22 Januarie 2011 / Shevat 17 5771
Jetro / Yitro
Eksodus / Shemot {20:16} “Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie. ”
Daar is Één wat nog nooit ‘n leuen vertel het nie, maar daar is ook één wat aanhoudend lieg. Die leuenaar en die Een wat nog nooit ‘n leuen vertel het nie, is in stryd met mekaar en ons is die slagveld. Hierdie stryd sentreer om wie die beherende belang in ons lewens sal hê.
Vertel ons werklik die waarheid, die volle waarheid en niks behalwe die die waarheid nie? Vertel ons altyd eerlik die waarheid oor ons ouderdom, ons gewig, die produkte wat ons verkoop, die belasting wat ons veronderstel is om te betaal of selfs oor God? Hierdie is hoegenaamd geen geringe of onbeduidende vrae nie! Die rede is omdat dit ewige gevolge het – by God is dit ‘n saak van integriteit.
Jesus die Messias is die Een wat altyd die waarheid spreek, terwyl die satan die een is wat aanhoudend lieg. Albei is op hierdie oomblik in ons lewens aan die werk. Hoe weet ek dit? Ek wéét omdat elkeen van ons op een of ander tyd, op een of ander wyse gelieg het.
Johannes / Yochanan {8:44} “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. ”
Hiervolgens word die stryd vandag oor ons gevoer, enersyds deur die satan, wat vol leuenagtigheid is en andersyds deur Jesus, wat vol van die waarheid is. Ons verkeer in die middelpunt, die voorwerp van die stryd – ons is die slagveld. Ons bevind ons inderdaad waar die stryd óf verlore óf gewonne is. Die eer van God, die boodskap van die Koninkryk en ons ewigheid is op die spel. Dit sentreer naamlik om één feit, één uitdruklike gebod van God, om “die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand”. As jy dít doen, sal jy vanselfsprekend “nie valse getuienis lewer nie...” – jy sal die waarheid, die volle waarheid en niks behalwe die waarheid spreek nie, so help jou God!
Wat is valse getuienis? ‘n Persoon wat valse getuienis lewer, is iemand wat óf tydens ‘n gesprek, getuienis of ‘n geskrewe of gesproke word, iets van ‘n ander person onthul wat minder as die waarheid is of verskil van die waarheid – ongeag hoe subtiel dit ookal mag wees! Ons kan valse getuienis lewer in ‘n hof, in ‘n persoonlike dispuut, in ons verhoudings, in ons alledaagse gesprekke en lewe. Ons maak ons daarvan skuldig deur soveel as één woord of skinderstorie te herhaal of selfs as ons sarkasties is, by voorbeeld deur te huigel, wenkbroue te lig of deur ‘n veelseggende oogknip. Ons lewer dus valse getuienis indien ons oor iemand of iets lieg en God verafsku leuenaars.
Spreuke / Mishlei {6:16} “Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ‘n gruwel:
{6:17} trotse oë, ‘n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet,”
Jesus is egter die verpersoonliking van alle waarheid.
Johannes {8:32} “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. ”
Die mate waarin ons die waarheid praat, die waarheid eerbiedig en die waarheid in ons lewens uitleef, is die mate waarin ons die vryheid deur die Messias sal ervaar om ‘n Geesvervulde lewe te lei. As ons leuens vertel, plaas ons onsself in gebondenheid onder die leuens wat ons spreek. Indien ons ‘n leuen glo, verloor ons ons houvas op die realiteit en eindig gevolglik in gebondenhied onder die leuens wat ons glo. Die waarheid, inteendeel, maak ons vry! Elke keer wat ons die waarheid praat, verhoog en vereer ons God en dít maak ons vry. Telkens wanneer ons in versoeking kom om leuens te vertel, maar daarenteen die waarheid praat, verneder ons die satan en dít maak ons vry. Elke keer wat ons die waarheid praat, word ons vrygemaak van die sonde en skuld van leuens. Wanneer ons die waarheid praat, word die sneeubal-beginsel uitgeskakel, met ander woorde om deur ‘n leuen te probeer om dié leuen wat ons so pas vertel het, toe te smeer, en dit maak ons vry. Telkens wanneer ons die waarheid praat, bewys dit die absoluutheid van die karakter van God en dit maak ons vry. Elke keer wat ons die waarheid praat, lewer ons getuienis aan ‘n leuenagtige wêreld dat ons aan God behoort en dit maak ons vry.
Om die waarheid te vertel, is ‘n kwessie van integriteit. Daar is ‘n stryd aan die gang en daardie magstryd is oor wie jou lewe en myne sal beheer. Dus, volgende keer wat iemand skakel en jy nie geneë voel om met hom / haar te praat nie, moenie iemand laat së dat jy nie tuis is nie terwyl jy wel daar is. Wanneer jy werk toe gaan en die werkgewer verneem of jy die projek, aan jou toegewys, voltooi het, moenie allerlei lukrake verskonings probeer aanbied nie – sê reguit “nee” en dit sal jou vrymaak. As daar verneem word of jy ‘n sekere rekening wat steeds op jou lessenaar lê, reeds vereffen het, moenie “ja” antwoord en dan uitstorm om dit dadelik te gaan doen nie. Ontken dit liewers en verduidelik dat jy dit vergeet het – dít sal jou vrymaak!
Jesus is die volmaakte waarheid. Enige afwyking van die volmaakte waarheid, is dus om op te hou om in Hom te bly. As jy in Hom bly, sal Hy in jou bly en sal jy intieme eerstehandse kennis van die waarheid ervaar en daardie waarheid sal jou vrymaak.
Daar word ‘n stryd in die hemel gevoer tussen die die vader van leuens en die God van waarheid en ons – jy en ek – is die slagveld. Die goeie nuus is egter dat die stryd alreeds gewonne is deur Jesus die Messias. Ons is die oorwinnaars, slegs deur by die waarheid te hou.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking