Saterdag 26 Mei 2018

‘n Eer, ‘n Behae en ‘n Seën

Naso
(Ophef)


Numeri / BaMidbar  {7:11} “En die HERE het aan Moses gesê: Elke owerste moet, elkeen op ‘n afsonderlike dag, sy offer bring vir die inwyding van die altaar. {7:12}  En hy wat op die eerste dag sy offer gebring het, was Nagson, die seun van Ammínadab, van die stam van Juda. {7:13}  En sy offer was: een silwerskottel, honderd en dertig sikkels in gewig; een silwerkom van sewentig sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; altwee vol fynmeel met olie gemeng as spysoffer; {7:14}  een rookpan van tien sikkels goud, vol reukwerk; {7:15}  een jong bul, een ram, een jaaroud lam as brandoffer; {7:16}  een bokram as sondoffer; {7:17}  en as dankoffer: twee beeste, vyf ramme, vyf bokramme, vyf jaaroud lammers. Dit was die offer van Nagson, die seun van Ammínadab.”

Wanneer ‘n mens by hierdie Skrifgedeelte en die daaropvolgende verse van hoofstuk 7 kom, word die name van elke stamleier verstrek asook wat hulle vir die inwyding van die tabernakel (Mishkan) gebring het. Alles is goed en wel, maar elke gawe moes identies soos die vorige een s’n wees. Elkeen het dus presies dieselfde gebring! Twaalf maal herhaal die Tora presies dieselfde inligting behalwe dat die naam van die leier, wat die offerande bring, verskil. Ek het al dikwels gewonder waarom die Tora dit twaalf keer in hierdie Parasha herhaal. Kon God nie slegs die name van die twaalf leiers gemeld en dan voorgeskryf het dat elkeen van hulle een silwerskottel – met ‘n gewig van een-en-‘n half kilogram, een silwerkom van agthonderd gram, vol meel met olie gemeng, as graanoffer, een goue pannetjie van honderd-en-vyftien gram, met wierook gevul, ens. moes bring nie? Dit sou veel meer sinvol gewees het en natuurlik veel minder ruimte in die Bybel opgeneem het. Wanneer jy Bybel lees, slaan jy ook eenvoudig al die gawes wat elke leier gebring het, oor en lees hoofstuk 8?

Ons kan nie volkome seker wees waarom God dit alles so neergeskryf het nie, maar ek kan sekerlik ‘n rede voorstel:

Haggai / Hagggai {1:5} “So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: {1:6}  julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. {1:7}  So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!”

Om aan God te offer, is ‘n uiterse belangrike deel van aanbidding. Hierdie offergawes is iets baie persoonlik. Ek glo dus dat God deur die twaalf herhalings van die twaalf individuele offergawes, bedoel het dat wat óns as individue bied nie ongesiens by Hom geskied nie. Êrens op ‘n sekere wyse hou God boek van alles wat ons aan Hom geoffer het. Daar bestaan moontlik ‘n “grootboek” bo in die hemel en bo-aan ‘n bladsy verskyn ons name. Sou dit nie ‘n onbeskryflike verleentheid gewees, wanneer jy in die hemel kom en vóór God staan en hy die “grootboek” uithaal, na jóú bladsy blaai en julle albei na ‘n blanko-bladsy of slegs hier en daar enkele inskrywings bevat staar nie?

Om vir die Here te gee is beslis nie ‘n opsie nie – dit is ‘n eer, ‘n behae en ‘n seën.

Lukas / Uri {6:38} “Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-06-04


Saterdag 19 Mei 2018

Die “Regeerder”

BaMidbar
(In Die Woestyn)


Númeri  / Bamidbar {1:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê: {1:2}  Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof; {1:3}  van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron. {1:4}  En met julle saam moet daar van elke stam ‘n man wees, ‘n man wat hoof is van sy families. {1:16} Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel.”

Die aangehaalde Skrifgedeeltes uit hierdie week se parasha, is heel voor-die-hand liggend. Dit verduidelik Moses se keuse van leiers, stamhoofde, om saam met hom die aantal kinders van Israel te bepaal. Die vraag ontstaan dus waarom hierdie gedeeltes nou juis kommentaar vereis? Is dit die betiteling (vers 16) wat aan die individuele stamleiers gegee is? Hulle word “regeerders” genoem. Wat is betekenisvol aan die benaming “regeerders” vir stamleiers? Wanneer die eindtyd oorweeg word, is daar inderdaad veel betekenis.

Die volgende gedeelte word uit die boek Eségiël / Yechezkel aangehaal. Dit verwys na ‘n “regeerder” van die eindtyd, wat deur baie aanvaar word as ‘n verwysing na Jesus die Messias gedurende die Duisendjarige Ryk. Ek verskil egter van hierdie opvatting, omdat ek glo dat hierdie “regeerder” eerder ‘n fisiese mens sal wees, iemand anders as Jesus, wat tydens die Duisendjarige Ryk lewend sal wees. Ek meen eerder dat hierdie man heelwaarskynlik uit die koninklike stam van Judas sal kom. Vergun my om dit verder te verduidelik:

Eségiël / Yechezkel {44:2} “En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly. {44:3}  Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan.”

In hierdie gedeelte is twee afsonderlike persone ter sprake: God (die Here) en die “regeerder”. Aan ons word gesê dat die oostelike poort van die heiligdom ontoeganklik vir enigeen behalwe die “regeerder” sal wees, omdat God deur daardie poort ingegaan het. Ek meen egter dat die God, na wie hier verwys word Jesus die Messias is, wat met Sy wederkoms, die tempel (Bet HaMikdash) sal laat herbou en die priesterdom hervestig. Ek glo dat Hy ‘n “regeerder” uit die huis van Dawid sal aanwys om na Jerusalem en die tempel om te sien. Ek is verder oortuig van my sienswyse, wanneer ek die volgende Skrifgedeelte lees:

Eségiël / Yechezkel {45:7} “En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.”

Wat hier beskryf word, is ‘n gedeelte van die land wat as die “regeerder” se gedeelte van die eiendom, sy persoonlike besitting, sal bekendstaan. Ons wéét sonder twyfel:

Psalm / Tehillim {24:1} “‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;”

Jesus die Messias sal dus nie behoefte hê aan persoonlike eiendom of ‘n plek om te woon nie. Die volgende Skrifgedeelte was van al die tersaaklike gedeeltes vir my die mees openbarende:

Eségiël / Yechezkel {46:16} “So sê die Here HERE: As die vors aan een van sy seuns ‘n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis. 46:17  Maar as hy van sy erfdeel ‘n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees.”

Jesus die Messias beskik nou oor ‘n verheerlikte liggaam. Dit is soortgelyk aan die liggaam wat ons sal hê met die opwekking van die dode, wanneer die Messias weer kom. Hier volg wat Jesus aangaande daardie liggame vir ons gesê het:

Lukas / Uri {20:34} “Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; {20:35}  maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. {Luk 20:36}  Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is.”

Ongetwyfeld sal Jesus die Messias nie in die huwelik tree nie en dus geen menslike kinders hê nie. Die volgende Skrifgedeelte, glo ek, bevestig egter my teorie dat die “regeerder” iemand anders as Jesus die Messias sal wees:

Eségiël / Yechezkel {46:18} “En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ‘n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.”

Indien die “regeerder” Jesus die Messias was, sou dit nodig geblyk het dat dit aan Hom gesê word? Ek dink nie so nie! Sou ons dit ooit van Jesus die Messias – God – kon begryp dat Hy enigeen se erfdeel deur geweld vir Homself sou toeëien of hulle hul besitting ontneem sodat Hy dit in besit kon neem? Nooit!!! Nietemin vind ons tog sulke instruksies aan die “regeerder”. Daarom volstaan ek daarmee: Die “regeerder” is nie Jesus die Messias nie!

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-05-28


Saterdag 12 Mei 2018

Die Gevolge, Toe en Nou

BeHar-BeChukotai
(Op die Berg - In My Verorderinge)

Matthéüs / Mattityahu 22:1-14

Hierdie week se lesing uit die Tora is 'n dubbele gedeelte, maar ek het verkies om kommentaar te lewer oor slegs Bachukotai.

Dit het my droewig gestem nadat ek die eerste deel van Oordenking: "In My Verordeninge" deurgelees het, dié deel waar God die kinders van Israel gewaarsku het oor die gevolge indien hulle sou verkies om Sy gebooie te veronagsaam en teenstrydig met Hom te wandel. Dit was selfs meer ontstellend toe ek gelees het hoedat Hy hulle toenemend sal straf vir hul ongehoorsaamheid. Die eerste deel van hul straf sou Sy weerhouding van reën in die reënseisoen wees. Dit is treurig omdat hierdie kastyding sowel as die ander deur God genoem, inderdaad plaasgevind het vóór asook tydens die Assiriese en Babiloniese invalle en ballingskap van Israel.

God, in Sy goedheid en genade, het die kinders van Israel teruggebring. Weereens was hulle in die land, wat aan hulle voorvaders beloof is; hulle is egter nie teruggebring vanweë hul gehoorsaamheid aan God nie, maar wel op grond van God se verbond.

Levítikus / Vayikra {26:44} “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. {26:45}  Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die HERE.”

Wat my nou kwel, is dat Israel weer in presies dieselfde toestand verkeer as waarin hulle vóór Assiriese en Babiloniese invalle was. Trouens, die land en sy volk word gekenmerk deur afgodediens, sekularisme, godsdienstige tradisies van mense en, natuurlik, ongehoorsaamheid. Dit is dus geen wonder nie dat God, oor die afgelope vyf jaar die reën tydens die reënseisoen teruggehou het. Vandag is watervlakke in Israel kritiek; waterbesparings, wetgewing word toegepas en verder deur plaaslike bekende persoonlikhede op televisie aangemoedig. Is dit egter die enigste straf wat hedendaagse Israel ondergaan het? Het hulle nie gely en ly hulle nie ook steeds onder die volgende straf nie:

Levítikus / Vayikra {26:14} "Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; {26:15}  en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ‘n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek {26:16}  dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet."

Terreur is tans algemeen in Israel, nou selfs erger as ooit met hul vyande se nuutste missielvermoëns. Wat van hierdie volgende en - ondervind moderne Israel dit nie ook nie?

Levítikus / Vayikra {26:17} “En Ek sal my aangesig teen julle rig, sodat julle voor jul vyande verslaan word; en julle haters sal oor julle heers, en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.” 

Die afgelope oorlog teen Hizbullah was 'n duidelike voorbeeld hiervan. So ook, ofskoon Israel nie voor Hamas gevlug het tydens die Gaza-opstand nie, het dit beslis nie in sukses en oorwinning geëindig nie. Wat kan ons verwag om volgende in Israel te gebeur? Indien ons die verloop volg, soos in "Oordenking: In My Vorderinge" uiteengesit, dink ek ons kan die volgende te wagte wees:

Levítikus / Vayikra {26:24} “sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig tref weens julle sondes. {26:25}  En Ek sal ‘n swaard oor julle bring wat die wraak van die verbond sal uitoefen; en as julle dan in jul stede terugtrek, sal Ek pes onder julle in stuur, en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.” 

Ons kan verwag dat Israel deur sy vyande aangeval kan word. Dit is my gebed dat dit nooit sal plaasvind nie, alhoewel alles - tot 'n mens se onsteltenis - wel daarop dui. Daar is egter een ding wat ek moet byvoeg, voordat ek hierdie kommentaar afsluit. Die wyse waarop God Israel straf, is netsoos Hy ons straf, deur verergering daarvan, terwyl ons tog die geleentheid gegun word om tot Hom terug te keer en berou te hê. Indien jy dus nodig het om tot God terug te keer en berou het, moet dan asseblief nie versuim om dit te doen nie.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-05-16

Saterdag 05 Mei 2018

Kranksinnigheid is Nader as wat ons Meen

BeHar
(Op Die Berg)


Levitikus / VaYikra {25:25} “As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het. {25:26}  En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, {25:27}  moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan. {25:28}  Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.”

Elkeen van ons ervaar een of ander tyd moeilike tye. ‘n Mens hoef nie ver te soek om te sien hoe waar dit is nie – kyk maar wat in die Verenigde State van Amerika plaasvind! Vanweë die ekonomiese resessie, is baie mense werkloos en ly daaronder. Juis as gevolg van hierdie ongunstige ekonomiese omstandighede, kan vele mense nie hul verpligtinge met betrekking tot verbande nakom nie en verloor hulle hul woonhuise. Gesinne, ouers met hul kinders, word uit hul huise gesit – sommige selfs met geweld – moontlik nie deur hul eie toedoen nie, maar as gevolg van ‘n nasionale sonde van gierigheid. Ja, gesinne met kinders, wat voorheen in rykmanswoonbuurte gewoon het, word deur dié ongunstige ekonomiese toestand wat deur gierigheid gepropageer is, gedwing om in goedkoop eenkamer-motelle te woon of selfs in hul motors te slaap. Hulle leef daagliks van die hand na die mond. Mans en dames wat vroeër bogemiddelde salarisse verdien het, moet nou die minderwaardigste moontlik beskikbare werk verrig om net te kan oorleef.

Almal ondervind soms moeilike tye, maar sou dit nie wonderlik gewees het as die Verenigde State van Amerika en, wat dit betref, alle wêreldlande die Tora gehoorsaam en aan die Bybelse opdragte (soos hierbo) uitvoering gegee het nie? Indien die Tora die landswet was, sou hierdie mense die hoop kon hê om eendag na hul huise en die plek waar hulle kinders grootgemaak is, terug te keer. Hulle sou daarna kon uitsien om terug te gaan na waar hulle grootliks hul lewe deurgebring het – alles sou nie verlore gewees het nie! Daar sou nog geleentheid gewees het om van hul skade te herstel. Sou dit nie ideaal gewees het nie?

Die lewe is siklies: een jaar is teëspoedig en die volgende voorspoedig. Meen julle nie ook dat dit die rigting behoort te wees waarheen ‘n verligte en sorgsame wêreld moes beweeg nie? In plaas daarvan, beweeg die wêreld in die teenoorgestelde rigting. Die “Sharia”-wet – wat die Moslem- of Islamitiese wet is – word oorweeg en toegepas in verskeie state van die Verenigde State asook in ander nie-Moslem-lande oor die wêreld heen! ‘n Wet wat ‘n agtjarige seuntjie in Iran se arm deur ‘n motor laat afry het, as straf omdat hy ‘n brood gesteel het; ‘n wet wat die regte van ‘n vrou misken en mans begunstig, soos in Nigerië waar ‘n vrou gestenig word vir owerspel, maar die man wat daarby betrokke was, ongestraf gelaat het en ‘n wet wat moorde ter wille van eer toelaat. Dit is wat die leiers van ons vrye wêreld toelaat in plaas van om die Tora toe te laat en die navolging van die voorskrifte daarvan, aan te moedig. Sou julle meen dit is vanweë anti-Semitisme of is net téén God of bloot uit vrees vir weerwraak deur die Moslem-gemeenskap?

Die dag sal nog aanbreek waarop daar geen geregtigheid op aarde sal wees nie. Kranksinnigheid sal die wêreld oorneem. Dit is ‘n feit dat, met die Sharia-wet wat geleidelik ons provinsies, state en lande infiltreer, ons inderdaad nader aan daardie kranksinnigheid is as wat ons werklik besef.

Donderdagaande word hier by Melech Yisrael se Schacharit-oggend-biddiens ‘n gebed gebid wat elke oggend in meeste sinagoges regoor die wêreld plaasvind. Dit lui soos volg (vry vertaal):

“Vernuwe ons regters soos in die vroegste tye en raadgewers soos wat dit aanvanklik was; neem droefheid en gekerm van ons weg; en heers oor ons – U, o God, alleen – met goedheid en mededoë, en verdedig ons op grond van U oordeel. Geseënd is U, God, die Koning wat geregtigheid en oordeel liefhet.”

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2011-05-14