afbring in ‘n dal met standhoudende water waarin nie gewerk of gesaai word nie; en hulle moet daar in die dal die koei se nek breek. {21:5} Dan moet die priesters, die seuns van Levi, aankom; want die HERE jou God het hulle uitverkies om Hom te dien en om in die Naam van die HERE te seën, en volgens hulle uitspraak moet elke saak van twis en verwonding afgehandel word. {21:6} En al die oudstes van dié stad wat die naaste woon aan hom wat gedood is, moet hulle hande was oor die koei waarvan die nek in die dal gebreek is; {21:7} en hulle moet verklaar en sê: Ons hande het hierdie bloed nie vergiet nie, en ons oë het dit nie gesien nie. {21:8} Doen versoening vir u volk Israel wat U, o HERE, verlos het, en laat geen onskuldige bloed op u volk Israel rus nie, en laat die bloedskuld vir hulle versoen word. {21:9} En jy sal die onskuldige bloed uit jou midde verwyder as jy doen wat reg is in die oë van die HERE.”

Uit hierdie skrifgedeelte lei ek af dat daar hoegenaamd geen onopgeloste of ongewreekte moorde in die land Israel (Eretz Yisrael) kon wees nie. Elke moord móés opgelos of versoen word, hetsy deur die dood van die moordenaar of 'n koei soos ons sopas in die Skrifgedeelte van ons weeklikse oordenking (Parasha) gelees het. 'n Onskuldige jong koei (m.a.w. 'n koei waarmee nog nooit gewerk is nie) moes dus vir die prys van enige onopgeloste moorde boet. Bloedvergieting is 'n ernstige oortreding in God (HaShem) se heilige samelewing. Ja, doodstraf is inderdaad 'n realiteit in die Koninkryk van God! Die rede daarvoor, vreemd genoeg, is vanweë die heiligheid van die lewe.

Die behoud van lewe is, trouens, 'n beginsel wat dwarsdeur die Torah geleer word. Die redding van 'n lewe, gaan selfs die onderhouding van die Sabbat (Shabbat) te bowe. Hierdie beginsel geld vandag nog in Judaïsme. Die vraag ontstaan egter: Waar het die Joodse rabbynse leermeesters hierdie beginsel geleer? Ek glo dat hulle dit oorspronklik by Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) geleer het, selfs al sou hulle dit nooit erken het nie.

Markus / Mordechai {3:4} “Daarop sê Hy vir hulle: Is dit geoorloof om op die sabbat goed of kwaad te doen, ‘n lewe te red of dood te maak? Maar hulle het stilgebly.”

Lukas / Uri {14:5} ”En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in ‘n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie?”

Oënskynlik verklaar hierdie Skrifgedeeltes, wat Jesus (Yeshua) tot die Fariseërs en wetsgeleerdes gespreek het, die feit dat die godsdienstige leiers in die tyd van Jesus (Yeshua) nie Sy goeie dade op die Sabbat (Shabbat) goedgekeur het nie. Dit is, trouens, vandag nie meer die geval onder rabbis nie: Die bewaring van lewe is nou vir hulle van die uiterste belang.

Dood deur moord - dit is die opsetlike vergieting van onskuldige bloed aan die hand van 'n moordenaar met voorbedagte rade - móét gewreek word. Iemand of iets - 'n koei in hierdie Bybelse geval - moes doodgemaak word om vir 'n onopgeloste moord te versoen. Bedoel dit nou dat die moordenaar ongestraf gebly het? Ek betwyfel dat dit ten sterkste, want sou hy ooit gevang en skuldig bevind word, sou hy beslis ter dood veroordeel word.

In 1954 het die land Israel (Eretz Yisrael) die doodstraf afgeskaf, met uitsondering van 'n paar baie ernstige gevalle. In Kanada is die doodstraf in 1976 geheel-en-al afgeskaf; trouens, selfs 'n vreemdeling wat in sy land van herkoms 'n misdaad gepleeg het waarvoor hy dáár vir die doodstraf in aanmerking sou kom, word nie deur Kanada aan die betrokke owerheid uitgelewer nie. In meeste state van die Verenigde State van Amerika, is die doodstraf reeds afgeskaf en in die oorblywende state, waar die nog nie amptelik gedoen is nie, word gehuiwer om moordenaars tereg te stel.

Jesaja (Yeshuayahu) {5:20}” Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”

Wat word hiermee bedoel? Ek verstaan hieruit dat die afskaffing van doodstraf net nog 'n spyker in die doodskis van hierdie wêreld is. Satan (HaSatan) was baie geslaagd in sy poging om die wêreld te bedrieg asook in sy poging om enige seëninge van God (HaShem) oor Israel (Yisrael) en die wêreld, teen te werk. Dit het hy verseker deur te sorg dat heirdie gebod, wat doodstraf vir moordenaars vereis, afgeskaf word.

Verbaas dit 'n mens? Beslis nie! Satan (HaSatan) het presies dieselfde taktiek toegepas op die kinders van Israel (bnei Yisrael) toe hulle op die vlaktes van Moab (Moav) tent opgeslaan het. Hy het by Bala'am die gedagte laat opkom om Moabitiese vroue in die kamp van die kinders van Israel (bnei Yisrael) in te stuur sodat Israel (Yisrael) moes sondig en sodoende God (HaShem) se seën verbeur. Dit het die kinders van Israel (bnei Yisrael) aan God se oordeel blootgestel.

Numeri (Bamidbar) {25:1} “Toe Israel in Sittim gebly het, het die volk begin hoereer met die dogters van die Moabiete— {25:2} dié het die volk na die offers van hulle gode uitgenooi; en die volk het geëet en hulle neergebuig voor hulle gode. {25:3} So het Israel hom dan gekoppel aan Baäl-Peor, en die toorn van die HERE het teen Israel ontvlam. {25:4} Toe sê die HERE vir Moses: Neem al die hoofde van die volk en hang die oortreders op in die volle son vir die HERE, sodat die toorngloed van die HERE van Israel afgewend kan word. {25:5} Daarop het Moses aan die rigters in Israel gesê: Slaan elkeen sy manne dood wat hulle aan Baäl-Peor gekoppel het.”

Het die oordeel vanweë hierdie sonde op die kinders van Israel (bnei Yisrael) neergekom?

Numeri (Bamidbar) {25:18} “want hulle het julle as vyand behandel deur hulle liste wat hulle teen julle bedink het in die saak van Peor en in die saak van Kosbi, die dogter van die vors van Mídian, hulle landgenoot, wat op die dag van die plaag weens Peor verslaan is.”

Volgens oordenking Balak en oordenking Pinchas is baie deur die swaard doodgemaak en het God (HaShem) ook 'n plaag onder hulle ingestuur om hulle uit te delg.

Meen jy dus dat Satan die volk van Israel (Eretz Yisrael), Kanada, die Verenigde State van Amerika en ander lande van die wêreld, waar die doodstraf afgeskaf is, blootgestel het aan die oordeel van God (HaShem)?

Congregation Melech Yisrael All rights Reserved