Offerhandes / Terumah |Afrikaanse Skakel | Engelse Skakel
20 Februarie 2010 / Adar 6 5770
Eksodus / Shemot 25:1 – 27:19
1 Konings / Melachim Aleph 5:26 – 6:13
Matthéüs / Mattityahu 5:33 -37
Hebreërs / Ivrim 9:1 – 10
Eksodus / Shemot {25:1} ”Toe het die HERE met Moses gespreek en gesê: {25:2} Sê aan die kinders van Israel dat hulle aan My ‘n offergawe moet bring; van elkeen wie se hart hom aandrywe, moet julle my offergawe bring. {25:3} En dit is die offergawe wat julle van hulle kant moet bring: goud en silwer en koper; {25:4} en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; {25:5} en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; {25:6} olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; {25:7} oniksstene en stene om in te lê vir die skouerkleed en die borstas. {25:8} Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. {25:9} Volgens alles wat Ek jou laat sien—die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort—so moet julle dit maak.”
God het nie sommer net vir Moses opdrag gegee om die tabernakel te bou nie – Hy het vir hom die ontwerp gewys! Ek is oortuig daarvan dat toe Moses van die berg Sinai afgeklim het met die twee kliptafels, hy ook die argiteksplan van die tabernakel by hom gehad het.
Die tabernakel het gedien as simbool van God se teenwoordigheid, wat in die midde van Sy volk woon – ten spyte van hul gevalle toestand! Met die oprigting van die tabernakel, kon die heilige God nou in die midde van ‘n onheilige volk woon.
Die realiteit is dat die tabernakel eintlik ‘n herskepping van die tuin van Eden was, ‘n heilige plek vir God om te woon. Die tabernakel was, in essensie, Gos se toevlugplek / oord, ‘n plek waar daar geen onvolmaaktheid was nie, ‘n plek waar niks wat met dood of onreinheid geassosieer is, kon inkom nie. Hierdie tabernakel was geheel-en-al God-gesentreerd.
Die hele korban-stelsel (offerhande), soos in die boek Leviticus ({1-4}) uiteengesit, was mens-gesentreerd – met ander woorde die mens wat tot God nader. Ons het God deur die korban genader, terwyl God deur die tabernakel na ons gekom het. Vanweë sonde, het die mens nie daarin geslaag om na God te kom nie omdat God nie met sonde gemeenskap hou nie, met die gevolg dat God ‘n sigbare wyse vir die mens geskep het om na Hom te kom en vir Hóm om na die mens te kom.
Eksodus / Shemot {25:8} “Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon.”
God lig hierbo drie aspekte uit: Sy tabernakel (Mishkam), Sy fisiese teenwoordigheid (Shekinah) en Sy heiligheid (kedushah), wat Sy begeerte om onder Sy volk te woon, verteenwoordig. Die tabernakel dui altyd op die heiligdom en is sinoniem vir die frase: “Tent van Samekoms”. Die woord Mishkan (=tabernakel) plaas die klem op die verteenwoordigende teenwoordigheid van God:
Levitikus / Vayikra {26:11} “En Ek sal my tabernakel onder julle oprig, en my siel sal van julle geen afsku hê nie. {26:12} En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ‘n God wees, en júlle sal vir My ‘n volk wees.”
Die tabernakel was ‘n mobiele tempel, ‘n plek vir God om tussen Sy volk te wees terwyl hulle in die wildernis geswerf het. Dit het Sy heiligheid (kedushah) beskerm. ‘n Kadosh (Heilige / Afgesonderde) God kon nie, vanweë hul sonde, vrylik tussen Sy volk wandel nie. Daarom moes ‘n heiligdom voorsien word sodat Hy tussen hulle kon wees, sodat kinders van Israel versoeningsoffers vir hul sonde kon bring en sodat God en Sy kosbaarste besitting gemeenskap kon hê met mekaar. Die tabernakel was ‘n plek waar die kinders van Israel kon aanbid en met ‘n Kadosh-God kon gemeenskap hê.
Shekinah is ‘n woord wat die sigbare goddelike teenwoordigheid van God uitdruk, veral wanneer Hy gerus het tussen die gerubs bokant die Kaporet (Versoeningsetel). Shekinah verwys na die tye wanneer God Homself op sigbare wyse openbaar het, byvoorbeeld op berg Sinai toe daar rook, donderweer en weerlig was – dit was Shekinah-Heerlikheid van God. In die Kodesh HaKodashim (Heilige de Heilige), het ‘n skitterende wolk oor die Aron HaKodesh (Ark van die Verbond) verskyn en die vertrek verlig – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God. So ook die wolk – en vuurkolom, wat oor die kinders van Israel gewaak en in die wildernis ingelei het – dit was die Shekinah-Heerlikheid van God.
Die Mishkan (tabernakel) dui op die sondigheid van die mens. Die noodsaaklike skeiding tussen ‘n heilige God en sondige mens word duidelik getoon in die konstruksie en bestaan daarvan.
Die Mishkan dui ook op die Heiligheid van God, sodat ons kan besef dat ons God op Sý wyse moet nader – nie op óns manier nie!
Hebreërs / Ivrim {10:19} “Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus {10:20} op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, “
Laastens weerspieël die tabernakel die genade van God. Dit toon aan ons dat , ten spyte van ons sondigheid, God verkies om ons te red en in elk geval onder ons te woon. Hy doen dit vanweë Sy liefde vir ons en Sy begeerte om in ons midde te wees. Hy reik af na die mens om met Hom te verkeer en (sodat Hy) onder ons kan woon. Hy voorsien aan ons ‘n weg om die hindernisse wat ons geskei het, te oorkom.
Jesus is nie altyd duidelik in die Tanach nie. God het Hom verberg in simbolieke, bewaar vir diegene wat gewillig is om Hom te soek, te vind, Hom te herken en in Hom te glo. As iemand dus waarlik begeer om God te vind, hoef hy slegs te kyk na die simboliek, wat vir ons gebied word in die boumateriaal en wyse van konstruksie, soos deur God gespesifiseer vir die bou van die tabernakel.
Sou iemand vir jou sê daar was $ 100 000,00 se goud êrens in jou kamer versteek en jy kan dit hou as jy dit gevind het, wed ek jou dat jy onverwyld die vertrek sou omkeer en afbreek om dit te soek, sou jy nie?
God het die ewige lewe by Hom in die hemel. Hy het dit in Sy Woord verskuil. Goud sal slegs vir jóú leeftyd duur, terwyl die ewige lewe, EWIG, is. Watter een van dié twee is vir jou die waardevolste om te besit?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking