30 Oktober 2010 / Chesvan 22 5771
Sara Het Gelewe / Chayei Sarah
1 Konings / Melachim Aleph 1:1-31
1 Korinthiërs / Korintim Aleph 15:50-57
Genesis {23:1} “En die lewensdae van Sara was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sara. {23:2} En Sara het gesterwe in Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die land Kanaän; en Abraham het gekom om oor Sara te rouklaag en haar te beween. {23:3} Daarna het Abraham opgestaan, van sy dode af weg, en met die seuns van Het gespreek en gesê: {23:4} Ek is ‘n vreemdeling en bywoner onder julle. Gee my ‘n graf as besitting by julle, dat ek my dode van my af weg kan begrawe. ”
Ek is ‘n voorstaander van éénmaal getroud, altyd getroud (dit is vanselfsprekend totdat die dood ons skei)! Dit is my filosofie dat dit drie persone (man/vrou en Jesus) neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee (man en vrou) om dit op die rotse te laat beland. Ongeag dus wat jy dink oor wat ek in hierdie kommentaar sê, dit is my standpunt en sal nie verander nie.
Interessant genoeg het talle heiliges van die Bybel wankelrige huweliksverhoudings gehad. Moses en sy vrou Sippora, soos ons bewus is, het ‘n meningsverskil oor die besnydenis van hul seun gehad en dit het tot ‘n breuk in hul verhouding gelei. Moses se skoonvader, Laban, het hulle egter weer versoen. Nietemin is daar in die Skrif geen aanduiding dat die versoening hoegenaamd permanent was nie. In hierdie Parasha verneem ons dat Sara in Hebron oorlede is, terwyl ons in verlede week se Parasha gelees het, dat Abraham in Berséba gewoon het. Met vandag se hoofweë is dié twee stede slegs 45 minute van mekaar af oftewel ‘n rit (sonder verkeer) wat agt-en-twintig minute duur. In die tyd van Abraham was egter ‘n aansienlike afstand deur die wildernis en boonop ‘n moeilike en opdraande reis deur ‘n bergagtige gebied – veral vir ‘n bejaarde man soos Abraham. Dus het hulle nie meer saamgewoon nie!
Genesis {22:19} “ En Abraham het na sy dienaars teruggekeer; en hulle het klaargemaak en saam na Berséba gegaan. En Abraham het in Berséba bly woon. ”
Die rabbis glo egter dat Abraham en Sara uiteen is oor die akida (binding) van Isak. Dit was ten spyte van die feit dat Isak blykbaar reeds in sy dertigs was toe die akida plaasgevind het. Indien ons egter die mening van die rabbis as waarheid aanvaar, beteken dit dat sowel Moses as Abraham met hul vrouens geredeneer en uitmekaar is oor onenigheid rakende hule kinders. Kinders is wel belangrik maar behoort glad nie tussen hul ouers, wat mekaar liefhet en God in hul huwelik het, te kom nie.
Dit laat my ongetwyfeld wonder oor hierdie groot Godsmanne, wat sulke vername rolle in die Bybelgeskiedenis vertolk het. Wat het dan in hul lewens ontbreek en / of in hul huweliksverhoudings wat slegs deur skeiding opgelos kon word? Ek wil nie graag één party uitsonder nie, maar indien ons beide (Abraham en Moses) se situasies van naderby beskou, is daar inderdaad één opvallende ooreenkoms. In albei gevalle was hul kinders betrokke.
Ek maak grootliks op my vrou se mening staat en ofskoon ek altyd ernstige oorweging daaraan skenk, is ons dit eens dat die finale besluit – sonder uitsondering – altyd myne moet wees. Dit mag vir sommige mense miskien vreemd klink, maar my vrou besef dat ek ‘n vroom, Godvresende man is en nooit ‘n vername besluit sal neem voordat ek God nie éérs in gebed en indien nodig, deur te vas, geraadpleeg het nie. Moontlik is die verskil tussen mý vrou en die vrouens van Moses en Abraham, dat sy met dieselfde Heilige Gees (Ruach HaKodesh) vervul is as waarmee ek vervul is. Derhalwe erken sy dit wanneer God deur my werk of wanneer ek deur my vlees gelei word. Dit was nie die geval met beide Sippora en Sara nie. Daar is geen aanduiding dat hulle met die Heilige Gees vervul was nie. Ons moet egter onthou dat die Gees in daardie tyd van die geskiedenis nie op alle vlees uitgestort is nie. Soos ons bewus is, was dit eers met die Shavuot in die eerste eeu, na die hemelvaart van die opgestane Jesus die Messias, dat die Heilige Gees op alles vlees uitgestort is, op diegene wat Jesus die Messias as hul Here en Redder aanvaar het. Voor dié tyd het die Gees gerus op slegs diegene, op wie die Here dit bestuur het en selfs dan, het dit volgens die wil van die Here, gekom en gegaan, volgens Sy wil.
Dit voer ons terug na die beginpunt waar ek gesê het dat dit drie persone neem om ‘n huwelik te laat slaag en slegs twee om dit op die rotse te laat beland. Dit wil dus vir my voorkom asof in die huwelike van sowel Sippora as Sara, die Derde Persoon ontbreek het!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking