Eksodus / Shemot | CMY Afrikaans skakel | CMY English Link
17 Januarie 2009 / Tevet 21st 5769
Eksodus / Shemot 1:1-6:1
Jesaja / Yeshayahu 27:6-28:13; 29:22-23
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 14:13-25
Eksodus {2:23} “En in daardie lang tyd het die koning van Egipte gesterwe. En die kinders van Israel het gesug en geweeklaag vanweë die slawerny. En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. {2:24} En God het hulle gekerm gehoor, en God het gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob. {2:25} En God het die kinders van Israel aangesien, en God het hulle geken.”
Hierdie Skrifgedeelte sê ongeërg:”In daardie lang tyd.” Dit klink byna asof slegs ‘n paar jaar verloop het, maar in werklikheid was dit honderde jare sedert die kinders van Israel vir die eerste keer Egipte binnegegaan het. Dit was minstens tweehonderd en vyftig jaar vandat hulle aan slawerny onderwerp is, en tog lui die Skrifgedeelte: “In daardie lang tyd”, asof dit hoegenaamd geen tyd was nie.
Dit is egter nie die eerste maal dat ons hierdie tipe terminologie in die Skrif aantref nie. Dit kom telkens voor in die Bybel:
Genesis {4:3} “En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring. “
Genesis {38:12} “En ná verloop van geruime tyd het die dogter van Sua, die vrou van Juda, gesterwe. En toe Juda klaar getreur het, het hy opgegaan na die skeerders van sy kleinvee, na Timna toe, hy en sy vriend Hira, die Adullamiet.”
Rigters {11:4} “En ‘n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel. “
2 Kronieke {21:19} “En ná enige tyd, naamlik teen die einde van die tweede jaar, het sy ingewande by sy siekte uitgekom, sodat hy onder hewige pyne gesterf het; en sy volk het vir hom geen wierookbrand gemaak soos die brand vir sy vaders nie.”
Selfs al het sommige van hierdie gebeure nie honderde jare geneem om hul “verloop van tyd” te bereik nie, het dit ons nogtans geleer dat alles in die verloop van God se tyd plaasvind en niks gebeur voordat die tyd daarvoor aanbreek nie.
Ons is geneig om te jaag om dinge in ons lewens onmiddelik te laat gebeur – veral aangaande dinge wat ons graag wil hê. Ons is tipies ongeduldige mense: ons het ‘n afkeer van in toue staan en raak woedend as die persone vóór ons in die ry, vroetel vir kleingeld om hul aankope mee te betaal, of as die kassier eers die prys van een of meer artikels moet laat vasstel, terwyl ons moet rondstaan en wag. My vrou, Elisheva, en ek was eenmaal in die betaalpunt-ry, toe die persoon vóór ons nuwe betekenis aan die term “aan-lyn-aankope” verleen het. Sy het van die kassier verwag om telkens aan haar subtotale van haar aankope te verstrek en dan, as die bedrag nog binne haar begroting blyk te gewees het, het sy die tou verlaat om nog ‘n ander artikel te gaan haal en die bedrag by die totaal te laat voeg. Dit het, trouens, meer as vier keer gebeur en, my vriend, dit was ‘n ware beproewing van ons geduld!!
God, daarenteen, beskik oor oneindige geduld; Hy doen alles in die volheid van die tyd. Hy is nooit gejaagd nie. Hy is nooit ongeduldig nie en wag totdat die tyd ryp is voordat Hy optree. Dit was die geval met Moses in vandeesweek se oordenking, God doen niks voordat die tyd geleë is nie. Hoe weet God wanneer die tyd reg is om op te tree? Wanneer Sy doel vervul is!!
Johannes {7:6} “Toe sê Jesus vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar. {7:7} Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is. {7:8} Gaan julle op na hierdie fees. Ek gaan nog nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie daar is nie.”
Hierdie gedeelte van die Skrif, wys ons die uiteindelike, dit het met verloop van daardie baie dae plaasgevind. “Jesus sou op ‘n bepaalde wyse sterf aan ‘n Romeinse kruis, in ‘n bepaalde stad, Jerusalem, op ‘n bepaalde dag, die derde Paasfees nadat Hy Sy bediening hier op aarde begin het. Selfs al het die satan dikwels probeer om Jesus dood te maak, kon Jesus telkens ontglip sonder om leed aangedoen te word. Toe Jesus se volle tyd aangebreek het, het Hy na Jerusalem gegaan en ons weet wat daarna gebeur het.
Die wyse waarop God te werk gaan in die Bybel, is dieselfde wyse waarop Hy in ons indiwiduele lewens vandag werk. Ons is altyd haastig om met dinge aan te gaan, om alles te laat gebeur wanneer dit ons pas, volgens óns tydsberekening. Ek dink ons moet uit hierdie week se oordenking leer dat dit nie ons tyd is wat tel nie, maar God se tydsberekening en dat Sy tyd die volmaakte tyd vir alles is.
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking