Saterdag 28 Mei 2011

Die “Regeerder”

28 Mei 2011 / Iyar 24 5771

In Die Woestyn / BaMidbar


Númeri / Bamidbar {1:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê: {1:2} Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof; {1:3} van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron. {1:4} En met julle saam moet daar van elke stam ‘n man wees, ‘n man wat hoof is van sy families. {1:16} Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. ”

Die aangehaalde Skrifgedeeltes uit hierdie week se parasha, is heel voor-die-hand liggend. Dit verduidelik Moses se keuse van leiers, stamhoofde, om saam met hom die aantal kinders van Israel te bepaal. Die vraag ontstaan dus waarom hierdie gedeeltes nou juis kommentaar vereis? Is dit die betiteling (vers 16) wat aan die individuele stamleiers gegee is? Hulle word “regeerders” genoem. Wat is betekenisvol aan die benaming “regeerders” vir stamleiers? Wanneer die eindtyd oorweeg word, is daar inderdaad veel betekenis.

Die volgende gedeelte word uit die boek Eségiël / Yechezkel aangehaal. Dit verwys na ‘n “regeerder” van die eindtyd, wat deur baie aanvaar word as ‘n verwysing na Jesus die Messias gedurende die Duisendjarige Ryk. Ek verskil egter van hierdie opvatting, omdat ek glo dat hierdie “regeerder” eerder ‘n fisiese mens sal wees, iemand anders as Jesus, wat tydens die Duisendjarige Ryk lewend sal wees. Ek meen eerder dat hierdie man heelwaarskynlik uit die koninklike stam van Judas sal kom. Vergun my om dit verder te verduidelik:

Eségiël / Yechezkel {44:2} “ En die HERE het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die HERE, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly. {44:3} Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die HERE; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan. ”

In hierdie gedeelte is twee afsonderlike persone ter sprake: God (die Here) en die “regeerder”. Aan ons word gesê dat die oostelike poort van die heiligdom ontoeganklik vir enigeen behalwe die “regeerder” sal wees, omdat God deur daardie poort ingegaan het. Ek meen egter dat die God, na wie hier verwys word Jesus die Messias is, wat met Sy wederkoms, die tempel (Bet HaMikdash) sal laat herbou en die priesterdom hervestig. Ek glo dat Hy ‘n “regeerder” uit die huis van Dawid sal aanwys om na Jerusalem en die tempel om te sien. Ek is verder oortuig van my sienswyse, wanneer ek die volgende Skrifgedeelte lees:

Eségiël / Yechezkel {45:7} “En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.”

Wat hier beskryf word, is ‘n gedeelte van die land wat as die “regeerder” se gedeelte van die eiendom, sy persoonlike besitting, sal bekendstaan. Ons wéét sonder twyfel:

Psalm / Tehillim {24:1} “‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;”

Jesus die Messias sal dus nie behoefte hê aan persoonlike eiendom of ‘n plek om te woon nie. Die volgende Skrifgedeelte was van al die tersaaklike gedeeltes vir my die mees openbarende:

Eségiël / Yechezkel {46:16} “ So sê die Here HERE: As die vors aan een van sy seuns ‘n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis. 46:17 Maar as hy van sy erfdeel ‘n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees. ”

Jesus die Messias beskik nou oor ‘n verheerlikte liggaam. Dit is soortgelyk aan die liggaam wat ons sal hê met die opwekking van die dode, wanneer die Messias weer kom. Hier volg wat Jesus aangaande daardie liggame vir ons gesê het:

Lukas / Uri {20:34} “ Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Die kinders van hierdie eeu trou en word in die huwelik uitgegee; {20:35} maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. {Luk 20:36} Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is. ”

Ongetwyfeld sal Jesus die Messias nie in die huwelik tree nie en dus geen menslike kinders hê nie. Die volgende Skrifgedeelte, glo ek, bevestig egter my teorie dat die “regeerder” iemand anders as Jesus die Messias sal wees:

Eségiël / Yechezkel {46:18} “En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns ‘n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie. ”

Indien die “regeerder” Jesus die Messias was, sou dit nodig geblyk het dat dit aan Hom gesê word? Ek dink nie so nie! Sou ons dit ooit van Jesus die Messias – God – kon begryp dat Hy enigeen se erfdeel deur geweld vir Homself sou toeëien of hulle hul besitting ontneem sodat Hy dit in besit kon neem? Nooit!!! Nietemin vind ons tog sulke instruksies aan die “regeerder”. Daarom volstaan ek daarmee: Die “regeerder” is nie Jesus die Messias nie!

Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking