29 Januarie 2011 / Shevart 24 5771
Oordele / Mishpatim
Eksodus / Shemot {21:15} “En hy wat sy vader of moeder slaan, moet sekerlik gedood word. {21:16} En hy wat ‘n mens steel en hom verkoop—of as hy in sy besit gevind word—dié moet sekerlik gedood word. {21:17} “En hy wat sy vader of moeder vloek, moet sekerlik gedood word.”
Terwyl ek die bovermelde verse van hierdie week se Parasha gelees het, het ek gewonder waarom ‘n fisiese aanval op jou vader en moeder, die ontvoering van iemand en om jou vader en moeder te vloek, as halsmisdade beskou en met die dood strafbaar was. Laat ons eerstens die vraag behandel waarom die dade in verse 15 – 17 gemeld, as halsmisdade beskou is en die doodstraf sou regverdig.
My vrou en ek het onlangs die boek Ester, as deel van ons daaglikse leesplan gelees en ek glo dat ons inderdaad in hierdie boek die antwoord op dié vraag kan te wete kom:
Ester / Esther {1:16} “Toe sê Memúgan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in al die provinsies van koning Ahasvéros is. {1:17} Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit hulle manne in hul oë veragtelik sal maak as daar gesê word: Koning Ahasvéros het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie.”
Hieruit blyk dit dat koningin Vasti se optrede nie net die koning veronreg en in ‘n verleentheid gestel het nie, maar haar weiering om voor die koning te verskyn, ook die integriteit van die ganse samelewing van háár dag in die gedrang gebring het. Ofskoon sy nie haar vader of moeder gevloek het nie, is ek nietemin oortuig dat die effek van haar optrede, juis dié dinge sou veroorsaak het, waaroor die eerste gedeelte van die Skrifgedeelte handel.
Die Tora skryf die beginsels van ‘n regverdige samelewing voor – ‘n samelewing op die beginsels van die huwelik (man en vrou) en gesinseenheid gegrondves. Enigiets wat dus hierdie beginsels sou skaad, verdien die ergste straf omdat die versteuring van familiebeginsels tot nadeel van die samelewing, wat vervolgens tot die ineenstorting van wet en orde en uiteindelik tot ‘n godlose samelewing sal lei! Juis om hierdie rede is egbreuk ook met die dood strafbaar.
Terwyl ek hieroor nagedink het, het ‘n ander Skrifgedeelte met betrekking tot vaders en moeders my bygeval en dit word aangetref in ‘n Skrifgedeelte uit die Hernieude Verbond (Brit Chadasha):
Matthéüs / Mattityahu {10:37} “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”
Dit het die vraag laat ontstaan: Het Jesus die Tora weerspreek, meer in die besonder hierdie Parasha, toe Hy hierdie woorde gespreek het? Die antwoord is vanselfsprekend “nee”! Jesus was besig om vir diegene wat hom wou volg, te verduidelik dat hulle nie verdeelde lojaliteite kon hê nie. Indien ons ons lewens aan Jesus as ons Here en Redder toevertrou, koop Hy, deur Sy dood aan die kruis, ons as’t ware uit die mag van die duiwel. Ons is dus vrygestel van die straf van die Tora, wat die dood uitspreek oor almal wat sondig, sowel fisies as geestelik – ongeag die oortreding! Voordat ons gered is, het die duiwel ons besit. Ons het deur die sonde onsself aan hom verkoop, maar deur ons redding, behoort ons aan Jesus. Jesus het ons van die duiwel teruggekoop deur in ons plek te sterwe en dus behoort ons nie aan onsself nie.
1 Korinthiërs / Korintim Aleph {6:20} “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.”
Dit is dus verstaanbaar dat verdeelde lojaliteite vir ‘n dienaar van God totaal onvanpas sou wees.
Ek onthou nog toe ek tot die bediening beroep is, dat ek moes besluit om my bejaarde ouers te verlaat aldan nie en die beroep as geestelike leier van die Gemeente Melech Yisrael in Kanada te aanvaar. Dit was ‘n besonder moeilike tyd vir my vrou en myself, maar dit was die woorde in Matthéüs 10:37 wat my gelei het om wel my vader en moeder te verlaat en die Here te volg. Derhalwe is ek vandag hier!
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking