Saterdag 02 April 2011

‘n Volle Deelnemer

2 April 2011 / Adar II 27 5771

Ontvang / Tazria

Levitikus / VaYikra 12:1-13:59 
Esegiël / Yechezekiel 45:16-46:18 
Matthéüs / Mattityahu 8:1-4

Levitikus / VaYikra {12:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {12:2} Spreek met die kinders van Israel en sê: As ‘n vrou swanger word en ‘n seun baar, sal sy sewe dae lank onrein wees; soos in die dae van die onreinheid as sy onwel is, sal sy onrein wees. {12:3} En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word. {12:4} Dan moet sy drie en dertig dae in die reinigingsbloed bly. Aan niks wat heilig is, moet sy raak nie en in die heiligdom mag sy nie kom nie totdat die dae van haar reiniging verby is."

Daar bestaan onder Christene heelwat misverstand oor b’rit milah (die ritueel van besnydenis) en daarom wil ek graag van hierdie geleentheid gebruik maak om daardie misverstand in hierdie week se kommentaar op Parasha Tazria, te verduidelik. Om hierdie rede, gaan ek die waarskynlik mees misvatte Bybelboek, Galasieërs (Galitim) – die een in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha), wat meeste oor die besnydenis handel – gebruik.

In die tyd van die apostel Paulus (Shaliach Shaul), was daar ‘n algemene leer onder sekere Joodse gelowiges in Jesus die Messias – veral dié van die Jerusalem-gemeente – aangaande die ritueel van besnydenis. Hulle het daarop aangedring dat ‘n nie-Jood, wat ‘n gelowige in Jesus die Messias wou word, proseliet in Judaïsme (die geloof!) moes word om ten volle ingelyf te word in die verbond wat tussen Isreael en God bestaan het. Paulus het egter nie daarmee saamgestem nie en, vir die rekord, ek ook nie! Dit is hierdie valse leer, komende uit die geledere van Joodse gelowiges van die Jerusalem-gemeente, wat Paulus aangespoor het om die volgende Skrifgedeelte te skrywe:

Galasiers / Galitim {5:6}”Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk.”

Juis uit hierdie gedeelte asook ander wat soortgelyk is, ontstaan kerke se leer dat die besnydenis nie langer nodig is nie omdat die dood, opstanding en hemelvaart van Jesus as’t ware daarmee weggedoen het. Hulle beweer dus dat Christene, van hierdie wet vrygestel is. Niks hiervan is egter verder van die waarheid verwyder nie. Vergun my om julle toe te lig hoedat Paulus die woord “besnydenis” in Galasiërs gebruik.

Die mees deurslaggewende vereiste in tradisionele Judaïsme vir ‘n nie-Jood om hom tot Judaïsme te bekeer, is die besnydenis. Dit is waarom die faksie van Joodse gelowiges van die Jerusalem–gemeente vereis het dat nie-Joodse gelowiges uit Galicia besny moes word, of anders gestel, dat hulle proseliete moes word om ten volle in die geloof ingelyf te word. Dit is die rede waarom dié gemeente op die besnydenis gefokus het, want, volgens hulle, was die besnydenis ‘n vereiste vir redding.

Paulus begin die voorafgaande vers met die woord “Want”, wat daarop dui dat hierdie vers ‘n rede vir iets bepaal – die propaganda van die faksie Joodse gelowiges in Jerusalem. Daarom moet ons die betrokke vers verstaan, met die betekenis – ongeag of jy ‘n Joodse proseliet is of nie – dat dit niks met ‘n mens se redding te doen het nie. Nóg die Joodse gelowiges, word deur die besnydenis (bekering) gered, maar eerder soos Paulus dit gestel het: “...maar die geloof wat deur die liefde werk.”.

Ek hou van die manier waarop Tim Hegg dit stel: “This is why “neither circumcision nor uncircumcision means anything.” Once again, we must understand this terminology as meaning “neither Jewish status nor non-Jewish status means anything.” And we must likewise understand this statement of the Apostle within the context in which he gives it. He is not saying that Jewish identity is nothing, nor is he saying that non-Jewish identity is unimportant. Our station in life is a direct result of G-d’s divine providence. But the point Paul is making is that one’s entrance into Messiah is not predicated upon one’s lineage or membership in a given people group. G-d’s salvation is not automatically given to those who trace their linage to Jacob, nor is it automatically withheld from those who trace their heredity to the nations. G-d’s salvation is given to those who are “in Messiah Yeshua.” “.

Die gevolgtrekking is dus dat Paulus glad nie van die besnydenis as sulks praat nie. Hy gebruik die woord “besnydenis” as sinoniem vir bekering tot die geloof van Judaïsme. Paulus se slotsom is dus dat ‘n nie-Jood homself nie tot Judaïsme hoef te bekeer ten einde ‘n volle deelnemer aan die verbonde van Israel te wees nie.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking