21 Mei 2011/ Iyar 17 5771
Volgens My Statute / BeChukotai
Levítikus/ VaYikra {27:1} “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: {27:2} Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand ‘n besondere gelofte aflê mense aan die HERE toewy volgens jou skatting, {27:3} dan moet jou skatting vir ‘n manspersoon van twintig tot sestig jaar, dan moet jou skatting vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die heiligdom. {27:4} Maar is dit ‘n vrou, dan moet jou skatting dertig sikkels wees. ”
Het jy al ooit jouself of enigiets anders aan die Here toegewy? Indien wel, dan handel hierdie hoofstuk (27) van die Skrif daaroor. Tydens die tempeltye sou mense ‘n eed geneem het om hulself of ander artikels aan die diens van God toe te wy. Nie alles wat hulle toegewy het, was diensbaar nie en gevolglik het God voorsiening gemaak vir ‘n stelsel van evaluasie waardeur priesters (cohen) die waarde van enige sodanige toewydingsvoorwerp kon skat. Indien ‘n persoon homself aan die diens van God toegewy het, het die moontlikheid tog altyd bestaan dat hy nie noodwendig gebruik kon word nie; trouens, dit was die Leviete (Liviim) wat deur God aangewys is om Hom te dien. ‘n Geldelike evaluasie kon dus in die plek van die betrokke individu betaal en die geld aan die diens van die Here toegewy word. Ons moet besef dat dit ‘n volkome vrywillige eed was. Geen persoon was verplig om homself of enige van sy besittings aan God toe te wy nie, maar as so ‘n verpligting egter aangegaan is, was dit bindend deur sy eed.
Ek dink dit is doodnatuurlik vir iemand wat in Jesus die Messias en Sy redding glo, om hom-/ haarself aan Hom te wil toewy.
Psalm / Tehillim {116:12} “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my? {116:13} Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep. {116:14} My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.”
Iemand wat die Here liefhet, hoef nie aangesê te word om te doen wat die Psalmis gedoen het nie. Hy / sy doen dit uit vrye wil en uit sy / haar hart. Die apostel Paulus (Shaliach Shaul) gee dieselfde sentimente weer wanneer hy in die Hernieude Verbond (Brit Chadasha) soos volg skryf:
Romeine / Romim {12:1} “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”
Hierdie gedeelte kan vergelyk word met wat ons in Levitikus (VaYikra) 27 van hierdie week se parasha lees. Let daarop dat Paulus ook die toewyding van onsself aan God, as uit vrye wil beskou. Hy gebruik die woorde: “Ek vermaan julle,” wat ‘n algehele vrywillige handeling impliseer.
Daar is egter ook ‘n ander sy hiervan, naamlik, om geloftes te doen wat ons nie nakom nie, kan geestelik en fisies rampspoedig wees:
Spreuke / Mishlei {20:25} “Dit is vir die mens ‘n strik dat hy onbedagsaam sê: Heilig! om dan eers ná die geloftes te oorweeg. ”
Ek is al by geleentheid deur grootouers, wat aan die gemeente behoort, maar wie se getroude kinders nie hieraan behoort nie, versoek om vir ‘n nuwe kleinkind ‘n toewydingseremonie aan die Here te hou. Ek is ook al versoek om sodanige seremonie te hou vir ‘n baba van egpare wat die gemeente slegs af en toe besoek maar geen werklike belangstelling in die gemeente of die waardes, wat ons handhaaf, toon nie. Vanselfsprekend plaas dit my in ‘n baie netelige posisie, want volgens hierdie kindertoewydingsdiensformulier word die ouers versoek om te belowe dat hulle hul kind in die tug en vermaning van die Here sal opvoed (Efesiërs / Efesos 6:4). Hoe kan ek mense dan vra om te belowe om hul kind en sy / haar opvoeding aan die Here te wy, terwyl ek terdeë daarvan bewus is dat die ouers nie hul belofte sal nakom nie – veral omdat hulle hulsef nie eers werklik aan die Here gewy het nie?
Deuteronomium / Devarim {23:21} “As jy aan die HERE jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die HERE jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word. ”
Het jy jouself al ooit aan die Here gewy? Het jy al jou kinders en / of kleinkinders aan Hom opgedra? Het jy jou sakebelange, jou huis of enige ander van jou besittings aan Hom gewy? Indien wel, selfs al het Hy jou nie beveel om dit te doen nie en jy dit uit vrye wil gedoen het, dan móét jy jou beloftes nakom. Onthou om eerder tweemaal te dink voordat jy so ‘n belofte aflê want God sal die nakoming van jou belofte van jou eis!
Deuteronomium / Devarim {23:22} “Maar as jy nalaat om te belowe, sal dit geen sonde in jou wees nie. {23:23} Wat oor jou lippe gaan, moet jy hou en doen soos jy aan die HERE jou God vrywillig beloof het—wat jy met jou mond gespreek het. ”
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking