Haftarah: Jesaja / Yeshayahu 61:10 – 63:9
Brit
Chadashah: Romeine /
Romim 15:1 - 11
Deuteronomium / Devarim {29:10} “Julle staan
vandag almal voor die aangesig van die HERE julle God: julle hoofde, julle
stamme, julle oudstes en julle opsigters—al die manne van Israel; {29:11} julle kinders, julle vroue en jou vreemdeling
wat binne-in jou laer is, jou houtkapper sowel as jou waterputter, {29:12} om oor te gaan in die verbond van die HERE
jou God—en in sy eedswering—wat die HERE jou God vandag met jou sluit;
{29:13} sodat Hy jou vandag vir Hom as
volk kan bevestig en vir jou ‘n God kan wees soos Hy jou beloof het, en soos Hy
aan jou vaders”.
Hierdie Skrifgedeelte handel oor die kinders van
Israel, wat op die punt staan om die verbond met God aan te gaan net voordat
hulle die Beloofde Land binnetrek. Volgens Moses, was die hele gemeente van
Israel, wat soos ons weet, bestaan het uit ‘n gemengde menigte (saamgestel uit
almal gebore as nakomelinge van die patriarge asook diegene gebore uit die
nasies (goyim) teenwoordig voor God, hulle Here, op die oewer van die
Jordaanrivier. Soos ek dit beskou, het die kinders van Israel gestaan voor God,
hulle Here en ‘n verklaring van geloof – reddende geloof (!) – afgelê. Hoe gaan
‘n mens dié verbond met God aan? Dit is deur ‘n volgeling van God te word. Ten
einde God as julle God te aanvaar en om ‘n verbond met Hom aan te gaan, moet
julle deur reddende geloof tot Hom kom. Dit is een en dieselfde proses vir Jode
en nie-Jode en dit is juis hierdie proses, glo ek, wat ons hier sien plaasvind
met die kinders van Israel.
In die boek Galasiërs (Galitim) van die
Hernieude Verbond (Brit Chadasha), spreek Paulus (Shaul) tot die nuwe
nie-Joodse gelowiges in Galasië en verseker hulle dat hulle alreeds die verbond
met God aangegaan het deur hulle veranderde lewens, wat die verwerping van
afgodsdiens insluit, as bewys van hulle redding. Daarbenewens het hierdie
nie-Joodse Galasiërs, volgens Paulus, duidelik bewys gelewer van hulle
vervulling met die Heilige Gees (Ruach HaKodesh). Die Joodse gelowiges uit
Jerusalem het egter na hierdie nuwe nie-Joodse Galasiërs gekom en hulle
meegedeel dat hulle nie waarlik gered was nie en gevolglik nie ten volle in die
verbond met God ingesluit was nie. Daar is aan hulle gesê om hulle tot die Judaïsme
te bekeer deur die besnydenis (brit milah) alvorens hulle ten volle in die
verbond ingesluit kon word. Vir hierdie Joodse gelowiges uit Jerusalem, wat op
hulle herkoms van Jakob (Ya’acov) aanspraak gemaak het, was bekering meer as
bloot spiritueel – dit was ook fisies. Hule het dus foutiewelik die Galasiese
nie-Jode daarop gewys dat hulle nie deel van die verbond met God kon wees nie,
tensy hulle hul tot die Judaïsme bekeer, wat deur die besnydenis gesimboliseer
is. Paulus het natuurlik hulle benadering verwerp en die hele boek van
Galasiërs gewy aan die weerlegging van die leuenagtigheid wat hierdie valse
leraars besig was om te verkondig. Paulus het geleer:
Efesiërs / Efesos {2:8} “Want uit genade is
julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van
God; {2:9} nie uit die werke nie, sodat
niemand mag roem nie. ”.
Moet my asseblief nie vooruitgaan nie deur te
dink “Weet Rabbi Jakob dan nie dat daar geen redding sonder berou en
bloedvergieting is nie?” Ja, ek weet dit! Die kinders van Israel het dit ook
besef omdat hulle alreeds betrokke was by die plaasvervangende rites van
bloedvergieting. Hulle het die bloed van lammers, bulle en bokke geoffer ter
vergiffenis van hulle sondes. Die feit is dat hierdie lammers, wat in plaas van
hulle doodgemaak is, vir hulle eintlik op die komende Messias, God in die vlees
gedui het wat Sy bloed sou stort – vir eens en vir altyd – vir die vergiffenis
van die sonde van die wêreld. Die hele gebruik van naderkoms (korbanot) – in
ons Engelse Bybels as offerande vertaal – is deur God ingestel uitsluitlik met
die doel om die kinders van Israel te dui op Jesus die Messias, die
uiteindelike Lam van God; trouens, die ganse Tora dui op Jesus die Messias!
Let ook op dat die Skrifgedeelte wat ek uit
hierdie week se parasha gekies het, daarop wys dat dit nie die priesters of
leiers of vername persone van Israel was wat voor God gestaan het om hulle
verklaring van geloof af te lê en gered is nie. Alle stande van mense – van die
vernaamste tot die geringste – was daar. Dit bewys dus aan ons dat God nie ‘n
aannemer des persoons is nie. Menslike, wêreldse status is vir God van geen
belang wat redding betref nie. Hierdie beginsel word deur Paulus geleer in die
Hernieude Verbond:
Galasiërs / Galitim {3:28} “Daar is nie meer
Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man
en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. {3:29} En as julle aan Christus behoort, dan is
julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename. ”.
Ek glo dat die aangehaalde gedeelte uit parasha
Netzavim die feit bevestig dat ons deur die geloof en slegs geloof gered word
en wat redding as sulks betref, God hoegenaamd nie ‘n aannemer is des persoons
nie.

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking