11 Junie 2011 / Sivan 9 5771
Jou Ingesteldheid / BeHa’Alotecha
Numéri / BaMidbar {11:1} “En die volk het hulle voor die ore van die HERE beklaag dat dit sleg gaan. En toe die HERE dit hoor, het sy toorn ontvlam, en die vuur van die HERE het onder hulle gebrand en het gewoed aan die kant van die laer. {11:2} Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan. {11:3} Daarom het hulle die plek Tabéra genoem, omdat die vuur van die HERE onder hulle gebrand het. ”
Wanneer die verslag van wat dáár gebeur het, gelees word en dit op ‘n natuurlike wyse in oënskou geneem word, sou ek meen dat dit soos volg plaasgevind het: Iemand het dié aand ‘n vuur aangesteek vir hitte of om in die tent kos te kook, toe die tent aan die brand geslaan en die vuur baie gou buite beheer geraak het. In die warm, droë omgewing van die woestyn, het die vlamme skybaar vinnig versprei en ‘n groot gedeelte van die buitenste kant van die laer verswelg voordat dit eindelik onder beheer gebring is. Soos ons almal bewus is, gebruik God soms die natuurlike om die bonatuurlike te bewerkstellig. Ongeag hoedat die brand werklik fisies ontstaan het, vind ek dit tog interessant dat sowel die volk as Moses besef het dat die ontstaan van die brand en die verwoesting daardeur, met die volk se murmerering en kwaadspraak verband gehou het. Vandaar hul versoek aan Moses om te bid.
Indien iemand vandag aan mense selfs sou suggereer dat die lewensmoelikhede waaronder hulle gebukgaan, ‘n regstreekse gevolg is van iets wat hulle gesê of gedoen het, wat sondig en teen die wil van God was, sou hulle hom summier as veroordelend en wreedaardig uitkryt. Die waarheid is egter dat wanneer ons sondig – ongeag of dit kwaadpraat, inhaligheid, woede, wellus, ens. is – word God se beskerming van jou weggeneem en op daardie punt, raak jy ‘n weerlose teiken vir die duiwel. Ek dink dit is hoogtyd dat ons die slegte dinge wat in ons lewens plaasvind, met ons sondes en houdings begin assosieer. Die bovermelde teksverse is inderdaad nie die eerste keer in die Bybel, wat God vir ons die verband uitwys nie.
Numerí / BaMidbar {21:5} “En die volk het teen God en teen Moses gespreek: Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos. {21:6} Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. {21:7} En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid.”
Daar is allerlei soorte slange in ‘n woestyn-tipe-wildernis, soortgelyk aan dié een waardeur die kinders van Israel getrek het. Toe sekere giftige slange in die laer ingekom en die volk gepik sodat hulle as gevolg daarvan begin sterf het, waarom sou hulle toe die indringing van slange, met hul sonde geassosieer het? Eenvoudig, omdat dit nog altyd so was en is!
Dis reg; God toon iets hier aan ons! ’n Duidelike boodskap word deur hierdie voorbeelde uitgestuur en ek dink ons moet wakker skrik en erken dat daar nie so’n iets soos ‘n ongeluk is nie. Hoegenaamd niks gebeur “toevallig” nie. God beheer alles en ook ons sondige gesindhede – hetsy gedagtes of dade – het gevolge!
Gaan jy gebuk onder problem in jou lewe? Dit kan moontlik aan jou sonde toegeskryf word. Probleme by die werk? Miskien is dit vanweë jou sonde. Probleme tuis? Moontlik is dit as gevolg van jou sonde. Het jy geld verloor, is jy beroof, het jy ‘n ongeluk ondervind, het jou motor gaan staan, het jou woonhuis aan die brand geslaan, is jy deur ‘n insek of dier gebyt of het enige van duisende ander teëspoede jou getref? Dit is moontlik aan jou sonde te wyte!
Numerí / BaMidbar {11:2} “Toe het die volk na Moses geroep, en Moses het tot die HERE gebid; en die vuur het doodgegaan.”
Numerí / BaMidbar {21:7} “En die volk het na Moses gekom en gesê: Ons het gesondig dat ons teen die HERE en teen u gespreek het. Bid tot die HERE, dat Hy die slange van ons wegneem. En Moses het vir die volk gebid. ”
Indien ons begin erken en toegee dat die probleme in ons lewens te wyte is aan ons eie sondigheid, sal ons miskien doen wat die kinders van Israel gedoen het toe hulle dit besef het. Hulle het hul sonde erken, gebid en om vergifnis gesmeek.
Congregation Melech Yisrael alle regte voorbehou
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking