Sondag 03 Junie 2012

Fatsoenlikheid in die Teenwoordigheid van God

3 Junie 2012
D’Var Torah 
Wanneer Julle Gereedmaak / Beha’ Alotecha 


Numeri / Bamidbar {8:7} “En so moet jy met hulle doen om hulle te reinig: Sprinkel op hulle water van ontsondiging; en hulle moet ‘n skeermes oor hulle hele liggaam laat gaan en hulle klere was en hulleself reinig. ”. 

Ek het al so dikwels ortodokse, opmerksame Joodse mense, veral mans, gesien wat onversorg, met hare en klere geheel-en-al deurmekaar en vuil voorkom. Dit was nêrens vir my méér opsigtelik as toe my vrou en ek deur die strate van Mehasharim (‘n ultra-godsdienstige buurt) in Jerusalem gestap het nie. Ek het toe gewonder hoe God daaroor moet voel omdat ek al self dikwels van mening was dat ‘n mens altyd behoorlik versorg, met ‘n goeie voorkoms behoort te wees. Dit het dus vir my besonder vreemd voorgekom toe ek die bovermelde vers uit parasha Beha’ Alotecha gelees het. Waarom sou God opdrag gegee het dat die priesters al die hare van hulle liggame afskeer? In antieke tye was dit wel die gebruik dat ‘n Egiptiese priester dit moes doen as deel van die seremoniele aanbidding van hulle afgode. Waarom sou God dan besluit het dat Sy priesters dieselfde doen? Vandag skeer liggaamsopbouers (“body builders”) die hare van hulle lywe af om sodoende hulle spiere te beklemtoon – ‘n praktyk wat hulle na my mening minder manlik laat voorkom en beslis nie méér so nie. God het aan mans harige liggame gegee – is daar dan iets onrein daaraan om hare op die liggaam te hê? Ek dink nie so nie. Gevolglik het ek hierdie vers begin navors om vas te stel presies wat God gesê het en dít is wat ek gevind het: 

Levitikus / Vayikra {14:2} “Dit is die wet van die melaatse op die dag van sy reiniging. Hy moet na die priester gebring word, {14:8} “Dan moet hy wat gereinig moet word, sy klere was en al sy hare afskeer en ‘n bad neem; dan sal hy rein wees. En daarna kan hy in die laer kom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly. ”. 

Soos ons in hierdie Skrifgedeelte sien en die afskeer van liggaamshare, was dit met ‘n siekte vereenselwig, spesifiek met melaatsheid. Aangesien die priesters nie melaats was nie, wou ek vasstel of daar ‘n verskil was tussen die Hebreeuse woord vir die skeer van ‘n melaatse en dié een wat vir die skeer van priesters gebruik is. Wat ek toe gevind het, is die Hebreeuse woord vir “skeer” in ons parasha – skrifgedeelte is “ta’ar”, terwyl die Hebreeuse woord in die Skrif vir die skeer van ‘n melaatse “gilach” was. 

Hebreeus is ‘n baie spesifieke taal, met die gevolg dat woorde wat gebruik is, nie altyd ‘n ooreenstemmende woord of betekenis in Engels of in meeste ander tale het nie. Dit is die verskillende betekenisse van hierdie woorde wat vir my verklaar het wat God hier bedoel het, ofskoon die Engels van beide Skrifgedeeltes skynbaar na die algehele afskeer van ‘n mens se liggaamshare verwys. In Hebreeus en wel in die geval van ‘n melaatse waar die Hebreeuse woord “gilach” gebruik word, bedoel dit “om kaalkop te skeer”. ‘n Mens se hare moes dus heeltemal van kop tot toon afgeskeer word. Dit is begryplik wanneer ‘n mens besef dat so ’n persoon ‘n bepaalde reinigingsproses moes ondergaan om ‘n velsiekte te genees. Die Hebreeuse woord “ta’ar” wat tesame met die die Hebreeuse stamwoord “avbar” in die parasha-gedeelte voorkom, beteken in hierdie konteks egter nie die algehele afskeer van alle liggaamshare nie. Wat dit wel beteken, is om ‘n skeermes oor ‘n mens se vel te beweeg, as ‘n proses van persoonlike versorging. 

God wou nie hê dat die priesters vuil en onversorg moes wees nie. Eweneens wil Hy ook nie hê dat ons, wat in Jesus die Messias glo – Sy priesters – met deurmekaar hare en onversorg lyk nie. Ongeag die feit dat priesters verbied is om die kante van hulle baarde en hare af te sny – ‘n vereiste wat vereenselwig is met hulle diens in die tabernakel (Mishkan) en later in die tempel (Bet HaMikdash) – moes hulle altyd goedversorg, netjies en fatsoenlik in die teenwoordigheid van die Here wees. Dieselfde geld vir ons! 

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking