Waneer Jy Kom / Ki Tavo
5 September 2009 / Elul 16th 5769
Deuteronomium / Devarim 26:20-29:8
Jesaja / Yeshayahu 60:1-22
Handelinge / Ma'asei Talmidim 7:30-36
Deuteronomium / Devarim {29:1} "Dit is die woorde van die verbond wat die HERE Moses beveel het om met die kinders van Israel te sluit in die land Moab, behalwe die verbond wat Hy met hulle by Horeb gesluit het. {29.2} En Moses het die hele Israel geroep en vir hulle gesê: Julle het self gesien alles wat die HERE in Egipteland voor julle oë aan Farao en aan al sy dienaars en aan sy hele land gedoen het, {29:3} die groot versoekinge wat jou oë gesien het, dié groot tekens en wonders. {29:4} Maar die HERE het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie. {29:5} En Ek het julle veertig jaar lank in die woestyn laat trek; julle klere het aan julle nie verslyt nie, ewemin jou skoen aan jou voet."
Nie almal nie, maar baie van die kinders van Israel was oud genoeg om, voordat hulle Egipte verlaat het, die groot wondertekens wat God vir hulle gedoen het, te onthou. Diegene wat te jonk was, het later eerstehands van hul ouers en grootouers verneem wat plaasgevind het. Ingeval dit egter nie gedoen is nie, het Moses hulle daaraan herhinner dat, terwyl hulle in die woestyn gedwaal het, hul klere en skoene nie verslete geraak het nie, maar behoue gebly gedurende die hele tyd wat hulle in die woestyn was.
Verstaan julle wat God hier vir die kinders van Israel sê? Ek hoop so, want Hy kon dieselfde sê vir diegene in Israel, selfs vir ons wat hierdie kommentaar nou lees! Ja, ten spyte van alles wat God vir die kinders van Israel gedoen het, het hulle dit steeds nie ter harte geneem nie. Moses het hulle gevolglik bestraf vir hul afgestompdheid van hart en gebrek aan insig, veral na wat God vir hulle gedoen het en hulle Hom steeds nie ten volle vertrou het nie. Hy het gehoop dat hulle dan beter sou wees as hul ouers en grootouers, wat vanweë hul ongeloof in die woestyn omgekom het, maar dit het nie gebeur nie. Verstaan julle dit nou?
Ek wil graag hê dat ons die kinders van Israel se vordering deur die geskiedenis moet volg omdat hulle 'n geskiedenis gehad het van geen insig nie. Ons het in hierdie week se oordenking gelees van Moses se bestraffing van Israel oor hul gebrek aan geloof en vertroue. Duisende jare later sien ons dat niks verander het nie, omdat hulle weereens dieselfde verneem het van 'n ander profeet:
Jesaja / Yeshayahu {6:10} "Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie."
God het baie profete voor en na Jesaja gestuur, maar die kinders van Israel het steeds nie daarop ag geslaan nie. Honderde jare na Jesaja, hierdie keer in die Hernieude Verbond, wat vind ons? Die apostel Paulus se vir die kinders van Israel presies dieselfde.
Romeine / Romim {11:8} "Soos geskrywe is: God het hulle gegee ‘n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe."
Dit is betreurenswaardig dat nou, selfs na 'n verdere duisend jaar verloop het van Paulus tot vandag toe, kan presies dieselfde vir die kinders van Israel gesê word: hulle het steeds nie gehoor gegee nie. Treurig, is dit nie?
Het Moses, Jesaja en Paulus dan vir die kinders van Israel gesê dat hul oë het wat nie kan sien nie en ore wat nie kan hoor nie omdat God hul sinne verdof het? Nee, hulle was alreeds verdof en hulle het dit aan hulself gedoen. Hulle het dit vir die kinders van Israel gesê omdat God hulle tot hul sinne wou bring!
Indien julle afgewaal het daarvan om God te hoor, vanweë die hardheid van jul harte en jul ongeloof, dan maak dit nie saak wat enigeen vir julle sê aangaande God en Sy waarhede nie, ongeag hoe welsprekend iemand die evangelie aan julle mag voordra, of welke wondertekens julle sou sien wat gebeur, sal julle nogtans oë hê wat nie kan sien en ore wat nie kan hoor nie.
Lukas / Uri {16:31} "Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan."
Stel julle voor om veertig jaar lank in die woestyn te dwaal, sonder dat julle klere en skoene verslete raak! Ek is seker daarvan dat mense vandag sal sê dat indien dit met hulle gebeur het, dan sou hulle glo. Die feit van die saak is egter dat hulle nie sou glo nie!
Ons skrif van Lukas bevestig dit. Selfs vandag, met die herlewing van die Messiaanse Judaisme na 'n stil tydperk van duisende jare, die heftige verwerping van die Messias deur die tradisionele Joodse gemeenskap, behoort dit voldoende bewys te wees dat tradisionele Jode steeds verhard van hart en doof vir die waarheid is.
Mense glo nie – nie dat daar 'n gebrek aan voeldoende bewys is dat Jesus die Messias is nie – vanweë die verhardheid van hul harte. Die menslike hart is inherent boos en gevolglik is mense die vyand van God.
Yirmeyahu (Jeremiah) {17:9} "Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?"
Die moderne Staat van Israel het soveel groot wondertekens oor die afgelope 60 jaar beleef. Die totstandkoming van die Staat van Israel in slegs een dag is maar een daarvan. Die oorlog van 1948 is 'n ander en die Sesdagoorlog selfs 'n verdere een. Tot hede toe is daar voortdurende verslae oor wondertekens wat steeds plaasvind, maar ten spyte daarvan volhard hulle met blindheid, doofheid en ongeloof.
Psalm / Mizmor {81:10} “Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul. {81:11} Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie. {81:12} Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel. {81:13} Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel! {81:14} Gou sou Ek hul vyande onderwerp en my hand teen hul teëstanders uitstrek."
Die feit dat Israel, sedert die totstandkoming daarvan, nie 'n oomblik van ware vrede beleef het nie, is voldoende bewys dat hul volgehoue verhardheid van hart voortduur. Bid dus vir hulle – bid dat hulle hul Messias mag sien en gered word!
Congregation Melech Yisrael All rights Reserved
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking