Saterdag 21 Mei 2016

Wees Aanneemlik vir God

Emor
(Spreek)


Daar is volgens my mening, twee belangrike insigte wat ons uit vandeesweek se oordenking kan verkry. Die eerste kom voor in hierdie gedeelte:

Levítikus / Vayikra {22:31} "Hou dan my gebooie en doen dit. Ek is die HERE. {22:32} En ontheilig my heilige Naam nie, sodat Ek geheilig kan word onder die kinders van Israel. Ek is die HERE wat julle heilig, {22:33} wat julle uit Egipteland uitgelei het om vir julle ‘n God te wees. Ek is die HERE."

God sal nie duld dat enigeen wat voorgee om aan Hom te behoort, Sy heilige naam ydellik gebruik nie. Wanneer ons onsself gelowiges in Jesus die Messias noem en voorgee om Syne en Syne alléén te wees, moet ons dit werklik bedoel. God sal dit nie ligtelik opneem indien iemand voorgee om aan Hom te behoort en dan Sy gebooie oortree en sodoende 'n openbare - of selfs private vertoon van Sy heiligheid maak nie.

Die spreekwoord: "Aan wie veel gegee word, van hom word veel verwag", is volkome toepaslik in hierdie verband: as ons bely dat Jesus ons Messias, Here en Redder is, word die heiligheid van Sy naam, deur God aan ons toevertrou. Ons is dan verantwoordelik om die heiligheid van Sy naam te onderhou en eerbiedig. Waarom? Omdat ons daarop aanspraak maak om aan God te behoort. Iemand wat bely dat hy aan God behoort, móét ook die karakter van God aanneem. Jy en ek mag beslis nie bely dat ons kinders van God is en dan soos die duiwel leef nie.

Matthéüs / Mattityahu {7:21} " Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. "

Dit is 'n baie ontnugterende gedagte as 'n mens besef dat ons almal van tyd tot tyd ons Hemelse Vader wanvoorstel deur ons sonde. Ek glo nie dat God van ons verlang om volmaak te wees nie. Selfs ná ons bekering, verander ons sondige natuur nie en sondig ons nog steeds. God verwag egter dat ons 'n lewe moet lei wat Hom behaag, 'n lewe van berou oor sonde, vergifnis en - na die beste van ons vermoë - 'n lewe van vrede met ons naaste. 'n Kind van God behoort, met verloop van jare in toenemende mate, steeds minder te sondig; dit word "heiligmaking" genoem. Soos ons volhard om te bid en God smeek om ons te verander, sál ons verander en meer soos Hy word. Daarbenewens, verkeer 'n kind van God voortdurend in 'n stemming van berou. Indien ons gesondig het moet ons onmiddelik om vergifnis bid en ons sonde bely: eerstens aan die persoon teen wie ons gesondig het en dan voor God. Waarom moet 'n mens in die eerste plek na die persoon gaan? Die Skrif beantwoord dit vir ons: 

Matthéüs / Mattityahu {5:23} "As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, {5:24} laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe."

Baie gelowiges meen dit is voldoende om slegs ons sondes voor God te bely, maar volgens hierdie Skrifgedeelte, is dit geensins die geval nie. Ons moet éérs berou hê en dan die persoon wat ons tenagekom het, om vergifnis vra.

Die volgende punt wat ek graag wil maak, is uit dié Skrifgedeelte:

Levítikus / Vayikra {23:10} "Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. {23:11} En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.” 

Hierdie gedeelte handel oor die dag van die Eerstelingsgerf. Ons het hierdie besondere dag tydens ons bybelstudie op Paasoggend behandel. Baie mense verstaan dié dag, wat ná die Sabbat van Paasfees plaasvind, verkeerd en meen dit verteenwoordig die opstanding van Jesus en haal gevolglik die volgende Skrifgedeelte as bewys aan:

1 Korinthiërs / Korintim Alef {15:20} "Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het."

Die probleem met hierdie redenasie is dat Jesus nie opgewek is op die dag van Eerstelingsgerf nie. Die betrokke dag val op die 16de dag van Nisan, terwyl die opstanding op die 17de dag van Nisan plaasgevind het. Hierdie tydsberekening sou meebring dat Jesus drie volle dae en drie volle nagte in die graf sou gewees het, soos wat Hy gesê het, Hy sou: Die aand van die 14de Nisan tot die aand van die 17de Nisan. Wat word dan die dag van die Eerstelingsgerf gevier? In een van die bogemelde Skrifgedeeltes (Levítikus {23:11}), vind ons 'n aanduiding van die betekenis daarvan:

Levítikus / Vayikra {23:11} “En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.“

Die dag van die Eerstelingsgerf, wat direk na die Dood van Jesus plaasvind, is 'n viering van ons aanneemlikheid vir God. Jesus het vir ons gesterf dat ons vir die Here aanneemlik sou wees. Ons is dus Sy eerste ryp are (eerstelingsgerf) van verlossing.


Kom gou Jesus!



Voorheen uitgegee: 2009-05-09





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking