Saterdag 17 September 2016

Tussen Die Gevangenis

Ki Tetze 
(Wanneer Jy Uitgaan)


Deuteronomium / Devarim {21:10} "As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, {1:11} en jy onder die gevangenes ‘n vrou sien wat skoon van gestalte is, en jy haar liefkry en haar as vrou vir jou neem, {21:12} dan moet jy haar in jou huis inbring; en sy moet haar hoof skeer en haar naels knip. {21:13} En sy moet die klere waarin sy weggevoer is, uittrek en in jou huis bly en haar vader en haar moeder ‘n maand lank beween; en daarna kan jy by haar ingaan en met haar trou, en sy sal jou vrou wees. {21:14} En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Ek is al dikwels uitgevra oor hierdie gedeelte en het self ook al vrae hieroor gehad. Wat uit dié gedeelte duidelik is, is dat wanneer 'n soldaat 'n vroulike gevangene aantreklik vind, moet sy toegelaat word om vir dertig dae te rou oor haar ouers, wat vermoedelik tydens die oorlog omgekom het. Gewoonlik is slegs maagde gevange geneem en die res doodgemaak. In die geval van die aantreklike gevange maagd - nadat haar maandlange routyd verstryk het - kon die buitmaker met haar trou. Die Skrif bepaal oënskynlik dat as hy nie langer behae in haar het nie, moet hy haar laat gaan, maar haar nie verkoop nie omdat hy haar onteer het.

Baie mense het al hierdie Skrifgedeelte probeer gebruik om sodoende egskeiding te regverdig. Hulle beweer dat as God so 'n iets in die geval van 'n vreemde vrou toegelaat het, dan sou Hy sekerlik toelaat dat alle vroue kan skei. Op die oog af en oppervlakkig beskou, sou ek moes saamstem. Blykbaar dui hierdie Skrifgedeelte op egskeiding as 'n nuk of gril, maar is dit inderdaad wat dit bedoel?

Eerstens, soos ons bewus is, haat God egskeiding en sou Hy sekerlik dit nie kondoneer nie as jy jou vrou seksueel "uitprobeer", soos byvoorbeeld 'n paar nuwe skoene en as sy jou nie behaag nie, haar weggooi, soos wat hier die geval blyk te gewees het. Kom ons kyk meer noukeurig na hierdie gedeelte en probeer presies bepaal wat God hier vir ons wil sê.

Soos ek dit verstaan, kondoneer God hoegenaamd nie egskeiding nie, maar gebied Hy die redelike en ontfermde behandeling van 'n vrou wat tydens oorlog gevange geneem is. In oorlogtye was verkragting en misbruik van gevange vroue baie algemeen en onder heidense nasies, wat Israel gereed was om te onteien. God se volk, daarenteen, sou ander moraliteitstandaarde, selfs gedurende oorlog, handhaaf.

God het dus voorsiening gemaak vir soldate, wat na 'n oorlog, 'n gevange vrou aantreklik gevind het. Die vrou moes haar hare afskeer, naels afknip, haar klere vervang met rouklere en onaangetas vir dertig dae in haar buitmaker se huis bly. Die afskeer van hare, afknip van naels en dra van sakgewaad sou haar ongetwyfeld van alle oppervlakkige aantreklikeid ontneem. Tydens die dertig dae, sou die man ook die geleentheid gekry het om die vrou werklik te sien, so ook haar persoonlikheid en ware geaardheid te leer ken. Na die dertig dae kon die man haar tot vrou neem. Verder vervolg die Skrif:

Deuteronomium / Devarim {21:14} "En as jy geen behae in haar het nie, moet jy haar volgens haar begeerte laat gaan; maar jy mag haar glad nie vir geld verkoop nie; jy mag haar nie hard behandel nie, omdat jy haar onteer het."

Dit is juis hier waar die misverstand ontstaan. Om dié vers behoorlik te verstaan, moet vasgestel word waarna die woorde:"...omdat jy haar onteer het.", verwys. In die Hebreeuse Skrifte (Tanach) is daar 'n hele aantal gedeeltes, wat as aanduiding sou kon dien:

1 Kronieke / Divre HaYamim Alef {19:4} "Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan."

Hierdie geval waar Hanun die dienaars van koning Dawid laat skeer en hul klere gedeeltelik laat afsny het, was in die antieke Nabye Ooste 'n vorm van vernedering. Die mans, so verneem ons, het nie na Jerusalem teruggekeer totdat hul baarde weer gegroei het nie. Indien 'n vrou se hare afgesny is, sou dit eweneens 'n vorm van vernedering gewees het.

Job / Iyov {1:20} "Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval"

Hier volgens blyk dit ook dat die afskeer van Job se hare, 'n vorm van ootmoed (vernedering) voor die Here was, nadat hy van die dood van sy kinders verneem het.

1 Korinthiërs / Korintim Alef {11:15} "maar as ‘n vrou lang hare dra, dit vir haar ‘n eer is, omdat die lang hare vir haar gegee is as ‘n bedekking?"

Die knip van 'n vrou se naels en dra van rouklere was ook simbole van vernedering in die antieke Nabye Ooste. Daarom sou die woorde: "...omdat jy haar onteer het.", nie beteken dat die man met die vrou gemeenskap gehad het , haar tot vrou geneem en daarna belangstelling in haar verloor het nie, maar veeleerder dat die vrou daadwerklik verneder is, deurdat haar hare afgeskeer, haar naels geknip en sy rouklere moes dra. Ons God vereis die regverdige behandeling van en respek vir alle vroue.

Dit sou dan die werklike verloop van gebeure wees: 'n soldaat vind 'n gevange vrou aantreklik en wil haar tot vrou neem, maar voordat dit gebeur, moet hy haar fisies onaantreklik maak om sy ware toegeneendheid en voornemens te toets. Hy laat haar hare afsny, haar naels afknip en haar na dertig dae steeds aantreklik vind, mag hy met haar trou, maar as hy gedurende die dertig dae, voordat hy met haar gemeenskap gehad het, vind dat sy hom nie behaag nie, moet hy haar vrylaat. Hy mag haar nie as 'n slavin behandel nie omdat hy haar onteer het, deur haar hare af te sny, haar naels te laat knip en haar rouklere laat dra het.

Kom gou Jesus!


Voorheen uitgegee: 2009-08-22







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking