Paasfees of Pasge / Pesach | Afrikaans skakel | English link |
11 April 2009 / Nisan 17th 5769
Eksodus / Shemot 33:12-34:26
Numeri / BaMidbar 28:19-25
Eségiël / Yechezekiel 36:37-37:14
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:6-8
Eksodus {33:14} "En Hy antwoord: Moet Ek self meegaan om jou die rusplek te verskaf? {33:15} Toe sê hy vir Hom: As U nie self meegaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie. {33:16} Want waaraan sou dan bekend word dat ek genade in u oë gevind het, ek en u volk? Is dit nie daaraan dat U met ons saamtrek nie? So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is."
Moses het die invloed van God se teenwoordigheid op die lewens van die kinders van Israel terdeë besef. Daarsonder sou hulle wees soos al die ander volkere op aarde. Moses het inderdaad ondervind hoe dit was om onder ander nasies te leef, waar die teenwoordigheid van God ontbreek het. Hy het in Egipte en Midian gewoon en dit gevolglik eerstehands beleef waaroor dit by afgodsdienstige nasies gaan. Nou, na sy ervaring by die brandende doringbos op die bergtop, wou hy nooit weer terugkeer na waar hy sonder God se teenwoordigheid sou wees nie. Dit is dus verstaanbaar waarom Moses so verbind was aan God en so passievol was oor die verhouding wat hy met Hom gehad het, dat hy hoegenaamd nie bereid was om êrens heen te gaan as die teenwoordigheid van God nie saam met hom gegaan het nie. Onthou julle die rede wat hy aangevoer het vir God se teenwoordigheid by die kinders van Israel? "So sal ons, ek en U volk, onderskeie wees van elke volk wat op aarde is.".
Moses het geweet dat die teenwoordigheid van God in mense se lewens, hulle anders gemaak het; inderdaad so verskillend, dat dit hulle anders as enige ander volk op aarde sou maak.
Wat beteken dit dus om in die teenwoordigheid van God te leef? Wanneer ons in Sy teenwoordigheid is, word Hy ons passie, ons fokuspunt. Daar is krag in God se teenwoordigheid. Die kinders van Israel sou dus geen ander volk hoef te vrees nie omdat, solank hulle in die teenwoordigheid van God was, niemand hulle sou kon verslaan nie. Daar is geen vrees in Sy teenwoordigheid nie, maar wel berou, vergifnis en verandering van karakter. Daar is ook waarheid, leiding, onderrig, profetiese openbaring, berusting en volkome vrede in God se teenwoordigheid. Dit was geen wonder dat Moses nie sonder die teenwoordigheid van God wou wees nie. Sou jy?
Op hierdie Sabat vier ons die eerste oorgang (of tussenkomende) dag van Paasfees. Vir ons gaan dit alles om die dood en opstanding van Jesus, die Messias. Elke element van die Paas-seremonie, beskrywe op een - of - ander wyse wat ons Messias vir ons gedoen het. Waarom moes die Messias aarde toe kom en sterf? Hy móés kom en sterf sodat ons gered kan word, maar ook om die volgende rede:
Johannes / Yochanan {16:7}"Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur; "
Vóór Jesus die Messias - God wat in die vlees na die aarde gekom het in menslike vorm - was die kinders van Israel sonder 'n profeet, selfs sonder die teenwoordigheid van God; Sy teenwoordigheid het van die tempel uitgegaan, soos deur die profeet, Esegiël, beskrywe in hoofstukke 10 en 11 van sy boek. Uiteindelik, na meer as vierhonderd jaar, het die Messias gekom en was die kinders van Israel weereens in die teenwoordigheid van God.
Jesus was egter op die punt om te vertrek. Hy moes Sy plek in die hemel inneem sodat Hy 'n belangrike deel in ons en die wêreld se verlossingsproses kon volbring, maar dié keer sou God ons nie sonder Sy teenwoordigheid laat nie. Hy sou die Heilige Gees stuur om met ons te wees.
Johannes / Yochanan {14:16} "En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid"
Almal wat in Jesus die Messias glo, het die teenwoordigheid van God binne in hulle, "...So sal ons, ek en u volk, onderskeie wees van elke volk wat op die aarde is.". Kan julle waarlik sê dat julle 'n volkome ander lewe lei?
Congregation Melech Yisrael all rights reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking