21 Augustus 2010 / Elul 11 5770
Verlos van onsself (Congregation Melech Yisrael)
Wanneer jy uitgaan / Ki Teitzei
Deutoronomium / Devarim 21:10 – 25:19
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 5:1-5
Deutoronomium / Devarim {21:10} “As jy na die oorlog uittrek teen jou vyande en die HERE jou God hulle in jou hand gee en jy hulle gevangenes wegvoer, ...”
Wat ‘n bemoedigende Skrifgedeelte! Bemoedigend, in dié sin dat ons verneem dat die oorlog die Here s’n is! Ons sing ook hierdie woorde in ons Messiaanse gemeentes. Ons lees hierdie woorde of soortgelyke woorde keer-op-keer in die Skrif, waar ons leer dat God vir Israel stry, Hom verdedig en sy vyande voor hom uitroei. Ons ondervind ook hierdie woorde in ons eie lewens wanneer God ons verlos uit die hand van die vyande wat teen ons te staan kom, met die doel om ons op een of ander wyse kwaad aan te doen. Deur geloof, glo ons hierdie woorde – die stryd is die Here s’n!
Hierdie Skrifgedeelte hou egter ook ‘n mate van bedreiging in omdat, ofskoon die stryd die Here s’n is, die oorwinning meesal van onsself afhang! Julle sal die insident met betrekking tot die twaalf verspieders onthou; tien van die twaalf manne , deur Moses gestuur om die land Kanaän te gaan verken, het met ‘n negatiewe verslag teruggekeer. Hulle het daardeur geslaag om die harte van die ganse volk van God te laat afdwaal. Toe God egter die verspieders met ‘n plaag getref en hulle gesterf het, het die kinders van Israel hulle fout besef, berou getoon en ingestem om die land binne te gaan en daarvoor te veg, maar dit was te laat vir oorlog; trouens, wat erger as dit was, is die feit dat dit vir hulle te laat was om die gevolge van hul sonde van opstand, te verhoed.
Numeri / Bamidbar {14:40} “en die môre vroeg klaargemaak en op die top van die berg geklim en gesê: Hier is ons, en ons wil optrek na die plek wat die HERE gesê het, want ons het gesondig. {14:41} Maar Moses het gesê: Waarom oortree julle tog die bevel van die HERE, aangesien dit tog nie sal geluk nie? {14:42} Moenie optrek nie, want die HERE is nie in julle midde nie—anders word julle verslaan voor julle vyande. {14:43} Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die HERE nie met julle wees nie.
God sal ons gevegte vir ons stry en Hy sal ons vyande in ons hande oorlewer, maar óns het sekere verantwoordelikhede teenoor Hom. God sal alles doen wat Hy belowe het, maar ons moet deelneem indien óns die oorwinning verlang. Ons móét dus gehoorsaam wees! Gehoorsaamheid ontsluit die deur tot al ons seëninge.
Deuteronomium / Devarim {28:1} “As jy dan goed luister na die stem van die HERE jou God om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal die HERE jou God jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde. {28:2} En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van die HERE jou God. {28:7} Die HERE sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug.
Dit klink alles heel eenvoudig en voor-die-hand-liggend, maar dit was nie vir die kinders van Israel moontlik om hierdie eenvoudige opdrag uit te voer nie, eweneens ook nie vir die meeste van ons nie. Iets so eenvoudig soos gehoorsaamheid, blyk die allermoeilikste om na te kom. Ons moet onsself afvra: Waarom? Waarom is dit dan, dat ten spyte van God se versekering dat Hy ons sal seën en al ons vyande aan ons sal oorlewer as ons gehoorsaam is, ons nie gehoorsaam kan wees nie? Sou dit wees omdat ons nie geseën wil word nie of is dit omdat ons sadisties is en pyn en lyd geniet? Ek twyfel of dit so is! Waarom is dit dan so moeilik om gehoorsaam te wees? Meeste mense sal graag wil sê: “Die duiwel het my dit laat doen”, maar die feit bly dat óns te blameer is. Ons eie selfsug, ons begeerte om ons eie sin te kry en dinge op ons eie wyse te doen, ons begeerte om ons vlees te bevredig – dít is die rede.
Romeine / Romim {7:19} “Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. {7:20} Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. {7:21} Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig. {7:22} Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; {7:23} maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. {7:24} Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? {7:25} Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here! (7:26) So dien ek self dan wel met die gemoed die wet van God, maar met die vlees die wet van die sonde.
Kom ons wees eerlik: Ons is ons ergste vyande, maar danksy Jesus die Messias, is ons van onsself verlos!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking