En Hy Het Gestuur / VaYishlach |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel
5 Desember 2009 / Kislev 18 5770
Genesis / Bereshit 32:3-36:43
Obadja / Ovadyah 1:1-21
Matthéüs / Mattityahu 26:36-46
Genesis {32:3} “En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom, {32:4} en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar—ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe; {32:5} en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë. {32:6} En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vier honderd man saam met hom. {32:7 } Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel; {32:8} want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.”
Wanneer mense my vra of ek fisiese oefening doen of 'n oefenprogram by 'n gimnasium volg, sou ek sê dat die enigste oefening wat ek wel kry, is om “oorhaastige gevolgtrekkings” (“jumping to conclusions”) te maak! Ek bedoel dit natuurlik altyd as 'n grap, maar wanneer mens die bovermelde Skrifgedeelte – uit hierdie week se Parasha geneem – lees, kan oorhaastige gevolgtrekkings baie gevaarlik wees, selfs 'n sonde! Laat my toe om dit te verduidelik.
Dikwels wanneer ons met mense gesels, vertolk ons dÍt wat hulle sê of hoe hulle teenoor ons reageer verkeerdelik en op grond daarvan, lei ons oorhaastige gevolgtrekkings af. Deurdat 'n mens hulle moontlik slegs misverstaan, ontwikkel ons hierdie “wat as”-scenario in ons verstand, en lei ons gevolglik foutiewe, verwronge gevolgtrekkings daarvan af; met ander woorde, gevolgtrekkings wat oorhaastig gemaak word.
Esau en Jakob se paaie het twintig jaar vroeër nou nie juis onder die gunstigste omstandighede geskei nie. Dit is dus verstaanbaar dat toe Jakob verneem sy broer kom hom tegemoet en daar boonop vierhonderd man by hom was, hy die ergste verwag het. Daar is egter in die Skrif geen aanduiding dat Esau se bedoeling anders as eerbaar was nie.
Volgens wat ons in hierdie Parasha lees, was Esau klaarblyklik 'n welgestelde man wat homself daartoe opgewerk het. Hy het die vlak van rykdom, invloed en mag bereik wat hy gehoop het om deur sy vader se seën te kon verkry, maar dit alles daarsonder bereik, dus op sy eie. Sy geboortereg was twintig jaar gelede vir hom van geen betekenis nie en noudat hy oor alles – finansieel en polities – beskik het, het hy nog minder waarde daaraan geheg, met die gevolg dat hy geen wrok gekoester het nie. Esau het oor alles beskik, wat hý self bereik het, sonder enige kwade gevoelens teenoor sy broer, wat hy gemeen, hom uit sy potensiële rykdom, invloed en mag verkul het.
Jakob, daarenteen het gedurende die twintig jaar nie so goed gevaar nie. Eers is hy gekul ten opsigte van die vrou wat hy liefgehad het en daarna, om rykdom te bekom. Hy het vir twintig jaar lank gewerk vir bykans niks! Toe hy uiteindelik sy skoonvader, Laban, verlaat, het hy sy gesin en rykdom, wat hy deur manipulasie en deur God se genade bekom het, met hom saamgeneem. Dit is dus geen wonder nie, dat hy Esau gewantrou het! Manipulerende mense meen dat hulle almal kan manipuleer. Jakob, vanweë die swaarkry van die afgelope twintig jaar, het egter steeds skuldig gevoel oor wat hy sy broer aangedoen het en juis dit het hom tot 'n oorhaastige gevolgtrekking gelei.
Dit is duidelik dat as 'n mens onbetroubaar is, jy niemand sal vertrou nie; as jy 'n bedrieër is, sal jy altyd glo dat jy bedrieg word. Dit was nou Jakob en kon netsowel ons gewees het!
Op spirituele gebied beskou, was daar natuurlik 'n groot verskil tussen wat met Esau en Jakob oor die twintig jaar gebeur het. Ten spyte van sy tekortkominge, het Jakob 'n opregte hart voor God gehad en juis daarom was God besig om hom te vorm en herskep tot 'n ware man van God, wat Hy hom bedoel het om te wees, aangesien kastyding en swaarkry karakter bou. Jakob het egter nog nie genoeg verander nie. Daar was steeds te veel van die ou self in homself verskuil en sy oorhaastige gevolgtrekkingsneiging – in plaas daarvan om op God te vertrou – bewys dit aan ons. Jakob het dit moontlik ook so ervaar.
Esau, andersyds, was wêrelds en spiritueel dood soos wat hy twintig jaar gelede reeds was en moontlik selfs meer so.
Sy Godloosheid word gemanifesteer in sy trots. Ek dink dat dit juis hieroor was dat hy sy broer, met vierhonderd man te perd tegemoet gery het. Na my mening was dit nie soseer 'n vertoon van mag nie, maar eerder om te bewys wat hy – sonder Jakob – bereik het en hy daarom onderweg was om hom te red van sy tuistelose rondswerwing en hom te kom haal om in sy “koninkryk” te kom woon.
Ek meen die les wat hieruit geleer kan word, is dat ons eie skuldgevoelens en manipulerende, suspisieuse neigings ons tog maar bedrieg. Dit lei tot wantroue en gevolglik “oorhaastige gevolgtrekkings”. Paulus verstrek egter aan ons die teenmiddel vir “oorhaastige gevolgtrekkings”:
Filipense {4:8} “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”.
Congregation Melech Yisrael all rights reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking