Saterdag 09 Oktober 2010

Ook My Hartsbegeerte

9 Oktober 2010 / Cheshvan 1 5771

Noag / Noach Congregation Melech Yisrael

Genesis / BeReshit 6:9 – 11:32

Jesaja / Yeshayahu 66:1 – 24

1 Petrus / Kefa Aleph 3:18 – 22

Genesis / Bereshit {8:20} “En Noag het vir die HERE ‘n altaar gebou en van al die rein diere en al die rein voëls geneem en brandoffers op die altaar gebring. {8:21} En die HERE het die lieflike geur geruik, en die HERE het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. {8:22} Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.”


Daar is feitlik geen boek in die Bybel waar die woord “sonde” nie met betrekking tot die mens gebruik word nie. Een van die belangrikste Skrifgedeeltes wat oor die sonde van die mens handel. Kom in die boek Jeremia (Yirmeyahu) voor:


Jeremia / Yirmeyahu {17:9} ” Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?”


In sy ongeredde en onwedergebore toestand, is die menslike hart uitermate boos. Is dit dan geen wonder dat ons ten einde nuwe skepsels te word wat aan God toegewy is en met Sy liefde gevul te wees, nuwe harte moet ontvang nie?


Esegiël / Yechkiel {36:26}” En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. {36:27} En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.


Een van die vernaamste struikelblokke en twispunte tussen die Messiaanse Judaïsme en tradisionele Judaïsme is die verkryging van ‘n nuwe hart. Judaïsme, in sy huidige vorm, kan nie die transformasie, wat mense beleef wanneer hulle Jesus die Messias as hul Heer en Redder aanneem, begryp nie. Hulle verwerp die geloof in Hom, vanweë beperkte menslike redeneervermoë en ‘n sondige hart.


God het hul oë met ‘n sluier bedek. My oë was ook eens bedek en ek het ook met die Christendom die spot gedrywe. Ek het wedergebore Christene as ‘n eienaardige klomp beskou. Dit was egter nie totdat ek gebroke, verneder en ‘n laagtepunt in my eie lewe bereik het nie, dat ek die Here aangeroep en Hy my verhoor het, maar nie soos ek verwag het nie!


Ek het nie vir Jesus as die Messias gesoek nie, maar eerder verlossing deur ‘n God wat ek geweet het, bestaan en met Wie ek nooit werklik ‘n verhouding gehad het nie. Ek het ‘n punt bereik wat ek met graagte Ortodokse Judaïsme sou aanneem, indien God dit op my pad gelê het, maar dit het nie gebeur nie! In plaas daarvan het Hy aan my ‘n nuwe hart geskenk en my koue hart van klip weggeneem. Sondigheid het my letterlik verlaat en is deur goedheid vervang. Hoe verduidelik ‘n mens só iets aan die Jode in Judaïsme? Hoe kan ‘n mens dit aan hulle vertel sodat hulle dit sou begryp? Dit is onmoontlik! Dit wat ek, asook miljoene mense soos ek, op die oomblik van verlossing ervaar het, kan hoegenaamd nooit in woorde uitgedruk word nie.


Daardie Jode wie se oë nog geheel-en-al versluier is, kan nie sien nie, en begryp nie wat ons hulle vertel nie. Juis daarom verdedig hulle hul blinde godsdienstige gelowe so heftig. Kom ons wees eerlik: Judaïsme, net soos vele ander gelowe, het die krag en werkinge van die Heilige Gees probeer vervang. Hulle het gepoog om die Gees se vermoë te vervang om ‘n sondige hart weg te neem en dit met ‘n nuwe hart met werke van die vlees, te vervang.


Oor die algemeen, is die menslike hart steeds sondig omdat dit “van sy jeug af sondig was”. As bewys hiervan, hoef ons maar net na die wêreldtoestand van vandag te kyk: Ons wentel af tot die rand van vernietiging deur kernoorlog. Hoeveel boser kan dinge in die wêreld raak as wanneer ‘n nasie van mening is dat kernwapens nodig is as afskrikmiddel teen die aggressie van ander volkere? Dit is slegs ‘n kwessie van tyd wanneer die volheid van boosheid in die hart van die mens bereik word, wanneer vrees, agterdog en haat voldoende rede sal wees om ‘n wêreldwye uitwissing aan die gang te sit.

Dit is geen wonder dat die apostel Paulus (Shaliach Shaul) die volgende aangaande sy Joodse broeders geskryf het nie.

Romeine (Romim) {10:1} “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding. {10:2} Want ek getuig van hulle dat hulle ‘n ywer vir God het, maar sonder kennis. {10:3} Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie. {10:4} Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

Dit is ook my hartsbegeerte.

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking