Vrydag 17 Februarie 2023

Parasha Mishpatim (Oordele) - Skuld




Eksodus 21:1-24:18

Jeremia 34:8-22;33:25-26

Matthéüs 5:38-42


Eksodus {21:2} “Wanneer jy 'n Hebreeuse slaaf koop, moet hy ses jaar vir jou werk, maar in die sewende jaar moet jy hom vrylaat sonder dat hy jou iets daarvoor betaal. {21:3} As hy alleen was toe hy jou slaaf geword het, moet hy alleen vrygelaat word. As hy toe getroud was, moet sy vrou saam met hom vrygelaat word. {21:4} As sy eienaar vir hom 'n vrou gegee het, en sy vir hom seuns of dogters in die wêreld gebring het, behoort die vrou en haar kinders aan die eienaar, en dan hoef net die slaaf vrygelaat te word. {21:5} As die slaaf egter uitdruklik sou sê: ‘Ek is lief vir my eienaar en vir my vrou en my kinders. {21:6} Ek wil nie vrygelaat word nie,’ moet sy eienaar hom in die teenwoordigheid van God bring, by die heiligdom se deur of kosyn, en daar moet die eienaar 'n gaatjie in sy slaaf se oor steek met 'n els. Dan is hy vir altyd sy eienaar se slaaf.”


Nadat ons hierdie Parasha gelees het, sal ons waarskynlik wonder waarom die Here mense sou toegelaat het om ander mense te koop. Ek is ook oortuig daarvan dat julle sal wonder waarom ‘n slaaf wat besluit het om by sy eienaar aan te bly nadat hy hom vir ses jaar lank gedien het, na ‘n deurkosyn gebring en sy oor met ‘n els deurboor sou word. 


Sekere soorte slawerny in Bybelse tye, was nie slawerny soos ons dit vandag ken nie. Die Bybel maak geen voorsiening vir ‘n persoon om bankrot te raak nie. Iemand wat in skuld was aan ‘n lener en nie kon betaal nie, het homself verkoop om sy skuld te delg. Die Skrif leer ons dat indien ons plegtig ‘n belofte aflê, ons dit móét nakom. Om geld te leen of om op krediet te koop, was altyd onderhewig aan ‘n belofte om dit terug te betaal; daar was dus geen ander uitweg in daardie tyd as om homself te verkoop nie. Die nakoming van ‘n belofte, is baie ernstig deur God beskou.


Numeri {30:2} “As iemand aan die Here 'n gelofte doen of met 'n eed 'n verpligting op hom neem, mag hy sy woord nie breek nie; hy moet hom aan alles hou wat hy beloof het.”


Die mense het in Bybelse tye geld geleen netsoos dit vandag die geval is. Boere het geld geleen ten opsigte van toekomstige oeste en tydens moeilike jare hulle land verpand of geleen teen hulle boerdery-toerusting, soos ‘n os wat die ploeg getrek het. Indien hulle egter nie hulle lenings kon afbetaal nie, was bankrotskap nie ‘n opsie nie en was daar hoegenaamd geen uitweg om hulle skuld af te skrywe nie.


Bankrotskap is in ons moderne tye ‘n skuiwergat, wat slegs vier- of vyfhonderd jaar bestaan. Volgens die Woord van God mag skuld egter nie afgeskryf word nie - dit móét betaal word. Wat het dus gebeur as iemand nie sy skuld betaal het nie? Die Here het voorsiening gemaak vir so’n gebeurlikheid deur van die skuldenaar te vereis om gratis te werk vir die skuldeiser. Die Here, wat die boosheid van die menslike hart ken, het egter ‘n tydbeperking op die slawe-arbeid geplaas. Ses jaar was al wat ‘n skuldeiser uit ‘n skuldenaar kon kry. Selfs dan moes hy aan die skuldenaar verblyf verskaf en hom redelik behandel, soos deur die Tora voorgeskryf. Aan die einde van die ses jaar moes die skuldeiser die skuldenaar wegstuur met voldoende goedere om aan hom hulp te verleen om sy lewe weer as ‘n skuldvrye man te begin.


Spreuke {22:17} “Luister goed, luister wat die wyse mense sê; probeer verstaan wat ek jou wil leer uit wat ek weet”


Uit hierdie gedeelte is dit duidelik om af te lei dat die leen van geld nie deur God aangemoedig word nie.


Daar is ook ‘n ander voorsiening betreffende slawe in hierdie week se Parasha. Indien die persoon wat homself verkoop het in slawerny om sy skuld af te betaal, besluit om welke rede ookal, vrywillig by sy eienaar aan te bly, kon hy dit doen deur sy oor te laat deurboor by die deurkosyn van die huis. Dit sou die slaaf verplig om in ‘n lewenslange slaaf - eienaar verhouding te verkeer. Ons moet ons egter self afvra waarom die deurboring van ‘n oor by die deur of deurkosyn van die huis moes plaasvind? Ek glo dat hierdie gedeelte die vraag vir ons beantwoord:


Eksodus {12:22} “Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. {12:23} As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie.”


Die kinders van Israel was in hierdie tyd slawe en in ware gebondenheid aan die Egiptenaars. Soos ons gelees het, is vryheid egter aan hulle verleen deur die bloed van ‘n lam aan die deurkosyne van hulle huise aan te wend. Dit is nie en was nooit die Here se wil vir Sy mense om in slawerny aan enigeen behalwe aan Hom te verkeer nie. Dus is iemand wat verkies het om aan sy menslike eienaar se huis as slaaf aan te bly, as ‘n skande geag dat hy aan die deurpos van sy eienaar se huis deurboor moes word, as ‘n simbool dat hulle buite die wil van God gehandel het. Die skande is simbolies omdat die deurpos waarteen die slaaf se oor deurboor is, herinner aan die deurposte in Egipte waarteen die bloed van ‘n lam gesmeer moes word, toe Israel hul vryheid verkry het en Egipte verlaat het. Hierdie persoon het homself beskaam deur hom weereens aan slawerny te onderwerp. Dus het die deurpos wat eenmaal vir hulle vryheid geskenk het, nou vir hulle slawerny gebring.  


Kom gou Jesus!

 


PDF weergawe

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking