Luister / Ha'Azinu | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
11 Oktober 2008 / Tishri 12th 5769
Deuteronomium / Devarim 32:1-52
2 Samuel / Sh'muel Bet 22:1-41
Romeine / Romim 10:14-11:12
Deuteronomium / Devarim {32:30} ”Hoe kan een dan duisend agtervolg en twee tien duisend op die vlug jaag, was dit nie dat hul steenrots hulle verkoop en die HERE hulle oorgelewer het nie! {32:37} Dan sal Hy sê: Waar is hulle gode, die steenrots waarin hulle toevlug geneem het, {32:38} wat die vet van hulle slagoffers geëet het, die wyn van hulle drankoffer gedrink het? Laat hulle opstaan en julle help, dat daar oor julle ‘n beskerming kan wees! {32:39} Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.”
Uit hierdie Skrifgedeelte, is dit vanselfsprekend dat God (HaShem) geheel-en-al, 100% betrokke is by - en in beheer van ons lewens is. As ons voorspoed beleef, is dit Hy wat dit laat gebeur. Eweneens, as ons teëspoed ervaar, is Hy die een wat dit stuur of toelaat. Ons begryp nie altyd waarom en hoe God beskik nie, maar wat ons wel altyd kan wéét is dat jy Sy kind is en Sy Naam oor jou uitgeroep is, dan is alles wat Hy doen - goed of kwaad, voor - of teëspoed - tot ons voordeel en toename in volwassenheid as gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach).
Die probleem met baie mense is dat hulle hul vertroue in ander dinge as in God stel. Mense verkies om hul eie kop te volg, sonder om die gevolge daarvan of selfs die welsyn van ander in ag te neem. Die kinders van Israel (bnei Yisrael) het juis hul vertroue in ander gode, wat nie gode was nie, gestel en gevolglik het húl God (HaShem) hulle in hul nood, aan daardie nie-gode oorgelewer. Vanselfsprekend het hulle geen hulp van dié gode ontvang nie. Ons, daarenteen, maak staat op die regering, gewapende magte, sekuriteitstelsels, lyfwagte, 'n groter polisie-teenwoordigheid, vermy om saans alleen buite te stap en leer die kuns van selfverdediging en / of koop vuurwapens. Wat ons in werklikheid eintlik gedoen het, is dat ons die voorafgaande dinge óns gode gemaak het: ons het dit geskep en daarop staatgemaak, Daardeur is ons hoegenaamd nie beter as die kinders van Israel (bnei Yisrael) nie en sal ons, as gevolg daarvan, dieselfde verdiende loon ontvang, as wat die kinders van Israel (bnei Yisrael) ontvang het: Oordeel!
Wanneer ons alarmstelsel ons in die steek gelaat het en ons beroof word, sal God vir ons sê:" Julle het op 'n alarmstelsel staatgemaak; laat dít julle nou help". Indien ons aangeval word en ons vuurwapen is toevallig nie byderhand nie, sal God sê:" Julle het op jul vuurwapen vertrou; laat dit nou vir julle van hulp wees". Erken dit maar! Wat dit ookal is waarop julle vertrou, dit het julle jul God gemaak. Die probleem is egter dat daar geen god soos die ware God is nie! As gelowiges in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach), word dit van ons verwag om in God (HaShem) te glo en op Hom te vetrou. Hierdie geloof en vertroue is egter nie bloot nog 'n vorm van wensdenkery nie; ongunstige slegte dinge kan nogtans met ons gebeur, maar dan wéét ons dat God vir ons daar sal wees. Met die hulp van God, sal ons dit nie op ons eie hoef te hanteer nie, maar wel die nodige uitkoms ontvang om soos 'n Feniks uit die as te verrys. Ons beskutting is nie daarin geleë om die risiko gering te skat of ons vertroue in self-geskepte gode te stel nie; ons veiligheid is gegrond op die beloftes van God en ons geloof in Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach). Dit is, trouens, geleë in die goeie nuus dat daar 'n Goddelike, sterke alvermoënde God is, wat vir ons lief is en altyd besig is om oor ons te waak en beskerm.
Tehillim (Psalms) {118:5} “Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. {118:6} Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen?”
God (HaShem) het ons verseker dat Hy met ons is, al gaan ons selfs in die dal van doodskaduwee. Waarom sou iemand wat deur Jesus die Messias (Yesua HaMashiach) in God glo, dan die bose vrees? Niks kan ons skei van die liefde van God nie - hoor julle my - hoegenaamd niks nie! In Sy omhelsende arms, leef, beweeg en is ons.
Dit is inderdaad 'n skande dat ons uit voeling geraak het met die ryk beeltenisse, wat die Bybel ons leer, van God as ons hulp en ons hoop en dat ons onsself na vuurwapens, slotte en selfverdedigingsmetodes moet wend vir beskerming en ons sekuriteitsgevoel. Ons moet eerder ons sondes van selfvertroue bely en ons vertroue weer stel waar dit eintlik behoort - in God!
Op grond van só 'n belofte, waarom sou 'n mens dan enigiets anders as God (HaShem) vertrou? Jesus (Yeshua) se liefde vir elkeen van Sy kinders, hulle oor wie Sy naam uitgeroep is en Sy Naam aanroep, is verseker. Julle kan julle lewe aan hom toevertrou, en wat meer is, ook julle geliefdes aan Hom toevertrou. Hy sal dáár wees, wanneer julle Hom nodig het.
Johannes / Yochanan {10:12}” Maar die huurling en hy wat nie ‘n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. {10:13} En die huurling vlug, omdat hy ‘n huurling is en niks vir die skape omgee nie. {10:14} Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. {10:15} Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.”
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking