3 September 2011 / Elul 4 5771
Geloof en Oorlog
Deuteronomium / Devarim {20:1} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyand en perde en strydwaens sien, ‘n volk meer in getal as jy, dan moet jy vir hulle nie vrees nie; want die HERE jou God wat jou uit Egipteland laat optrek het, is met jou. {20:2} En as julle na die geveg kom, moet die priester nader kom en die volk toespreek; {20:3} en hy moet aan hulle sê: Hoor, Israel, julle trek vandag nader om te veg teen julle vyande; laat julle hart nie week word nie, wees nie bevrees en beangs en word nie verskrik vir hulle nie; {20:4} want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee. {20:5} Dan moet die opsigters die volk toespreek en sê: Wie is die man wat ‘n nuwe huis gebou en dit nie ingewy het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit inwy nie. {20:6} En wie is die man wat ‘n wingerd geplant en dit nie in gebruik geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders dit in gebruik neem nie. {20:7} En wie is die man wat hom met ‘n vrou verloof en haar nie geneem het nie? Hy kan teruggaan huis toe, dat hy nie in die oorlog sterwe en iemand anders haar neem nie. {20:8} Dan moet die opsigters verder die volk toespreek en sê: Wie is die man wat bevrees en week van hart is? Hy kan teruggaan huis toe, dat die hart van sy broers nie smelt soos sy hart nie. {20:9} En as die opsigters die volk klaar toegespreek het, moet leërowerstes aan die hoof van die volk aangestel word. ”
Ek het iets baie interessant gemerk toe ek die voorafgaande verse van hierdie week se parasha gelees het, naamlik dat God se leërmag ‘n vrywillige leër was! In die boek Numeri (BaMidbar) vind ons dat Moses die manskappe van twintig jaar en ouer, wat geskik was om oorlog te voer, laat tel het. Dit het natuurlik die indruk geskep dat Israel se leër tot krygsdiens verplig was. Hier lees ons egter dat God verskeie redes verstrek het vir iemand wat verkies het om nie te gaan oorlog voer nie – die eenvoudigste rede was vrees! Hieruit blyk dit dat al wat so ‘n person moes aanvoer om vir militêre diens vrygestel te word, was dat hy bevrees was. ‘n Mens kan aanvaar dat daar met enigeen wat dit gedoen het, moontlik die spot gedryf is, maar vir sommige het dit desnieteenstaande ‘n beter opsie geblyk as om te sneuwel.
As ‘n mens nou kyk wat met verpligte krygsdiens vir Wêreldoorloë I en II gebeur het, sien ons dat al die volkere wat in hierdie oorloë betrokke was, hul burgers tot krygsdiens verplig het. Enige van dié nasies, het dus geen ander keuse gehad om van betrokkenheid in militêre diens vrygestel te word nie. Ek onthou dat gedurende die Viëtnamese oorlog, die opsies vir Amerikaanse burgers was om te gaan veg óf tronkstraf opgelê te word of om na Kanada uit te wyk. Ek is nie ten gunste daarvan om konskripsie te ontduik nie en glo vas dat indien jou land jou nodig het, jy bereid behoort te wees om dit te verdedig. Destyds met die Viëtnamese oorlog, het die Verenigde State van Amerika nie in gevaar verkeer nie en die oorlog was basies om die verspreiding van kommunisme teen te staan. Soos ons egter bewus is, het die VSA die oorlog verloor, maar toevallig is die Viëtnamese vandag veel beter daaraan toe as wat hulle ooit sou gewees het.
Waarom was God dan so toegeeflik en genadig om toe te laat dat diegene wat vreesagtig was, nie verplig was om te gaan veg nie nie? Die vernaamse rede was dat die veilgheid en moreel van die troepe, wat oorlog sou voer, van die uiterste belang in die leer is. Soldate maak op mekaar staat en as een van hulle vreesbevange is, kan daar nie op so ’n manskap staatgemaak word nie. Erger nog, is dat één soldaat wat vreesagtig is, sy vrees moontlik onwetend onder die ander manskappe kan laat versprei, wat vanselfsprekend chaos kan veroorsaak, net soos wat die tien verspieders onder die kinders van Israel veroorsaak het toe hulle die beloofde land moes binnegaan. Gevolglik sal so ’n vreesagtige mens meer van ‘n struikelblok as hulp wees.
Daar is egter ‘n veel belangriker rede as dit:
Deuteronomium / Devarim {20:4} “want dit is die HERE julle God wat saam met julle trek om vir julle te stry teen julle vyande, om aan julle die oorwinning te gee. ”
God is die Een wat vir Israel veg. Waarom sou God dan nie hulle wat bevrees is, deel van Sy leer wil hê nie? Dit is omdat hulle wat vreesagtig is, nie ‘n vrees-probleem het nie – inteendeel hulle ervaar ‘n geloofsprobleem! Die Skrif sê vir ons:
Hebreërs / Ivrim {11:6} “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. ”
Indien ons die Bybel glo en ook alles wat dit ons van God meedeel, dan móét ons oor die geloof beskik dat Hy in beheer is van alles in ons lewens. Ons lewens is in God se hande. Ten slotte wil ek graag die volgende Skrifgedeelte in julle midde laat:
1 Johannes / Yochanan Aleph {4:18} “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. ”
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking