Agtste / Shemini |
10 April 2010 / Nisan 26 5770
Levítikus / VaYikra 6:8 – 8:36
2 Samuel / Sh'muel Bet 6:1 – 7:17
Handelinge / Talmidim Ma'asei 10:9 – 22
Levítikus / VaYikra {10:16}En Moses het rondgesoek na die sondofferbok, maar dit was verbrand! Daarom was hy baie kwaad vir Eleásar en Itamar, die seuns van Aäron wat oorgebly het; en hy het gesê: {10:17} Waarom het julle die sondoffer nie op ‘n heilige plek geëet nie? Want dit is hoogheilig, en Hy het dit aan julle gegee om die ongeregtigheid van die vergadering weg te neem, om versoening vir hulle te doen voor die aangesig van die HERE. {10:18} Kyk, die bloed daarvan is nie binne in die heiligdom gebring nie. Julle moes dit sekerlik in die heiligdom geëet het soos ek beveel het. {10:19} Toe sê Aäron vir Moses: Kyk, hulle het vandag hul sondoffer en hul brandoffer voor die aangesig van die HERE gebring, en sulke dinge het my oorgekom; as ek vandag sondoffer geëet het, sou dit goed gewees het in die oë van die HERE? {10:20} Toe Moses dit hoor, was dit goed in sy oë.
Ek het nog altyd 'n probleem ondervind met hierdie Skrifgedeelte; trouens, ek het tot nou toe 'n probleem ondervind om dit behoorlik te verstaan. Die sondofferbok moes, volgens God se opdrag, geslag word. Gedeeltes daarvan moes dan verbrand word en 'n deel deur Aäron en sy twee oorblywende seuns, in die gewyde plek geëet word. Indien hulle egter nie hulle porsie van die offerande geëet het nie, moes die bloed van daardie offerdier in die tent van samekoms ingeneem word vir versoening. Versuim om God se opdrag na te kom kon onsettende gevolge vir al die kinders van Israel meegebring het.
Levítikus / VaYikra {6:25}Spreek met Aäron en sy seuns en sê: Dit is die wet van die sondoffer: Op die plek waar die brandoffer geslag word, moet die sondoffer voor die aangesig van die HERE geslag word. Dit is hoogheilig. {6:26} Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ‘n heilige plek moet dit geëet word, in die voorhof van die tent van samekoms. {6:27} Alles wat aan die vleis daarvan raak, word heilig; en as daar van die bloed op ‘n kledingstuk spat, moet jy die stuk waar dit op spat, op ‘n heilige plek was. {6:28} En ‘n erdepot waar dit in gekook is, moet stukkend gebreek word; maar as dit in ‘n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. {6:29} Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is hoogheilig. {6:30} Maar elke sondoffer waarvan ‘n deel van die bloed in die tent van samekoms gebring word, om in die heiligdom versoening te doen, mag nie geëet word nie; dit moet met vuur verbrand word.
Moses was kwaad vir Aäron omdat hy en sy oorblywende seuns nie hul porsie van die sondoffer geëet het nie en ook nie die bloed in die gewyde plek ingeneem het nie. Aäron het wel opgetree volgens die opdrag wat Moses van God ontvang het. Soos Israel vantevore dikwels reeds ervaar het, kon versuim om God se opdragte uit te voer, verskriklike gevolge inhou.
Toe Aäron egter aan Moses 'n logiese verduideliking verstrek het waarom die Here se voorskrifte nie uitgevoer is nie, het Moses dit so aanvaar en is alles vergewe. Dit is juis hierdie aspek wat my altyd verwar het. Is God se voorskrifte dan buigsaam indien ons goeie verskonings aanbied waarom ons nie Sy opdragte uitgevoer het nie? Voordat ek dit behandel, wil ek eers aandag skenk aan Moses se oënskynlike woede.
Volgens die Skrif was Moses die ootmoedigste man wat ooit geleef het en tog dui die teks aan dat hy vir sy broer en neefs kwaad geword het omdat hulle nie gedoen het wat hy hulle beveel het nie. Is dit dan moontlik om kwaad te word maar nogtans as verdraagsaam en ootmoedig beskou te word? Die antwoord is blykbaar ja, indien 'n mens se woede regverdiglik verontwaardig is. Moses was kwaad, nie omdat Aäron en sy oorblywende twee seuns hom veronreg het nie, maar wel dat hulle teen God gesondig het.
Ek word ook dikwels kwaad vir mense hier by die sinagoge (shul) wat dinge gedoen of nagelaat het om dit te doen, byvoorbeeld om 'n belofte te maak en dit te verbreek of om eredienste, wat aan die gang is, te versteur of om die gemeenteleierskap nie te respekteer nie. Dit is nie dinge wat hulle my aangedoen het nie maar hulle het wel teen God gesondig! Dit is dus bloot op grond van my liefde vir God en my innige begeerte om slegs Sy wil te doen, dat ek kwaad word. Jesus het iets soortgelyk gedoen:
Johannes / Yochanan {2:15} En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer. {2:16} En vir die duiweverkopers het Hy gesê: Neem daardie dinge hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.
Wat nou van die opvatting dat God se bepalings inderdaad buigsaam is indien ons 'n aanvaarbare verskoning aanbied? Aäron het egter nie 'n verskoning aangevoer nie – hy het trouens oor 'n goeie redeneervermoë beskik! Sy oudste twee seuns het onlangs gesterf en moontlik het hy ietwat verantwoordelik vir hul dood gevoel. Indien dit jou kinders was, sou jy moontlik ook so gevoel het, veral by die gedagte, dat as jy hulle beter beheer het, hulle nie sou gesterf het nie. Aäron en sy oorblywende seuns – vanweë die dag se gebeure – het dus geen eetlus gehad of geneë gevoel om die vereistes van die gewyde plek na te kom nie. Indien ons in Aäron se posisie was, sou die laaste waaraan ons gedink het, sekerlik voedsel of ons werk gewees het. Is dit regmatig om iets vir die Here te doen as dit nie met opregte bedoelings geskied nie? Ek dink nie enigeen van ons sou 'n probleem daarmee hê om die vraag negatief te beantwoord nie. Indien ons enigiets sonder die regte gesindheid vir die Here doen, is dit hoegenaamd onaanvaarbaar en onbehaaglik vir die Here. Daarbenewens sou Aäron, indien hy iets met die verkeerde gesindheid gedoen het, hierdie heilige handeling ontheilig het, wat in wese dieselfde was wat Nedav en Avihu gedoen het.
Ek meen dat dit wat ons uit die Skrifgedeelte, uit vandeesweek se Parasha asook my verduidelikings, geleer het, is dat Aäron nie slegs 'n verskoning aangevoer het nie, maar inderdaad gedoen het wat reg was: om dit wat heilig was, van die onheilige te onderskei.
Levítikus / VaYikra {10:10}en julle moet onderskeid maak tussen wat heilig en wat onheilig, en tussen wat onrein en wat rein is;
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking