15 Julie 2012
D’Var Torah
Stamme / Reise Matot/Masse
Númeri / BaMidbar {32:1} “En die kinders van Ruben en die kinders van Gad het baie vee gehad, ‘n groot menigte. En toe hulle die land van Jaéser en die land Gílead bekyk het, vind hulle uit dat die plek ‘n plek vir vee was. {32:2} Daarop het die kinders van Gad en die kinders van Ruben gekom en met Moses en die priester Eleásar en met die owerstes van die vergadering gespreek en gesê: {32:3} Atarot en Dibon en Jaéser en Nimra en Hesbon en Eleále en Sebam en Nebo en Behon— {32:4} die land wat die HERE voor die vergadering van Israel uit verower het—is ‘n land vir vee, en u dienaars het vee. {32:5} Verder het hulle gesê: As ons genade in u oë gevind het, laat hierdie land aan u dienaars as ‘n besitting gegee word; bring ons nie oor die Jordaan nie.”
Aan die begin van parasha Matot, kry ons te doen met die aanvang van die verdeling van die verowerde land tussen die stamme (Matot) van Israel. Die kinders van Israel het Og en Sihon, twee konings aan die oostekant van die Jordaanrivier, verslaan. Dit is die land wat vandag as die Golanhoogte bekendstaan – ‘n eiendom wat weereens onder beheer van Israel is. Die stamme van Ruben, Gad en halwe stam van Manasse het hierdie land geskik gevind vir hulle groot veetroppe (indien jy hierdie area gesien het, sal jy verstaan waarom hulle dit gekies het) en het Moses versoek om dit aan hulle toe te wys. Dit was die land wat die kinders van Israel verower het en het na regte aan hulle behoort, met die gevolg dat dit vir hulle beskikbaar was om te bewoon. Moses se reaksie op hulle versoek, meen ek, verg ‘n verduideliking.
Númeri / BaMidbar {32:6} “Maar Moses het die kinders van Gad en die kinders van Ruben geantwoord: Sal julle broers oorlog toe trek, en wil júlle hier bly? {32:7} Waarom tog wil julle die hart van die kinders van Israel daarvan afkerig maak om deur te trek in die land wat die HERE aan hulle gegee het? {32:8} So het julle vaders gedoen toe ek hulle van Kades-Barnéa af gestuur het om die land te bekyk. {32:9} Toe hulle tot by die dal Eskol opgetrek en die land bekyk het, het hulle die hart van die kinders van Israel afkerig gemaak om in die land in te trek wat die HERE aan hulle gegee het.”
Dit is dus begryplik waarom Moses ontsteld was. Hy was blykbaar van mening dat ‘n ongelukkige voorval – ‘n herhaling van die insident met die tien spioene – weer besig was om plaas te vind. Dit het hom skynbaar herhinner aan daardie persone wat met ‘n negatiewe verslag oor die Land Kanaän teruggekeer en dus die kinders van Israel ontmoedig het om die land in te neem. Ons besef dat dit daarop uitgeloop het dat Moses-hulle vir veertig jaar in die wildernis moes rondswerwe – ongetwyfeld ‘n pynlike herhinnering.
Nou weet ons dat die stamme van Ruben, Gad en Manasse eindelik ingestem het om saam met die res van die stamme van Israel te veg totdat ook hulle húl erfenis wes van die Jordaanrivier ontvang het, maar tydens hulle versoek, was Moses nie hiervan bewus nie. Derhalwe, met dít in gedagte, is die interaksie tussen die twee en ‘n halwe stam en Moses baie interessant asook die gebeure daarna insiggewend vir ons vandag. Moses was bevrees en het steeds slegs gekonsentreer op wat in die verlede plaasgevind het. Gevolglik het hy nie besef dat hierdie ‘n nuwe generasie was nie. Sy verstand was vertroebel en hy het onmiddelik hulle versoek negatief vertolk. Die feit is egter dat hierdie groep se opstandige ouers byna voor-die-voet in die wildernis omgekom het en die nuwe geslag meer as bereid was om Moses se opvolger, Josua, in die Beloofde Land in te volg.
Wat ek graag hier wil uitwys, is dat ons verlede by ons kan spook en dus veroorsaak dat ons mense en hulle voornemens misverstaan. Moses kon nie afsien van die feit dat die kinders van Israel in opstand gekom het in plaas daarvan om te gehoorsaam en die land in besit te neem nie. Ek wil graag waag om te sê dat Moses, na alles wat hy met die kinders van Israel moes verduur, sinies geraak het.
Ongelukkig is dit vir gemeenteleiers ook nie moeilik om sinies te raak nie. Ek moes daardie geneigdheid al dikwels bestry. As herder van ‘n gemeente van gelowiges – wat almal inderdaad van die gebod “om mekaar lief te hê” bewus is, sou ‘n mens verwag dat daar vrede, respek, eer en integriteit moet heers. Pleks daarvan, vind ‘n mens al te dikwels rugstekery, geskinder, valse beskuldigings, haatdraendheid, naywer en opstandigheid om slegs enkele probleme te meld, waarmee leierskap te doen kry; sommige hiervan selfs onder hul naaste gemeentelede en vertrouelinge.
Ja, ook Moses, die nederigste mens op aarde, kon sinies raak. Laat ons dus ‘n les uit hierdie week se parasha leer en besluit om ons leiers nooit aanleiding te gee om sinies te raak nie.
Hebreërs / Ivrim {13:17} “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking