Regters / Shoftim
29 Augustus 2009 / Elul 9th 5769
Deuteronomium / Devarim 16:18-21:9
Jesaja / Yeshayahu 51:12-52:12
Johannes / Yochanan 1:19-27
Deuteronomium / Devarim {16:18} "Regters en opsigters moet jy vir jou aanstel in al jou poorte wat die HERE jou God jou sal gee volgens jou stamme; en hulle moet die volk oordeel volgens ‘n regverdige regspraak. {16:19} Jy mag die reg nie verdraai nie; jy mag nie partydig wees nie; ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie, want die geskenk verblind die oë van die wyse en verdraai die sake van die wat reg het. {16:20} Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag, dat jy kan lewe en die land in besit kan neem wat die HERE jou God jou sal gee. {16:21} Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."
Iets interessant het my opgeval met die deurlees van hierdie week se Tora-Parasha en wel in die vyf openingsverse. Die parasha begin met God se gebod dat ons altyd onpartydig in ons oordeel moet wees en nooit omkoopgeld /-prys aanvaar nie. Ek dink ons is almal terdeë bewus daarvan in soverre enige vorm van omkoop ons oordeel kan en sal vertroebel. Daarom is ek uiters versigtig om geeneen in ons gemeente aan te moedig om aan my groot geskenke, veral geldbedrae, te skenk nie. Ek beklemtoon die woord "groot", omdat klein geskenkies 'n gebaar van waardering is, iets aanvaarbaar in 'n gepaste situasie. Nietemin kan ek sien hoedat 'n groot geskenk of één met bymotiewe, my oordeel kan beïnvloed en gevolglik veroorsaak dat ek die gewers se lewens nie aanspreek wanneer ek enige spirituele teenstrydigheid by hulle agterkom nie.
Regverdige oordeel en omkoop is 'n uiters belangrike onderwerp - iets waaroor ek 'n hele kommentaar kan lewer. Dit is egter nie wat my opgeval het toe ek vandeesweek se Tora-Parasha gelees het nie. Hierdie verse in die besonder het my aandag getrek:
Deuteronomium / Devarim {16:21} “:Jy mag vir jou nie ‘n heilige boomstam—enige boom—plant langs die altaar van die HERE jou God wat jy vir jou sal maak nie. {16:22} Ook mag jy vir jou geen klippilaar, wat die HERE jou God haat, oprig nie."
Dit, soos ek gesê het, het vir my vreemd voorgekom dat God so onversetlik is dat geen tipe heilige boomstamme of pilare langs Sy altaar opgerig mag word nie. Wat is die soort heilige boomstamme en pilare? Dit is natuurlik simbole van heidense godsdiens.
Die heidense nasies het hierdie bome en pale opgerig as deel van die heidense vereing van hul sataniese afgode. God wou verhoed dat Sy mense enigiets te doen sou hê met die heidendom, veral wou Hy voorkom dat hulle nie heidense praktyke in hul aanbidding van Hom inbring nie.
Hoe raak hierdie gebod ons vandag? Inderdaad veel. Die Christendom het beslis heidense praktyke vermeng met die aanbidding van die Een Waaragtige God. So het hulle die heidense versierde boomsimbool ingelyf by die herdenking van die geboorte van ons Messias Jesus en verder die godin van vrugbaarheid (Ishtar en haar simbool van vrugbare eiers / Paasfees) by die herdenking van die opstanding van Jesus, ingebring. Daar is selfs christelike denominasies wat heidense veelgodery (politeïsme) by hul godsdiens ingelyf het deur die aanvaarding van die valse teologie van heiliges wat in die hemel vir ons intree.
Christene is egter nie die enigste wat skuldig is nie. Judaïsme het die "hames-hand", ook as die "hand van Miriam" en die "alsiende oog" geïnkorporeer - beide van heidense oorsprong, maar nogtans 'n deel van Judaïsme. Hulle verkondig en het ook die praktyk van kabbalah ingelyf: 'n vorm van Joodse mistisisme wat, benewens ander gruwels, astrale projeksie en reïnkernasie insluit. Dit hou egter nie eers dáár op nie! Selfs Messiaanse Jode laat dit toe dat kabbalah in hul onderrig en gelowe indring. Eweneens besit talle gelowiges afskrifte van die Koran en die Boek van die Mormone; hulle het pamflette van die Jehova's Getuies in hul besit en het Boeddhas en ander sataniese, heidense afgodsimbole in hul huise.
Devarim {7:26} "En jy mag geen gruwel in jou huis inbring nie, sodat jy nie net so onder die banvloek kom nie; jy moet daar heeltemal ‘n afsku van hê en dit geheel en al as gruwel beskou; want dit is onder die banvloek."
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking